Vinnige feite

  • Die Afrika-lande waar mens die Groot Vyf kan sien, is Suid-Afrika, Kenia, Tanzanië, Botswana, Uganda en Namibië. In Suid-Afrika het ’n mens die beste kans om al vyf hierdie diere op dieselfde plek te kan sien. Die Nasionale Krugerwildtuin en die private wildreservate in die omgewing van die wildtuin is van die beste plekke om al vyf diere te siene te kry. 6
  • Leeus kan tot 20 uur per dag slaap. 5
  • As ’n buffel storm en iets tref, sal die slag omtrent dieselfde wees as ’n motor wat ’n muur teen 50 km per uur tref! 11
  • Wanneer ’n luiperdwyfie met haar kleintjies deur lang gras loop, hou sy haar stert regop sodat hulle die wit punt van haar stert kan sien en haar op dié manier kan volg. 11
  • Mense verwar soms luiperds met jagluiperds. Jagluiperds se liggaamsbou is skraler en baie meer vaartbelyn, en hulle vlekke is rond. Jagluiperds het ook ’n streep langs hulle oë wat luiperds nie het nie. 2
  • Die Sabi Sands-wildreservaat in Suid-Afrika het die meeste luiperds in die wêreld. 11
Foto: iStock

Hulle dwing respek af deur grootsheid, grasie en geringe getalle; pryk op ons land se geldnote; én is op duisende jagters en toeriste wêreldwyd se emmerskoplysie van wilde diere om van nader te bekyk en te leer ken. Ons praat natuurlik van die Groot Vyf – die leeu, olifant, renoster, luiperd en buffel! Wêreldwyd staan dié gerekende groep vierpote onder natuurliefhebbers as die “Big Five” bekend. Hulle is eie aan Afrika en veral besonder spesiaal vir Suid-Afrikaners.

Hoekom word hulle die “Groot Vyf” genoem?

Al is sommige van die Groot Vyf-diere wel baie groot, soos die renoster, buffel en olifant, het dié benaming eintlik niks met hul fisieke grootte te doen nie. Dié besonderse groep diere het die Groot Vyf-titel te danke aan die feit dat hulle enersyds moeilik is om te jag (of selfs net in die bos te gewaar) en andersyds omdat hulle sonder uitsondering baie gevaarlik is. Vir baie jagters was dit (en vir sommige buitelandse jagters is dit steeds) ’n baie groot prestasie as hulle een, of dalk selfs al vyf, van hierdie diere met ‘n boog of ‘n geweer kan plattrek.

Gelukkig wil almal wat na Suid-Afrika stroom om die Groot Vyf te sien, hulle darem nie jag nie. Met die getalle van dié diere, veral die renoster, wat aansienlik minder is as ‘n paar jaar gelede, is die voorreg om een in die bos te gewaar, reeds ‘n reusebeloning! Om nie te praat van die seldsame geleentheid om een met jou kamera vas te vang nie! 1

Gerekende geselskap

Die leeu

Leeus (Panthera leo) is die enigste van ongeveer 38 katagtige spesies wat verkies om in troppe te leef. ’n Volwasse mannetjie kan tot 250 kg weeg. In ’n trop leeus is daar gewoonlik een senior mannetjie wat die hoof is van die trop. Verder bestaan die trop uit wyfies, kleintjies en jonger mannetjies.

Leeus kan baie hard brul! Hulle doen dit gewoonlik ná sononder, nadat hulle iets gevang het en ook nadat hulle klaar gevreet het. Buiten die brulgeluid, maak hulle ook agt verskillende bromgeluide en ’n hele paar spin-, tjirp- en tjankgeluide. 2

Leeus jag gewoonlik snags, en dit is dikwels die wyfies wat die jagwerk doen. Wanneer hulle iets gevang het, eet die mannetjies eerste. Hoewel hulle meestal bokke en sebras eet, sal hulle selfs insekte eet. Wanneer die wyfies jag, kan hulle tot 30 km ver hardloop. 2 3

Leeus het nie werklik natuurlike vyande nie – hul enigste vyand is jagters. Dit gebeur egter tog dat leeuwelpies (klein leeutjies) deur ander roofdiere – soos hiënas, luiperds en wildehonde – doodgemaak word. 4

Die olifant

Die Afrika-olifant (Loxodonta africana) kom voor in die deel van Afrika suid van die Saharawoestyn, gewoonlik in savannes, woestyne en riviervalleie, asook in sommige woude, soos die Knysna-woud. [Lees meer oor savannes.] Olifante word bedreig deur wilddiewe wat hulle jag om hulle ivoortande in die hande te kry.

