Vinnige feite

  • Unesco se Education for All-program is sy grootste program en is daarop gemik om gratis onderwys aan kinders te voorsien, om geletterdheid onder volwassenes te verhoog en om standaarde ten opsigte van lees en wiskunde in te stel.
  • Unesco se konvensie rakende wêrelderfenisgebiede is in 1972 aanvaar en sedertdien is daar 1 199 gebiede erken. 9
  • As Unesco sien dat regerings nie hul wêrelderfenisgebiede bewaar nie, verwyder hulle dit van hul lys.
  • Unesco gedenk 40 internasionale dae, soos Internasionale Vrouedag op 8 Maart, Wêreldmediavryheiddag op 3 Mei, Wêreldonderwysersdag op 5 Oktober en Internasionale Migrantedag op 18 Desember. 10
  • Baie bekende mense ondersteun die werk wat Unesco doen en bevorder bewusmaking van Unesco se programme. Hulle tree dan as ambassadeurs van Unesco op.
  • Unesco het in 2023 gevra vir strenger riglyne oor die gebruik van tegnologie in klaskamers omdat veral slimfone kinders se aandag aflei. Hulle het in die 2023 Globale Onderwysmoniteringsverslag gevra dat skole strenger oor die gebruik van selfone in klaskamers moet wees. 11
  • Die huidige direkteur-generaal van Unesco is Audrey Azoulay van Frankryk (in 2023).

 

Eers was daar die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) en mense om die wêreld heen het gedink daar sal nooit weer so ’n oorlog wees nie, want duisende mense het gesterf en baie plekke is vernietig. Toe kom die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) en dit was selfs meer verpletterend as die vorige oorlog. Daar word beraam dat tussen 40 en 50 miljoen mense in dié oorlog dood is!

Die organisasie Unesco is daarna gebore met die droom om mense te verenig om vrede te bewerkstellig en dit te bewaar. Unesco is die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur.

Die grondwet van dié organisasie is op 16 November 1945 onderteken. Die grondwet het gevra vir die bevordering van internasionale samewerking op die gebiede van onderwys, wetenskap en kultuur. Unesco se aanvanklike doel was om skole, biblioteke en museums te herbou wat tydens die Tweede Wêreldoorlog vernietig is.

Aan die begin was dit meer ontwikkelde lande wat deel van die VN was, maar soos al meer ontwikkelende lande in die jare vyftig deel van die organisasie geword het, het Unesco meer hulpbronne begin bewillig om armoede, ongeletterdheid en onderontwikkeling onder die loep te neem.

Vandag borg Unesco internasionale programme, konferensies en publikasies, en erken en vereer mense wat in onderwys en wetenskap presteer. Hulle werk hard om onderwys, kultuur en die ekonomie in arm gebiede te bevorder. 1

Unesco se programme word in vyf afdelings verdeel, naamlik onderwys, natuurwetenskappe, sosiale en menslike wetenskappe, kultuur, en kommunikasie en inligting.

Geskiedenis van Unesco

Dit was midde-in die Tweede Wêreldoorlog in 1942 toe die regerings van Europese lande bymekaargekom het – spesifiek dié lande wat teen Duitsland se Nazi-regime geveg het. Die regeringsleiers het die Konferensie van Geallieerde Ministers van Onderwys (in Engels: Conference of Allied Ministers of Education) in Brittanje gehou.

Hoewel die oorlog nog in volle swang was, het die lande toe reeds gepraat oor maniere om hul onderwysstelsels weer op te bou nadat vrede herstel is.

Die oorlog het op 2 September 1945 tot ’n einde gekom en nog lande, soos die Verenigde State van Amerika (VSA), het besluit om deel van die opbouplan te word. Die groep lande wat graag weer hul lande wou opbou, het nie op hulle laat wag nie en hulle het van 1 tot 16 November 1945 in Londen vergader om ’n organisasie te stig wat na onderwys- en kultuurkwessies kon kyk. Verteenwoordigers van 44 lande het ingestem om ’n organisasie te stig wat ’n kultuur van vrede kon bevorder.

Hulle was omtrent vuisvoos ná die oorlog en het gehoop dat só ’n organisasie sou voorkom dat daar nog ’n wêreldoorlog sou uitbreek.

