Vinnige feite

  • ʼn Kameelperd se tong kan tot 40 cm lank word.
  • Antarktika is die enigste vasteland waarop daar geen savannes voorkom nie.
  • Daar is sewe vastelande in die wêreld.
  • In die Tsavo-natuurreservaat in Oos-Afrika het olifante so vinnig aangeteel dat hulle hul eie habitat byna heeltemal vernietig het.
Foto: iStock

ʼn Savanne of savanna is ʼn gebied met oop grasvelde waarin verspreide groepe bome voorkom. 1

Verspreiding

Savannes word op ses van die sewe vastelande in die wêreld aangetref. Antarktika is die enigste vasteland waar daar nie savannes is nie. Die vastelande hier onder is in volgorde van grootste tot kleinste oppervlak, met Antarktika wat tussen Suid-Amerika en Australië/Oseanië in die volgorde inpas. (Antarktika word hier uitgelaat omdat savannes slegs op die vastelande hier onder voorkom.)

  • Asië
  • Afrika
  • Europa
  • Noord-Amerika
  • Suid-Amerika
  • Australië/Oseanië

Die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) identifiseer tot 50 savanne-ekostreke wat wêreldwyd voorkom. 2 Elke ekostreek verskil van die ander op grond van dinge soos klimaat, die soort grond en die soort plante en diere wat daar voorkom. 3

Verskillende soorte savannes

ʼn Savanne kan getipeer word deur biotipe – daar is vier basiese vorms van biotipe, naamlik gras, substruik, struik en boom. In ʼn savanne is gras die oorheersende biotipe, hoewel daar ook savanne met verspreide bome of met substruike en struike is. Daar kan dus verwys word na onbeboste savanne, struikagtige savanne en beboste savanne. 2

Water kan ook die voorkoms van ʼn savanne bepaal – mens kry vloedsavanne en ook nie-oorstroomde savanne. Groot riviere wat gedurende die reënseisoen oorstroom, het onder meer ʼn invloed hierop. 2

Reënval

Savannes se reën val meestal in die somer, terwyl die tropiese savannes in die lente en herfs reën kry. Die reënval in savannes wissel van ongeveer 400 tot 1 500 mm per jaar. Soms is daar uitsonderings en word gebiede met so min soos 250 mm per jaar of so veel soos 2 000 mm per jaar ook as savannes beskou 4. Op grond van die jaarlikse reënval kan savannes in vogtige en droë savannes onderverdeel word. 2

Plantegroei

ʼn Verskeidenheid soorte gras, bome en bosse is die soort plante wat algemeen in savannes voorkom. In Suid-Afrika het die verskillende savannegebiede elkeen sy eie kenmerkende plantegroei. Noordwes is byvoorbeeld ʼn soetveldgebied of droë savanne. Hier is die gras gewoonlik korter, dit het baie blare en is die hele jaar smaaklik vir diere. 2

Bome wat in savanne groei, is gewoonlik tussen 7 en 10 m hoog – hulle word nie dikwels hoër as 10 m nie. Die meeste is kleiner en sterker vertak en het meer dorings as bome wat in woude groei. Hulle wortelstelsels is ook meestal baie diep. Die meeste savannebome is bladwisselend (verloor hul blare om weer nuwe blare te kry) of halfbladwisselend. Langs rivieroewers en op termiethope is daar ook immergroen bome, aangesien daar op hierdie plekke dwarsdeur die jaar genoeg vog beskikbaar is. 2

  • Belangrikste bome in droë savannes: mopaniebome, (wilde) rosyntjiebosse, swarthake (ook bekend as haakdorings of hakiesdorings) en ander tipes doringbome, asook kremetartbome
  • Belangrikste bome in suurveldsavannes: wildeserings, vaalbome en maroelabome
  • Belangrikste bome langs rivieroewers: kinaboome, huilboerbome en rooi-essenhoutbome 2

Alhoewel die soorte grond in savannes wisselvallig is, is dit meestal leem- of sanderige grond, kleisand of kleigrond. 2

Dierelewe

  • Herbivore wat in die Afrika-savanne aangetref word, is onder meer sebras, gemsbokke, kameelperde, wildebeeste, renosters en olifante.
  • Omnivore wat in die savanne leef, sluit in wildevarke wat wortels eet, maar ook aasdiere kan wees.
  • Karnivore in die savanne is onder meer leeus, luiperds en jagluiperds. 2

Die kameelperd as savannebewoner

Kom ons kyk vir die interessantheid na die uitsonderlike eienskappe van een van hierdie diere wat in die savanne voorkom – die kameelperd:

  • Hy is verreweg die langste van die diere: Die kameelperdbul kan byna 5,5 m lank word. Dit help hom natuurlik om die blare hoog in die takke van die bome by te kom.
  • ʼn Kameelperd se tong alleenlik kan tot 40 cm lank word!
  • Net soos ʼn mens se vingerafdrukke wat vir elke mens eiesoortig is, het elke kameelperd ook ʼn eiesoortige kollepatroon.
  • Kameelperde het slegs sewe nekwerwels, soos die mens.
  • Die kalfie kan twintig minute ná sy geboorte reeds regop staan. 5

Invloed van die mens op savannes

Savannes is van die produktiefste veeteeltgebiede in die wêreld. Daar is ook baie bekende wildtuine – soos die Krugerwildtuin en die Serengeti-wildpark – in savannes geleë. Savannes is dus vir landbou, sowel as vir natuurbewaring, belangrik. 2

Ongelukkig is daar ook belange wat bots tussen boerdery met vee en natuurbewaring. Boerdery het veroorsaak dat baie wilde diere uitgeroei word, en inheemse plante word ook deur boerdery uitgeroei omdat vee die soetveldgras heeltemal opvreet. Addisioneel daartoe groei bosse ook so vinnig dat natuurlike weiveld vernietig word. 2

In die Tsavo-natuurreservaat in Oos-Afrika het olifante so vinnig aangeteel dat hulle hul eie habitat byna heeltemal vernietig het. ʼn Groot aantal van hierdie olifante is ook dood omdat daar net nie meer genoeg plek vir almal was om te kon oorleef nie. Gelukkig begin al hoe meer boere – veral in die ontwikkelde lande soos Suid-Afrika – hul boerdery so bedryf dat die veld beter bewaar kan word. 2

Woordbank

biotipe Biotipe verwys na die kenmerke van ʼn geologiese omgewing – die klimaat, water en die soort grond in ʼn spesifieke gebied of ekosisteem. 6
habitat Habitat dui op die plek waar ʼn sekere soort organisme (dier of plant) gevind word.
herbivore Herbivore is diere wat plante vreet.
omnivore Omnivore is diere wat plante en vleis vreet.
karnivore Karnivore is diere wat vleis vreet.
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Februarie 2022 | Bygewerk op 18 Maart 2024