Vinnige feite

Melktert
  • Braaivleis, biltong, koeksisters en melktert is spesifieke eetgoed wat deel vorm van die meeste Afrikaanssprekendes se kultuur.
  • Tradisies word nie gesien as gebruike wat net deur ons voorgeslagte in antieke tye toegepas is nie. Inteendeel, tradisies vorm vandag nog net so ’n belangrike deel van ons menswees. Dit ontketen ’n gevoel van om aan ‘n groep te behoort en speel ’n rol in die vorming van identiteit as individu of groep.
  • Tradisie is die woord wat ons gebruik vir die kultuurwaardes van ’n volk en dit sluit oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurgoedere, kultuurfeeste en -gebruike in wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word.
  • Waar roetines iets is wat mettertyd outomaties uitgevoer word en help om ’n huishouding en program beter georganiseerd te hou, gaan tradisie meer oor die oomblik self en om dit doelbewus en betekenisvol te benut.

Tradisie is die woord wat ons gebruik vir die kultuurwaardes van ’n volk en dit sluit oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurgoedere, kultuurfeeste en -gebruike in wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word. 1

Tradisionele danse

Tradisies kom in verskillende vorme en soorte voor en verskil gewoonlik van kultuur tot kultuur.

Voorbeelde van tradisies sluit familie-, kerk-, skool- en volkstradisies in. Elke kultuurgroep het hul eie vorm van tradisie. Byvoorbeeld, in die Afrikaanse kultuur is vleisbraai so gewild dat dit al ’n tradisie geword het. Nog ’n voorbeeld, al doen die jonger geslag dit nie meer so dikwels nie, nie is die gewoonte om ’n groot gekookte ete op ’n Sondagmiddag te geniet.

Die verskil tussen roetine, kultuur en tradisie

Om beter te verstaan wat tradisie regtig beteken, sal dit help om te weet hoe tradisie verskil van roetine en kultuur.

Roetine word gesien as die gewone, gereelde manier van dinge doen of ’n vaste gewoonte, soos om volgens ’n spesifieke roetine elke oggend klaar te maak vir skool. 2

Byvoorbeeld: Jou wekker lui elke weeksoggend om 06:15, waarna jy Bybel lees en stiltetyd geniet vir 15 minute. Ongeveer 6:30 gaan jy badkamer toe om gesig te was en op te vars vir die nuwe dag. Om 06:45 trek jy jou skooluniform aan, eet ontbyt om 07:00 saam met jou gesin en om ongeveer 07:15 borsel jy tande. Daarna gee jy jou boeksak ’n laaste regtrek en maak seker jy het alles ingepak. Jy maak Wagter se bak vol pille, vryf sy kop en groet die res van die gesin voordat jy en Pa om ongeveer 07:40 in die motor klim om skool toe te ry.

Nog voorbeelde:

  • Die buurman het ’n vaste gewoonte om elke oggend om sesuur te gaan draf.
  • Deel van ons opwarmingsroetine by elke netbaloefening, is om met aankoms by die netbalbaan vier keer om die baan te draf.
  • Wanneer ek en my vriendin mekaar groet, is ons handeklapgroet deel van ons groetroetine.

Kultuur is die manier van leef, gewoontes, geloof, ensovoorts van ’n bepaalde groep mense of gemeenskap. Elke volk het sy eie kultuur en verskillende groepe het verskillende kulture.

‘n Tradisie waar lanterns in die lug opgestuur word om te dien as simbool van hoop

Suid-Afrika is ’n land wat bekend is daarvoor dat hy uiteenlopende kulture in een land huisves. 2

Kultuur se voortbestaan word verseker deurdat die ouer generasie die gebruike van ’n kultuur oordra na hul nageslag. Kultuur kan mettertyd verander, soos wat die omgewing verander of soos wat ’n groep mense of volk in kontak kom met ’n ander. Nuwe idees word soms van ’n ander groep verkry, wat dan ’n invloed en verandering kan uitoefen op die groep se kultuur. 3

Nuwejaarsviering

Byvoorbeeld: Braaivleis, biltong, koeksisters en melktert is spesifieke eetgoed wat deel vorm van die meeste Afrikaanssprekendes se kultuur. Die liefde (en resepte) daarvoor is oorgedra van geslag tot geslag. Biltong en beskuit se oorsprong dateer vanuit die Voortrekker-era omdat dit eetgoed is wat vooraf gemaak kon en gebêre kon word sonder om sleg te raak – ideaal vir die lewe van Trekkers. Dit het ’n onlosmaaklike deel geword van Afrikaners wat vandag steeds hierdie lekkernye geniet. 4

