Vinnige feite

  • Goud is baie rekbaar. ʼn Enkele ons goud (ongeveer 28 gram) kan in ʼn goue draad van 8 kilometer lank gerek word. Goue drade word selfs in borduurwerk gebruik. Die simbool vir goud op die periodieke tabel – Au – is afkomstig van die ou Latynse naam vir goud aurum, wat “skynende dagbreek” of “gloed van die sonsopkoms” beteken. 12
  • Toe diamante in Kimberley gevind is, het dit gelei tot ʼn groot diamantstormloop. Mense van reg oor die wêreld het na Kimberley gestroom om diamante in Suid-Afrika te ontgin. Meer as 22 miljoen ton grond is verwyder om die Groot Gat in Kimberley te vorm, en ongeveer drie ton diamante is verwyder. Die Groot Gat word beskou as die wêreld se diepste mensgemaakte gat. Dis byna sirkelvormig met ʼn omtrek van 2 km, en dit is 215 meter diep. 13
  • Platinum, wat as ʼn edelmetaal beskou word en daarom baie duur is, het ʼn baie hoë smeltpunt van 1 769 °C en ʼn kookpunt van 3 825 °C, wat dit vir wetenskaplikes en ingenieurs uiters interessant maak. Vergelykend is die smeltpunt van goud en silwer 926 °C en 879 °C. 14
  • Die ses metale wat deel van die platinumgroepmetale vorm, is iridium, osmium, palladium, platinum, rhodium en ruthenium.
  • Palladium word in juweliersware, tandheelkunde, horlosiemakery, bloedsuikertoetsstrokies, vliegtuigvonkproppe, chirurgiese instrumente en elektriese kontakte gebruik. 15
  • Suid-Afrika is een van die grootste steenkoolproduserende lande in die wêreld. Baie van die steenkool wat in Suid-Afrika ontgin word, word uitgevoer, hoofsaaklik vanaf Richardsbaai. Steenkool is ʼn fossielbrandstof (soos olie en natuurlike gas) en is ʼn niehernubare energiebron (dit kan opraak). 16
  • Die Cullinan-diamant is in nege stene gesny, wat Cullinan I tot Cullinan IX genoem is, asook 96 kleiner, geslypte diamante. Vandag pryk al nege Cullinans in die kroonjuwele wat deur koning Charles III en die koninklike familie in die Verenigde Koninkryk gedra word. Die grootste steen is die Ster van Afrika (530,2 karaat) en is in ʼn septer (die koninklike staf) gemonteer. Die 317,4 karaat Cullinan II is in die beste posisie geplaas, voor en in die middel van die glorieryke keiserlike staatskroon. 17
Foto: iStock

Suid-Afrika is baie ryk aan minerale soos goud, platinum, diamante, chroom, vanadium, mangaan en titaan, asook uraan, kobalt, koper, ystererts, nikkel, sink, kalksteen, rotsfosfaat, en nog vele meer. Die meeste minerale is in die noordoostelike deel van ons land gekonsentreer. 1

Mynbou vorm die grondslag waarop nywerhede gebou word. Afrika spog met nagenoeg 30% van die wêreld se mineralereserwes. Suid-Afrika se totale reserwes van meer as 50 soorte bly van die wêreld se waardevolste, met ʼn geraamde waarde van R45 triljoen ($2,5 triljoen). Daar word geraam dat Suid-Afrika onder meer die meeste platinum, chroom en mangaan in die wêreld het. 3

Sommige van die minerale word op die oppervlak gedelf (oopgroefmyne), terwyl ander diep onder die grond onder baie gevaarlike omstandighede gemyn word. Minerale soos yster, koper, asbes en diamante word somtyds in oop myne gedelf. Dit is ʼn groot oop gat in die aarde wat op só ʼn manier gegrawe word dat daar ʼn spiraalpad na die diepste deel van die gat lei. So kan voertuie dan tot op elke vlak van die myn beweeg om erts en materiaal te vervoer na die plek waar dit geprosesseer (verwerk) word. 4

Wanneer minerale egter baie diep onder die grond gevind word, is dit nodig om ʼn skag in die aarde te maak sodat die mynwerkers by die minerale kan uitkom. ʼn Skagtoring word opgerig, en ʼn diep gat word in die grond geboor. Uit hierdie gat word dwarsgange en tonnels deur skaggrawers en swaar masjinerie gegrawe.

Die minerale word met dinamiet losgeskiet en uitgegrawe. Die “gruis” word dan op ysterbakke (koekepanne), wat soos ʼn trein op ʼn spoor loop, gelaai en met hysbakke na die oppervlak van die grond gehys, waar dit verwerk en die oortollige rots op mynhope gegooi word. Die waterige oorblyfsels gaan na ʼn slykdam (ook slikdam genoem), waar slik soos sand, modder of grond ingepomp word om te verdamp.

Kom ons kyk na drie van Suid-Afrika se vernaamste minerale:

Goud

Die geskiedenis van goud in Suid-Afrika strek terug tot 1873 toe die eerste grootskaalse produksie begin het toe goudneerslae in Pilgrimsrus ontdek is, gevolg deur goudontdekking in Witwatersrand in 1884. Die ontdekking van goud in die laat 19de eeu het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van die stad Johannesburg (of Egoli, die Stad van Goud) en dorpe soos Klerksdorp, Carletonville en Barberton. 5 Suid-Afrika se goudmynbedryf verskaf werk aan nagenoeg 94 000 mense.

Suid-Afrika was jare lank die wêreld se primêre goudprodusent, maar goudproduksie het egter oor die afgelope paar dekades bly daal. Die hoofrede hiervoor is dat die kapitaaluitgawe om goud uit die grond te haal, te veel raak – dit raak te duur. Mynboumaatskappye moet al hoe dieper grawe om goud te vind en die graad (gehalte) van die goud neem ook af, wat beteken dat dit nie meer so baie werd is nie.

