Vinnige feite

  • Elektrisiteit beweeg teen die spoed van lig – ongeveer 300 000 km per sekonde. 39
  • ʼn Mikrogolf gebruik meer krag om die horlosie van die mikrogolf te laat werk as die hoeveelheid elektrisiteit wat gebruik word om kos warm te maak. 40
  • Dit is elektrisiteit wat die spiere in jou hart laat saamtrek om dit te laat klop. ʼn Elektrokardiogram (EKG) word gebruik om te meet hoeveel elektrisiteit deur jou hart gaan. 40
  • Dr. Hendrik van der Bijl, Eskom se eerste voorsitter, was betrokke by die eerste langafstandtelefoonoproep in die wêreld – ʼn allemintige 4 800 km ver tussen Parys (Frankryk) en New York in die VSA. 41
  • In sommige lande word elektriese stoele gebruik vir mense wat die doodstraf kry. Toe keiser Menelik II van Ethiopië twee elektriese stoele gekoop het, kon hulle dit nie gebruik nie, want daar was nog nie elektrisiteit in dié land nie. 40
  • Sowat 648 AA-batterye sal nodig wees om ʼn mens vir een dag aan die gang te hou (een kalorie is gelykstaande aan ongeveer 4,2 joule!). 40
  • Het jy al ooit gewonder hoe kry voëltjies dit reg om op ʼn kragdraad te sit sonder dat hulle doodgeskok word? As die voëltjie net op een draad sit, sal hulle niks oorkom nie, maar sodra enige deel van die voëltjie se lyf terselfdertyd aan enige ander draad sou raak, sal ʼn elektriese stroom ontstaan wat hulle sal skok. 42
  • Die eerste suksesvolle elektriese motor is al in 1891 deur die Amerikaanse uitvinder William Morrison gebou. 40
  • Die eerste vier mees algemene huishoudelike elektriese toestelle was ʼn naaldwerkmasjien, ʼn waaier, ʼn ketel en ʼn broodrooster. 40
  • ʼn Enkele weerligstraal bevat genoeg energie om ʼn klein dorpie vir ʼn hele dag lank krag te gee! 40
Foto: iStock

Vir ʼn rukkie is dit lekker om stories te vertel en malvalekkers oor ʼn kersvlam te braai. Dan word dit irriterend as jy nie meer na jou gunsteling-TV-reeks of YouTube-video’s kan kyk nie omdat die elektrisiteit wéér weens beurtkrag af is. Het jy al gedink wat gaan gebeur as die krag vir weke, of selfs maande, af is?

Behalwe dat die land se ekonomie daagliks baie geld gaan verloor, kan die lewe, soos ons dit nou ken, vir altyd verander. Hoe gaan mense kos koop as hulle nie geld by die kitsbank (outomatiese tellermasjien of OTM) kan trek of kaartmasjiene in die winkel kan gebruik nie?

Hoe gaan ons kos in die yskas of vrieskas koud hou? Hoe gaan ons werk sonder die internet of telefone? Motors kan ongelukke maak omdat die verkeersligte nie werk nie. Mense kan in hospitale sterf omdat die masjiene, wat hulle aan die lewe hou, nie meer werk nie. Pompe by opgaardamme sal nie meer kan werk nie en daar sal dus nie meer water in die krane wees nie. Jy sal ook nie die toilet kan spoel as die rioolplase nie elektrisiteit het nie.

Oor die jare het die mensdom só afhanklik geraak van elektrisiteit dat ons nie meer daarsonder kan klaarkom nie.

Oor die afgelope honderd jaar was Eskom die maatskappy in Suid-Afrika wat gesorg het dat 87% van Suid-Afrikaners elektrisiteit in hul huise het. Daar was ʼn hele paar eerstes vir dié maatskappy, soos die eerste kernkragsentrale en windplaas in Afrika. In ʼn stadium was Suid-Afrika se elektrisiteit selfs van die goedkoopste in die wêreld omdat ons so baie steenkool het.

As gevolg van swak beplanning van die hoeveelheid elektrisiteit wat Suid-Afrika in die toekoms sou nodig hê, is daar egter nie genoeg nuwe kragsentrales (die plek waar krag opgewek word) gebou nie en die ou kragstasies (soos kragsentrales ook genoem word) is nie behoorlik in stand gehou nie. Dit veroorsaak dat ons gereeld beurtkrag het. As die probleem van elektrisiteitsvoorsiening in Suid-Afrika nie vinnig opgelos word nie, lê daar nog baie donker dae vir ons voor!

