Vinnige feite

  • Die aarde het meer as 80 000 soorte eetbare plante en 70 000 plantspesies word vir medisyne gebruik, maar tog kom 90% van die voedsel wat mense eet, van net 30 plantsoorte af. 6
  • Terwyl wetenskaplikes slegs ’n klein deeltjie van die bestaande bekende plantspesies ondersoek het, staan 68% van dié wat bestudeer is die kans om binnekort uitgewis te wees. 7
  • Bamboes is volgens SoftSchool.com die plant wat die vinnigste groei op aarde. Daar is meer as 1 500 spesies bamboes wat inheems is in Asië, Australië en ander wêrelddele. Hierdie lang dun plant groei elke dag met bykans ’n meter! 8
  • Die “Coastal redwoods” of sequoia sempervirens kan tot 115 meter hoog groei en is die hoogste lewende plant op die planeet. Dit is inheems aan Kalifornië in die VSA en sommige van hierdie reuse leef al vir meer as 2 000 jaar. 9
  • Sowat 85% van alle plantlewe word in die see aangetref. Het jy al gewonder hoekom ’n appel op water kan dryf? Dis omdat ’n kwart (25%) van dié vrug uit lug bestaan. 10
  • Meer as 20% van die wêreld se suurstof word in die Amazone-reënwoud geproduseer. 11
  • Sommige plante het ’n manier gevind om sonder wortels te oorleef. Lede van die Cuscuta-spesie is parasiete wat aan die stamme van ander plante vassit en kos by die gasheer kry. Sodra hulle gevestig is, verdwyn enige wortelstelsel wat dit moontlik gehad het toe dit ontkiem het. 12
  • Komkommer is ’n vrug en nie ’n groente nie, want daar is sade in. ’n Pynappel behoort weer tot die bessiefamilie. 13
  • Die grootste lewende struktuur op aarde is die Great Barrier Reef. Hierdie struktuur strek oor 200 km. Dit word beskou as ’n wêreldnatuurwonder en is die enigste rif wat vanuit die buitenste ruimte gesien kan word. 14
  • Honderde jare gelede, toe die Vikings Skotland binnegeval het, is hulle vertraag deur groot stukke veld waar wilde distel (’n doringagtige plant) gegroei het. Dit het vir die Skotte tyd gegee om te ontsnap. As gevolg hiervan is die wilde distel aangewys as die nasionale blom van Skotland. 15
Foto: iStock

Plante is lewende organismes wat ’n groot deel van die oppervlak van ons planeet beslaan. ’n Mens sien hulle oral. Dit sluit in gras, bome, blomme, bossies, varings, mos en vele meer. 1

’n Mens kry duisende verskillende soorte plante. Sommige plante is so klein dat ’n mens dit amper nie kan sien nie. Ander, soos bome, is weer so groot of hoog soos wolkekrabbers.

Plante voorsien voedsel, medisyne, skuiling en die suurstof wat ons nodig het om asem te haal. In werklikheid kom alles wat ons eet direk of indirek van plante af. Herbivore (planteters) en omnivore (vleis- en planteters) is afhanklik van plante om te oorleef. Selfs karnivore (vleiseters) is afhanklik van plante omdat hulle dikwels prooi op diere wat plante eet. Plante bied ook skuiling en habitatte vir baie diere. 2

Die meeste plante het verskillende ooreenkomste. Hulle het sonskyn, water en lug nodig om te groei. Hulle kan nie rondbeweeg nie en alle groen plante gebruik die son se energie, water en ’n gas genaamd koolstofdioksied om suurstof en hul eie kos te maak. Hierdie proses word fotosintese genoem. 3

Verskillende plantstrukture

Wortels

Wortels kom gewoonlik onder die grond voor en verrig baie belangrike funksies:

  • dit anker die plant in die grond;
  • dit absorbeer water en voedingstowwe uit die grond, wat dan na die res van die plant vervoer word;
  • sommige plante bêre (stoor) die voedsel wat hulle maak in hul wortels, soos aartappels of wortels. 4

Ons kan tussen twee soorte wortelstelsels onderskei, naamlik die penwortel- en bywortelstelsel.

