Vinnige feite
- Die hoogste bergpiek in Suid-Afrika is 3 451 m hoog.
- Suid-Afrika is die enigste land in Afrika met ses kleure in sy vlag – rooi, blou, swart, groen, geel en wit.
- Die Suid-Afrikaanse volkslied is “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, wat beteken “God seën Afrika”.
- Suid-Afrika is vyf keer groter as Groot-Brittanje.
Suid-Afrika is op die suidpunt van die vasteland of kontinent Afrika. Die Weskus is aan die Atlantiese Oseaan en die Suid- en Ooskus aan die Indiese Oseaan geleë. Ten spyte van geringe en wisselvallige reënval en ondanks die feit dat slegs ʼn klein deel van die land se oppervlakte vir landbou geskik is, is Suid-Afrika selfvoorsienend ten opsigte van die meeste voedselsoorte, dit beteken dat ons plase genoeg kos voorsien vir almal in ons land sonder dat ons kos van ander lande af hoef te kry.
Landbouprodukte word wel ook uitgevoer. Aan die einde van die 19d eeu het Suid-Afrika van ʼn landbou- na ʼn mynbouland verander. In die eerste twee dekades ná die Tweede Wêreldoorlog het die nywerheidswese ontwikkel tot die vernaamste sektor van die ekonomie. Suid-Afrika bestaan uit nege provinsies, naamlik Gauteng, die Noord-Kaap, Limpopo, Noordwes, Mpumalanga, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap.
Die nasionale simbole
Die vlag
Die nasionale vlag van die Republiek van Suid-Afrika is op Vryheidsdag, 27 April 1994, ingewy. Die unieke sentrale ontwerp van die vlag wat met ʼn “V” by die vlagpaal begin en wat in die middel van die vlag bymekaar kom, en as ʼn enkele horisontale band tot aan die buitekante van die vlagsoom loop, kan vertolk word as teken van die eenheid van diverse elemente binne die Suid-Afrikaanse samelewing wat verenig die pad vorentoe saamloop.
Die nasionale vlag moet met waardigheid en respek bejeën word. Wanneer die vlag aan ʼn vlagpaal gehys word, moet die rooi band bo en die swart driehoek aan die paalkant vertoon word. Wanneer dit horisontaal teen ʼn muur vertoon word, moet die paalkant aan die linkerkant van die toeskouer wees, met die rooi band heel bo. Wanneer die nasionale vlag vertikaal teen ’n muur vertoon word, moet die rooi band aan die linkerkant van die toeskouer wees, met die paalkant of koordsoom aan die onderkant. 1
Die landswapen
Die landswapen is op Vryheidsdag, 27 April 2000, bekend gestel. Die sentrale beeld van die landswapen is die welbekende sekretarisvoël met sy uitgestrekte vlerke. Bó die voël is die opkomende son, ʼn krag wat lewe gee. Dit verteenwoordig die verdwyning van donkerte en die triomf van ontdekking, kennis en begrip van dinge wat verborge was. Dit verlig die nuwe lewe wat so pas begin het. Onderkant die voël is die protea, ʼn inheemse plant van Suid-Afrika. Dit verteenwoordig skoonheid, die estetiese harmonie van al die kulture en ook hoe Suid-Afrika as ʼn nasie blom. Die koringare verteenwoordig die vrugbaarheid van die grond, terwyl die tande van die Afrika-olifant dui op wysheid, standvastigheid en krag.
In die middel staan ʼn skild, wat die beskerming van Suid-Afrikaners van een geslag tot die volgende geslag aandui. Aan die bokant van die skild is ʼn assegaai en ʼn knopkierie. Saam verteenwoordig hulle die beskerming van vrede eerder as simbole van oorlog. Die skild van vrede, wat ʼn mens ook aan ʼn Afrika-trom herinner, dra die boodskap oor van mense wat met ʼn liefde vir kultuur gevul is. Die boonste gedeelte van die wapen is ʼn skild wat vindingryk deur die protea uitgebeeld word. Binne die skild is van die vroegste afbeeldings van die mensdom in die wêreld. Diegene wat uitgebeeld word, was die heel eerste inwoners van die land, naamlik die Khoi en die San. Hierdie figure is ʼn nabootsing van dié op die Linton-klip, ʼn wêreldberoemde voorbeeld van Suid-Afrikaanse rotskuns.