Voor Eskom daar was

Met die ontdekking van goud en diamante in Suid-Afrika het myne baie elektrisiteit nodig gehad. Dit was belangrik dat elektrisiteit aan myndorpe verskaf word. Kimberley in die Noord-Kaap het in 1882 die eerste dorp in Suid-Afrika én Afrika geword wat elektriese straatligte gekry het. Kimberley het selfs voor Londen in die Verenigde Koninkryk met straatligte gespog! 1

Diamantmark op die delwerye.

Die ontdekking van goud in die omgewing van Johannesburg vanaf 1884 het tot die ontstaan van myne op verskillende plekke in dié gebied (vandag se Gauteng) gelei. Duisende mense het hierheen getrek om in die rykdom te deel. In 1895, net elf jaar ná die ontdekking van goud, was daar reeds meer as 100 000 inwoners in Johannesburg. 2

Die myne én die mense wat in Johannesburg gewoon het, het voordeel getrek uit die elektrisiteit wat in die gebied verskaf is. Binne vyf jaar was Johannesburg die eerste stad in Suid-Afrika wat ʼn kragnetwerk gehad het wat deur stoomenjins aangedryf is. Die hoeveelheid elektrisiteit wat hierdie kragstasies opgewek het, was egter nie genoeg nie en die myne het begin om hul eie klein kragsentrales te bou om ekstra elektrisiteit op te wek en te verskaf. 1

Voor die stigting van Eskom in 1923 was daar 40 munisipaliteite en private maatskappye wat elektrisiteit verkoop het. Rand Mines Power Supply Company en die Victoria Falls and Transvaal Power Company (VFP) was die grootste kragvoorsieners. 3

Stigting van Eskom

Die elektrisiteit was steeds nie genoeg om die myne én die spoorweë (die netwerk van treine in die land) se elektriese treine aan die gang te hou nie. Die belangrikste rede vir die stigting van Eskom was om genoeg en goedkoop energie aan die myne en elektriese treine in Suid-Afrika te verskaf. Eskom se uiteindelike doel was om hierdie elektrisiteit ook aan Suid-Afrikaners in hul huise te gee. 4

Eskom word in 1923 gestig met dr. Hendrik van der Bijl as die eerste voorsitter. Hy het ook gehelp met die stigting van Yskor wat staalfabrieke reg oor die land gehad het. 5

Eskom het in daardie tyd ʼn Afrikaanse en Engelse naam gehad: die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (Evkom) en die Electricity Supply Commission (Escom). Dié twee name is in 1987 gekombineer (saamgevoeg) en die maatskappy is tot vandag algemeen bekend as Eskom. 6

Hoewel Eskom se eerste vergadering in Kaapstad gehou is, word Electricity House in Johannesburg in 1924 die eerste hoofkantoor van Eskom in Suid-Afrika. 3

Geskiedenis van Eskom 

1923-1932: Goedkoopste elektrisiteit in die wêreld

Voor 1923 het die VFP-maatskappy elektrisiteit aan die goudmyne in die land verskaf, maar in 1910 is ʼn wet gemaak wat bepaal het dat Eskom die VFP oor 35 jaar kan koop. 7 Vanaf 1923 sou Eskom die geld gee om nuwe kragstasies (ʼn plek waar elektrisiteit op verskillende maniere opgewek word) te bou, maar die VFP sou dit bou en werk om dit aan die gang te hou. 3

Een van die eerste dinge wat Eskom moes doen, was om die treinspoor tussen Glencoe en Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal en spoorlyne in Kaapstad te elektrifiseer sodat elektriese treine dit kon gebruik. 3

Eskom se eerste kragsentrale was hidroëlektries en is in 1927 in Sabie in Mpumalanga gebou. 3 Hidroëlektriese krag is elektrisiteit wat deur die beweging van water opgewek word. Só ʼn kragstasie begin gewoonlik deur ʼn groot damwal te bou wat die water in ʼn rivier kan terughou. Sodra hierdie water uitgelaat word, dwing die groot druk agter die dam die water deur, wat na ʼn turbine lei. Die turbines het ratte wat met water of stoom beweeg word. 8

