Vinnige feite

  • Suid-Afrika vier jaarliks elke eerste week van September Boomplantweek.
  • Elkeen van die vier inheemse geelhoutspesies se grootte, vorm en blare verskil.
  • Die breëriviergeelhoutboom groei slegs in die Wes-Kaap en word nie hoër as 6 m nie. Dit lyk meer soos ’n struik as ’n boom.
  • Die Outeniekwa-geelhoutboom kom voor vanaf Swellendam in die suide, kuslangs tot by Limpopo en in Mosambiek. Die boom kan in woude tussen 20 en 60 m hoog word. Dit is die inheemse geelhoutboom wat die vinnigste groei.
  • Henkel-se-geelhout is ’n stadige groeier en kan tot ongeveer 20 m hoog word. Dit word as ’n baie mooi sierboom bestempel. 4
  • ’n Mens kan ook ’n geelhoutboom in jou tuin plant. Dit groei beter met goeie grond, water en skuiling teen sterk wind. Dit sal egter nie so hoog groei soos in ’n natuurlike omgewing nie. Geelhoutbome sal selfs werk as houerplante.
  • Geelhoutbome is selfs in die middel-Steentydperk in Suid-Afrika benut. Wetenskaplikes het bevind dat mense gom uit die bome gemaak het en hul werktuie daarmee aanmekaar gesit het. 6
  • Daar is ’n gedeelte wes van George wat Geelhoutboom heet.
  • Daar is ’n Outeniekwa-geelhoutboom wat in die Hogsbackberge in die Oos-Kaap voorkom en wat glo stokoud en reusagtig is. Die boom se omtrek is glo amper 10 m!
  • Die geelhoutboom word ook “kalander” genoem, en is umkhomba in Xhosa, mogobagoba in Noord-Sotho, muhovho-hovho in Venda en umsonti in Zoeloe.
Foto: iStock

Die geelhoutboom is Suid-Afrika se nasionale boom, een van ons nasionale simbole. Ons het ook ’n nasionale volkslied, vlag, wapen, dier, voël, vis en blom. Ons nasionale dier is die bekende springbok, die nasionale voël is die bloukraanvoël, die nasionale vis is die galjoen, en die nasionale blom is die koningprotea. 1

Al hierdie simbole is dinge wat ’n mens trots op ons land maak. Dis inheems en eie aan Suid-Afrika. [Lees hier oor inheemse en uitheemse plante.] Die geelhoutboom staan ook bekend as die opregte geelhout, sy Engelse naam is Real Yellowwood en sy botaniese naam is Podocarpus latifolius. Dié boom behoort tot die genus Podocarpus waarvan daar wêreldwyd ongeveer 100 soorte voorkom. Ons sien slegs vier daarvan in Suid-Afrika. Benewens die opregte geelhout, kry ons ook die breëriviergeelhout (Podocarpus elongatus), die Outeniekwa-geelhout (Podocarpus falcatus) en Henkel-se-geelhout (Podocarpus henkelii).

Die genus en spesie se name word van verskeie Griekse woorde afgelei: podo, wat “voet” beteken; carpus wat “vrug” beteken; lati wat “wyd” beteken; en folius wat “blaar” beteken.

Al die spesies in die Podocarpus-familie word in Suid-Afrika beskerm. Die geelhoutboom se hout was in die verlede gesog as timmerhout, maar die bome het in sekere gebiede byna uitgesterf. Vandag is geelhoutmeubels baie duur omdat dit so raar of skaars is.

Die geelhoutboomfamilie strek baie ver terug. Kan jy glo dat dié boom al vir meer as 100 miljoen jaar in Suid-Afrika voorkom? 2

Waar kom hierdie boom voor?

Geelhoutbome groei natuurlik in bergagtige gebiede en woude in die suidelike, oostelike en noordelike gedeeltes van Suid-Afrika. Daar is ook geelhoutbome in Zimbabwe. Dit word selfs op klipperige heuwels en berghange aangetref, maar die bome word daar nie so hoog as wat dit in woude word nie.