Die leuse op die landswapen, !ke e: /xarra //ke, is in die taal van die /Xam en beteken “diverse mense verenig” of die “samewerking van mense uit verskillende agtergronde ”. 2
Die Suid-Afrikaanse volkslied
Hoe het ons volkslied ontstaan en hoekom is daar twee?
“Nkosi Sikelel’ iAfrika” is in 1897 gekomponeer deur Enoch Sontonga, ’n Metodiste-skoolonderwyser. Dit is oorspronklik as ‘n kerklied gesing, maar het later ‘n daad van politieke verset teen die apartheidsregering geword.
Nelson Mandela, wat ‘n leidende rol gespeel het in die onderhandeling van die einde van apartheid, het president geword. As president was hy egter verbind tot die beginsels van versoening en gelykheid. Om hierdie rede het hy verklaar dat “Die Stem van Suid-Afrika”/The Call of South Africa” en “Lord Bless Africa” albei die status van volkslied sou beklee, en vir etlike jare is albei liedere by staats- en sportbyeenkomste gesing totdat hulle in 1997 saamgevoeg is om die huidige volkslied te vorm. 10
“Die Stem van Suid-Afrika” is in 1918 deur C.J. Langenhoven geskryf. Drie jaar later is dit getoonset deur ds. M.L. De Villiers en was die gesamentlike volkslied met “God Save the Queen” van 1936 tot 1957, toe dit die enigste volkslied geword het tot 1994.
“Nkosi sikelel’ iAfrika” – ‘n verkorte, gekombineerde weergawe van Nkosi Sikelel’ iAfrika en “Die Stem van Suid-Afrika/The Call of South Africa” – is nou die volkslied van Suid-Afrika.
Wat maak hierdie volkslied so uniek? Dis die enigste volkslied ter wêreld wat in een toonsoort begin en in ‘n ander eindig. Die lirieke is boonop in vyf van Suid-Afrika se elf amptelike tale geskryf – isiXhosa (eerste strofe, eerste twee reëls), isiZulu (eerste strofe, laaste twee reëls), seSotho (tweede strofe), Afrikaans (derde strofe) en Engels (finale strofe).
Hier volg die woorde van “Nkosi sikelel’ iAfrika” 9:
Xhosa
Nkosi sikelel’ iAfrika, Maluphakanyisw’ uphondo lwayo, |
Afrikaanse vertaling
God seën Afrika, Laat sy vlag gehys word. |
Zoeloe
Yizwa imithandazo yethu Nkosi sikelela, thina lusapho lwayo. |
Verhoor ons gebede,
God seën ons – sy familie. |
Sotho
Morena boloka setjhaba sa heso, O fedise dintwa le matshwenyeho, O se boloke, O se boloke, setjhaba sa heso, Setjhaba sa South Afrika, South Afrika. |
God bewaar ons nasie,
Maak ’n einde aan oorloë en lyding. Bewaar ons land, bewaar ons nasie, Die nasie van Suid-Afrika. |
Afrikaans
Uit die blou van onse hemel,
Uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes,
Waar die kranse antwoord gee,
Engels
Sounds the call to come together,
And united we shall stand,
Let us live and strive for freedom,
Die nasionale vis
Die nasionale vis is die galjoen wat langs die Suid-Afrikaanse kus aangetref word. Dit kom gewoonlik in vlak water voor en kom gereeld in onstuimige branders en soms reg langs die strand voor. Elke hengelaar ken die galjoen. Die galjoen se dieet bestaan hoofsaaklik uit rooiaas (bekerdiere), klein mossels en eendmossels.
Die nasionale boom
Die nasionale boom is die ware geelhout. Dit kom voor vanaf Tafelberg, langs die Kaapse Suid- en Ooskus, in die bergklowe van die Drakensberge tot by die Blouberg en die Soutpansberg in Limpopo. Die bas van die ware geelhout is kakiekleurig tot grys as dit oud is, diep gesplete en dit skil in stroke af. Die kroon is relatief klein in verhouding tot sy hoogte en is dikwels met grys mos bedek.