Die turbine word gebruik om kinetiese energie van die vallende water na die kragopwekker (ook ʼn generator genoem) oor te dra. ʼn Generator is ʼn toestel wat meganiese energie na elektriese energie omskakel. ʼn Generator bestaan uit groot metaalspoele wat in ʼn magnetiese veld beweeg. In sommige generators staan die spoele stil terwyl die magnete draai, en in ander generators is dit die magnete wat stilstaan terwyl die spoele draai. Die draai van die spoele in ʼn magneetveld wek ʼn elektriese stroom op. 9

Kragstasies wat met steenkool werk, is vir onder andere Witbank, Kaapstad en Durban beplan. Hoewel steenkoolkragstasies baie lugbesoedeling veroorsaak, was daar genoeg steenkool in Suid-Afrika om die opwekking van elektrisiteit goedkoop te maak.

By ʼn steenkoolaangedrewe kragstasie word die stukke steenkool eers tot ʼn fyn poeier gemaal. Hierdie fyn steenkool word na oonde vervoer waar dit aan die brand gesteek word. Die hitte-energie word gebruik om water te kook en stoom op te wek. Die stoom stoot teen die lemme van ʼn turbine wat die turbine laat draai. Die turbine is verbind met ʼn generator, wat dan groot magnete binne-in draadspoele draai en só word elektrisiteit opgewek. 10

In 1929 was die kragstasie by Witbank die grootste een in die land wat die goedkoopste elektrisiteit in die wêreld opgewek het. Al was daar ʼn wêreldwye ekonomiese depressie waar mense nie werk of geld gehad het nie, het Eskom 800 miljoen eenhede elektrisiteit (die hoeveelheid krag wat verbruik word) verkoop. 3 [Lees hier oor die Groot Depressie.]

1933-1943: Grootste kragsentrale in die Suidelike Halfrond

Met die verdere ontdekking van goud in Randfontein in Gauteng was selfs nóg meer elektrisiteit nodig, maar daar was nie genoeg water naby Randfontein waar die goudmyne begin is nie. 3 Water word onder meer gebruik om die stoom af te koel wat gebruik word om die elektrisiteit op te wek. 10

ʼn Kragsentrale naby die Kliprivier en steenkoolmyne in Vereeniging was die oplossing. Die probleem was dat die Kliprivier nie eintlik genoeg water vir ʼn kragstasie gehad het nie. Dr. F.E. Kanthack was ʼn slim ingenieur wat die sentrale só ontwerp het dat net 1% van die water verdamp wanneer elektrisiteit opgewek word. 11

In 1940 begin die Kliprivier-kragstasie krag opwek. Dit was vier keer groter as Witbank s’n en in daardie tyd die grootste kragstasie in die Suidelike Halfrond (lande wat suid van die ewenaar is, soos Nieu-Seeland, Australië, die grootste deel van Suid-Amerika en die suidelike helfte van Afrika). 12

Eskom skuif in 1937 sy hoofkantoor in Johannesburg. Met 21 verdiepings was Escom House toe die hoogste gebou in die land. Teen die einde van daardie jaar verkoop Eskom 2 500 miljoen eenhede elektrisiteit. 13

1943-1952: Groter as Switserland

Die Congella-kragstasie naby Durban moes uitgebrei word om genoeg elektrisiteit aan daardie deel van die land te verskaf. Stoomketels wat vir die kragstasie gebruik sou word, is van Engeland af bestel. In 1943 is die skip wat die stoomketels vervoer het, egter deur ʼn Duitse duikboot gesink. Dit is eers in 1946, ná die oorlog, dat die stoomketels uiteindelik by Congella aangekom het. 13

Die Congella-kragstasie naby Durban.

Die Vaal-kragstasie naby Sasolburg in die Vrystaat begin in 1945 elektrisiteit aan Gauteng en die goudmyne in die Vrystaat verskaf. Nog kragstasies is in die Kaap opgerig sodat elektriese treine ook die spoorlyn tussen Bellville in Kaapstad en Beaufort-Wes kon gebruik. 14

Op 16 Junie 1948 koop Eskom die VFP vir £14,5 miljoen. (In daardie jare was Suid-Afrika se geldeenheid die Britse pond. Vandag sou die koopprys van £453 miljoen wees).

