Vinnige feite

  • Hoewel soutwater nie gedrink kan word nie, is dit ook ʼn belangrike natuurlike hulpbron. Die water in oseane, riviermondings en vleilande speel ’n belangrike rol in daardie ekosisteme.
  • Steenkool en ru-olie word gebruik om elektrisiteit op te wek, terwyl olie en petrol brandstof vir voertuie en masjinerie verskaf.
  • Ongeveer 40% van die wêreld se elektrisiteit is afkomstig van steenkoolgedrewe kragstasies. Die gebruik van soveel fossielbrandstowwe kan lei tot die uitputting van hierdie bron, en die verbranding van fossielbrandstowwe gee verder aanleiding tot die vrystelling van giftige (toksiese) gasse en stowwe in die lug, water en grond.
Foto: iStock

Natuurlike hulpbronne is materiaal of stowwe wat natuurlik voorkom. Hierdie stowwe is in ʼn onverwerkte, natuurlike vorm en op daardie manier waardevol vir menslike gebruik. 1

Sommige natuurlike hulpbronne is noodsaaklik vir lewe, terwyl ander ekonomiese waarde het. Lug, water, grond, wild (diere), woude, minerale en fossielbrandstowwe is van die bekendste natuurlike hulpbronne op aarde. 2

Die meeste natuurlike hulpbronne is nie eweredig oor die aarde versprei nie. In sommige areas is water byvoorbeeld volop, terwyl ander areas weer geneig is tot droogte. Lande met ʼn oorvloed natuurlike hulpbronne het ʼn ekonomiese voordeel, omdat hulle van dié hulpbronne aan ander lande kan verkoop. Lande met baie woude is byvoorbeeld gewoonlik groot uitvoerders van hout, papier en ander papierprodukte. Natuurlike hulpbronne kan verdeel word in hernubare en niehernubare hulpbronne.

Hernubare hulpbronne

ʼn Hernubare hulpbron is ʼn natuurlike hulpbron wat nie opgebruik, oftewel uitgeput, kan word nie. Dit kan dus vervang word, byvoorbeeld lug, water, grond, plante en diere.

Lug

Alle lewende dinge, met die uitsondering van sekere mikroörganismes, benodig suurstof wat in lug voorkom vir asemhaling om te oorleef. Lug is dus een van die noodsaaklikste natuurlike hulpbronne. Hoewel lug nie opgebruik kan word nie, is lugkwaliteit (gehalte), as gevolg van lugbesoedeling, wel ʼn probleem in baie wêrelddele. 3

Water

Water is nóg ʼn belangrike natuurlike hulpbron. Alle lewende dinge het water nodig vir oorlewing. Ongeveer 71% van die aarde se oppervlak bestaan uit water. Die meeste van die water wat op die planeet voorkom, is egter soutwater (97%) en slegs 3% daarvan is varswater. Net ʼn klein gedeelte van die varswater (slegs sowat 1%) kom op die oppervlak voor en is drinkbaar. Om genoeg varswater te kry, is dus ʼn probleem in baie gebiede. Waterbesoedeling is ʼn wêreldwye probleem wat daartoe bydra dat varswater nie volop beskikbaar is nie, al word dit as ʼn hernubare, natuurlike hulpbronbeskou.

Hoewel soutwater nie gedrink kan word nie, is dit ook ʼn belangrike natuurlike hulpbron. Die water in oseane, riviermondings en vleilande speel ’n belangrike rol in daardie ekosisteme. Besoedeling en olievermorsing in daardie areas kan voedselkettings versteur, asook plant- en dierelewe vernietig. 4

Grond

Grond is noodsaaklik vir lewe op aarde. Grond verskaf water en voedingstowwe vir plante en organismes soos bakterieë, wurms en fungi. Grond speel ook ʼn belangrike rol om koolstof en ander elemente te sirkuleer en help om afvalstowwe af te breek. Die bolaag van grond (bogrond) is die belangrike deel waarin plante groei (die onderste skakel van die voedselpiramide) en wat voedsel aan diere wat plante eet (herbivore), voorsien. Die bogrond word ook gebruik vir graan-, groente- en vrugteboerdery, om kos aan mense te voorsien. 2 Gronderosie, besoedeling en slegte of swak onderhoud kan die bogrond beskadig.