Die nasionale dier
Die nasionale dier is die springbok. Hierdie spesie het aangepas by droë, dorre gebiede en oop grasvelde en word dus veral in die Vrystaat, Noordwes en vanaf die Karoo tot langs die Weskus gevind. Hulle beweeg gedurende die wintermaande in klein troppies, maar in die somer kom hulle gereeld bymekaar in groter troppe. Hulle teel regdeur die jaar aan en hul lammertjies word ná ʼn ses maande draagtyd gebore. 3
Die nasionale blom
Die nasionale blom is die reuseprotea of koningsprotea, wat in die suidwestelike en suidelike gebiede van die Wes-Kaap voorkom, vanaf die Sederberge tot net oos van Grahamstad. Die artisjokagtige voorkoms van die koningsprotea se blomkoppe het gelei tot die spesifieke benoeming “cynaroides” wat beteken “soos cynara” (die artisjok). ʼn Groot verskeidenheid kleure en blaargroottes word gevind, maar die mooiste een is die pienk blom.
Die nasionale voël
Die nasionale voël is die bloukraanvoël. Hierdie spesie kom algemeen voor in die Karoo, maar word ook op die grasvelde van KwaZulu-Natal en die Hoëveld gesien, gewoonlik in pare of klein familiegroepe. Hierdie elegante voël is ligblou-grys van kleur met ʼn lang nek, ʼn redelik bolvormige kop, lang bene en elegante vlerkpluime wat tot op die grond sleep. Die voël eet sade, insekte en reptiele.
Die geografie
Algemeen
Suid-Afrika beslaan die suidpunt van die vasteland Afrika. Dit strek van die Limpoporivier in die noorde tot by Kaap Agulhas in die suide en van die monding van die Oranjerivier in die weste tot by Ponto do Ouro in die ooste. Die landoppervlakte van net meer as 1 134 000 km2 is vyf keer groter as dié van Groot-Brittanje en is groter as die gesamentlike gebied van Frankryk, Italië, Wes-Duitsland, Nederland en België.
Suid-Afrika se buurstate is in die noorde (van wes na oos) Namibië, Botswana, Zimbabwe, Mosambiek en Swaziland. Die koninkryk van Lesotho grens aan die provinsies KwaZulu-Natal, Vrystaat en Oos-Kaap. Suid-Afrika word in nege provinsies verdeel, naamlik Noord-Kaap, Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng, Noordwes, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo. 4
Reliëf
Die grootste deel van Suid-Afrika se oppervlakte bestaan uit ʼn uitgestrekte plato (dit is ʼn verhewe gedeelte in ‘n landskap wat ‘n plat of taamlike plat oppervlak en steil hellings het) wat deur bergreekse van die smal kusgebiede geskei word. Die hoogste bergreekse is die Drakensberge in die ooste, waarvan Thabana Ntlenyana (3 482 m) in Lesotho die hoogste is en Mafadi (3 451 m) in KwaZulu-Natal die hoogste in Suid-Afrika is. Die kusgebied is smal in die weste (ongeveer 60 tot 80 km), maar word breër in die suide en die ooste (ongeveer 80 tot 240 km).
Aangrensend die kusgebied in die suide is die Klein-Karoo, ʼn smal, droë laagland tussen die Swartberge en die Langeberge. Noord van die Swartberge is die Groot-Karoo, ʼn lae, droë vlakte tussen die plato en die geplooide bergreekse aan die Kaapse wes- en suidkus. KwaZulu-Natal en Mpumalanga se laeveld maak ook deel uit van die kusgebied. Die plato daal geleidelik van ongeveer 3 000 m in die ooste tot 900 m in die weste. Die Hoëveld (Suid-Gauteng en die Vrystaat) is die hoogste en vrugbaarste deel van die plato. Ook deel van die plato is die Bosveld in Limpopo wat na die Limpopo-vlakte afdaal, die Kalahari, ʼn halfwoestyn in die weste, en Boesmanland en die Bo-Karoo in die suidweste.
