Vinnige feite

  • Die oorwinning van die Geallieerdes word sedert 1945 jaarliks op 8 Mei in Brittanje en die VSA gevier. Dit staan as VE Day (Victory in Europe) bekend. 4
  • Kinders het baie swaargekry tydens die oorlog. Nagenoeg twee miljoen kinders moes hul huise verlaat en baie kinders is dood in bomaanvalle en natuurlik die Joodse volksmoord. Daar was ook baie min kos en groot swaarkry. Kinders is selfs as soldate ingespan en duisende kinders was wees ná die oorlog. 5
  • Sekere Europese lande het tydens die oorlog neutraal gebly. Dit beteken dat hulle nie kant gekies het nie. Dit was lande soos Spanje, Swede en Switserland. 6
  • Nagenoeg 60 miljoen mense is in die oorlog dood. Dis meer as die totale bevolking van Brittanje! 6
  • Die Duitsers het vanaf 7 September 1940 vir 57 agtereenvolgende nagte bomme op Londen, die hoofstad van Engeland, laat val. 6
  • Nadat die eerste atoombom laat val is, is ongeveer 140 000 mense dood. Die volgende atoombom het ongeveer 75 000 levens geëis. In die jare daarna is daar nog duisende mense dood as gevolg van die bestraling. 7
  • Ons ken vandag die woord kamikaze as gevolg van die Japannese. Japan se kamikaze-vliegtuie is só genoem, want die soldate is aangesê om in die Geallieerdes se skepe vas te vlieg. Hulle het dus geweet hulle gaan sterf, maar het dit steeds gedoen en sodoende meer as 300 Amerikaanse skepe verwoes.

As ’n mens nie in ’n oorloggeteisterde land bly nie, is dit moeilik om jou in te dink oor hoe erg ‘n oorlog waarlik is. Dis verwoestend, mense gaan dood en dié wat wel oorleef, se lewe is vir altyd onherroepelik verander.

Ná die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het mense gedink dat daar nooit weer ’n oorlog sou wees nie. Dié oorlog, die eerste waarby so baie verskillende lande in die wêreld betrokke was, was só erg en vernietigend dat mense aangeneem het dat geen volk of nasie ooit weer só iets sou kon deurstaan nie.

Maar toe gebeur dit wraggies weer van 1939 tot 1945 toe ’n magsugtige man genaamd Adolf Hitler die wêreld opnuut op sy kop gekeer het!

Adolf Hitler was glo baie gesteld op sy openbare beeld.

Teen die tyd wat hierdie oorlog geëindig het, was omtrent elke deel van die wêreld daarby betrokke. Die twee kante van die oorlog is die Geallieerdes en die Spilmoondhede genoem, en elkeen het sy eie bondgenote gehad. Duitsland, Italië en Japan was die hoofspelers van die Spilmoondhede, terwyl die Verenigde State van Amerika (VSA), die Sowjetunie (vandag word dit Rusland genoem), die Verenigde Koninkryk (Brittanje) en Frankryk die hoofspelers van die Geallieerdes was. China het ook die Geallieerdes bygestaan. 1

Meer mense het in hierdie oorlog as in enige ander oorlog omgekom. Daar word beraam dat tot 60 miljoen mense in die Tweede Wêreldoorlog dood is. Baie mense was burgers en dus doodgewone mense soos ek en jy. Ongeveer ses miljoen mense is in die Joodse volksmoord dood. Dit was Hitler se groot plan om die Joodse volk uit te wis. Dit is vandag byna ondenkbaar dat só iets kon gebeur! 1

Die begin van die oorlog

Een van die groot faktore wat tot die oorlog bygedra het, was die uitslag van die Eerste Wêreldoorlog. Die oorlog het onstabiliteit veroorsaak en tot groot ekonomiese probleme en politieke krisisse gelei.