Plante met ’n penwortelstelsel het ’n hoofwortel wat diep in die grond af groei. Meerjarige plante (plante wat ouer as een jaar word), het gewoonlik penwortelstelsels. Dié wortels groei baie diep in die grond en anker die plant. Baie hoë bome, groot struike en bosse maak op hul penwortels staat om hulle regop te hou.

Sommige plante, soos sekere grassoorte en mielies, groei net vir ’n seisoen en het nie so ’n diep wortelstelsel nodig nie. Hulle het juis ’n vlak wortelstelsel wat wyd uitstrek om soveel as moontlik water en voedingstowwe uit die grond op te neem.

Opsommend het ’n penwortelstelsel’n hoofwortel, naamlik die penwortel, en sywortels wat uit die penwortel groei. ’n Bywortelstelsel bestaan op sy beurt ​​uit ewe groot wortels wat bywortels genoem word. 5

Stingels

Stingels of die stam verbind die wortels aan die res van die plant.

Die stam het verskeie belangrike funksies:

  • dit ondersteun die blare, blomme en vrugte (die stam hou hierdie dele regop);
  • dit dra voedingstowwe en water van die wortels na die ander dele van die plant;
  • sommige plante stoor die voedsel wat hulle produseer in hul stamme of stingels (soos suikerriet of aspersies).

Blare

Hoewel baie plante se blare groen is, kan blare baie ander kleure hê.

Sommige blare verander gedurende die herfs. Die blare het baie belangrike funksies:

  • blare absorbeer sonlig en gebruik dit om voedsel vir die plant te maak;
  • sommige plante gebruik hul blare om water (kaktus) of voedsel (soos spinasie of blaarslaai) op te berg;
  • die meeste blare het are wat soos klein pypies is wat water en voedingstowwe vanaf die wortels vervoer (die are dra die voedsel wat die blaar maak na die res van die plant).

Blomme

Baie plante het mooi, kleurvolle blomme wat in verskillende vorms en groottes voorkom. Blomme het dikwels blink blare en geure om bestuiwers soos voëls, bye en ander insekte te lok. Die meeste blomme het vier hoofdele: blomblare, meeldrade (helmknop en gloeidraad), stamper (stigma, styl en eierstok) en kelkblare. Nadat blomme bestuif is, produseer hulle sade in die eierstok van die blom.

Die blomme is baie belangrik vir die plant:

  • die blomme maak stuifmeel wat nodig is om sade te maak waaruit nuwe plante kan groei;
  • blomme is dikwels helderkleurig om voëls en insekte te lok om hul stuifmeel te versprei en stuifmeel van ander blomme te bring;
  • die blomme maak vrugte en sade.

Sade

Baie plante maak sade wat baie belangrik is vir plante, omdat nuwe plante uit sade groei.

Plante stoor hul sade op verskillende maniere:

  • In hul vrugte, soos in perskes of lemoene;
  • In peule, soos in boontjies en ertjies;
  • Op ’n “kop”, soos ’n mielie of op ’n “oor” of “aar” soos koring;
  • Ander plante groei hul sade uit die blom van die plant, soos ‘n paardebloem (“dandelion”) of die akkers aan ’n eikeboom.

Sigbare verskille van plante

As ons plante vergelyk, is dit soms makliker om na die verskillende plantstrukture te kyk om te sien hoe hulle van mekaar verskil. Die stam van die piesangplant is dik en houtagtig (bas), terwyl die basiliekruidplant (’n soort kruie) ’n dun groen stam het. Ons weet dus dat die meeste plante stamme (of stingels), wortels en blare het, en dat baie ander blomme, sade en vrugte het. ’n Mens kan plante ook vergelyk deur na hulle grootte, kleur en vorm te kyk.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Plantstrukture- en aanpassings

Dele van ‘n plant

Dele van ‘n plant

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Februarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024