Met hierdie oorname het Eskom die volgende gekry: vier kragstasies (Rosherville, Simmerpan, Vereeniging en Brakpan), 2 100 km se transmissielyne (kragdrade wat die elektrisiteit vervoer) en 1 444 km se telefoondrade. Al die werkers van die VFP het nou vir Eskom gewerk. In totaal het Eskom 7 850 werkers gehad. 14

In die vyftigerjare (1950’s) het Suid-Afrika se ekonomie baie uitgebrei. Geld is benodig vir die verbetering van bestaande kragstasies en die bou van nuwe kragstasies. 14 In 1951 kry Eskom ʼn lening van $30 miljoen (vandag sowat $355 000 of bykans R6,4 miljoen) by die Wêreldbank wat geld aan lande geleen het om infrastruktuur soos byvoorbeeld paaie en kragsentrales te bou. 14

In 1950 het Eskom Kimberley se kragstasie by die De Beers-diamantmyn oorgekoop. Eskom moes nou elektrisiteit aan ʼn verdere 40 000 km2, ʼn gebied ongeveer so groot soos Switserland, voorsien. ʼn Departement word gestig wat net op die voorsiening van elektrisiteit aan mense in klein dorpe en op plase sou fokus. 14

1953-1962: Munisipaliteite koop elektrisiteit

Elektriese toestelle het goedkoper geword en al hoe meer Suid-Afrikaners wou graag elektrisiteit in hul huise hê. Munisipaliteite het begin om elektrisiteit by Eskom te koop. Binne tien jaar, tussen 1945 en 1955, het die vraag na elektrisiteit van 565 miljoen eenhede tot 2 051 miljoen eenhede toegeneem. In hierdie tien jaar het die hoeveelheid elektrisiteit wat Eskom verskaf het, twee keer meer geword. Daar is geskat dat dit weer binne die volgende tien jaar sou verdubbel. Die enigste manier hoe Eskom soveel krag sou kon opwek, was om groter kragsentrales te bou. 15

In 1958 trek Eskom na nóg ʼn groter gebou, dié keer Escom Centre in Braamfontein, Johannesburg. 16

‘n Kragstasie in Johannesburg.

In die 1950’s het die wêreld besef dat kernkrag nie net in atoombomme gebruik kon word nie, maar ook elektrisiteit kan opwek. Daar was wêreldwyd ʼn aanvraag na uraan, wat saam met goud in dieselfde ertsstruktuur as goud gevind word. Suid-Afrika se goudmynbedryf was dus in ʼn goeie posisie om dié waardevolle byproduk te ontgin. Dit verg egter baie elektrisiteit om uraan te onttrek en Eskom moes spring om in die aanvraag te voorsien. Hoe vinniger goudmyne uraan kon produseer, hoe vinniger sou Suid-Afrika ekstra geld kon maak. Die Wilge-kragsentrale naby Ogies op Witbank se steenkoolveld word gevolglik binne rekordtyd (sowat 12 maande) gebou. 16

1963-1972: Uiteindelik krag vir die hele land

Hoewel elektrisiteit wat deur steenkool opgewek word in Suid-Afrika baie goedkoop is, is dit nie goed vir die omgewing nie. Steenkool (ʼn niehernubare hulpbron) kan nie weer vervang word nie – as dit op is, is dit op. Eskom moes ander moontlikhede soos kernkrag- en hidroëlektriese energie begin benut. In hierdie dekade begin Eskom aan twee hidroëlektriese kragsentrales bou. Een was by die Gariepdam (dit het in daardie tyd as die Hendrik Verwoerd-dam bekendgestaan) in die Oranjerivier.

Die ander skema was die Cahora Bassa-skema wat elektrisiteit 1 400 km ver van Mosambiek moes vervoer. (Dié dam het tot in 1974, in die Portugese koloniale era, as Cabora Bassa bekendgestaan.) In 1975 ontvang Suid-Afrika die eerste elektrisiteit van hierdie projek, maar die burgeroorlog in Mosambiek (waar mense van dieselfde land teen mekaar geveg het) het elektrisiteit van hierdie kragstasie vir ʼn ruk lank nie moontlik gemaak nie. 16

Ongelukkig is Suid-Afrika ʼn droë land met min water. Kernkragenergie sou dus beter werk in ons land. In 1965 word Safari-1 by Pelindaba, naby die Hartbeespoortdam in Noordwes, opgerig om navorsing oor die moontlikheid van kernkrag te doen. 17

Pelindaba naby die Hartbeespoortdam.