Een olifant kan tot 300 kg se gras, bas, takke en blare in een dag verorber, en hulle drink sommer tot 190 liter water per dag. 2 4

Olifante is die grootste soogdiere op aarde. ’n Baie interessante deel van ’n olifant is sy slurp. Hierdie liggaamsdeel is baie nuttig – hy kan daarmee vrugte optel óf afpluk, en ook blare afpluk. Hulle drink ook water met hulle slurpe en suig water daarmee op waarmee hulle hulself natspuit om af te koel. ’n Slurp bestaan net uit spiere en bevat geen bene nie. 3

Afrika-olifante is baie goed by hulle omgewing aangepas. Hulle vel is byvoorbeeld meer as 2 cm dik om hulle teen skerp dorings te beskerm. Hulle groot ore help hulle om hitte te versprei en om hul liggaamstemperatuur te reguleer. 5 Hierdie ore kan tot 2 m x 1,2 m groot word – dit is amper so groot soos ’n dubbelbed – en tot 20 kg weeg! 4

Olifante kan tot 3 meter hoog word en tot 7 ton (7 000 kg) weeg. 6 ’n Olifant lyk wel lomp en groot, maar moenie dink dat hulle teen ‘n slakkepas beweeg nie. Wanneer daar gevaar dreig of wanneer die diere skrik, kan hulle tot 40 km per uur hardloop. 4

Olifantkalfies word baie goed deur al die olifantkoeie in die trop opgepas, en wanneer daar gevaar dreig, sal die hele groep beskermend rondom die kalfies gaan staan. 4

Die renoster

Onder die soogdiere is dit net die olifant en seekoei wat groter is as ’n renoster (familie: Rhinocerotidae). Daar is twee soorte renosters in Suid-Afrika – die swartrenoster (Diceros bicornis) en die witrenoster (Ceratotherium simum). Albei soorte het twee horings, maar die vorm van hulle bekke of lippe verskil. Renosters se horings kan tot 1,52 meter lank word. Die swartrenoster het ʼn lang, gepunte bolip, en die witrenoster se bek is wyer. 2

‘n Witrenoster (Ceratotherium simum).

Renosters kan tot 2 500 kg weeg, en hulle kan tot 40 jaar oud word. Renosters eet growwe gras en het baie water nodig om hul kos te verteer. Hulle moet ten minste een keer per dag water drink. Renosters rol nie net in die modder rond nie, maar eet selfs soms van die einste modder! Die modder beskerm hulle teen die son, help hulle om af te koel en help ook om hulle teen parasiete te beskerm. Dit bevat ook minerale wat die renoster in sy dieet nodig het.

Swartrenosters (Diceros bicornis).

‘n Witrenosterkalf hardloop altyd voor sy ma uit wanneer gevaar dreig. Die swartrenoster se kalf hardloop weer agter die ma aan wanneer daar gevaar is. 4

Die luiperd 

Die luiperd (Panthera pardus) het swart kolle wat amper soos blommetjies op ’n geelgoue vel lyk. ’n Luiperd se stert het ’n wit punt. Hulle is groter en stewiger gebou as die jagluiperd. ’n Luiperd se kop en lyf is 1,6 tot 2,1 m lank, en sy stert is ongeveer 1 m lank.

Luiperds pas hulle dieet aan wanneer kos skaars is. Hoewel hulle gewoonlik kleiner boksoorte eet, eet hulle ook dassies, bobbejane, reptiele en selfs vis. Wanneer dit nodig is, eet hulle selfs insekte en knaagdiere.

Luiperdwyfies kry twee tot drie welpies (kleintjies) op ’n slag. Hulle word goed weggesteek vir ander roofdiere wat hulle sal vang as hulle die geleentheid kry. Hulle bly ook vir die eerste jaar van hulle lewe by die wyfie terwyl sy hulle leer om in die natuur te oorleef.

’n Luiperd kruip gewoonlik weg in die dag en jag in die nag. Hy wag sy prooi in, bespring dit en byt dit aan die keel dood. Luiperds kan goed boomklim en steek dikwels hulle prooi in ’n boom weg om dit teen ander roofdiere te beskerm. 7 Dink hoe sterk moet ‘n luiperd wees om ’n bok tot bo in ’n boom op te trek!

