Vinnige feite

  • ʼn Parasiet is ʼn organisme wat op of binne-in ʼn ander organisme leef. Die ander organisme word die gasheer genoem, en die parasiet kan nie daarsonder oorleef nie.
  • Kinders jonger as vyf verteenwoordig omtrent 80% van malariagevalle wêreldwyd. 1
  • Vier Afrika-lande is verantwoordelik vir meer as die helfte van alle malariasterftes wêreldwyd. Dit is Nigerië (26,8%), die Demokratiese Republiek van die Kongo (12,3%), Uganda (5,1%) en Mosambiek (4,2%). 1
  • COVID-19 het ook ʼn impak op malaria gehad. Tydens die twee jaar (2020 en 2021) wat die pandemie op sy ergste was, het dit tot ʼn toename van 13 miljoen malariagevalle en 63 000 meer sterftes gelei. Dit is moontlik omdat mense nie toe toegang tot inentings gehad het nie. 1
  • Malaria is ʼn tropiese siekte. Tropiese siektes is siektetoestande wat endemies in tropiese en subtropiese gebiede voorkom en deur insekte, luise, bosluise, ander parasiete, water, en dies meer versprei word. 4
  • Die woord “malaria” is afgelei van die Italiaanse woord vir “swak lug”, aangesien malaria met moerasse en vleilande geassosieer word. 5
  • Daar is meer as 125 verskillende tipes malaria wat soogdiere, voëls en reptiele besmet.

Zoem-zoem-zoem. Ek dink ons almal weet sekerlik hoe irriterend dit is as ʼn muskiet al om jou kop in die nag draai. Maar hierdie bloedsuiende vabonde is meer as net irriterend, want hulle kan ʼn dodelike siekte, naamlik malaria, oordra.

Malaria is ʼn lewensbedreigende siekte wat deur parasiete veroorsaak word. Hierdie parasiete word na mense oorgedra as ʼn besmette vroulike anofelesmuskiet (van die geslag Anopheles) hulle byt. Kom ons verfris net gou ons geheue: ʼn Parasiet is ʼn dier of plant wat op ander teer en wat ʼn gasheer vir oorlewing kort.

Malaria is nie soos sekere oordraagbare siektes waarvan jy nie baie hoor nie. Daar word immers jaarliks miljoene gevalle aangemeld. In 2021 was daar ongeveer 247 miljoen malariagevalle wêreldwyd, en sowat 619 000 mense het daaraan gesterf. Malaria is gelukkig voorkombaar en behandelbaar. 1

Malaria is steeds endemies in Afrika. Dit beteken dat die siekte plaaslik in die lande op hierdie kontinent oorgedra word.

Hoe lank bestaan dit al?

Malaria is niks vreemds nie, want mense kry dit al vir duisende jare. Dit het selfs in Antieke Egipte voorgekom, en daar is mummies met spore daarvan gevind! Daar word selfs gereken dat Toetankamen, een van die konings van Antieke Egipte, daaraan gesterf het.

Bewyse is ook gevind dat malaria in Antieke Griekeland voorgekom het, sowel as tydens die klassieke tydperk van die Romeinse Ryk. Alexander die Grote was ʼn bekende Masedoniese koning van die antieke tyd, en hy is ook glo aan malaria aan die oewer van die Eufraat-rivier oorlede. Die kunstenaar Rafael is nog ʼn bekende wat daaraan gesterf het.

Daar was nie in daardie jare medisyne teen malaria nie, maar gelukkig het mense al hoe slimmer geword en teen die 1630’s het hulle ontdek dat die bas van die kinaboom, wat in Peru voorkom, doeltreffend teen die siekte werk.

Die Engelse geneesheer dr. Thomas Sydenham het malaria van ander koorse onderskei en het spesifieke behandeling daarvoor voorgeskryf. Nadat kinien, die aktiewe bestanddeel van die kinaboom ontdek is, is die bome in massas gekweek.

Dr. Alphonse Laveran, ʼn Franse weermagdokter wat in Algerië gewerk het, het in 1880 bewys dat dit parasiete is wat malaria veroorsaak. Hy het in 1907 ʼn Nobelprys vir sy ontdekking gewen. ʼn Britse bakterioloog Ronald Ross het in Augustus 1897 malariaparasiete van voëls in ʼn Culex-muskiet (huismuskiet) ontdek. Hy het ʼn Nobelprys in 1902 daarvoor gewen.

Nadat daar ontdek is dat muskiete malaria na mense oordra, het ʼn ander weermagdokter dr. William C. Gorgas twee programme in Kuba en Panama van stapel gestuur om muskiete te verminder. Vleilande se water is gedreineer om van muskiete ontslae te raak, en muskietlarwes is doodgemaak deur olie op hul broeiplekke te spuit. Dié programme het die bou van die Panama-kanaal moontlik gemaak. Dr. Fred Soper het ook van 1939 tot 1940 ʼn insekdoder gebruik om die Anopheles gambiae-muskiet se getalle te verminder.