Die bergreekse (platorand) wat die plato omring, strek in die vorm van ʼn hoefyster van Limpopo tot by Namakwaland aan die Weskus. Die vernaamste bergreekse is die Drakensberge, die Stormberge, die Suurberge, die Sneeuberge, die Nuweveldberge, die Roggeveldberge en die Kamiesberg. Nie een van die riviere in Suid-Afrika is kommersieel bevaarbaar nie. Die grootste rivier is die Oranje, wat in die Drakensberge ontspring en 2 250 km verder in die Atlantiese Oseaan uitmond.
Die vernaamste sytakke van die Oranjerivier is die Vaal- en die Caledonrivier. Die grootste deel van die plato word deur die Oranjerivier en sy sytakke gedreineer. Noord van die waterskeiding word die plato deur die Limpoporivier en sy sytakke in die Indiese Oseaan gedreineer. Die riviere in die kusgebiede is baie korter as dié op die plato en is as gevolg van die skerp daling van die platorand vinnig vloeiend. Die meeste van die riviere is seisoenale riviere wat in droë tye min of geen water het nie. Die grootste van dié riviere is die Tugela in KwaZulu-Natal. Die Fundudzi-meer in die Soutpansberge in Limpopo wat deur bergstortings gevorm is, is die enigste egte meer in Suid-Afrika. Die sogenaamde mere aan die Natalse kus en Suid-Kaap, is varswater-lagunes.
Klimaat
Suid-Afrika het ʼn oorwegend droë, sonnige klimaat. Ten spyte van die 13˚ breedteverskil tussen die Limpopo en die Suidkus, is die noorde nie veel warmer as die suide nie. Dit is toe te skryf aan die plato se groot hoogte bo seevlak. Kaapstad se gemiddelde jaarlikse temperatuur (17 ˚C) is net 0,5 ˚ laer as dié van Pretoria. Die laagliggende gebiede in die noorde, wat nie deel van die plato uitmaak nie, is die warmste: Mpumalanga en Noordwes.
Aan die Weskus word die klimaat beïnvloed deur die koue Benguelastroom en aan die Ooskus deur die warm Agulhasstroom. Die koue water van die Weskus is ryker aan suurstof, nitrate, fosfate en plankton as die water langs die Ooskus. Daarom steun die Suid-Afrikaanse visbedryf op die Weskus vir goeie vangs.
Durban aan die Ooskus is gemiddeld 7 ˚C warmer as Port Nolloth aan die Weskus. In groot dele van die land is die maksimum somertemperature dikwels hoër as 32 ˚C.
Afgesien van die Kaapse Wes- en Suidkus, wat nat winters het, is die Suid-Afrikaanse winters droog met helder sonskynweer. Die suidelike en oostelike dele van die platorand is die hoogste bo seevlak en derhalwe die koudste. Gedurende die winter daal die temperature dikwels tot onder vriespunt en ryp kom voor. Sneeuval is meestal beperk tot die bergreekse van die platorand en die Kaapse kusbergreekse.
Die reënval in Suid-Afrika is onreëlmatig. Die gemiddelde reënval is 450 mm per jaar, teenoor die gemiddeld van 860 mm wêreldwyd. Sowat 65% van die land kry minder as 500 mm per jaar, wat beskou word as die minimum wat vir gewasverbouing vereis word. Sowat 21% van die land, hoofsaaklik die dorre weste, kry minder as 200 mm per jaar.
Vogtige lug van die Indiese Oseaan bring die meeste reën, met die gevolg dat die reënval van oos na wes geleidelik afneem. Die Kaapse Weskus, die Skiereiland ingesluit, het ʼn winterreënval, terwyl ʼn smal strook aan die Suidkus regdeur die jaar reën kry, met ʼn maksimum neerslag in die winter. In die res van die land reën dit in die somer, meestal in die vorm van donderbuie.