Die Duitsers is swaar gestraf vir hul aandeel in die Eerste Wêreldoorlog. Hulle is ingevolge die Versailles-verdrag slegs toegelaat om ’n klein weermag en vloot te behou en moes ’n groot klomp geld betaal. Dit was vir die Duitsers ’n groot vernedering en hulle was baie ongelukkig daaroor. 2

Duitsland was vir lank ekonomies en polities onstabiel en vir iemand soos Adolf Hitler het hierdie onstabiliteit dit maklik gemaak om ’n rat voor mense se oë te draai. Hy was ’n lid en later die leier van die Nasionaal-sosialistiese Duitse werkersvakbond (ook genoem die Nazi’s). Hy was baie gekant teen die Joodse volk en het geglo dat hulle al die beste poste in Duitsland beklee en baie geld maak. Hy het reeds in 1923 in sy boek Mein Kampf (My stryd in Afrikaans) ’n Europese oorlog voorspel wat tot die uitwissing van die Joodse ras in Duitsland sou lei. 2

Hitler het in 1933 kanselier van Duitsland se regering geword en homself slegs ’n jaar later as Führer (die opperleier) aangewys. Hy was obsessief oor die idee van ’n suiwer Duitse ras en het dit die Ariese ras genoem. Hitler het in die stilligheid begin om Duitsland se weermag en vloot op te bou en wapens te vervaardig. Nadat hy alliansies met Italië en Japan teen die Sowjetunie aangegaan het, het hy in 1938 troepe na Oostenryk gestuur om dit binne te val. Hy het die land oorgeneem en ’n jaar daarna ook Tsjeggo-Slowakye.

In daardie tyd was die VSA en die Sowjetunie te besig met interne politiek om hulle aan Hitler te steur en omdat Frankryk en Brittanje swaar verliese in die Eerste Wêreldoorlog gely het, wou hierdie lande nie weer oorlog voer nie.

Joseph Stalin, voormalige leier van die destydse Sowjetunie.

In Augustus 1939 het Hitler en die leier van die Sowjetunie, Joseph Stalin, ’n verdrag onderteken en dit het kommer by die Britte en Franse uitgelok. 1

Pole net die begin

Brittanje en Frankryk het militêre ondersteuning vir Pole beloof sou Duitsland hulle aanval, want Hitler het toe reeds Pole in sy visier gehad. Op 1 September 1939 het Hitler Pole van die weste ingeval en twee dae later het Frankryk en Brittanje oorlog teen Duitsland verklaar. Dit het die begin van die Tweede Wêreldoorlog beteken. Australië, Nieu-Seeland, Kanada, Indië en Suid-Afrika het hulle ook later aan die kant van die Geallieerdes geskaar. 2

Omdat die Sowjetunie in daardie stadium Duitsland se bondgenoot was, het hulle op 17 September Pole van die ooste af ingeval. Pole het dus vinnig geval en daar is talle Poolse soldate en burgers dood. Duitsland en die Sowjetunie het in 1940 beheer oor dié land geneem. Stalin se magte het daarna die Baltiese state soos Estland, Letland en Litaue oorgeneem en Finland ingeneem.

Intussen het die Britse en Duitse vlote mekaar op die see toegetakel en Duitse duikbote het, net soos in die Eerste Wêreldoorlog, begin om handelskepe aan te val. Hulle het meer as 100 bote in die eerste vier maande van die oorlog gesink! 1

Op 9 April 1940 het Duitsland Noorweë binnegeval en Denemarke oorgeneem. Die gort was behoorlik gaar en die oorlog in alle erns aan die gang. 2

Duitsland was gulsig en wou al hoe meer lande hê. Op 10 Mei het die Duitse magte België en Nederland aangeval en blitsvinnig dié lande oorgeneem. Dit was só onverwags en vinnig dat hul aanval as die Blitzkrieg (vinnige oorlog) bekendgestaan het.