Nadat die Switserse chemikus dr. Paul Müller ontdek het dat dichloordifenieltrichlooretaan (DDT) dodelik vir insekte is, is dit wydverspreid as ʼn insekdoder begin gebruik. Müller het in 1948 ʼn Nobelprys vir sy werk gewen. Die eiland Sardinië was ná ʼn ses jaar lange veldtog van DDT omtrent malariavry, en dieselfde het in Griekeland gebeur.

Hoewel DDT sedert die 1970’s vir landbougebruik in baie lande verbied is weens vrese oor die skadelike uitwerking daarvan op die omgewing en menslike gesondheid, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in 2006 aangekondig dat dié plaagdoder weer ’n rol behoort te speel in die beheer van malaria.6

Dit was ook ʼn deurbraak toe wetenskaplikes besef het dat hulle die hoofbestanddeel in teenmalariamiddels soos kinien self kan vervaardig in plaas daarvan om bome daarvoor te kweek.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in 1955 ʼn grootskaalse program van stapel gestuur om insekdoder in malariagebiede te spuit. Dit het tot die uitwissing van endemiese malaria in Europa en Australië gelei. Daar was ook ʼn groot vermindering van gevalle in sekere lande, soos Indië.

Spesies van die Anopheles-muskiete het egter vinnig weerstand teen die insekdoder opgebou en daar is ook besef dat die insekdoder sleg vir die omgewing is. Daar is ook gevind dat sekere parasiete weerstand teen kinien opgebou het. Deur die jare het meer organisasies toegetree tot die stryd teen malaria, en verdere navorsing is gedoen hoe om malaria te beheer. Dit het daartoe gelei dat malariagevalle en sterftes in die 21ste eeu afgeneem het. Teen die einde van 2023 was 42 lande of gebiede wêreldwyd al malariavry.

Teen die middel van 2021 was 40 lande wêreldwyd al malariavry. 2

As lande vir meer as drie opeenvolgende jare geen inheemse gevalle van malaria gehad het nie, kan hulle vir die WGO se sertifikaat van malaria-uitwissing aansoek doen.

Die volgende ses lande is onlangs deur die WGO as malariavrye lande erken: Argentinië (2019), Algerië (2019), China (2021) en El Salvador (2021), Azerbaijan (2023), Belize (2023) en Tajikistan (2023).  

Waar kom dit voor, en wie kan dit kry?

Die siekte is ongewoon in omgewings met gematigde klimate. Dit is egter ʼn siekte wat algemeen in tropiese en subtropiese gebiede voorkom. Dit kom dus tipies voor in omgewings met ʼn warm klimaat. 1

Die grootste risiko om malaria te ontwikkel, is dus as jy in gebiede bly waar malaria algemeen voorkom of as jy dié gebiede besoek. Dit sluit die tropiese of subtropiese gebiede suid van die Sahara, Suid- en Suidoos-Asië, eilande in die Stille Oseaan, Sentraal-Amerika en noordelike Suid-Amerika in.

Ongeveer 95% van die wêreld se sterftes as gevolg van malaria vind in Afrika plaas. Kinders jonger as vyf word die meeste daardeur geraak.

Sekere mense het ook ʼn hoër risiko om malaria op te doen en ernstig siek te word daarvan. Dit is babas, kinders jonger as vyf jaar oud, swanger vroue en pasiënte met MIV/Vigs. Mense met ʼn swak immuunstelsel wat na malariagebiede reis, moet ook baie versigtig wees.

Die parasiete

Malaria is ʼn akute siekte wat deur Plasmodium-parasiete veroorsaak word. Dit word dan na mense oorgedra as ʼn vroulike Anopheles-muskiet hulle byt. Daar is vyf parasietspesies wat malaria in mense kan veroorsaak. Twee van die spesies, naamlik Plasmodium falciparum en Plasmodium vivax, hou die grootste bedreiging vir mense in. Die dodelikste parasiet is Plasmodium falciparum, en dit is ongelukkig ook die een wat oorheersend in Afrika is. 1

Simptome

Mense se eerste leidraad dat hulle malaria het, is gewoonlik so tien tot 15 dae nadat die muskiet hulle gebyt het. Die simptome van koors, hoofpyn en kouekoors kan nog matig wees en daarom moeilik om as malaria te eien. As dit egter nie behandel word nie, kan dit ernstiger word. Die Plasmodium falciparum-malaria kan byvoorbeeld binne 24 uur iemand se dood veroorsaak!

Verdere simptome sluit naarheid, braking, diarree, maagpyn, spier- of gewrigspyn, moegheid, vinnige asemhaling, vinnige hartklop en hoes in.