Eskom het in 1966 ook die plaas Duynefontein, sowat 30 km buite Kaapstad, gekoop as ʼn moontlike perseel vir ʼn kernkragstasie. In 1972 word die besluit geneem om die Koeberg-kernkragstasie hier op te rig. 16

Die Koeberg-kernkragstasie is sowat 30 km buite Kaapstad geleë.

Tegnologie het dit moontlik gemaak dat transmissielyne groter hoeveelhede elektrisiteit oor langer afstande kon vervoer. In die vroeë 1970’s het Eskom se droom om ʼn nasionale kragnetwerk te hê, begin waar word. ʼn Nasionale kragnetwerk sou beteken dat alle kragstasies en transmissielyne aan mekaar verbind is, wat die prys van elektrisiteit goedkoper gemaak het. In 1972 styg Eskom se verkope met 10,7% – die hoogste wat dit in vyftien jaar was. 17

1973-1982: Vraag na elektrisiteit skiet die hoogte in

In 1973 het die aanvraag na elektrisiteit met 12% gegroei en met 13% die volgende jaar. Die gemiddelde jaarlikse groei vir Eskom se sesde dekade was byna 9%. In 1977 het verbruikers egter 166% meer vir elektrisiteit betaal as in 1971. 18

ʼn Landwye elektrisiteitsnetwerk het baie voordele gehad, solank iets nie verkeerd loop nie. Op 5 Desember 1975 veroorsaak ʼn fout by die De Aar-subsentrale dat byna die hele land vir ʼn dag lank sonder krag was. Eskom moes weer mooi nadink oor sy transmissielyne. In 1976 word twee kragstasies met gasturbines naby Kaapstad en Oos-Londen gebou om elektrisiteit mee op te wek. Met die pompopgaarskema in die Drakensberg kon 1 000 MW in besige tye opgewek word. 19

‘n Substasie in Kaapstad.

ʼn Pompopgaarskema berg potensiële energie vir tye waneer meer elektrisiteit nodig is. Die water van die opgaardam (ook ʼn reservoir genoem) aan die onderkant van die berg word na ʼn reservoir aan die bokant van die berg gepomp. Wanneer krag nodig is, word die sluise van die boonste reservoir oopgemaak. Die beweging van die water na die onderste opgaardam, beweeg die turbine om hidroëlektriese krag op te wek. 19

Eskom het in 1977 weer na ʼn nuwe hoofkantoor verhuis. Megawatt Park, in Sandton, is vandag nog steeds die tuiste van Eskom. In daardie tyd het verbruikers egter gedink dit is ʼn voorbeeld van Eskom se spandabelrigheid. 19

1983-1992: Elektrisiteit vir almal

Die ekonomiese groei in Suid-Afrika was in die tagtigerjare onder baie druk as gevolg van sanksies van die buiteland teen apartheid. Eskom het in 1983 ʼn laagtepunt bereik: gemiddeld was slegs 72% van die kragstasies se kapasiteit beskikbaar en kragonderbrekings het gereeld voorgekom. Verbruikers het al hoe meer ongeduldig geword met Eskom as ʼn spandabelrige en onbetroubare maatskappy. In Mei 1983 het die regering ʼn kommissie aangestel om die verskaffing van elektrisiteit in die land te ondersoek. 20

In daardie tyd was Eskom baie bekommerd oor ʼn erge droogte in die land. Kragstasies gebruik baie water en die kragstasies in KwaZulu-Natal en dié wat op die Vaaldam staatgemaak het, was onder groot druk. Noodplanne is beraam en water is 200 km uit die Vaalrivier na die Grootdraaidam gepomp. Nuwe kragdrade is ook opgerig om elektrisiteit aan die pompe te verskaf. Die noodplan (ʼn gesamentlike poging tussen Eskom en die departement van waterwese) het gewerk en ʼn ramp is voorkom. In Oktober 1983 het dit begin reën en die droogte is gebreek. 21

Daar was egter steeds druk op Eskom. Die kommissie, wat deur die regering aangestel is, het die maatskappy se kostes en beplanning ondersoek en gekyk hoe goed die kragsentrales vaar. Die bestuur van Eskom het sy eie kenners genader. Amerikaanse konsultante het gesê Eskom moet steeds daarop fokus om betroubare elektrisiteit aan die land te verskaf, maar gewaarsku dat verbruikers waarskynlik baie ontevrede gaan raak omdat hulle al hoe meer vir elektrisiteit sal moet opdok.