Drie dae later was die Franse aan die beurt, en die Duitse troepe het Frankryk binnegeval. Die Franse kon nie genoeg weerstand bied nie en toe Italië sien dat die Duitsers Frankryk gaan inneem, het hulle vinnig ’n verdrag met Duitsland onderteken. Hiermee het Italië dus oorlog teen Frankryk en Brittanje verklaar.

Frankryk is in twee dele verdeel, een stuk onder Duitsland se beheer en een onder ’n Franse generaal, Marshal Phillippe Petain, se beheer. Daar was egter ook Franse wat steeds probeer het om die Duitse soldate aan te val.

Britte in die spervuur

Daarna het Duitsland besluit om Brittanje aan te val. Duitse vliegtuie het met ’n swaar aanslag teen Brittanje begin en in September 1940 hewige bomaanvalle van stapel gestuur. Dit het as die Blitz bekendgestaan en het nagaanvalle op Londen en ander groot gebiede beteken. Hierdie lugstryd is die Slag om Brittanje (Battle of Britain) genoem en het tot groot skade en baie gewone mense se dood gelei. Die Britte het gelukkig ’n nuwe uitvindsel, naamlik radar, gehad. Die radar kon die Britte waarsku as daar Duitse vliegtuie in die omtrek was. Die Britse lugmag het uiteindelik die Duitse lugmag oorwin en Hitler het vir eers sy planne gestop om in te val. 1

Vlieëniers van No. 32 Eskader tydens die Slag van Brittanje.

Die VSA het ook begin om Brittanje te help om hul weermag sterker te maak.

In 1940 het die Italianers Egipte binnegeval omdat hulle die Suezkanaal wou beheer. Die Britte kon egter daarin slaag om die Italianers terug te dwing.

Die Duitse generaal Erwin Rommel het die Duitsers tot vele oorwinnings in Noord-Afrika gelei, maar die Britte het hulle uiteindelik in 1942 met twee veldslae in hul spore gestuit. Teen November van daardie jaar is die Duitsers uit Egipte gedryf. 1

Inval van die Sowjetunie

Teen 1941 het Hongarye, Roemenië en Bulgarye by die Spilmoondhede aangesluit en die Duitse troepe het Joego-Slawië en Griekeland ingeneem. Hitler wou egter – ten spyte van sy vroeëre bondgenootskap met die Sowjetunie – eintlik die Sowjetunie inneem. Teen 22 Junie 1941 het Hitler begin om die Sowjetunie in te val. Dit is Operasie Barbarossa genoem.

Tenks in gelid tydens Operasie Barbarossa.

Die Duitsers se verrassingsaanval het hulle gehelp om tot ver in Rusland te vorder, selfs tot net buite Moskou. Maar die Russe het toe sterk begin verdedig en die Slag van Stalingrad was die grootste enkele veldslag in die oorlog. Ongeveer 1,9 miljoen soldate is aan albei kante dood.

Die verwoesting tydens die Slag van Stalingrad.

Die Duitsers het uiteindelik in Januarie 1943 begin terugtrek. Die Sowjetunie het nie ’n keuse gehad as om hom by die Geallieerdes aan te sluit nie.

Intussen het Japan begin om sy oorlog teen China uit te brei en het ’n paar Europese kolonies in die Verre Ooste ingeneem. In daardie jare het Brittanje, Frankryk en Nederland baie eilande in die Stille Oseaan geregeer, asook groot gebiede in Suidoos-Asië. Japan het sy kans waargeneem en baie van hul kolonies oorgeneem.

En toe, op 7 Desember 1941, het Japan se keiserlike vlootlugmag onverwags die VSA se hoofvlootbasis by Pearl Harbour in Hawaii aangeval. Dit was ’n groot skok vir die wêreld. Dit het die VSA totaal en al onkant betrap en ongeveer 2 300 van hul troepe is in dié aanval dood. Meer as agt groot oorlogskepe is verwoes en meer as 180 vliegtuie vernietig. Die gevolg was dat die VSA onmiddellik tot die oorlog toegetree het. Hulle het oorlog teen Japan verklaar en die res van die Spilmoondhede het gevolglik oorlog teen die VSA verklaar.

