Vinnige feite

  • Tafelberg het sy naam gekry vanweë sy plat bokant.
  • Die enigste sterrebeeld wat na ’n Suid-Afrikaanse en natuurlike terrein op die planeet vernoem is, se naam is Mensa en beteken ‘tafel’ of ‘bergtafel’ in Latyn.
  • Tafelberg het 600 miljoen jaar van erosie deurstaan ​​en huisves die rykste blommeryk op aarde.
  • Daar word geskat dat Tafelberg eens drie keer hoër was as sy geërodeerde vorm vandag.
  • Die Khoi-mense het vroeër die berg Hoerikwaggo (Berg in die see) genoem.
  • Die eerste Europeër wat Tafelberg uitgeklim het, Antonio de Saldanha, het dit Taboa de Caba (Tafel van die Kaap) genoem.
  • Tafelberg is dikwels bedek met wolke. Die wolk wat op die berg vorm, word Tafelberg se Kleed (tafeldoek) genoem.
  • Tafelberg is Suid-Afrika se mees gefotografeerde landmerk.
  • Tafelberg word ook op Kaapstad se vlag vertoon.
  • Daar is baie grotte op Tafelberg, die grootste een is die Wynberg-grot.
  • Tafelberg is een van die gewildste toeristebestemmings en meer as 800 000 mense besoek Tafelberg elke jaar.
  • Die Tafelberg Nasionale Park (TBNP) is sowat 25 000 ha groot.
  • In 2021 is Tafelberg deur die World Travel Awards benoem as Afrika se hooftoerisme-attraksie.
  • Die berg word nou amptelik erken as een van die Nuwe Sewe Natuurwonders.
  • TBNP is die tuiste van ‘n ongelooflike 8 200 plantspesies – waarvan sowat 80% fynbos is.
  • Die hoogste punt van Tafelberg is 1 086 m bo seespieël. Dit word Maclear’s Beacon genoem.
  • Vandag is daar meer as 350 roetes om tot bo-op Tafelberg te kom.
  • Die kabelbaan wat besoekers na bo vervoer, is in 1929 gebou. Die kapasiteit van die eerste kabelkar was 25 mense. Vandag kan dit 65 besoekers na bo dra;
  • Die mees algemene dier wat op die berg voorkom, is die dassie, ‘n soogdier wat soos ‘n proefkonyn lyk;
  • Tafelberg word beskou as een van die oudste berge ter wêreld.

 

Foto: iStock

Tafelberg is die bekendste berg in die Suidelike Halfrond en is ʼn onvergeetlike gesig, veral in die somer wanneer die suidoostewind waai en wolke en mis oor die rand van hierdie groot, grys berg val om die beroemde “tafelkleed” te vorm. Die suidooster word ook die Kaapse Dokter genoem omdat dit die besoedeling en stof uit die stad wegwaai. 1 Maar volgens legende is dit Van Hunks en die duiwel wat tot vandag toe op die berg sit en rook… (Kyk gerus na die video “Van Hunks en sy pyp” onderaan hierdie artikel.)

Die belangrikste kenmerk van Tafelberg is die gelyk plato van ongeveer 3 km van kant tot kant, omring deur indrukwekkende kranse. Tafelberg se hange, met Duiwelspiek in die ooste en Leeukop in die weste, vorm ‘n dramatiese agtergrond vir die stad Kaapstad. Hierdie breë kromming van berghange vorm, saam met Vlaeberg, ’n natuurlike amfiteater rondom die stadskom en Tafelbaai-hawe. 2

Daar word gereken dat die rotse van die berg ongeveer 600 miljoen jaar oud is en die berg self 240 miljoen jaar. Dit maak Tafelberg een van die oudste berge ter wêreld – terwyl die Alpe in Europa maar ʼn “jonge” 40 miljoen jaar oud is! Die Khoi-naam vir Tafelberg was Hoerikwaggo wat ‘Berg in die see’ beteken. En die eerste Europeër wat Tafelberg uitgeklim het, Antonio de Saldanha, het dit Taboa de Caba (Tafel van die Kaap) genoem. 1

Ligging

Tafelberg is aan die noordelike punt van ‘n sandsteenbergreeks wat die “ruggraat” van die Kaapse Skiereiland vorm. Die rotse aan die voet van die berg is skalie en die rotse aan die westekant is Kaapse graniet.

Suid van die hoofplato is ‘n onderste deel van die reeks wat die Agtertafel genoem word. Aan die Atlantiese kus van die skiereiland staan ​​dié reeks bekend as die Gewelberge (Twaalf Apostels). Dié reeks strek suidwaarts tot by Kaappunt.

Aan sy linkerkant, soos van die hawe af gesien, is Duiwelspiek, en aan sy regterkant Leeukop en Vlaeberg (ook bekend as Seinheuwel, wat direk uit die Engelse Signal Hill vertaal is).