Unesco se grondwet het op 4 November 1946 van krag gekom en die organisasie is toe amptelik van stapel gestuur. 2

Unesco-feite

Unesco het talle onderwys- en wetenskapprogramme en is ook by programme betrokke om die omgewing en kulture se erfenis te beskerm.

Die organisasie het tans 194 lede en elke lidland kan een keer tydens Unesco se algemene konferensie (wat elke twee jaar gehou word) stem. Hulle bespreek daar die organisasie se begroting, aktiwiteite en ook elke lidland se bydrae. Suid-Afrika is sedert 1994 ’n lid van Unesco.

Daar is ook 12 genote wat deel is van die organisasie, maar wat nie stemreg het nie.

Unesco se uitvoerende raad bestaan uit 58 lede wat by die algemene konferensie verkies word. Die raad vergader ook twee keer per jaar om Unesco se werk te bespreek.

Die organisasie se sekretariaat is verantwoordelik vir die uitvoering van hul planne en programme. ’n Direkteur-generaal staan aan die hoof van die sekretariaat en hy of sy word vir ’n vierjaartermyn aangestel. 3

Unesco se internasionale hoofkantoor is in Parys, Frankryk. Die hoofgebou se naam is Place de Fontenoy en is op 3 November 1858 ingehuldig. Verskeie bekende argitekte het saamgewerk om dit te ontwerp, soos Bernard Zehrfuss, Marcel Breuer en Pier Luigi Nervi. 4

Die organisasie het meer as 2 200 personeellede en 136 institute. Daar is ook 52 streekskantore.

Unesco het ook ongeveer 200 nasionale kommissies wat uit lande se plaaslike kenners bestaan. Daar is ook ander kommissies en komitees, soos ’n kommissie wat kwessies rakende die oseaan oorsien, ’n wêreldkommissie oor kultuur en ontwikkeling, en ’n wêreldkommissie oor die etiek van wetenskaplike kennis en tegnologie. Die bevindings van hierdie kommissies word gereeld deur Unesco gepubliseer. 5

Suksesse

Unesco het al verskeie groot projekte aangepak en suksesse behaal:

1944: ’n Wêreldwye program om rassisme hok te slaan, het in 1944 afgeskop en die organisasie het ’n verklaring oor ras uitgereik. Daarin is daar genoem dat daar geen wetenskaplike gronde of regverdiging vir rassisme is nie.

1950: Daar is met groot veldtogte in Italië en Korea begin om geletterdheid te bevorder. Later is daar ook soortgelyke veldtogte in ander lande uitgerol.

Unesco het by sy algemene konferensie in 1950 in Florence, Italië, besluit om ’n Europese Organisasie vir Kernnavorsing (Cern, oftewel Conseil Européen pour la Recherche Nucléaire) te stig. Dié organisasie bestaan vandag nog en is bekend vir sy baanbrekerswerk.

1952: Unesco was instrumenteel in wetgewing rakende kopiereg en het die Universele Kopiereg-konvensie gehou. Die bekende ©-simbool is toe aanvaar as teken dat iets deur kopiereg beskerm word.

1959: Soedan en Egipte se regerings was baie bekommerd oor monumente wat deur die water van die Aswan-dam bedreig is. ’n Internasionale veldtog is begin om honderde erfenisterreine te red en te skuif na plekke waar dit veilig sou wees. Die belangrikste daarvan was die Abu Simbel- en Philae-tempels.

Die Aswan-dam.

1970: ’n Konvensie om lande in Afrika en Asië se kultuurerfenis te red, is gestig en wetgewing is ingestel om seker te maak dat antieke skatte nie op die swartmark verkoop sou word nie.

1971: Biosfeer-reservate is gestig om ’n balans te probeer vind tussen die behoeftes van plaaslike gemeenskappe en die beskerming van hul omgewings.

1972: Die Wêrelderfenis-konvensie is gestig om belangrike terreine te beskerm en vir die nageslag te bewaar.

1990: ’n Globale konferensie is gehou om ’n raamwerk op te stel vir die onderwys en opvoeding van kinders oor die wêreld heen, met die doel om gratis laerskoolonderwys vir alle kinders moontlik te maak.