Plante en diere

Plante en diere is hernubare, natuurlike hulpbronne wat van groot waarde is vir mense. Bome en plante verskaf kos en rou materiale vir produkte, soos klere, meubels, medisyne en brandstowwe. Diere verskaf kos en ander produkte soos melk, vleis, velle en vere wat vir verskillende gebruike aangewend word. Plante en diere is slegs hernubaar indien dit vervang word nadat dit gebruik is. Bome wat byvoorbeeld afgesaag word vir die gebruik van meubels, moet vervang word deur nuwe bome te plant. 3

Die aantal visse wat gevang word, moet ook gemonitor (dopgehou) word. Daar moet genoeg visse oorbly sodat dit kan aanteel (voortplant), om te verseker dat daar genoeg visse vir verdere gebruik is.

Dieselfde geld vir die jag van diere vir vleisgebruik. Dit moet streng gekontroleer word om te voorkom dat dierspesies nie uitsterf nie, en voedselkettings nie versteur word nie. 2

Niehernubare hulpbronne

ʼn Niehernubare hulpbron is ʼn natuurlike hulpbron wat nie vervang kan word nadat dit gebruik is nie. Dit beteken dat daar slegs ʼn bepaalde hoeveelheid van hierdie hulpbronne op aarde beskikbaar is. Rots, minerale, metale, uraan en fossielbrandstowwe, soos ru-olie, steenkool en natuurlike gas, is voorbeelde van niehernubare hulpbronne.

Steenkool en ru-olie word gebruik om elektrisiteit op te wek, terwyl olie en petrol brandstof vir voertuie en masjinerie verskaf. Ru-olie word ook gebruik om plastiek, sintetiese materiaal, medisyne en ander produkte mee te maak. Natuurlike gas word gebruik vir verhitting en om kos gaar te maak.

Rots, minerale en metale kom in die aarde se kors voor. Minerale en metale, soos diamante, goud, yster en steenkool, word ontgin deur myne, en dit word gebruik vir die vervaardiging van ’n groot verskeidenheid produkte, byvoorbeeld verf, boumateriaal en juwele.

Menslike impak op natuurlike hulpbronne

Menslike aktiwiteite het ʼn groot invloed op die beskikbaarheid en gehalte van natuurlike hulpbronne. Voertuie en fabrieke gebruik daagliks groot hoeveelhede ru-olieprodukte. Ongeveer 40% van die wêreld se elektrisiteit is afkomstig van steenkoolgedrewe kragstasies. Die gebruik van soveel fossielbrandstowwe kan lei tot die uitputting van hierdie bron, en die verbranding van fossielbrandstowwe gee verder aanleiding tot die vrystelling van giftige (toksiese) gasse en stowwe in die lug, water en grond.

Selfs hernubare, natuurlike hulpbronne moet versigtig bestuur word om die misbruik daarvan te voorkom. Ontbossing, myne en grondontwikkeling (met ander woorde grond wat ontwikkel word vir menslike gebruik) het baie ekosisteme vernietig en water en grond besoedel of beskadig. Die bou van damme en oewerwalle, saam met die gebruik van water vir besproeiing, het ʼn groot uitwerking op die kwaliteit van water en die beskikbaarheid daarvan in sekere gebiede. 3

Die mens het ʼn groot verantwoordelikheid om natuurlike hulpbronne met die nodige respek en verantwoordelikheid te bestuur en te hanteer. Die bewaring van die aarde se natuurlike hulpbronne is ʼn belangrike brandpunt waaraan dringende aandag geskenk moet word. Daar is projekte wat die opwekking van elektrisiteit, deur gebruik te maak van hernubare energiebronne (wind, son en water), aanmoedig. So word 18% van die wêreld se elektrisiteit al opgewek deur windturbines, sonpanele en waterkragsentrales (hidroëlektriese skemas).

Wetenskaplikes en ingenieurs is voortdurend besig om nuwe metodes te probeer vind om produkte te vervaardig wat minder besoedeling en afvalstowwe veroorsaak. Intussen moet elke mens so bedagsaam moontlik wees om by te dra tot die verantwoordelike gebruik en bewaring van die aarde se natuurlike hulpbronne.

Woordbank

voedselketting ʼn Stelsel waarin organismes van mekaar afhanklik is vir voedsel.
lewende dinge  Organismes wat afhanklik is van suurstof, voedsel, sonlig en water om te kan voortleef.
suurstof Die komponent in die lug wat nodig is vir die asemhalingsproses.
hulpbron Menslike hulpbronne verwys na arbeid en natuurlike hulpbronne verwys na dit wat die aarde bied om dinge mee te maak, bv. water en grond.
bogrond Die boonste laag grond waarin plante groei.
grondontwikkeling Om ʼn stuk land te bewerk en te omskep vir menslike gebruik.

Lees hierdie om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Verskillende natuurlike hulpbronne

Wat is natuurlike hulpbronne?

Die nut van natuurlike hulpbronne

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Augustus 2021 | Bygewerk op 6 Maart 2024