Die berghange van Tafelberg (sewentien altesaam) kyk uit oor Victoria-rylaan, die westelike kusroete. Die oostelike hange toring uit bo die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin asook Nuweland (beroemd in die historiese verslae van belangrike gebeure van Suid-Afrikaanse rugby en krieket), Groote Schuur (tot onlangs die amptelike woning van Suid-Afrika se eerste ministers en nou ʼn nasionale gedenkwaardigheid), en die Groote Schuur Hospitaal, waar die wêreld se eerste hartoorplanting in Desember 1967 uitgevoer is. 3

Sir Thomas Maclear, ʼn sterrekundige, het in 1865 ‘n groot klipstapel gebou wat die hoogste punt van Tafelberg aandui. Dit is 1 086 meter bo seespieël, ongeveer 19 meter hoër as die kabelkarstasie aan die westelike punt van die plato. Dié steenhoop, wat die Maclear-baken genoem word, is destyds gebou om te help om die kromming van die aarde te meet. 4

Plantegroei

Die berge van die Kaapse Skiereiland is wêreldwyd beroemd vir sy verstommende verskeidenheid van plante. Meer as die helfte van die Skiereiland se 2 600 spesies inheemse plante kom op Tafelberg voor. 5 Op Tafelberg alleen kom daar sowat 8 200 plantspesies voor, waarvan 80% fynbos is. Vir die voortbestaan van fynbos is dit noodsaaklik om minstens elke 15 jaar verbrand te word.

Omdat Tafelberg naby aan residensiële areas is, word die vure gemonitor en vinnig geblus sodat dit nie buite beheer raak nie. Hierdie proses moet gebeur om die voortbestaan van die inheemse fynbos –  wat nêrens anders ter wêreld voorkom nie – te verseker. Daar is reeds 1 406 bedreigde plantspesies, waarvan 29 soorte spesies reeds uitgesterf het. 6 Die berg, wat deel uitmaak van die Tafelberg Nasionale Park en Kaapse Blommeryk, is in 2012 as een van die Sewe Nuwe Natuurwonders van die wêreld aangewys. 7

Damme

Ons Moederstad se manjifieke berg het vandag vyf damme wat oor sy “tafelblad” versprei is, waarvan die eerste een reeds in 1890 gebou is.

Tot in die 1880’s was Kaapstad afhanklik van ‘n enkele bergstroom om water vir die hele stad – wat toe heelwat kleiner as vandag is – te voorsien. Toe daar ’n droogte kom en die stadsbeplanners die behoefte aan ‘n nuwe waterbron besef het, het hidrouliese ingenieurs besluit om ‘n tonnel deur die Gewelberge te bou om die water van die Disarivier, ‘n standhoudende bergstroom wat bo-op die berg ontstaan ​​het, vas te vang. Hierdie water sou na die middestad se Molteno-reservoir vervoer word via ‘n groot kanaal wat vandag bekendstaan ​​as die pypspoor.

Tydens die bou van hierdie massiewe pyp het die stad se waterbehoefte egter geleidelik gegroei en dit het duidelik geword dat selfs hierdie bykomende watertoevoer nie voldoende sou wees nie.

Die oplossing was om die Disarivier op te dam en die Woodhead-reservoir het Tafelberg se eerste dam geword. ’n Tweede reservoir, Hely-Hutchinson, is in 1904 voltooi, maar die aanvraag na water het steeds toegeneem. Tussen 1904 en 1907 is die Victoria-, Alexandra- and De Villiers-reservoirs voltooi. 8

Tafelberg Nasionale Park

In 1998 is die gebied rondom Tafelberg as die Tafelberg Nasionale Park verklaar en strek van Vlaeberg bo die middestad, oor Tafelberg tot by Kaappunt – in totaal sowat 25 000 ha.

In die park is daar meer as 2 285 plantspesies waarvan baie nêrens anders in die wêreld voorkom nie – onder meer die bekende en skaars rooidisa (Disa uniflora, ook die Trots van Tafelberg genoem) en die koningsprotea (Protea cynaroides). 9

Omdat die Tafelberg Nasionale Park omring is deur stadsgedruis en privaat wonings, kry hierdie terrein baie besoekers wat daagliks sy prag en glorie waardeer.