1991: Unesco het ’n belangrike verklaring uitgereik om joernaliste te ondersteun en te beskerm. Daar is sedertdien ’n wêreldwye netwerk gestig om joernaliste op hierdie gebied te help.

2001: Unesco het ’n konvensie ontwikkel om lande se onderwaterkultuurerfenis te beskerm. Dit is veral daarop gemik om besoedeling, aardverwarming en stroping te bekamp.

2015: Mausoleums in Timboektoe is deur ekstremiste vernietig, maar dis in drie jaar se tyd deur Unesco herstel. Die oudste van daardie geboue is in die 13de eeu gebou en 16 daarvan het op die Wêrelderfenislys verskyn. Dit was ’n groot verlies toe 14 daarvan vernietig is, maar gelukkig het Unesco gehelp om dit te herstel.

2018: Een van die wêreld se oudste stede, Mosoel in Irak, is tydens konflik vernietig en verskeie monumente is beskadig. Unesco het gehelp om dié stad te herbou.

2020: Twee groot ontploffings in Augustus 2020 in Beiroet, Libanon, het groot skade veroorsaak en Unesco het ook hier gehelp om skole te herbou en om internasionale gemeenskappe te kry om te help.

2020: Die Covid-19-pandemie het groot vernietiging gesaai en Unesco het ’n belangrike rol gespeel om dit te probeer beveg en bekamp. Die organisasie het lande gehelp sodat kinders steeds onderrig kon ontvang, en 180 openbare en private vennote se hulp ingeroep. Museums en ander kultuurterreine is ook ondersteun.

2022: Unesco het ’n tsoenami-gereedheidsprogram ontwikkel met die doelwit om dit teen 2030 in risiko-gemeenskappe uit te rol. 6

Omstredenheid

Daar was spanning in die jare tagtig omdat lande soos die VSA gevoel het Unesco was onregverdig teenoor die Weste, en dat hulle meer geld as ander lande vir Unesco se programme moes gee. Die VSA het in 1984 van Unesco onttrek en net ’n jaar later het Brittanje en Singapoer ook onttrek.

Brittanje het in 1997 weer by Unesco aangesluit, terwyl die VSA en Singapoer dieselfde in 2003 en 2007 gedoen het.

Unesco het in 2011 volle lidmaatskap aan Palestina gegee, wat nie deur lande soos Israel en die VSA as ’n onafhanklike land erken word nie. Die VSA het toe besluit om nie meer geld aan die organisasie te betaal nie en daarom in 2013 sy stemreg by Unesco verloor.

Die VSA en Israel het in 2018 van die organisasie onttrek, maar die VSA het weer in 2023 aangesluit. 4

Unesco ondersteun ook die VN se 17 volhoubaarheidsdoelwitte

Unesco bevorder die deel van kennis en dra by tot die Verenigde Nasies se volhoubaarheidsdoelwitte, wat in dié organisasie se 2030-agenda uiteengesit is. Die agenda is in 2015 by die VN se Algemene Vergadering aanvaar.

Die doelwitte is soos volg:

  1. Om armoede wêreldwyd in al sy vorms te beëindig.
  2. Om hongersnood uit te wis en voedselveiligheid te verhoog.
  3. Om mense van alle ouderdomme se gesondheid en welstand te verbeter.
  4. Om inklusiewe en gehalteonderwys te verseker en om lewenslange leergeleenthede te vestig.
  5. Om geslagsgelykheid te bevorder en om meisies en vroue te bemagtig.
  6. Om te verseker dat almal toegang tot veilige water het en dat sanitasie volhoubaar bestuur word.
  7. Om toegang tot bekostigbare en volhoubare krag vir almal te verseker.
  8. Om ekonomiese groei en werkgeleenthede te bevorder.
  9. Om infrastruktuur te bou, industrialisasie te bevorder en innovering te ondersteun.
  10. Om ongelykheid tussen en onder lande te verminder.
  11. Om stede en menslike nedersettings veilig en volhoubaar te maak.
  12. Om volhoubare verbruik en produksie te ondersteun.
  13. Om klimaatsverandering te bekamp.
  14. Om waterbronne vir volhoubare gebruik te ontwikkel.
  15. Om die volhoubare gebruik van ekostelsels te bevorder, die volhoubare bestuur van woude aan te moedig, en om biodiversiteitsverlies en die agteruitgang van grond te stop.
  16. Om vreedsame en inklusiewe samelewings vir volhoubare ontwikkeling te bevorder, om vir almal toegang tot die regstelsel te gee, en om doeltreffende instellings daar te stel.
  17. Om die implementering van die Globale Vennootskap vir Volhoubare Ontwikkeling te versterk. 7

Unesco in Suid-Afrika

Suid-Afrika het ná die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994 ’n lid van Unesco geword.

