Vinnige feite

  • Hoe meet wetenskaplikes die beweging van tektoniese plate? Hulle gebruik natuurlik satelliete. Daar is tans 21 satelliete in ’n wentelbaan om die aarde wat spesifiek die beweging van tektoniese plate dophou.
  • Die aarde se kors is die enigste laag wat vlak genoeg is om bestudeer te word deur baie diep te boor. Russiese wetenskaplikes het al so diep soos 12 km in die aardkors geboor. 8
  • Die temperatuur van die aardkors is meestal dieselfde as die temperatuur van die aarde se oppervlak.
  • Die diepste deel van die kors kan onder berge aangetref word, waar dit tot 70 km diep kan wees.
  • Die kontinentale kors is solied en die gemiddelde temperatuur is ongeveer 22 ⁰C.
Foto: iStock

As ’n mens die woord kors hoor, dink ’n mens dadelik aan ’n brood se korsie of ’n pizza se kors. Dit is daardie harde gedeelte van die brood of pizza wat aan die buitekant is. Dit is gewoonlik harder as die sagter (en lekkerder!) binnekant.

Het jy geweet dat die aarde ook ’n kors het? Dit is natuurlik hier waar ons woon: bo-op die kors! Die aarde bestaan uit drie hooflae: die kors, die mantel en die kern. Die mantel kan verder verdeel word in die boonste mantel en die onderste mantel, terwyl die kern ook uit twee dele bestaan, naamlik die buitekern en die binnekern. 1

Die litosfeer en tektoniese plate

Die kors en die boonste mantel vorm die aarde se litosfeer. Die litosfeer word weer opgebreek in tektoniese plate wat skuif en beweeg. Soms beweeg hulle bo-oor mekaar en ander kere stamp hulle teen mekaar, met ander woorde subduksie vind plaas. Subduksie is die sink van tektoniese plate.

Daar is tussen 10 en 20 korsplate (of tektoniese plate) wat elkeen teen verskillende snelhede beweeg. Die Eurasiese plaat beweeg die stadigste (minder as 3 cm per jaar), terwyl die Cocos-plaat die vinnigste beweeg (ongeveer 20 cm per jaar).

’n Paar sentimeter klink dalk nie na baie nie, maar die beweging van die tektoniese plate het ’n groot uitwerking op wat op die aarde gebeur. Nie net veroorsaak dié beweging natuurverskynsels en -rampe soos aardbewings, vulkane en tsoenami’s nie, maar as tektoniese plate skuif, word berge gevorm!

Waaruit bestaan die aarde se kors?

Die aarde se kors is die buitenste laag en is baie hard. Anders as ’n broodjie of pizza se kors, kan die aarde se kors nie buig nie. Dié laag is die dunste van al die lae, en verteenwoordig slegs sowat 1% van die aarde se totale volume.

Die kors bestaan uit verskillende soorte gesteentes, naamlik stollingsgesteentes, metamorfiese gesteentes asook sedimentêre gesteentes.

Stollingsgesteentes maak meer as 90% van die aardkors in volume uit. ’n Mens sien dit egter nie so maklik nie, omdat dié gesteentes meestal met sedimentêre en metamorfiese gesteentes bedek is. 2

Ons onderskei tussen twee soorte korse waaruit die aarde se buitenste laag bestaan. Die eerste is die kontinentale kors. Dit kom onder die landoppervlakte (met ander woorde die kontinente) voor en die ander is die oseaniese kors. Dié deel is onder die see of oseaan geleë.

Die kontinentale kors kan tussen 8 km en 70 km dik wees en bestaan meestal uit minder digte gesteentes soos graniet. Die oseaniese kors, wat onder die seebodem is, is slegs 5 km tot 10 km dik en bestaan uit gesteentes soos basalt. Dit bestaan ook uit yster, suurstof, silikon, magnesium en aluminium.