Plantegroei
Slegs 0,35 % van Suid-Afrika se oppervlakte word deur natuurlike woude bedek. Die grootste konsentrasie woude is aan die Kaapse Suidkus in die gebied tussen George en Humansdorp geleë. Woude kom ook teen die vogtige hellings van die Amatola-, die Winter-, en die Drakensberge voor. ʼn Smal strook subtropiese kuswoude strek van Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) noordwaarts tot by Mosambiek. Verskeie variasies van savanne- of grasvlakteplantegroei kom in Mpumalanga en Limpopo voor, terwyl die sogenaamde doringveld van die Kalahari as ʼn “oop” grasvlakte (savanne) bestempel kan word.
Die Mediterreense plantegroei, wat uit immergroen struikgewasse (fynbos) bestaan, is oorheersend in die winterreënvalstreek en bome is beperk tot beskutte klowe. Ware woestynplantegroei kom net in ʼn smal strook langs die Weskus voor. Die westelike binneland word grotendeels bedek deur halfwoestyngrasse en -struike (Karoo-bossies) en die oostelike binneland deur grasveld.
Wêrelderfenisterreine
Suid-Afrika het agt Wêrelderfenisterreine wat tussen 1999 en 2007 verklaar is. Dit is Robbeneiland, iSimangaliso Vleiland Park (Groter St. Lucia Vleiland Park), die Wieg van die Mensdom, uKhahlamba Drakensberg Park, Mapungubwe, die Kaapse Blomstreek, die Vredefortkoepel, en die Richtersveld Kulturele en Botaniese Landskap.
Die mense
Bevolking
Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatSA) het Suid-Afrika se bevolking in 2020 op 59, 62 miljoen mense gestaan en het Gauteng die meeste inwoners – ongeveer 15,5 miljoen mense (26% van die land se bevolking). Vroue is meer as mans (51,1% is vroulik), altesaam 30,5 miljoen vroue. Die gemiddelde ouderdom is 27 en die meeste kinders jonger as 15 woon in KwaZulu-Natal en Gauteng. 5
Slegs 9,1% (5,4 miljoen) Suid-Afrikaners is 60 jaar en ouer, waarvan die meeste ook in Gauteng woon. Daar is ʼn toenemende toeloop van mense wat trek na die Wes-Kaap en Gauteng, weens werksgeleenthede. Die uiteensetting van die 2020-verslag van StatSA van die verskillende rasse, lyk soos volg:
- Swart – 81% van die land se bevolking (49, 07 miljoen)
- Bruin – 9% van die land se bevolking (5,3 miljoen)
- Wit – 8% van die land se bevolking (4,7 miljoen)
- Indiër/Asiaties – 3% van die land se bevolking (1,5 miljoen)
Daar is 11 amptelike landstale: Engels, Afrikaans, isiZulu, isiNdebele, isiXhosa, Sesotho, Sesotho sa Leboa, Setswana, siSwati, Tshivenda en Xitsonga. Van al die tale in Suid-Afrika het Zoeloe die meeste moedertaalsprekers.6
Sê ‘Hallo’ :
- “Abusheni” – Xitsonga
- “Dumela” – Setswana
- “Hello” – Engels
- “Lumela” – Sesotho
- “Molo” – Xhosa
- “ndaa” of ‘Aa” – Tshivenda
- “Salinonani” – Ndebele
- “Sanibona” – Swati
- “Sawubona” – Zoeloe
- “Thobela” – Sesotho sa Leboa
Godsdiens
Suid-Afrika het nie ʼn amptelike geloof waaraan al die burgers moet behoort nie. Elke individu is geregtig tot sy/haar eie geloofsoortuiging en opinies.
Volgens StatSA se verslag van 2015 behoort 86 % van die land se bevolking tot die Christen-geloof, 1,9 % is Moslems, 5,4 % behoort aan tradisionele Afrika-gelowe, 0,9 % is Hindoes, 0,2 % is Jode en die res van die bevolking behoort óf nie aan ʼn geloof nie, óf nie aan iets spesifieks nie. 7
Die ekonomie
Die Verenigde Nasies klassifiseer Suid-Afrika as ʼn middelinkomsteland en wat Bruto Binnelandse Produk (BBP) betref, beklee dit die 25ste posisie. BBP is die totale markwaarde van goedere en dienste wat binne ʼn gegewe tydperk, gewoonlik een jaar, binne ʼn land deur werkers en kapitaal gelewer word.
