Vinnige feite

  • Indien al die riviere van Suid-Afrika in ’n reguit lyn geplaas kon word, sal dit vier keer rondom die aarde strek – ’n totale lengte van 163 533 km. 11
  • Daar is twee riviere in Suid-Afrika wat Krokodilrivier genoem word. Die een is in Limpopo en is ’n sytak van die Limpoporivier. Die ander een is in Mpumalanga en is ’n sytak van die Komatirivier. 1
  • Daar is ook twee riviere in Suid-Afrika wat Wilgerivier genoem word. Die een ontspring tussen Leandra en Springs en vloei in die Olifantsrivier in. Hierdie rivier vloei deur Mpumalanga en Gauteng. Die ander een ontspring naby Harrismith, vloei verby Frankfort en eindig in die Vaalrivier naby die Vaaldam. Hierdie rivier vloei deur die Vrystaat. 12
Foto: iStock

Riviere speel wêreldwyd ’n belangrike rol in die lewe van mense. Riviere is nie net wonderlike natuurverskynsels en mooi om na te kyk nie, maar het ook verskeie ander funksies:

  • Dit is ’n bron van skoon en vars water wat miljoene mense help om aan die lewe te bly.
  • Mense vang vis uit riviere vir kos, of roei vir ontspanning en oefening met kano’s en bote op die water.
  • Riviere dreineer ongeveer 75% van die wêreld se grondoppervlak.
  • Riviere is voorts ‘n manier om mense en goedere te vervoer en dié water word gebruik om hidroëlektriese krag op te wek. 1

Van die vernaamste riviere in Suid-Afrika

  • Oranjerivier
  • Caledonrivier
  • Vaalrivier
  • Hartsrivier
  • Wilgerivier
  • Groot Maricorivier
  • Krokodilrivier
  • Limpoporivier
  • Olifantsrivier
  • Komatirivier
  • Pongolarivier
  • Tugelarivier
  • Groot Keirivier
  • Keiskammarivier
  • Groot Visrivier
  • Sondagsrivier
  • Gamtoosrivier
  • Gouritsrivier
  • Breërivier
  • Bergrivier

Van die belangrikste riviere in Suid-Afrika

Oranjerivier

Die Oranjerivier is die grootste en langste rivier in Suid-Afrika en strek oor 2 200 km. Dié rivier ontspring (begin) in die Drakensberge in die Lesotho Hoogland en mond uit (eindig) in die Atlantiese Oseaan by Oranjemund.

Die Oranjerivier vorm ook die grens tussen Suid-Afrika en Namibië asook die oostelike grens van die Vrystaat. Die belangrikste takrivier (sytak) van die Oranjerivier is die Vaalrivier terwyl die Caledon-, Wilge- en Hartsrivier kleiner takriviere is wat in die Oranje invloei.

Die Oranjerivier is ’n baie belangrike rivier omdat dit deur ’n droë deel van Suid-Afrika vloei en die water vir besproeiing gebruik word. Damme wat deel van die Oranjerivier vorm, is die Gariepdam en die Vanderkloofdam. Daar is ook ’n tonnel van meer as 100 km lank wat water vanaf die Gariepdam na die Groot Visrivier laat vloei. 2

Die Oranjerivier is ‘n baie belangrike bron van water vir veral boerderye.

Limpoporivier

Die Limpoporivier ontspring naby Johannesburg waar dit die Krokodilrivier genoem word. Die Jukskeirivier loop in die Krokodilrivier naby Lanseria. Die Limpoporivier het 24 sytakke. Die laaste deel van dié rivier vloei deur Mosambiek en mond uit in die Indiese oseaan. 3

Die Olifantsrivier is een van die Limpoporivier se sytakke. 2

Die Olifantsrivier is een van die Limpoporivier se sytakke.

Caledonrivier

Die Caledonrivier ontspring ook in die Drakensberge, op die grens tussen Lesotho en Suid-Afrika. Dit vorm vir ’n groot afstand die grens tussen Lesotho en die Vrystaat. Ná 480 km vloei dit naby Bethulie in die Oranjerivier in. 2

Die uitsig vanaf ‘n brug oor die Caledonrivier.

Vaalrivier

Die Vaalrivier ontspring naby Breyten in Mpumalanga. Dit vloei vir 1 210 km tot waar dit by Douglas in die Noord-Kaap in die Oranjerivier vloei.

Die Vaaldam vorm deel van die Vaalrivier en die belangrikste sytakke is die Wilge-, Klip-, Vals-, Vet- en Rietrivier. Hierdie rivier se water is baie belangrik vir al die mense wat in die Witwatersrand (Gauteng) woon. 2

Die Vaalrivier is ‘n gewilde vakansie- en visvangbestemming.

Moloporivier

Die Moloporivier ontspring oos van Mafikeng in Noordwes. Dit vloei vir 1 000 km voor dit naby die suidoostelike grens van Namibië in die Oranjerivier vloei. Die rivier vorm ’n deel van die grens tussen Botswana en Suid-Afrika en vloei ook deur die Kalahari. 2

Só kronkel die Moloporivier deur die land.

Nossobrivier

Nossob beteken “swart rivier”. Dié rivier vloei vir 740 km deur die Kalahari asook deur die oostelike dele van Namibië en deur Botswana. Dit vloei ook deur die Kgalagadi-oorgrenspark. 4

Die Nossobrivier strek oor 740 km.

Breërivier

Hierdie rivier is die breedste van al die riviere in die Wes-Kaap. Dit vloei meestal deur wynplase en ontspring in die Skurweberg. Die rivier vloei by Witsand in die Indiese Oseaan in. 3

Die Breërivier, is net soos sy naam aandui, die breedste rivier in die Wes-Kaap.