Party mense ervaar siklusse van malaria-aanvalle. ʼn Aanval begin gewoonlik met kouekoors en rukkings, gevolg deur ʼn hoë koors, sweet en dan weer ʼn normale temperatuur. 3

Ander vorms van oordrag

Die parasiete wat malaria veroorsaak, affekteer die rooibloedselle, en mense kan dus ook malaria kry as hulle aan besmette bloed blootgestel word. As daar malariaparasiete in die bloed is, kan ʼn ma dit aan haar ongebore kind gee, iemand kan dit deur middel van ʼn bloedoortapping kry, of as ʼn naald met besmette bloed gebruik word. 3

Komplikasies

Serebrale malaria: As besmette bloedselle klein bloedvate na die brein blokkeer, kan ʼn mens se brein swel of breinskade kan plaasvind. Serebrale malaria kan stuipe veroorsaak en tot ʼn koma lei.

Asemhalingsprobleme: Vog op die longe kan dit moeilik maak vir ʼn mens om asem te haal.

Orgaanskade: Malaria kan lewensbedreigend wees deur die niere of lewer te beskadig en die milt te laat bars.

Anemie: Malaria kan veroorsaak dat daar nie voldoende rooibloedselle gemaak word om genoeg suurstof aan die liggaam te gee nie.

Lae bloedsuiker: Ernstige malaria kan tot lae bloedsuikervlakke lei. Kinien, wat ʼn algemene medikasie is om malaria te beveg, kan ongelukkig ook tot lae bloedsuiker ly. Lae vlakke van bloedsuiker kan tot ʼn koma of dood lei.

Kan jy glo?

Sekere variëteite van die malariaparasiet kan vir tot ʼn jaar in die liggaam bly en veroorsaak dat ʼn mens weer siek word. Die malariaparasiete bly dus dormant in die liggaam.

Voorkoming (veral in tropiese en subtropiese gebiede)

  • Beskerm jou vel sodat muskiete jou nie kan byt nie. Dra langbroeke en langmouhemde. Druk jou hemp in jou broek en jou broekspype in jou kouse.
  • Smeer ʼn insekweerder aan jou vel. Maak net seker dat die insekweerder wel vir die vel geformuleer is.
  • Jy kan ook insekweerder op jou klere en beddegoed spuit.
  • Slaap onder ʼn muskietnet.
  • As jy na ʼn malariagebied reis, kan jy ʼn teenmiddel gebruik om jou teen malariaparasiete te beskerm.
  • Daar is ook ʼn entstof teen malaria beskikbaar.

Die stappe van oordrag

  • ʼn Muskiet word besmet as dit iemand byt wat reeds malaria het.
  • As die muskiet dan weer iemand anders byt, word die parasiet na die mens oorgedra.
  • Die parasiet dring dan die liggaam binne en reis na die lewer. Sekere tipe parasiete kan vir so lank as ʼn jaar dormant wees. Dit beteken dat die parasiet in ʼn rustende fase is en basies sy kans afwag om jou siek te maak!
  • As die parasiet volwassenheid bereik, verlaat hy die lewer en besmet die rooibloedselle. Dit is dan wanneer mense gewoonlik malariasimptome kry.
  • Die volgende mens word dan besmet. As ʼn onbesmette muskiet jou in hierdie stadium byt, dan word hy besmet en kan hy dit dan weer na die volgende mens oordra.

Woordbank

akute Hewig, dringend of erg.
bakterioloog Dit is iemand wat ʼn kenner van bakterieë is.
dormant Sluimerend, stil of onaktief.
endemies As iets beperk tot ʼn bepaalde streek of gebied is.
milt Sagte, klieragtige, bloedryke orgaan links van die maag by mens en dier.
parasiete ʼn Organisme wat op ʼn ander organisme teer.
simptome Verskynsels of tekens van ʼn siekte.
subtropies Die klimaat is tussen tropies (warm) en gematig.
tropiese Die klimaat waar dit min of meer altyd warm is met min wisseling tussen seisoene.
stuipe Die plotselinge, onwillekeurige sametrekking van spiere, dikwels met bewusteloosheid, veral by kinders.
weerstand Wanneer daar na ʼn tydperk van volgehoue blootstelling ʼn ongevoeligheid vir middels opgebou word. Dit reageer dus nie meer na wense op die middel nie.
vabonde Stouterd, skelm, kwajong; iets of iemand wat kwaad doen of skade aanrig.
variëteite ʼn Verskeidenheid of verwante soort.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor malaria

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor malaria

Meer oor malaria

Alles wat jy oor muskiete wil weet

Die lewensiklus van die Plasmodium-parasiet

Gepubliseer op: 8 Februarie 2023 | Bygewerk op 23 Januarie 2024