Die land het volop natuurlike hulpbronne en ʼn moderne infrastruktuur. Doeltreffende en ontwikkelde finansiële, regs-, energie– en vervoersektore verseker doeltreffende verspreiding van goedere na groot stedelike sentrums dwarsdeur die streek. 8
Landbou en mynbou
Suid-Afrika het ʼn groot landbousektor en is ʼn netto-uitvoerder van landbouprodukte. Landbou verskaf sowat 7% formele werkgeleenthede en lewer 3% van die land se BBP. Net 12% grond is wel geskik vir gewasproduksie en net sowat 3% word beskou as grond met “hoë potensiaal” – dit is grond wat vir intensiewe bewerking met ʼn hoë opbrengs gebruik kan word.
Suid-Afrika is ʼn toonaangewende produsent van edelmetale soos goud en platinum, nie-edelmetale (mangaan, chroom, vanadium ens.) en steenkool. Suid-Afrika is die vierde grootste diamantprodusent ter wêreld en was die grootste goudprodusent tot 2007, toe hierdie posisie deur China oorgeneem is. Daar is beraam dat Suid-Afrika oor 90% van die wêreld se platinumreserwes beskik.
Mynbou is noodsaaklik vir die nasionale ekonomie. In 2009 word steenkool die grootste komponent van mynbou, dan platinum en goud. Daar is in daardie jaar vasgestel dat mynbou 8,8% van die nasie die BBP (plus ʼn verdere 10% indirek) bydra. Die mynbedryf is ook die grootste werkgewer in Suid-Afrika deur sowat 500 000 mense direk en nog 500 000 in verwante nywerhede aan te stel.
Die grondwet
Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, het op 4 Februarie 1997 in werking getree. Dit is die hoogste wet in Suid-Afrika en geen ander wet of regeringsoptrede kan dit kragteloos maak of weerspreek nie. Hoofstuk 2 van die Grondwet bevat die Verklaring van Regte, wat die hoeksteen van demokrasie in ons land is. Dit beskerm almal se regte en bevestig die demokratiese waardes van menslike waardigheid, gelykheid en vryheid. Dit is die 11 regters van die Grondwetlike Hof se werk om die Grondwet te handhaaf en te beskerm.
Woordbank
apartheidsregering | Die Nasionale Party-regering (1984-1994) wat Suid-Afrikaners in kleurgroepe geskei en afgesonder het. |
artisjok | Eetbare distelagtige plant met ’n knol (bol). |
assegaai | ʼn Soort spies wat deur die inheemse groepe van Suid-Afrika as wapen gebruik is. |
bejeën | Behandel; optree teenoor iemand/iets. |
bestempel | Beskou, gesien. |
blom | Ontwikkel, gedy, groei, floreer. |
dekades | Een dekade is ’n tydvak van 10 jaar. |
demokrasie | ’n Regering wat verkies word deur verteenwoordigers van al die inwoners van ’n land. |
derhalwe | Daarom, om dié rede. |
dieet | Die kos wat ’n mens of dier daagliks eet. |
diverse | Uiteenlopend/veelsydig; verskillend, veelsoortig. |
ekonomie | Stelsel waarin die handel, produksie, ens. van ’n land of streek verkeer. |
elegante | Grasieus, sierlik. |
estetiese | Betreffende die skoonheid; die mooiheid van iets. |
etlike | Verskeie, heelwat, baie. |
fosfate | Chemiese verbindings wat fosfor bevat. |
gedreineer | Oortollige water/vog word afgevoer/weggevoer. |
gehys | Boontoe getrek, opgetrek. |
gekombineerde | Saamgevoegde, saamgestelde. |
gesplete | Gekloof; in twee dele gesplyt. |
getoonset | Om musiek by ’n gedig te voeg. |
gewasproduksie | Kweek van plante (soos mielies en koring) as ekonomiese bedrywigheid; ook gewasverbouing genoem. |
handhaaf | Om iets in stand te hou, soos byvoorbeeld orde, reëls, ens. |
