Vinnige feite

  • Die Mapungubwe-samelewing het tussen 1220 v.C. en 1250 v.C. bestaan.
  • Mapungubwe is in die Limpopo-provinsie geleë.
  • Mapungubwe is in die vroeë 1930’s ontdek.
  • Mapungubwe is in 2003 as ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar.
  • Die goue renoster is die belangrikste goue voorwerp wat by Mapungubwe gevind is.
  • Die Universiteit van Pretoria was verantwoordelik vir die argeologiese opgrawings by Mapungubwe. Die versameling van artefakte word by die universiteit bewaar. 8
Foto: iStock

Mapungubwe was ʼn stad of uitgebreide nedersetting waar daar tussen 1220 v.C. en 1250 v.C. ʼn groot groep mense geleef het voordat hulle verdwyn het en die wêreld vir enkele eeue niks meer van die woonplek geweet het nie. Die nedersetting was rondom ʼn groot sandsteenkop, wat as die Mapungubwe-heuwel bekend staan, gevestig. 1 Mapungubwe is in die huidige Limpopo-provinsie – op die plaas Greefswald waar die Shaserivier in die Limpopo-rivier invloei – geleë. Hierdie gebied is waar die grense van Suid-Afrika, Botswana en Zimbabwe bymekaarkom. 2

Die ontdekking van Mapungubwe

Die wêreld het weer van Mapungubwe begin kennis neem deurdat legendes oor die stad vertel is. Dit het daartoe gelei dat skattejagters daarna begin soek het. Die eerste Westerling wat Mapungubwe-kop uitgeklim het, was waarskynlik F.B. Lotrie aan die begin van 1900. Hy was ʼn kluisenaar wat in ʼn rotsskuiling naby Mapungubwe gebly het, en hy het goue krale daar gekry. Hy het blykbaar ook ʼn kleipot wat hy daar gekry het, aan ʼn plaaswerker gegee. Die werker het vir die Van Graan-familie, eienaars van die plaas, daarvan vertel. Dit het daartoe gelei dat hulle in ʼn soektog goue kunsvoorwerpe by Mapungubwe gevind het. 1

Uiteindelik het wetenskaplikes begin navorsing doen, en in die vroeë 1930’s is die oorblyfsels van die stad op die plaas Greefswald ontdek. Navorsers het onder leiding van die Universiteit van Pretoria begin om uitgrawings op die terrein te doen, sodat hulle die kultuur en leefwyse van ʼn samelewing wat verdwyn het, weer aan die wêreld bekend kon stel. Vanaf 1961 is die bestudering van Mapungubwe ʼn prioriteit gemaak, en veral die argeoloog Andrie Meyer het intensiewe navorsing oor die stad gedoen. 1

Mense wat by Mapungubwe gebly het

Werktuie uit die vroeë, middel- en laat Steentydperk, asook rotstekeninge in rotsskuilings is in die Greefswald-omgewing gevind. Hierdie ontdekkings lewer bewys van mense wat in prehistoriese tye as versamelaars en jagters daar gebly het. Die Sarwa (ʼn groep versamelaars en jagters wat met die Khoisan vergelyk kan word) het voorheen hier gewoon, en hulle woon tans steeds saam met boerderygemeenskappe soos die Ngona in hierdie omgewing. 1

Volgens mondelinge oorlewering (vertelling) het gemeenskappe wat aan die Lea- en Twamamba- stamme behoort het, hier gewoon. Hulle is verwant aan die Venda- en Shona- etniese groepe wat ons vandag ken. 1

Die koninkryk was magtig in Suidelike Afrika onder meer vanweë hulle handel in goud en ivoor langs die ooskus van Afrika. 2

Teen ongeveer 1700 het Sothosprekende groepe ook in die gebied begin bly. Europese mense het vanaf die negentiende eeu in hierdie omgewing begin woon. 1

Die bewoners van Mapungubwe was in verskillende sosiale klasse georganiseer. Dit kan afgelei word uit die plasing van die woonplekke. Die hoër klasse het bo-op Mapungubwe gewoon, terwyl die volgelinge aan die voet van die heuwel en ook in die onmiddellike omgewing gewoon het. In die tyd van die Mapungubwe-koninkryk was die heuwel self die tuiste van die koning, terwyl sy onderdane – ongeveer 9 000 van hulle – in die vallei rondom die heuwel gebly het. 3