Umgenirivier

Die waarde van die Umgenirivier lê in die vier damme wat deel daarvan vorm – Albert Falls, Inanda, Midmar en Nagle. Die bekende Howick-waterval is ook in dié rivier se stroom geleë.

Hierdie rivier is die hoofbron van water vir al Durban se inwoners asook vir die Durban-hawe. 3

Die Umgenirivier is ‘n belangrike waterbron vir die inwoners van Durban in KwaZulu-Natal.

Groot Visrivier

Die Groot Visrivier is 692 km lank. Dit ontspring in die Middelberg (Oos-Kaap) en sluit by die Koonaprivier aan voor dit in die Indiese Oseaan uitmond. Die Groot Visrivier se water lewer ’n belangrike bydrae tot besproeiingsprojekte. 3

Baie landboubedrywighede maak op water uit die Groot Visrivier staat.

Umfolozirivier

Die Umfolozi is ’n kleiner rivier in KwaZulu-Natal, maar is belangrik omdat dit deur die Hluhluwe-Umfolozi-natuurreservaat vloei. Hierdie reservaat is ’n gewilde toeristebestemming. Die Umfolozirivier eindig in die Indiese Oseaan net suid van die St. Luciarivier. 3

Die Umfolozirivier in KwaZulu-Natal.

Gamtoosrivier

Die Gamtoosrivier strek oor 645 km en is baie belangrik vir die besproeiing van sitrus- en tabakplase. 3

Die Gamtoosrivier se water is broodnodig vir die besproeiing op sitrus- en tabakplase.

Die langste riviere in Suid-Afrika

  • Oranjerivier – 2 200 km (Noord-Kaap, Vrystaat)
  • Limpoporivier – 1 800 km (Limpopo)
  • Vaalrivier – 1 210 km (Mpumalanga, Vrystaat, Gauteng, Noord-Kaap)
  • Moloporivier – 1 000 km (Noordwes)
  • Groot Visrivier 692 km (Oos-Kaap)
  • Gamtoosrivier – 645 km (Oos-Kaap)
  • Olifantsrivier – 560 km (Limpopo en Mpumalanga)
  • Groot Keirivier – 520 km (Wes-Kaap)
  • Tugelarivier – 502 km (KwaZulu-Natal) 5

Die langste rivier in Afrika

Afrika het van die langste riviere in die wêreld. Die langste rivier in Afrika is die Nylrivier wat 6 853 km lank is. Dit vloei deur nie minder nie as 11 lande in Afrika: Tanzanië, Uganda, Ruanda, Burundi, Demokratiese Republiek van die Kongo, Kenia, Ethiopië, Eritrea, Suid-Soedan, Soedan en Egipte. 6

Die Nylrivier is die langste rivier in Afrika en vloei deur 11 lande.

Die langste rivier ter wêreld

Sommige wetenskaplikes glo dat die Amasonerivier (6 992 km lank) in Suid-Amerika net-net langer as die Nylrivier is. Ander statistieke dui weer aan dat die Nyl net meer as 7 000 km lank en daarom die langste ter wêreld is. 7

Die Amasonerivier vloei deur ’n hele aantal lande – onder andere Venezuela, Guyana, Ecuador, Colombië, Peru en Brasilië. 8

Die Amasonerivier is in Suid-Amerika geleë.

Riviere wat van die platorand na die kus vloei

Hierdie riviere is gewoonlik korter. Die steiler helling afwaarts waarteen dit vloei, veroorsaak dat dit vinniger vloei en diep valleie maak.

Voorbeelde van hierdie riviere is:

  • Komatirivier
  • Pongolarivier
  • Tugelarivier
  • Groot Keirivier
  • Keiskammarivier
  • Sondagsrivier
  • Groot Visrivier
  • Gamtoosrivier
  • Gouritsrivier
  • Breërivier
  • Bergrivier
  • Olifantsrivier 9
Die Tugelarivier met die Drakensberge in die agtergrond.

Riviere wat grense vorm of deur buurlande vloei

Daar is enkele van Suid-Afrika se belangrike riviere wat grense vorm met van ons buurlande of wat deur Suid-Afrika en ’n buurland vloei.

  • Die Oranjerivier vorm deel van die grens met Namibië en vloei ook deur Lesotho.
  • Die Moloporivier en Limpoporivier vorm deel van die grens met Botswana.
  • Die Limpoporivier vorm die grens met Zimbabwe en word ook gedeel met Mosambiek.
  • Die Olifantsrivier word gedeel met Mosambiek.
  • Die Komatirivier word gedeel met Swaziland en Mosambiek.
  • Die Caledonrivier vorm die grens met Lesotho.
  • Die Molopo- en Nossobrivier word gedeel met Namibië en Botswana. 10
Die Komatirivier word met Swaziland en Mosambiek gedeel.

Woordbank

besproeiing
Water op kunsmatige wyse na ‘n droë gebied toe bring, onder meer deur damme/kanale; natlei.
bron Plek waar water vanself uit die grond opborrel; fontein.
grens Amptelike of denkbeeldige lyn wat twee lande/state/gebiede/ens. van mekaar skei, of die gebied naby hierdie lyn.
mond Opening van iets wat aan ‘n mond herinner, soos ‘n rivier.
ontspring Sy oorsprong hê; uit die grond opwel; begin.

Lees hierdie om nog meer te leer

Kyk na die hierdie video om nog meer te leer

Alles wat jy oor Afrika se vernaamste riviere moet weet

Suid-Afrika spog met van die mooiste en langste riviere in Afrika

Oranjerivier 2022 – vanaf Upington tot Blouputs

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 April 2022 | Bygewerk op 6 Maart 2024