Vinnige feite

  • Saam met die geld en die goud wat deur die Boere uit Pretoria verwyder is, was daar ook ammunisie en kanonne. 4
  • In die tyd toe die Krugermiljoene uit Pretoria verwyder is, het die land se hoofsetel (die hoofstad waar die lede van die regering gewerk het) ook van Pretoria na Machadodorp geskuif, sodat die Britte wat Pretoria ingeval het, nie vir president Kruger en die Boereleiers kon vang nie. 4
  • Gustav Preller was in 1900 ʼn klerk in die departement van myne. Hy het gesê dat hy ʼn wa moes kry om die goud op te laai en dit toe in ʼn gang tussen die geboue van die Nasionale Bank en die Munt getrek het. 5
  • Daar is mense wat glo dat die Krugermiljoene in die Sudwalagrotte in Mpumalanga begrawe is. 10

Soms gebeur dit dat mense ʼn storie vertel oor iets wat dalk gebeur het. Niemand weet of dit waar is nie, en niemand ken al die feite nie, maar almal praat daaroor. Dan vergeet mense daarvan tot iemand anders weer daaroor begin praat, en dan word al die stories van vooraf oorvertel.

Dit is die geval met die Krugermiljoene!

Paul Kruger

Wat was die Krugermiljoene?

Die Krugermiljoene is, na bewering, ʼn groot hoeveelheid geld en goud wat tydens die Anglo-Boereoorlog uit Pretoria na die destydse Oos-Transvaal (vandag Mpumalanga) geneem is om te keer dat die Britte dit kry toe hulle Pretoria binnegeval het. Hierdie geld, goud en ammunisie moes die Boere ook help om verder teen Brittanje te kon oorlog maak. 1

Boere laai die buitgemaakte kanonne op ‘n trein

Die goud word uit Pretoria weggeneem

Die manier waarop dit gebeur het, klink omtrent soos ʼn spanningsverhaal!

Toe die Britse soldate onder die leiding van lord Roberts op pad was na Pretoria, het die Boere se leiers besef dat hulle die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se geld en goud uit Pretoria moet wegneem voor die Britte dit vir hulself vat. Lord Roberts en sy soldate was van Johannesburg se kant af op pad na Pretoria toe. Daar was ʼn paar honderd Boere wat probeer het om te keer dat hulle te gou by Pretoria uitkom voor die geld veilig verwyder is.

Jan Smuts

Die staatsprokureur, generaal J.C. Smuts, het vir dae lank gesukkel dat die staatsbank die geld moet oorhandig sodat dit na Machadodorp (ook bekend as eNtokozweni in Mpumalanga) geneem kon word. Hy moes hulle later dreig dat hulle in hegtenis geneem gaan word (deur die polisie gevang gaan word) as hulle dit nie doen nie. Op Saterdag, 2 Junie 1900, het Ernst Meyer, ʼn jong rekenmeester wat by die Munt gewerk het, agtergekom dat daar nog geen reëlings is om die geld weg te stuur nie. Toe daar op Maandag, 4 Junie, nog geen planne daarmee was nie, het hy skelmpies weggeglip en met sy perd na Smuts gery om dit vir hom te vertel.

Smuts het dadelik na die bank gegaan. Nadat daar ʼn woordewisseling tussen hom en die bestuurder van die Nasionale Bank was, het dinge uiteindelik begin gebeur. Smuts het die personeel beveel om die goud bymekaar te maak en in kiste te pak. Terwyl hulle daarmee besig was, het Smuts na die stasie gegaan om te reël dat ʼn trein gereed is om die goud mee te vervoer. Teen ongeveer 12:00 is die goud op twee muilwaens na die stasie geneem en op die trein gelaai. (Muile is diere amper soos donkies en hulle het ook waens getrek.)

Direkteure vergadering van die Nasionale Bank

Teen hierdie tyd was die Britse soldate reeds besig om in Pretoria in te beweeg, en hulle het op die trein geskiet nadat dit uit die stasie vertrek het. Die trein kon veilig uit Pretoria ry sonder om raakgeskiet te word. Teen ongeveer 02:00 die volgende oggend het die trein in Machadodorp aangekom.

Die waarde van hierdie goud was ongeveer 500 000 Britse pond. Daarmee kon die Boere vir die volgende twee jaar nog met die oorlog teen Brittanje voortgaan. 2 In 2022 sou 500 000 Britse pond meer as 10 miljoen rand wees.

