Vinnige feite

  • Rotskuns: Die rotskuns by die Drakensberge omvat die grootste verskeidenheid en is die mees gekonsentreerde versameling rotskuns in een gebied in Afrika suid van die Sahara. In die uKhahlamba-Drakensberg Park is daar meer as 500 grotte waar rotskuns aangebring is, met meer as 35 000 individuele kunswerke. 9
  • Tugela-rivier: In die 1800’s het die Tugelarivier ’n natuurlike grens gevorm tussen die Zoeloe-koninkryk in die noordooste en die Kolonie van Natal in die suide. 10 Beide Oranje- en Vaalrivier is die vernaamste sytakke van Tugelarivier.
    Die Tugela stort 947 m in die Tugela-waterval af en kronkel 502 km deur die KwaZulu-Natalse middellande voordat dit in die Indiese Oseaan vloei. 11
Foto: iStock

Die uKhahlamba-Drakensberge Nasionale Park is Afrika se grootste beskermde berglandgebied en is op 30 November 2000 as ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar. Dié gebied strek oor 242 813 ha. 1 langs die grens van KwaZulu-Natal en Lesotho.

Die uKhahlamba-Drakensberg Nasionale Park is ʼn versameling van verskeie parke wat saamgesmelt het om een groot park te vorm en sluit, onder meer, die Koninklike Natalse Nasionale Park in en strek oor groot dele van die Drakensberge. 2

Herkoms van die naam

Die naam van hierdie berg is ʼn kombinasie van Zoeloe en Afrikaans: uKhahlamba (versperring van spiese) en Drakensberg (Draak se berg).

Ligging

Hierdie enorme gebied word in vier dele verdeel: Bergville en die Noordelike Drakensberg, Winterton en die Sentrale Drakensberge, Himeville en die Suidelike Drakensberg en Griekwaland-Oos en Umzimkhulu. 3

Die park lê in die weste van KwaZulu-Natal aan die Lesotho-grens. Dit is 242 813 hektaar groot met ’n gemiddelde hoogte van 3 000 m en strek 150 km van die Koninklike Natalse Nasionale Park in die noorde tot by Cobham-staatsbosreservaat in die suide. Thabana Ntlenyana, met sy hoogte van 3 482 m, is die hoogste piek suid van Kilimanjaro. 4

Die majestueuse amfiteater in die noordelike Drakensberge is ‘n dramatiese (byna simmetriese) kransmuur van basalt wat meer as 1 000 m van die Tugela-vallei tot by die Lesotho-plato (van byna 3 000 m bo seespieël) uitstyg en meer as vyf kilometer lank is.

Die kranse oor die hele lengte van die reeks is meer as 1,2 km hoog en skep ʼn indrukwekkende gesig van bo-af en oorheers die gesigseinder. Vanaf die Champagne Vallei kan drie hoë pieke gesien word: Campagne Castel, Monk’s Cowl en Cathkin Peak. 6

Die dramaties gevormde Cathedral Peak is 3 005 m hoog en steil aan alle kante. Agter Cathedral Peak is die baie kenmerkende Bell, dan die Outer en Inner Horns, die Chessmen, die Ntonjelane-naald, die Mitre en die Twins. 7

Plantegroei

Die park is uiteraard ook ʼn natuurreservaat en huisves inheemse graslande, die Tugela-waterval, verskillende habitatte van bedreigde dierspesies, asook voëls, geelhoutwoude, talle riviere, waterstrome en plantspesies. Van die meer as 2 500 geïdentifiseerde plantspesies, is 15% daarvan nêrens anders in die wêreld te vinde nie. 5

Erfenis

Die San-rotskuns, wat hierdie gebied ʼn wêrelderfenisgebied maak, lok baie toeriste en daar is ook begeleide toere om die kuns te besigtig. Die rotskuns dateer van ongeveer 3 000 tot 200 jaar gelede en versinnebeeld die verhouding tussen mens en dier.

By die Didima-rotskunssentrum kan lewensgrootte rotskunspanele gesien word en 45 minute se stap verder, bied Lower Mushroom Cave ʼn rotskunstoneel van stokmannetjies by ʼn luiperd.

Om die omgewing in al sy glorie te beskerm, is daar geen hotelle in die park nie, slegs ruskampe by sekere ingange en dan is daar privaat hotelle in Champagne Valley en naby die Koninklike Natalse Nasionale Park, Cathedral Peak en Sani Pas. 8

Hierdie gebied is bekend is vir sy geweldig baie rotskuns en inheemse flora. Die natuurskoon leen hom ook tot talle verskeie aktiwiteite soos bergklim, kunsvlieghengel (fly-fishing), fietsry, swem, staproetes, fotografie, rotskuns- en voëlkyk.

Dierspesies

Soogdiere soos die rooibok, grys rooibok, grys duiker, eland, klipspringer en bosbok is hier te sien en onder die roofdiere woon die luiperd, swartrugjakkals, rooikat, muskeljaatkat en muishond in hierdie area. Veral by Giant’s Castle-wildreservaat kan elande gesien word en by die Main Cave kan honderde rotstekeninge besigtig word. Van die meer as 300 voëlspesies in die wêreld is 20 spesies daarvan slegs tot Suid-Afrika, Lesotho en Swaziland beperk.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 18 Januarie 2022 | Bygewerk op 11 November 2023