Net soos vandag, moes Eskom in 1983 verbruikers probeer tevrede hou terwyl hy die kragnetwerk so veilig as moontlik hou. 21

Eskom het nie geld vir nuwe kragsentrales gehad nie en daar was ook nie meer geld vir baie personeel nie. Die bestuur van Eskom was oortuig daarvan dat te veel mense vir die maatskappy werk. Toe John Maree in 1985 as voorsitter van die nuwe Eskom-raad aangestel is, was daar meer as 66 000 personeellede. Die bestuur het geskat dat hulle binnekort 72 000 personeellede sou hê. Maree het sy voet neergesit. Hy was seker dat Eskom glad nie minder doeltreffend sou werk met minder mense nie. Teen die einde van 1986 het hy die getal werkers verminder tot 60 800 en teen die vroeë 1990’s was daar net 50 000 mense wat vir Eskom gewerk het. 21

In 1984 word die Koeberg-kragsentrale, naby Melkbosstrand in die Wes-Kaap, Afrika se eerste kernkragsentrale. 21

In 1987 het net 40% van Suid-Afrikaners elektrisiteit in hul huise gehad. Dit was minder as 13 miljoen mense. Die tyd het aangebreek dat die droom van Eskom se stigters, om elektrisiteit aan alle Suid-Afrikaners te verskaf, bewaarheid word. Dié droom is goed opgesom in die maatskappy se leuse in 1989: “Elektrisiteit vir almal”. 21

ʼn Nuwe Eskom-wet het in 1987 van krag geword toe die Wet op Elektrisiteit hersien is. Die twee oorspronklike name, Evkom (Elektrisiteitsvoorsieningskommissie) en Escom (Electricity Supply Commission) is bymekaar gevoeg en die maatskappy sou voortaan as Eskom bekendstaan. 20

1993-2002: Beste energiemaatskappy in die wêreld

Teen 1999 het 1,75 miljoen ekstra huise elektrisiteit gekry. Selfs al was dit van die goedkoopste in die wêreld, kon arm mense dit steeds nie bekostig nie. 22

Met die einde van apartheid het die ryker munisipaliteite met die armer munisipaliteite saamgesmelt. Almal moes dieselfde hoeveelheid elektrisiteit kry. Die kleiner munisipaliteite het egter nie genoeg geld gehad nie en kon nie hul Eskom-rekeninge betaal nie. 23

In 1994 het verbruikers Eskom reeds R920 miljoen geskuld omdat hulle nie vir elektrisiteit betaal het nie. Vyf jaar later het daardie skuld vermeerder na R2 miljard.

Daar is vandag nog steeds vrae oor die verspreiding van elektrisiteit en die heffings wat munisipaliteite byvoeg. Munisipaliteite verteenwoordig tans meer as 40% van Eskom se verkope – en Eskom werk saam met hulle oor ʼn rits (klomp) kwessies wat reëlings om skuld af te betaal en hoe om elektrisiteit spaarsamig te verbruik, insluit. 23

In 1997 het John Maree as voorsitter afgetree en is vervang deur Eskom se eerste swart voorsitter – Reuel Khoza. Hy is beskou as ʼn goeie bemiddelaar in ʼn vinnig veranderende Suid-Afrika. 23

Ten spyte van geldelike probleme word Eskom in Desember 2001 as die beste kragvoorsiener van die jaar tydens die Wêreldenergie-toekenningsaand in New York in die VSA aangewys. 24

In 2002 word ʼn wêreldwye kongres oor hernubare energie (elektrisiteit wat byvoorbeeld deur wind en sonkrag opgewek word) in Suid-Afrika gehou. Eskom begin ook dieselfde jaar met bouwerk aan die Klipheuwel-kragsentrale in die Wes-Kaap wat van wind gebruik maak om elektrisiteit op te wek. Dit is die eerste windplaas in Afrika suid van die Sahara (‘n woestyn in Noord-Afrika, wat strek van die Atlantiese Oseaan tot by die Nylvallei). Eskom brei ook sy projekte uit na Zimbabwe, Botswana, Mosambiek, Zambië, Tanzanië, Namibië, China en Indië. 22

2003-2012: Die begin van beurtkrag

Tussen 1961 en 1991 het Eskom altesaam veertien kragstasies gebou wat gesamentlik 35 804 MW elektrisiteit aan die land verskaf het. Oor die volgende 30 jaar, tussen 1991 en 2021, is slegs een kragsentrale (Majuba-kragstasie) egter gebou.