Besoekers kan gebruikmaak van die rooi ikoniese bus in Kaapstad na Tafelberg en ʼn begeleide toer saam met ’n natuurkundige onderneem om al die plant- en dierspesies waar te neem. In dié omheinde area is daar vier ingange en betaalpunte en besoekers kan op die uitkyk wees vir groot bokspesies soos die eland, rooi hartebees en bontebok. Ander soogdiere wat jy hier mag vind, is die Kaapse bergsebra, rooikat, muskeljaatkat, ystervark, bobbejaan, muishond, die Kaapse kloulose otter, die Kaapse duinemol en die Kaapse jakkals, om maar ’n paar te noem. 10

Die Rhodes-gedenkteken, gebou in 1912, staan ​​teen die hange van Duiwelspiek en binne die Tafelberg Nasionale Park. Hierdie Nasionale Monument is deur sir Herbert Baker ontwerp as ‘n huldeblyk aan Cecil John Rhodes, wat op die ouderdom van 34 een van die magtigste mynmagnate van alle tye geword het. 11

Die Kaap de Goeie Hoop-afdeling van die berg bied ook ʼn verskeidenheid aktiwiteite wat besoekers aan kan deelneem soos stap, fietsry, piekniek en vele meer. 12

Sweefspoor

Duisende toeriste stroom jaarliks na Tafelberg om per kabelkar tot op die kruin te sweef.

Tafelberg se kabelkargeskiedenis strek eintlik terug na die laat 1870’s toe daar voorgestel is dat ‘n spoorlyn gebou word om maklike toegang tot die beroemde plat kruin van die berg te bied. Verskeie opsies is ondersoek: onder hierdie is ‘n kabelspoorlyn in die vooruitsig gestel wat vanaf Oranjezicht deur die Platteklipkloof sou loop. Maar geen van die idees is egter geïmplementeer tot 1926 nie, toe Trygve Stromsoe, ‘n Noorse ingenieur, die bou van ‘n kabelspoor voorgestel het.

Trygve het ‘n model van sy idee gebou en dit na sir Alfred Hennessy geneem, wat medebeleggers sir David Graaff en sir Ernest Oppenheimer aan boord gekry het. Hierdie sakemanne het toe die Table Mountain Aerial Cableway Company gestig en vir twee jaar het die bou van die kabelspoor op die ruwe kranse van hierdie duidelik herkenbare landmerk plaasgevind.

In 1929 het die Table Mountain Aerial Cableway sy deure vir die publiek oopgemaak en het besoekers van oor die wêreld heen veilig teen die hange van ons ikoniese Tafelberg vervoer. Die kabelspoor is sedert die opening heeltemal ongelukvry. 13

Die rit van vyf minute met die sweefspoor na die kruin van Tafelberg bied aan die besoeker ʼn 360 ⁰-panoramiese uitsig oor die oseaan, strande, stad en berg. Die twee roterende moderne kabelkarre kan tot 65 passasiers op ʼn keer dra en vervoer 900 mense per uur teen ’n rustige spoed van 10 meter per sekonde. 14

Op die kruin is daar 350 verskillende voetslaanpaaie. Daar is ook ʼn selfdienrestaurant en ʼn winkel waar jy aandenkings kan koop. Dié winkel is in die oorspronklike kliphuisie ingerig.

’n Kanonskoot om twaalf

Daagliks, om presies 12:00, weergalm daar ’n kanonskoot oor die stadskom. Inwoners wat al lank in die stad bly, kan nie help om soms nog te skrik nie en niksvermoedende besoekers kyk gewoonlik benoud rond en wonder of hulle nie skuiling moet soek nie. Gelukkig is dit nie nodig nie, aangesien hierdie tradisie – die afvuur van die middagkanon (Noon Day Gun) – sedert 1806 slegs as tydsein gebruik is vir skepe wat in Tafelbaai geanker was.

Die kanon is aanvanklik vanaf die Kasteel van Goeie Hoop afgevuur om ook die einde van die oggend aan te kondig – presies en betroubaar genoeg om jou horlosie daarvolgens te stel. Dit is in 1902 na sy huidige plek by die Lions-battery op Vlaeberg verskuif, waar dit uitkyk oor Kaapstad, die hawe en Tafelbaai.

Het jy geweet ‘n tweede kanon word as ‘n bystand gelaai, vir ingeval die eerste skoot nie afgaan nie? Dié twee kanonne op Vlaeberg is twee van die oudste aktiewe wapens ter wêreld wat nog daagliks gebruik word. Vandag word dit elektronies afgevuur vanaf die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium in Observatory en die akkuraatheid daarvan kom van ‘n atoomhorlosie af.

Vandag is die middagkanon steeds een van daardie klein interessanthede wat Kaapstad uitsonder en dit so ‘n opwindende plek maak om te besoek, en jy kan selfs dié daaglikse ritueel op Vlaeberg by Lion-battery bywoon vanaf 11:30 (behalwe op Sondae of openbare vakansiedae). 15

Woordbank

inheemse Iets wat in die land self voorkom.
geërodeerde Die wegvreting van ‘n stof deur wind/water/ys, wat meestal oor ‘n lang tydperk daarop inwerk.

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

’n Rit met die kabelkar tot bo-op Tafelberg

Die afvuur van die middagkanon op Vlaeberg

Van Hunks en sy pyp

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Februarie 2022 | Bygewerk op 18 Maart 2024