Luiperds is allesbehalwe “lui perde”! Hulle kan tot 56 km per uur hardloop en tot 3 m hoog in die lug spring. 5

Die buffel 

Buffels (Syncerus caffer) se horings is in die middel aan mekaar verbind sodat dit soos ’n helm om sy kop lyk. Jagters beskou die buffel as een van die gevaarlikste wilde diere om te jag. 2

’n Volgroeide buffelbul kan tot 920 kg weeg. 5

Buffels is tropdiere, en een van die koeie is gewoonlik die leier van die trop. Wanneer daar gevaar is wat ’n buffeltrop bedreig, beweeg al die koeie en kalwers na die middel van die trop en die bulle staan aan die buitekant van die sirkel om die koeie en kalwers te beskerm. 2

Die gevaarlikste dier onder die Groot Vyf

Mense dink gewoonlik dat die leeu en die luiperd die gevaarlikste diere onder die Groot Vyf is, maar eintlik sê kenners dat die buffel die gevaarlikste is. Hulle is onvoorspelbaar, en hulle buie is temperamenteel (dit kan vinnig verander). Die ouer bulle kan baie maklik kwaad word en dan is hulle natuurlik baie gevaarlik. 8

Interessante feite

Afrika-olifante kan oor lang afstande met mekaar “gesels” met geluide waarvan die frekwensie só laag is dat mense dit nie kan hoor nie.

Daar is plante waarvan die sade deur olifante se spysverteringstelsels moet beweeg voordat dit kan ontkiem. In Wes-Afrika is ongeveer een derde van die woude afhanklik van olifante om op dié manier te kan voortbestaan.

Renosters kan nie goed sien nie. Soms gebeur dit dat hulle ’n rots of ’n boom sal storm en “aanval” omdat hulle nie kan sien wat dit is nie! Hulle kan wel baie goed hoor en ruik, en dit vergoed vir hulle swak sig.

Witrenosters is eintlik glad nie wit nie! Hulle is inderwaarheid gryserig-bruin. Hulle naam kom van die Nederlandse woord wijde wat “wyd” beteken omdat hulle bekke wyer is as dié van swartrenosters. Dit het toe vir mense geklink soos “wit”, en dit is waar die naam ontstaan het.

Onder die Groot Vyf is die renoster die een wat die meeste bedreig is (in gevaar is om heeltemal uit te sterf). Renosters word ongelukkig gejag (gestroop) vir hul horings omdat veral mense wat in die Ooste bly, glo dat daar allerhande medisinale en ander waarde in dié horings opgesluit is. (Lees meer hier oor renosterstropery.)

Hoe donkerder ’n leeu se maanhare is, hoe ouer is hy gewoonlik. Buffels se grootste vyand is leeus. Wanneer ’n buffel deur leeus gevang word, sal die res van die buffeltrop hom probeer red. Mense het al gesien hoe buffels selfs ’n leeu doodgemaak het nadat die leeu ’n buffel gevang en doodgemaak het.

Die Afrika-buffel is nie verwant aan die waterbuffel nie, al lyk hulle baie na mekaar as ‘n mens vinnig kyk. Die gevaarlike Afrika-buffel is ook nog nooit makgemaak soos met die waterbuffel gebeur het nie.

Die luiperd is ’n nagdier en bly gedurende die dag in skuilplekke. Hulle is ook alleenlopers en is die een dier van die Groot Vyf wat die minste gesien word. 9

Suid-Afrika se banknote

’n Mens hoef nie te wonder hoe belangrik die Groot Vyf in ons samelewing is nie – hulle verskyn selfs op ons banknote! Die luiperd is op die R200-noot, die buffel op die R100-noot, die leeu op die R50-noot, die olifant op die R20-noot, en die renoster verskyn op die R10-noot.

Suid-Afrika se geld word deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) uitgereik. Daar word gesorg dat die geldnote duursaam is (lank kan hou). Daarvoor word allerlei toetse op die note gedoen. Dit word gevou en gefrommel en selfs met ’n hamer geslaan! Skoonmaakmiddels soos waspoeier word ook op die note getoets, sodat daar sekergemaak kan word dat note heel bly as hulle per ongeluk gewas word. 10

Suid-Afrika het in Mei 2023 splinternuwe banknote gekry en het oudpres. Nelson Mandela se gesig op die voorkant van elke noot (soos op die vorige note), maar die agterkant van die note beeld nou – pleks van een groot prentjie van een van die Groot Vyf – een van die vroulike diere van die Groot Vyf met haar kleintjie uit. Saam met Mandela se gesig op die voorkant, is ‘n klein weergawe van die prentjie wat op die keersy van die noot is.

Woordbank

helm Beskermende kopbedekking wat gewoonlik deur motorfietsryers of mynwerkers of fabriekswerkers gedra word om hulle koppe teen beserings te beskerm.
prestasie Iets belangriks wat ’n mens regkry – prestasies op die sportveld of akademiese prestasies.
savannes Grasvlakte met verspreide bome.
wildehonde ’n Hond (Lycaon pictus) wat in troppe jag deur die prooidier tot uitputting te jaag en die dier soms reeds in die hardloop begin verskeur. Dit is ’n bedreigde spesie wat slegs in die oostelike en suidelike dele van Afrika nog in groot genoeg troppe voorkom om hul oorlewing te verseker.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wilde diere en die Groot Vyf 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 Mei 2023 | Bygewerk op 22 November 2023