Hoe het die storie oor die weggesteekte geld en goud begin?

Reeds in 1900 het mense begin praat van die baie geld en goud wat iewers in die destydse Transvaal weggesteek is. Van toe af was daar kort-kort mense wat gedink het hulle weet waar dit weggesteek is en dan daarna gaan soek het. 1

Verskillende berigte oor die Krugermiljoene

In 1905 was daar ʼn man wat beweer het dat hy en twee ander mans deur die ZAR se regering gehuur is om goud, munte en diamante te begrawe. Hy het gesê dat dit bietjie meer as 100 km noord van Blyderivier en Leydsdorp begrawe is. 3

Twaalf jaar ná die oorlog het daar in die Rand Daily Mail (ʼn koerant in Johannesburg) ʼn berig verskyn waarin gesê is dat daar goudstawe by die vrag op die trein was en dat dit verdwyn het en iewers begrawe is. In die berig is eerste minister Louis Botha gevra wat van die goud geword het. Hy het die koerant gedagvaar, en die saak het in Oktober 1915 voor die hof gedien (daar was ʼn hofsaak daaroor). Van die getuies het blykbaar gesê dat die goud tussen Machadodorp en die Mosambiekgrens verdwyn het en op ʼn plaas iewers tussen Sabie en Waterval-Boven (vandag Emgwenya) begrawe is. 4

In nog ʼn storie word vertel dat 30 kiste met goud in Julie 1900 met ʼn Duitse stoomskip na Hamburg geneem is. Nog 100 kiste goud is toe in September 1900 op ʼn ander Duitse skip gelaai. 5

In 2001 het ʼn berig in die Citizen (ʼn koerant wat in Johannesburg en Pretoria versprei word) verskyn dat die goue munte reeds in die 1960’s deur plaaswerkers op ʼn plaas in die Ermelodistrik opgegrawe is. Hulle het toe blykbaar reeds 400 van die goue Krugerponde een na die ander verkoop en die geld gebruik om van te leef. 6

In ʼn boek met die titel Looted gold word beweer dat die Krugermiljoene na Switserland geneem is en dat die geld gebruik is om die apartheidsregering te help. 7

Op 17 Junie 2021 het ʼn man hom doodgeval in ʼn gat wat hy en ander helpers gegrawe het om na die Krugermiljoene te soek. Dit het naby Witrivier gebeur. 8

So is daar elke keer weer mense wat van vooraf glo dat hulle die weggesteekte Krugermiljoene gaan opspoor.

Rolprent oor die Krugermiljoene

Die storie oor die Krugermiljoene het mense se verbeelding aangegryp (hulle baie laat belangstel daarin). In 1967 is daar ʼn rolprent daaroor gemaak getiteld Krugermiljoene. Kunstenaars wat in daardie jare baie bekend was, het in die rolprent opgetree. Van hierdie kunstenaars was Helga van Wyk, Leon le Roux en Carel Trichardt. Carel Trichardt is ʼn toneelspeler wat vandag (in 2022) steeds as kunstenaar optree. Die baie bekende sanger Gé Korsten het in die rolprent gesing.

Een van die skrywers van die draaiboek (die naam wat gebruik word vir die storie van ʼn rolprent) was Fanus Rautenbach. Hy was vir baie jare ʼn omroeper by verskeie Afrikaanse radiostasies en iemand wat baie bekend was in die land. 9

Woordbank

ammunisie Patrone wat in gewere en kanonne gebruik word.
gedagvaar Wanneer mens opdrag kry om in die hof te verskyn.
ingeval Wanneer byvoorbeeld soldate in oorlogstyd ʼn dorp, stad of land binnekom.
Munt Die plek waar geld (munte) gemaak word.
omroeper Die aankondiger van radioprogramme; iemand wat oor die radio uitsaai.
woordewisseling ʼn Gesprek waarin daar getwis word, waarin mense dus van mekaar verskil. 11

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Krugermiljoene

Kyk hier na ʼn rolprent oor die storie van die Krugermiljoene.

Hierdie video vertel van ʼn man wat glo dat die Krugermiljoene onder ʼn huis in Meyerton begrawe is. Hy is Nicolaas Fouché, ʼn sekuriteitswag wat in Meyerton gewerk het toe die video gemaak is.

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Februarie 2023 | Bygewerk op 26 Februarie 2024