Die Amerikaanse vloot het in Junie 1942 ’n groot oorwinning teen Japan behaal en in 1943 het nog suksesse gevolg.

Laaste twee jaar van die oorlog

Britse en Amerikaanse magte het in 1943 die Italianers en Duitsers in Noord-Afrika oorwin. Daarna het hulle Sisilië en Italië ingeneem.

Die Sowjetunie het uit die ooste begin terugveg en op 6 Junie 1944 het die Geallieerdes met hul bekende D-dag begin. Dit was ’n massiewe inval van Europa en ongeveer 156 000 Britse, Kanadese en Amerikaanse soldate het op die strande van Normandië, Frankryk, geland. Hitler het die grootste gedeelte van sy oorlogvoering na Wes-Europa gestuur – dit het beteken dat die Sowjetunie korte mette met die Duitsers in die ooste gemaak het. Hulle het Pole, Tsjeggo-Slowakye, Hongarye en Roemenië uit die Duitsers se hande geneem. Groot gevegte het tussen die Duitsers en die Geallieerdes gevolg en op 8 Mei het Duitsland amptelik oorgegee. Hitler was reeds dood, want toe hy sien dat Duitsland nie gaan wen nie, het hy op 30 April 1945 in sy ondergrondse skuiling sy eie lewe geneem.

Die einde van die oorlog

Die leiers van die VSA, Brittanje en die Sowjetunie het van 17 Julie tot 2 Augustus 1945 by Potsdam in Duitsland byeenkom om vrede in Europa, Duitsland se toekoms en die oorlog teen Japan te bespreek.

Op die Potsdamkonferensie het die Amerikaanse president, Harry S. Truman; Brittanje se eerste minister, Winston Churchill; en die Sowjetunie se leier, Joseph Stalin, besluit dat Duitsland in vier besettingsones verdeel moes word. Dit sou deur die Sowjetunie, Brittanje, die VSA en Frankryk beheer word.

Omdat die VSA groot verliese by Iwo Jima en Okinawa gely het, het hulle besluit om ’n nuwe wapen teen Japan gebruik. Die nuwe wapen was deel van ’n geheime projek, die Manhattan-projek. Die atoombom is tydens dié projek uitgevind en getoet,s en hulle het twee in Japan laat val. Die Japannese stede Hirosjima en Nagasaki is getref en dit het tot ongekende menseverlies en vernietiging gelei.

Japan het op 15 Augustus oorgegee en die oorlog is amptelik op 2 September 1945 beëindig. Die Geallieerdes het ná die oorlog Nazi-leiers in Nuremberg, Duitsland, verhoor en verskeie weermaggeneraals is ter dood veroordeel.

Die Joodse volksmoord

Terwyl die oorlog gewoed het, het Adolf Hitler se haat vir die Joodse volk tot miljoene sterftes gelei. Eers het hy met anti-Semitiese optrede teenoor Jode begin, soos dat Jode nie meer kon gewerk het of skool toe kon gaan nie. Baie Jode se burgerskap is ook weggeneem. Hulle moes ’n kenteken (die Dawid-ster) dra om hulle van die Duitsers en ander te onderskei.

Die Jode se kerke (sinagoges) is afgebrand en baie van hul winkels en ondernemings is vernietig. Jode is uit hul huise gegooi en na digbevolkte gebiede, genaamd ghetto’s gestuur. Daarna is Jode (mans, vroue en kinders) gevange geneem en na konsentrasiekampe gestuur. Die Nazi’s het begin om Jode en ander slagoffers te vermoor en in massagrafte te gooi.

Die Nazi’s se finale “oplossing” tot die sogenaamde “Joodse vraagstuk” was om die Joodse bevolking in Europa uit te wis. Spesiale moordkampe is gebou en miljoene Jode is daar vergas of geskiet. Teen die einde van die oorlog het die Geallieerdes hierdie kampe ontdek en die oorblywende mense daar vrygelaat. Dit was egter te laat vir nagenoeg ses miljoen Jode …

Die Auschwitz-Birkenau-kamp in 1944.