In 1970 is die meeste goud (sowat 1 000 ton) geproduseer, maar in 2018 het die produksie tot 130 ton gedaal. Die Suid-Afrikaanse goudmynbedryf se verkope het in 2019 altesaam 101 ton oftewel R72,6 miljard beloop. Suid-Afrika maak minder as 4% van die wêreld se goudproduksie uit. Hierdie daling is egter nie die gevolg van ʼn uitputting van die reserwes nie, en ʼn mens sou verkeerd wees om aan te neem dat Suid-Afrika se goud opraak. Trouens, meer as 50% van alle goudreserwes word in Suid-Afrika aangetref, en die Witwatersrand-kom bly die grootste goudbron ter wêreld.

South Deep-goudmyn (voorheen Western Deep Levels) is, volgens reserwes, die grootste goudmyn ter wêreld. South Deep is 45 km suidwes van Johannesburg in die Witwatersrand-kom, en is een van die diepste myne ter wêreld (amper 3 km onder die oppervlak!). Sy reserwes het in 2018 op 32,8 miljoen onse gestaan (een ons goud is ongeveer 28 gram). 6

Suiwer goud is 24 karaat, terwyl 18 karaat goud 75% suiwer is. 14 karaat goud is 58,5% suiwer, en 10 karaat goud is 41,7% suiwer. Die oorblywende gedeelte van die metaal wat gewoonlik in goue juweliersware en ander artikels gebruik word, is silwer, maar kan ook bestaan uit ander metale of ʼn kombinasie van metale, soos platinum, koper, palladium, sink, nikkel, yster en kadmium. 7

Diamante

Die eerste diamant is in 1867 in Suid-Afrika naby Hopetown ontdek en het 21,25 karaat beweeg. Hierdie diamant is “Eureka” genoem, wat beteken “ek het dit gevind”. Die grootste diamant wat nog ontdek is, is die Cullinan-diamant wat in 1905 by die Premier-myn gevind is. Dié enorme diamant het 3 106 karaat (ongesny) geweeg. 8

Die Ster van Afrika, wat in die Britse kroonjuwele pryk.

Natuurlike diamante is sowat 3,3 miljard jaar gelede gevorm in toestande van intense hitte en druk 150 km onder die aardoppervlak. 9

Aan die begin was diamantontdekkings in alluviale afsettings, dit beteken in grond wat deur lopende water weggespoel is. In 1869 is die eerste diamante in geel grond (en later in blou grond) in Kimberley – wat die wêreld se diamanthoofstad sou word – gevind. (Die diamantmatriks is daarna Kimberliet genoem.) Later is diamante in wesenlike hoeveelhede in kimberliet ontdek in die destydse Transvaal – die Cullinan-myn in 1902 en Venetia (in 1992 geopen) en die Finsch-myn in die Noord-Kaap in 1978.

Die Cullinan-diamant kan in die kroon van die Britse monarg gesien word.

In 2019 het Suid-Afrika 7,2 miljoen karaat diamante geproduseer. Die totale diamantverkope in 2019 was R13,3 miljard. De Beers – die naam wat sinoniem met diamante is – is in 1888 deur Cecil Rhodes gestig en het jare lank die wêreld se diamantmark oorheers.

Platinum

Die eerste bekende voorkoms van platinum dateer uit 700 voor Christus in Egipte, waar die metaal in die kis van Thebe gebruik is (ʼn klein kissie versier met hiërogliewe in goud, silwer en platinumgroepmetale of PGM). 10

Veel later, in die 1500’s in Suid-Amerika, het die Spanjaarde iets gevind wat hulle platina (“klein silwer”) genoem het terwyl hulle vir goud gesoek het. In Europa het wetenskaplikes gesukkel om die metaal te kategoriseer, veral vanweë die duursaamheid en ander buitengewone eienskappe. In die 18de eeu het ʼn deurbraak gekom toe ʼn Sweedse navorser arseen by die metaal gevoeg het. Platinum is egter eers in 1782 suksesvol gesmelt deur suurstof by te voeg.

In Suid-Afrika dateer die eerste platinumontdekking uit 1924. Die werk van die geoloog Hans Merensky het gelei tot die ontdekking van twee afsettings, elk ongeveer 100 km lank, wat bekend geword het as die Bosveldstollingskompleks. Die myne op hierdie geologiese struktuur lewer jare lank meer as 75% van die wêreldproduksie.

Suid-Afrika het tans vier primêre platinumprodusente, naamlik Amplats (Anglo American Platinum, voorheen Rustenburg Platinum Holdings, Impala Platinum, Lonmin Platinum (wat Western Platinum insluit) en Northam Platinum. Amplats en Impala Platinum is die twee grootste produsente van platinum ter wêreld. Sedert 1971 het hierdie bedrywighede Suid-Afrika as die grootste produsent van PGM’s ter wêreld gevestig. 11

Woordbank

alluviale Grond wat deur lopende water weggespoel is/word.
minerale ‘n Stof wat natuurlik in die aarde gevorm is, soos goud en diamante, en deur delwing of ontginning verwyder/uitgehaal word.
mynbou Die opsporing en ontginning van delfstowwe.
nywerhede Bedryf waarin grondstowwe verwerk word; industrie.
produsente Iemand wat produkte lewer of vervaardig.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Binne die wêreld se diepste goudmyn

Sintetiese diamante word deesdae in laboratoriums gemaak

Die Groot Gat in Kimberley

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 November 2021 | Bygewerk op 3 April 2024