Uit die inhoud van ʼn ashoop of stortingsterrein waar die volgelinge gewoon het, is afgelei dat die verskillende groepe verskillende soorte kos geëet het. 4 Gewoontes rondom begrafnisse het ook verskil. Die ryk deel van die gemeenskap het ʼn begraafplaas met ʼn pragtige uitsig oor die omgewing bo-op die heuwel gehad. Drie van die mense in hierdie grafte is in ʼn sittende posisie begrawe – ʼn aanduiding dat hulle koninklikes was. Dit was die gebruik om koninklikes so te begrawe. Daar is ook goue- en koperornamente, asook glaskrale saam met hulle begrawe. 4

1918 tot vroeë 1920’s

Die gebied word die fokuspunt van landbounavorsing as gevolg van die navorsing van ʼn botanis, dr. I.B. Pole-Evans. In 1918 het die regering op versoek van generaal Smuts nege plase opsy gesit vir ʼn bewaringsgebied wat later bekend gestaan het as die Dongola Botaniese Reservaat. 3

1998

Die Vhembe Dongola Nasionale Park word op 9 April 1998 gestig. 3

2003

Die gebied word as ʼn wêrelderfenisgebied verklaar. 2

2004

Die naam van die park verander van Vhembe Dongola Nasionale Park na Mapungubwe Nasionale Park op Erfenisdag, 24 September 2004. 3

Ekonomiese bedrywighede

Die bewoners van Mapungubwe was oor die algemeen ryk mense wat onder meer met beeste, skape en bokke geboer het. Hierdie diere was ʼn bron van vleis en velle, en inkomste is ook uit jagtogte en die vang van diere in strikke gegenereer. 3 Hulle het ook groot oeste geproduseer, en dit het hulle in staat gestel om daarmee handel te dryf en ook om ekstra voedsel te kon stoor.

Argeoloë het tekens van verskillende soorte graan, asook katoen in hutte wat as stoorplek gebruik is, gevind. Hulle rykdom is egter waarskynlik hoofsaaklik verkry omdat hulle handel in ivoor en goud gedryf het. Mapungubwe het die handel in goud oorheers en het onder andere met die Swahili-gemeenskap aan die kus van wat vandag as Tanzanië bekend staan, handel gedryf. 4

Tussen ongeveer 1220 en 1300 was Mapungubwe ʼn gevorderde handelsentrum. Ander artikels wat as ruilartikels gebruik is, was sout, vis, yster, hout en krale wat van volstruiseiers gemaak is. Die bewoners het deur die hawens in Oos-Afrika handel gedryf met Sjina, Arabië en Indië. Dit was vir die bewoners van die gebied maklik om handel te dryf omdat die Limpopo-rivier hulle toegang tot die hawens in Oos-Afrika gegee het. 3

Kultuurskatte van Mapungubwe

Mapungubwe dateer uit die prehistoriese ystertydperk. Navorsers het tydens die opgrawings op ʼn ryk kultuurskat afgekom. 1

Van die ontdekkings was die volgende:

  • Klipwerktuie
  • Rotsskuilings met rotstekeninge
  • Grafte met goue krale en ander goue voorwerpe
  • Woonplekke en klipmure
  • Vreemde, unieke glaskrale, asook kalsietkrale, wat moontlik plaaslik gemaak is.

Argeoloë gebruik voorwerpe wat hulle tydens opgrawings vind, om te bepaal hoe lank gelede bepaalde mense daar gebly het. Die ouderdom van die voorwerpe word deur wetenskaplike toetse vasgestel. Op hierdie manier kan navorsers byvoorbeeld bepaal uit watter tydperk in die verlede sekere soorte potskerwe kom. 4

Die belang van goud (voorwerpe)

Gedurende die 13de eeu het goud die belangrikste handelsitem geword toe dit glaskrale as ʼn teken van rykdom en mag vervang het. Die talle goudvoorwerpe wat by Mapungubwe ontdek is, is dus ʼn goeie bewys van die belangrike posisie wat hierdie gemeenskap beklee het. 5

Daar is baie goudvoorwerpe op die terrein van Mapungubwe ontdek. Drie van die 23 grafterreine wat opgegrawe is, het groot hoeveelhede goudvoorwerpe bevat. Dit het klein dierefigure ingesluit, onder meer ʼn krokodil en dele van ander diere wat nie geïdentifiseer kon word nie. Twee daarvan is wel in 2009 gerekonstrueer – ʼn os en ʼn wildekat. Ander goudvoorwerpe wat ontdek is, is goue septers, armbande, krale en goudskywe. 5 6