Daar is tien Unesco-wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika. Dit is die Barberton Makhonjwa-berge, die Kaapse blommeryk, die Wieg van die Mensdom (hominiedefossielterreine), die iSimangaliso-vleilandpark, die Maloti-Drakensbergpark, die Mapungubwe-kultuurlandskap, die Richtersveld se kultuur en botaniese landskap, Robbeneiland, die Vredefortkoepel, en die ǂKhomani-kultuurlandskap. 8

‘n Olifant drink water by Mapungubwe, een van tien Unesco-wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika.
Die Tumulus-gebou by Maropeng se toerismesentrum by die Wieg van die Mensdom naby Johannesburg.
Die Richtersveld se kultuur en botaniese landskap is nog ‘n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Woordbank

agenda Lys van punte vir bespreking op ’n vergadering, sakelys.
baanbrekerswerk Iemand se werk wat nuwe terreine ontsluit het.
biosfeer Die aarde en atmosfeer se gedeelte waar lewe voorkom.
biodiversiteitsverlies Verlies/afname van verskeidenheid van plante en diere in ’n bepaalde habitat.
direkteur-generaal Die hoof van ’n afdeling.
ekostelsels Biologiese gemeenskappe/groepe van interaktiewe organismes en hul fisiese omgewing.
ekstremiste Mense met politieke idees wat deur die meeste mense as onredelik en onaanvaarbaar beskou word.
etiek Sedelike norme en wette.
geletterdheid Om te kan lees en skryf.
genote Lede van ’n literêre, wetenskaplike, of professionele genootskap.
globale Wêreldwye.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers oor beskik.
hominiedefossielterreine Plekke waar primate van ’n familie (Hominidae) wat mense en hul fossielvoorouers insluit en ook (in onlangse skemas) ten minste sommige van die groot ape.
infrastruktuur Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens.
innovering Nuwe dinge wat uitgedink of bekendgestel word, of waaraan veranderings aangebring word.
inklusiewe Wat almal/alles insluit.
institute Instelling.
instrumenteel  Waardeur of deur wie iets laat gebeur.
in volle swang Aan die gang wees.
konflik  Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/lande.
kopiereg Die reg wat te make het met die besit van intellektuele eiendom, soos as jy ’n boek geskryf het.
konvensie Formele vergadering van afgevaardigdes wat met ʼn spesifieke doel byeenkom.
natuurwetenskappe Wat met natuurwette te make het.
onder die loep te neem Aandag daaraan gee, die hoof te bied; dit probeer oplos.
ongeletterdheid Ongeleerdheid.
onderontwikkeling Ontwikkel nie na verwagting nie.
ontwikkelde lande Lande met sterk ekonomiese groei.
ontwikkelende lande Lande met swak ekonomiese groei.
sekretariaat       Kantoor wat vir administrasie verantwoordelik is.
stroping Plundering/geroof.
swartmark Waar onwettige handel in goedere plaasvind.
tsoenami Reusagtige golwe wat groot vernietiging veroorsaak.
uit te rol Om iets bekend te stel/ iets van stapel te laat loop.
van stapel gestuur Iets word begin.
verklaring ’n Formele verduideliking, uitspraak of belofte.
verpletterend Vernietigend.
volhoubaar Waarmee lank volgehou kan word.
vuisvoos As jy baie straf verduur het.

Lees dié artikels om meer te leer

Leersame video’s oor Unesco

Wat is Unesco?

Unesco se geskiedenis

Unesco se wêrelderfenisgebiede

Suid-Afrika se wêrelderfenisgebiede

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 November 2023 | Bygewerk op 15 April 2024