Braaivleisvuur

Nog voorbeelde:

  • Gumboot-danse (isicathulo), bekend in die Zoeloekultuur, gebruik komplekse ritmes, stampende voete, saamslaan van hakke en energieke danse in lynformasies. Soms is daar ’n roep en antwoord wat gepaard gaan met die ritmiese geslaan op stewels. ’n Fluitjie word ook soms gebruik wat saam met bevele die span lei om te weet watter bewegings volgende uitgevoer moet word. 5
  • ’n Sari is ’n kleurvolle tradisionele kledingstuk van ’n Hindoevrou wat bestaan uit ’n lang stuk sy of katoen wat om die middel en skouers gedrapeer word. 1
  • Nederlandse klompe is ’n soort skoen van hout wat deel vorm van die Nederlandse kultuur en soms gedra word op nasionale vakansiedae van hierdie land. 6
Nederlandse klompe

Tradisies in ’n moderne tyd

Tradisies word nie gesien as gebruike wat net deur ons voorgeslagte in antieke tye toegepas is nie. Inteendeel, tradisies vorm vandag nog net so ’n belangrike deel van ons menswees. Dit ontketen ’n gevoel van om aan ‘n groep te behoort en speel ’n rol in die vorming van identiteit as individu of groep.

Elke skool het spesifieke tradisies wat oor jare heen aan die nuwe leerders oorgedra word. Dit sluit in die skooluniform, sing van die skoollied, saalbyeenkomste, sportkrete en matriekafskeide, om maar net ’n paar te noem. Hierdie tradisies help om ’n gevoel van samehorigheid by ’n skool te skep en natuurlik trots te kweek onder elke leerder vir sy of haar skool, medeleerders en onderwysers.

‘n Opgemaakte saal vir ‘n feesviering

Dink net hoe saai sal ’n groot sportbyeenkoms wees sonder die sing van die span se skool- of studentelied, of ’n internasionale wedstryd sonder die sing van land se volkslied (met natuurlik die gejuig en geklap van ’n opgewonde skare daarna). So ook sal Kersfees sonder Kerspoeding en Paasnaweek sonder paaseiers ’n vreemde ervaring wees.

Paasnaweek se eiersoektog

Daar word selfs deur navorsing bewys dat familietradisies help om kinders ’n gevoel van sekuriteit, geborgenheid en roetine te gee. Stabiliteit en ’n gevoel van sekerheid word veral deur die herkenbare element van tradisie geskep, omdat dit iets is wat herhalend voorkom of gebruik word. Tradisie help ook om ’n gevoel van samehorigheid te kweek en waardes toe te voeg, en dit motiveer ’n familie om saamweestye te waardeer en sodoende kosbare nuwe herinneringe te skep.

Bordspeletjies

Waar roetines iets is wat mettertyd outomaties uitgevoer word en help om ’n huishouding en program beter georganiseerd te hou, gaan tradisie meer oor die oomblik self en om dit doelbewus en betekenisvol te benut.

Tradisies hoef nie altyd ’n groot gedoente soos Kersfeesvieringe te wees nie, maar ’n gesinstradisie van Saterdagaand-braai-en-bordspeletjies kan ’n heerlike geleentheid wees wat baie lag en saamweestyd waarborg. 7

Nog idees vir genotvolle gesinstradisies:

  • Vrydagaand-fliekaand: Die hele gesin moet ’n fliek saam uitkies wat almal bereid is om te kyk. Hoewel almal se smaak in vermaak en stories verskil, is dit spesiaal om saam na ’n fliek te kyk en sodoende ook te leer om mekaar se voorkeure in ag te neem.
  • Bordspeletjies en kaartspel op ’n sekere aand van die week.
  • Wanneer iemand in die gesin verjaar, eet almal koek vir ontbyt!
  • Dankbaarheidsfles waarin elke gesinslid op ’n Sondagaand ’n nota gooi waarop iets geskryf is waarvoor hy of sy dankbaar is vir die week. Lees die briefies een keer per maand saam as gesin en vier die lewe met dankbaarheid.
  • Huisgodsdiens op ’n spesifieke aand van die week.
  • Bak een keer per maand as gesin saam koekies en gaan deel dit uit aan hawelose mense.
  • Skryf jul eie resep wat oorgedra kan word na jul kinders en hulle kinders.
  • Bak pannekoek met die uitsak van die eerste reëns.
  • Geniet melkskommels op die laaste dag van skool om die vakansie in te wy.
  • Ontdek ’n nuwe staproete elke Sondagmiddag.
  • Doen saam boeresport op die eerste dag van lente.
Familietyd
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Februarie 2022 | Bygewerk op 19 Oktober 2023