Die belangrikste van hierdie goudvoorwerpe is sonder twyfel die goue renoster. Dit is in 1934 tydens opgrawings in ʼn graf van een van die konings ontdek, 800 jaar nadat dit die laaste keer deur mense gesien is. In 1999 is die goue renoster as ʼn nasionale skat verklaar. 5

Die einde van Mapungubwe

Die redes vir die skielike einde aan so ʼn permanente en vooruitstrewende gemeenskap, is nie volledig duidelik nie.

Sommige argeoloë is van mening dat die koninkryk agteruitgegaan het omdat daar klimaatsverandering was. Volgens hierdie teorie het die weer kouer en droeër geword, wat beteken dat die beskikbare weiding vir vee minder geword het en veeboerdery nie meer kon voortgaan soos in die verlede nie. Nog ʼn mening is dat die handelsroetes verander het. Omdat die gemeenskap van Mapungubwe sterk op handel staatgemaak het, sou so ʼn verandering hulle gedwing het om te verhuis.

Herbegrafnis

Tussen 1933 en 1998 is die oorblyfsels van 147 persone uit die grafte in en om Mapungubwe opgegrawe en na die Universiteit van Pretoria vir navorsing geneem.

Ná 1994 het afstammelinge van die Mapungubwe-bewoners ʼn ooreenkoms met die regering aangegaan, waarna hierdie oorblyfsels op 20 November 2007 weer nader aan hulle herkomsgebied herbegrawe is. Hierdie afstammelinge het verteenwoordigers van die volgende groepe ingesluit: die Vhangona-kultuurliggaam, die Lemba-kultuurvereniging, die San-raad, die Tshivula koninklike familie, die Ga-Machete koninklike familie en die Leshiba koninklike familie. 6

Betekenis en belang van Mapungubwe

  • Mapungubwe was die eerste en grootste inheemse koninkryk in Suid-Afrika en in Suidelike Afrika. 2 6
  • Die vestiging van Mapungubwe as ʼn magtige koninkryk wat handel gedryf het met Indië en Arabië was ʼn belangrike stadium in die geskiedenis van die Suider-Afrikaanse subkontinent. 6
  • Die gebied word as die belangrikste opgrawingsterrein uit die Ystertydperk in Suid-Afrika beskou. Die opgrawings wys duidelik hoe ʼn groot koninkryk en kultuur tot stand gekom het en weer as gevolg van onder meer klimaatsverandering verdwyn het. 6
  • Die belang van Mapungubwe in die geskiedenis van Suid-Afrika word geïllustreer daardeur dat een van die eerbetonings wat aan uitstaande Suid-Afrikaners toegeken word, na Mapungubwe vernoem is. Die Orde van Mapungubwe word toegeken aan Suid-Afrikaanse burgers wat uitblink op die gebied van kuns, kultuur, musiek, joernalistiek en sport. In 2002 het president Nelson Mandela die hoogste vorm van hierdie orde, naamlik die Orde van Mapungubwe (Platinum), ontvang. 3 5

Mapungubwe vandag

Die gebied is vandag bekend as die Mapungubwe Nasionale Park, en besoekers kan op Mapungubwe-heuwel die verlore stad besoek. Die gebied is ryk aan wildlewe en spog ook met onder meer kremetartbome en sandsteenformasies. In 2009 is die Mapungubwe-sentrum aangewys as die gebou van die jaar deur die hoog aangeskrewe Wêreld Argitektuur Feestoekennings. 4

Woordbank

nedersetting Onbewerkte, informele plek waar ʼn groep mense hulle gaan vestig. 7
legendes Verhaal wat nie op feite berus nie, maar op vertellings.
argeoloog Navorser wat die oorblyfsels van vroeër tye bestudeer.
ruïnes ʼn Vervalle gebou wat oor ʼn lang tyd verniel het.
botanis Plantkundige.

Lees hierdie artikel om nog meer te leer

Kyk hierdie video om nog meer te leer oor Mapungubwe

Mapungubwe, die goue renoster en ander voorwerpe uit goud

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: Stefan Heunis Foto: iStock
Gepubliseer op: 23 Februarie 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024