Die Suid-Afrikaanse regering, wat Eskom besit het, is reeds in 1998 gewaarsku dat daar nie genoeg elektrisiteit in 2007 sou wees as nuwe kragstasies nie gebou word nie. 23 Eskom het wel drie ou kragsentrales weer laat werk, maar die toerusting was baie oud en die stasies het meer probleme as krag verskaf. 25

Die kragsentrales, wat elektrisiteit aan die netwerk verskaf het, is nie herstel wanneer dit gebreek het nie en Medupi, ʼn nuwe kragsentrale wat al in 2014 moes klaar wees, is eers in 2021 voltooi. Ongelukkig het ʼn gedeelte van dié sentrale ʼn paar weke later ontplof. Medupi sal eers weer teen laat 2024 krag aan die nasionale elektrisiteitsnetwerk kan gee.

Die Medupi-kragstasie.

Kusile, nóg ʼn nuwe kragsentrale wat ook in 2014 moes klaar wees, sal ook eers na verwagting in 2024 gereed wees om elektrisiteit op te wek. Die oprig van dié sentrales was R300 miljard duurder as wat Eskom gedink het dit gaan kos om te bou. 26

Teen Maart 2004 is sowat 7,8 miljoen huishoudings reeds aan die kragnetwerk verbind – ʼn groot sprong van die 3 miljoen huishoudings in 1990. Dit sou waarskynlik ʼn goeie tyd gewees het vir die regering om in te spring en Eskom te help met sy krisis om elektrisiteit aan alle Suid-Afrikaners te verskaf, maar dit het nie gebeur nie. Die regering wou eerder fokus op elektrisiteit vir almal. Die destydse pres. Thabo Mbeki het gesê: “Universele toegang (elektrisiteit vir almal) is ʼn doelwit vir 2012.” 27

Hoewel twee gasturbine-aanlegte in 2007 gekoppel is, was dit nie naastenby genoeg om die tekorte in die aanvraag na elektrisiteit aan te pak nie. Die stasies is spesifiek ontwerp om aanvraag in die Wes-Kaap te bestuur en gebruik boonop diesel – ʼn baie duur brandstof. 27

Die Medupi-kragstasie.

Eskom het in 2007 gewaarsku dat die kragstelsel onder druk gaan wees en om hulp by die regering aangeklop om die waarskynlikheid van kragonderbrekings te verminder. Die regering het egter nie vir Eskom geld gegee om nuwe kragstasies te bou nie en Eskom kon ook nie geld uit die privaat sektor leen nie. 27

Swak beplanning en die feit dat Eskom nie ou kragstasies reggemaak en nuwe stasies gebou het nie, veroorsaak dat Eskom nie meer genoeg elektrisiteit vir die land op een slag het nie.

In 2007 begin Eskom die eerste keer met beurtkrag, wat beteken dat die verskillende dele in Suid-Afrika beurte maak om elektrisiteit te hê. Pres. Mbeki het aanspreeklikheid aanvaar en op 12 Desember 2007 het hy vir die publiek om verskoning gevra. “Eskom was reg, die regering was verkeerd,” het hy gesê. 28

In 2012 het meer as 83% van Suid-Afrikaanse huishoudings wel toegang tot elektrisiteit gehad. 27

Eskom vandag

Eskom het in 2020 altesaam 90% van Suid-Afrika se energie en 30% van die elektrisiteit in Afrika verskaf. Die res van Suid-Afrika se elektrisiteit word deur privaat kragvoorsieners en vervaardigers van hernubare krag verskaf. 27

Eskom se kragvoorsiening is egter nie betroubaar nie en beurtkrag is iets waaraan ons elke dag gewoond moet raak. Die Suid-Afrikaanse ekonomie verloor daagliks miljoene rand weens beurtkrag. 

Op die oomblik wek Eskom 44 GW per dag op (daar is 1 miljard watt in 1 gigawatt) waarvan 38 GW deur steenkoolkragstasies opgewek word. 32 Elektrisiteit wat met steenkool opgewek word, is egter nie goed vir mense of die natuur nie.