harmonie | Eensgesindheid, goeie verstandhouding, samewerking, onderlinge begrip; welwillendheid, vreedsaamheid, vriendskaplikheid, wedersydse liefde. |
hengelaar | ’n Persoon wat visvang. |
hoefyster | Gebuigde yster waarmee perde, ens. beslaan word; perdeskoen. |
horisontaal | Dwars. |
huidige | Soos dit nou is. |
infrastruktuur | Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens. |
kapitaal | Alles wat geldwaarde het. |
knopkierie | Vegkierie, slaanstok, knuppel. |
kommersieel bevaarbaar | Groot/diep genoeg sodat vrag per boot op rivier vervoer kan word. |
komponent | Deel, element van iets groters. |
kulture | Verskillende groepe mense met hul eie gewoontes, taal, godsdiens, ens. |
kultuur | Dit is al die lewenswyses insluitend kunste, oortuigings en instellings van ’n bevolking wat van geslag tot geslag oorgedra word. |
kus | Die kant of grens van land langs die see: |
lagunes | Strandmere. |
leidende | Belangrike, rigtinggewende. |
netto | Wat oorbly nadat alle ander bedrae of kostes afgetrek is. |
nitrate | Anorganiese verbindings wat uit stikstof en suurstof bestaan. |
nywerheidswese | Fabrieke. |
onreëlmatig | Wisselvallig, nie altyd dieselfde nie. |
onstuimige | Woeste. |
ontspring | Begin. |
oorwegend | Meestal. |
plankton | ’n Belangrike voedselbron vir groot en klein seediere. |
platinum | Platinum (asook goud en silwer) is ’n edelmetaal. |
plato | Plat, hoogliggende streek, hoogland, tafelland. |
produsent | Vervaardiger, verbouer. |
reliëf | Die verskille in hoogte van plek tot plek op die land se oppervlak. |
reserwes | Dit wat nog nie ontgin is nie. |
ryp | Dou wat verys het. |
sektore | ’n Afdeling of gebied van iets of die manier waarop besigheidsaktiwiteite gegroepeer kan word. |
skild | Die deel van ’n soldaat se pantser; ’n harde, ondeurdringbare plaat wat ’n soldaat in sy hand gehou het en waarmee hy die pyle en swaarde van sy vyand kon afweer. |
spesie | ’n Klassifikasie vir diere en plante. |
standvastigheid | Stewigheid, onbeweeglikheid; sekerheid, vasberadenheid. |
status | Plek. |
strofe | Twee of meer versreëls wat ’n geheel vorm. |
teel | Hulle kry kleintjies. |
toonaangewende | Besonder goed; prominent, belangrik. |
toonsoort | Die groep toonhoogtes, of toonleer, wat die basis van ’n musikale komposisie vorm. |
tradisionele | Betreffende tradisies wat van geslag tot geslag oorgelewer word. |
unieke | Enig in sy soort; merkwaardig; buitengewoon, eiesoortig; onvergelykbaar. |
uitmond | Uitloop of uitvloei in; eindig. |
verborge | Weggesteek, geheim gehou. |
verset | Weerstand/teenstand/opstand teen iets. |
vertikaal | Regop, loodreg. |
vindingryk | Slim, kreatief. |
vlerkpluime | Groot, lang opvallende vere. |
wisselvallige | Iets wat dikwels verander. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer
- Erfenisgebiede van Suid-Afrika
- Die Suid-Afrikaanse vlag
- Minerale van Suid-Afrika
- Menseregte van Suid-Afrika
- Grondwet en regstelsel
Kyk hierdie video’s om nóg meer te weet
Die geskiedenis, geografie, ekonomie en kultuur van Suid-Afrika
Die geskiedenis, evolusie en betekenis agter die Suid-Afrikaanse vlag
Kyk hoeveel volksliedere is daar al in Suid-Afrika gesing!
Die top-10-plekke in Suid-Afrika om te besoek
Kyk of jy al die antwoorde van dié vasvra weet