Terwyl die kontinentale kors dik en lig van kleur is, is die oseaniese kors dun en donkerkleurig.

Die aarde se kors is baie koeler as die res van die lae. Die temperatuur van die kors styg hoe nader ’n mens aan die aarde se kern kom as gevolg van geotermiese energie. Waar die kors by die mantel ontmoet, kan die temperatuur tussen 200 °C en 400 °C wees. Hoekom is die kors koeler as die ander lae? Natuurlik omdat dit blootgestel is aan die atmosfeer (die lug) asook die hidrosfeer (die water).

Die kors bestaan uit agt verskillende chemiese elemente, met suurstof (sowat 46,6%) wat die algemeenste voorkom. 3

Wanneer is die aarde se kors gevorm?

Die mantel en kors het ongeveer 100 miljoen jaar ná die ontstaan van ons planeet gevorm, sowat 4,6 miljard jaar gelede. Die kors was aanvanklik waarskynlik aansienlik dunner omdat die tektoniese plate baie meer beweeg het en die aarde verskeie keer deur asteroïede getref is.

Die oudste deel van die oseaniese kors is ongeveer 200 miljoen jaar oud. Die grootste deel van die kontinentale kors is egter baie ouer. Die oudste kontinentale korsgesteentes op aarde is kratone wat tussen 3,7 en 4,28 miljard jaar oud is. Dit is, onder meer, in Wes-Australië ontdek. Die gemiddelde ouderdom van die kontinentale kors is ongeveer 2 miljard jaar. 4

Hoe lyk die aarde se ander lae?

Binnekern

Die soliede binnekern is die warmste van al die lae en die temperatuur wissel tussen 5 000 °C en 6 000 °C. Die binnekern is soos ’n metaalbal wat hoofsaaklik uit yster en nikkel bestaan en sowat 2 500 km breed is. Die kern is 6 000 keer warmer as die atmosfeer, só warm dat dit metaal kan laat smelt. Die kern behou egter sy stewige vorm as gevolg van die druk van die ander lae. 5

Buitekern

Die temperatuur van die buitekern is ook vuurwarm – tussen 4 000 °C en 6 000 °C – maar waar die binnekern solied is, is die buitekern ’n vloeibare laag van sowat 5 150 km diep. Dié laag bestaan hoofsaaklik uit yster, nikkel, swael en suurstof en omdat dié metale beweeg, skep dit ’n magnetiese veld op ons planeet. 6

Onderste mantel

Die onderste mantel is effens koeler as die kern, naamlik 3 000 °C, en dié laag bestaan uit soliede rots. In die onderste mantel, wat tussen 670 km en 2 890 km onder die aarde se oppervlak geleë is, sal jy, onder meer, yster, suurstof, silikon, magnesium en aluminium aantref.

Boonste mantel

Die boonste mantel is die naaste aan die kors (sowat 670 km onder die oppervlak) en dus die koelste van die ander lae (tussen 1 400 °C en 3 000 °C). Die onderste deel van die boonste mantel bestaan uit soliede én gesmelte rots (vloeistof), terwyl die gesteentes in die boonste deel harder is omdat dit koeler is. In die boonste mantel sal jy yster, suurstof, silikon, magnesium en aluminium vind. 7

Woordbank

kern Die binnekant of middelpunt; diepste deel.
kors
Die harde, dun en droë laag op die oppervlak.
litosfeer Die harde, buitenste dop van die aarde, naamlik die soliede boonste deel van die mantel en aardkors. Dit is saam ongeveer 100 km dik.
solied Vas; stewing; sterk.
tektoniese Wat verband hou met die vorming en beweging/verskuiwing van die groot rotslae van die aardkors.

Lees dié artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die struktuur van die aarde

Die lae van die aarde gebaseer op chemiese samestelling en fisieke eienskappe

Die struktuur van die aarde

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 November 2021 | Bygewerk op 20 Februarie 2024