In 2021 het die Centre for Research on Energy and Clean Air (CREA) bevind dat Eskom as ʼn maatskappy meer swaeldioksied vrystel as die gesamentlike energiebedryf van die Verenigde State van Amerika en China! Swaeldioksied is ʼn giftige gas wat ernstige hart- en longsiektes veroorsaak, en tot ʼn persoon se dood kan lei. Kragsentrales wat met steenkool werk, is die grootste oorsaak van hierdie soort lugbesoedeling. 33

Nog ʼn probleem met steenkool as bron vir elektrisiteit, is dat dit ʼn niehernubare bron is. As ʼn bron niehernubaar is, beteken dit dat dit opgebruik kan word. Daar is net ʼn sekere hoeveelheid steenkool in die wêreld en daar kan nie nog steenkool gemaak word nie. 34

Na beraming gaan Suid-Afrika teen 2050 ten minste 522 TW (daar is 1 biljoen watt in 1 terawatt) elektrisiteit per jaar nodig hê. Die oplossing vir Suid-Afrika se elektrisiteitstekort is hernubare energie. Hernubare energie is elektrisiteit wat opgewerk word deur byvoorbeeld water, wind en son – bronne wat nooit kan opraak nie. In Suid-Afrika het ons baie sonlig en wind. Indien die land dit kan regkry om 71% sonenergie en 28% windenergie te genereer, sal Suid-Afrika nie meer steenkoolkragstasies nodig hê nie. 35

Daar word geskat dat die installering van hernubare energie Suid-Afrika oor die volgende drie dekades $250 miljard (sowat R4 500 miljard) gaan kos. 36 As Suid-Afrika se elektrisiteitspryse met ander lande in Afrika vergelyk word, is dit tans baie duurder om elektrisiteit in Suid-Afrika te verbruik. Dis egter steeds amper die helfte goedkoper as lande in Europa soos België, Duitsland en Brittanje. 37

Woordbank

apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in rassegroepe geskei is.
biljoen Miljoen maal miljoen; 1 000 000 000 000.
byproduk Produk naas die hoofproduk; neweproduk.
depressie Tydperk van ekonomiese insinking, onder meer gekenmerk deur swak verkope, lae pryse, geringe inisiatief, werkloosheid en geldskaarste.
energie Krag wat gebruik word om hitte op te wek en masjiene in werking te hou.
erts Metaalhoudende delfstof.
hidroëlektries Hidroëlektriese krag (hidroëlektrisiteit) is elektrisiteit wat deur die beweging van water opgewek word.
joule Eenheid van energie gelyk aan die arbeid verrig deur een newton oor ʼn afstand van een meter te verplaas.
kernkrag Krag/energie wat vrygestel word wanneer ʼn atoom gesplyt word; kernenergie, bv. in kernwapens, by die aandrywing van ʼn masjien, ens.
kinetiese Van of wat (die) kinetika of beweging betref; bewegend.
kragopwekker Masjien wat gebruik word om elektriese krag te ontwikkel; generator.
meganiese Deur middel van werktuie; wat met masjien(e) te make het.
miljard Duisend miljoen; 1 000 000 000.
reservoir Opgaardam.
sanksies Dwangmaatreël om besluite te laat uitvoer; strafmiddel, meestal met politieke motiewe, byvoorbeeld van een staat teen ʼn ander, vir nienakoming van verdragbepalings of op grond van bepaalde morele of ander oorwegings.
sonkrag Krag wat bekom of benut word deur van sonenergie gebruik te maak; sonenergie.
spandabelrigheid Wat geld verkwis of oordadig spandeer, of wat getuig van sodanige eienskap of toestand.
stoomketel Ketel van ʼn stoommasjien waarin water tot stoom verhit word.
stroombaan Baan vir elektriese stroom.
swaeldioksied Chemiese verbinding van swael en suurstof, ʼn kleurlose gas met ʼn prikkelende reuk.
turbine Masjien waarby ʼn rat in beweging gebring word deur ʼn lugstroom, stoom of vallende water.
watt Eenheid van elektriese vermoë.
windplaas Windkragaanleg waar ʼn groot aantal windturbines naby mekaar opgerig is vir die opwekking van elektrisiteit deur windenergie.

Lees dié om meer oor elektrisiteit te leer

Kyk dié video’s om meer te leer

Só werk kragstasies wat deur steenkool opgewek word

Die werking van kernkrag

Hoe sou dit wees sonder elektrisiteit?

Brittanje se grootste battery is eintlik ʼn meer

Só werk windkrag

Só werk sonkrag

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Julie 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024