As jy ’n berg met ’n geelhoutboom op soek, is daar baie. ’n Mens vind dit op Tafelberg, in die ravyne van die Drakensberg tot die Blouberg en die Soutpansberg in Limpopo. 3

Groeiomstandighede

Die bome hou van effens sanderige, humusryke grond. Die grond moet goed gedreineer wees, maar hulle sal ook goed in kleigrond groei. Die bome is redelik rypbestand. 4

Voortplanting

Die geelhoutboom word met saad voortgeplant, maar sal ook groei as dit van steggies gekweek word. ’n Mens kan dus ’n loot van die boom afsny sodat dit weer in grond geplant kan word of saad kan skoongemaak word en in ’n mengsel van sand en kompos gesaai word. 2

Die boom is keëldraend en manlike keëls (die boom se vrugte) word op manlike bome gedra en vroulike keëls word op vroulike bome gedra. Die keëls lyk amper soos dennebolle en is wit, liggroen of pienk. Die vroulike bome ontwikkel ronde, grysblou saadjies op vlesige stele wat pers word soos dit volwasse word. Die sade word deur voëls, apies en bosvarke geëet. 4

Voorkoms

Die geelhoutboom is immergroen en dit beteken dat die boom nie sy blare in die herfs en winter verloor nie. Nog ’n woord vir immergroen is bladhoudend. Die bome word baie groot en die stam groei reguit na bo.

Die boom groei stadig en gewoonlik tot omtrent 20 tot 30 m in hoogte.

Soos ’n mens uit die naam kan agterkom, is die hout geel. Dit is soortgelyk aan die hout van die Outeniekwa-geelhoutboom.

Die geelhoutboom se bas is gryskleurig en glad as dit jonk is, maar soos dit ouer word, verskyn daar groewe op die boom en die bas begin in stroke loskom.

Die boom het blinkgroen blare wat lank en smal is. Die blare op jong bome is altyd groter as dié van volwasse bome. Die nuwe blare is liggroen of bronskleurig, terwyl ouer blare weer donkergroen is.

Die boomkroon (takke) is nogal klein as ’n mens kyk na hoe hoog dit is en is dikwels met grys korsmos bedek.

Gebruike

Toe die geelhoutboom nog as timmerhout gebruik is, is dit vir vloere in die ou Kaapse huise gebruik. Dit is ook dikwels gebruik om meubels mee te maak, veral saam met die donkerkleurige stinkhoutboom, want die geel en die donker skep ’n mooi kontras.

Daar is ook kapborde, houers vir ossewaens en selfs kiste van dié hout gemaak. Die spoorweg het dit ook in die middel van die 1880’s en 1920’s gebruik om dwarslêers (in Engels: sleepers) mee te maak. Gedurende die tagtigerjare is duisende geelhoutdwarslêers verwyder. Almal was nog in ’n goeie toestand, maar dit is verwyder toe die nuwe spoorlyn gelê is vir die 91-klas lokomotiewe. Navorsing het getoon dat gedurende die middel 1880’s en 1920’s daar meer as 11 miljoen geelhoutdwarslêers gemaak is van bome uit die Knysna- en die Tsitsikamma-woude.

Die gebruik daarvan is later gestaak omdat geelhoutbome te skaars geword het. 5

Woordbank

boomkroon Die blare en takke van ’n boom.
dwarslêers Spoorstawe word daarop vasgemaak.
genus Soort of klas van die boom.
gesog Gewild.
groewe Lyne of kepe.
humusryke Dit is as grond baie humus bevat. Humus is ’n ryk bolaag van grond en organiese stowwe.
immergroen Altyd groen, want dit nie verloor nie blare nie.
inheems Wat in ’n sekere streek voorkom, endemies.
kapborde Borde wat gebruik word om brood of groente op te sny.
keëls Die vrug van bome.
keëldraend Dit is wanner bome sade in keëls dra.
korsmos ’n Soort mos wat uit ’n swam en wier bestaan.
raar Seldsaam.
ravyne  Klowe.
steggies ’n Stokkie wat van ’n plant afgesny word en wat weer in die grond gedruk kan word om te groei.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Leer meer oor SA se simbole

Die geelhoutboom buite sy natuurlike habitat

Só lyk die majestueuse geelhoutboom in Knysna

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023