‘n Gedenkteken vir Joodse volksmoordslagoffers in Rohatyn.

Suid-Afrika en die oorlog

Net soos met die Eerste Wêreldoorlog het Suid-Afrika ook noodgedwonge by hierdie oorlog betrokke geraak.

Baie Afrikaners was hewig teen Suid-Afrika se betrokkenheid gekant, want hulle wou nie die Britte help nie. Baie Afrikaners was ook aan die Duitsers se kant. Genl. J.B.M. Hertzog was vasbeslote dat die land nie by die oorlog betrokke sou raak nie, maar nadat die Duitsers Tsjeggo-Slowakye binnegeval het, het genl. Jan Smuts die kabinet begin beywer om aan die oorlog deel te neem.

Jan Smuts.

Nadat Hertzog se mosie om neutraal te bly in die parlement verslaan is, het die goewerneur-generaal Hertzog se versoek geweier om die parlement te ontbind en ’n verkiesing uit te roep. Smuts is versoek om ’n regering te vorm. Hy het dit gedoen en oorlog teen Duitsland verklaar.

J.B.M. Hertzog.

Suid-Afrika se weermag was glad nie sterk nie. Daar was slegs sowat 260 offisiere en 4 600 man. Daar was nie ’n vloot nie en net ses moderne vliegtuie. Vrywilligers is gevra om by die weermag aan te sluit en hulle is toe na die veglinies gestuur.

Dié Suid-Afrikaners het in Oos-Afrika, Noord-Afrika, Madagaskar en Italië geveg. Die belangrikste veldslae was by Tobroek en El Alamein. Daar is 152 Suid-Afrikaners in Oos-Afrika dood, 2 104 in Noord-Afrika en 753 in Italië. 3

Woordbank

anti-Semitiese Vyandigheid teenoor Jode.
Ariese Dié woord is gebruik in Nazisme vir ‘n veronderstelde superras van nie-Joodse Kaukasiërs wat gewoonlik Nordiese gelaatstrekke het.
atoombom ’n Bom van geweldige ontploffingskrag wat op splitsing van atome berus. Ook ’n kernbom genoem.
bondgenote ’n Groep mense wat mekaar bystaan.
burgers Mense wat lede van ’n stad of staat is.
D-dag Dag van inval.
ghetto  Stadswyk waarin Jode verplig was om te woon.
gort was behoorlik gaar   Daar is moeilikheid.
interne politiek Struweling, verskille of probleme binne die grense van ’n land.
Kaukasiër Dit verwys na die velkleur en gelaatstrekke van, onder andere, Indiërs, Chinese, swart mense, bruin mense (Maleis).
kanselier Leier van ’n regering.
konsentrasiekampe ’n Kamp waar politieke gevangenes en ander mense aangehou en dikwels wreed behandel word, veral gedurende ’n oorlog.
korte mette Iets gou afhandel.
veglinies ’n Opstelling van troepe in rye as verdediging.
neutraal Onpartydig, sonder om kant te kies.
Nordies Met betrekking tot die Germaanse volke van Noord-Europa, veral Skandinawië. Hulle is gewoonlik lank, met ligte vel en hare en blou oë.
obsessief Beheptheid met iets, om gedurig daaraan te dink; kwel- of dwanggedagtes.
onkant betrap  jou in ’n ongemaklike posisie/situasie bevind; nie verwag nie.
regering Die bestuur van ’n land.
in hul spore gestuit Net daar gestop.
toegetakel Aanval, baklei, seermaak.
in sy visier Jy teiken hom; het hom in die oog.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

’n Vinnige oorsig oor die Tweede Wêreldoorlog 

Meer oor die Joodse volksmoord

Wat het mense tydens die oorlog geëet?

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Julie 2022 | Bygewerk op 8 April 2024