Vinnige feite

  • Die Atlantiese Oseaan is die wêreld se tweede grootste oseaan (dit beslaan sowat een vyfde van die wêreld se oppervlak).
  • Die naam Atlantiese Oseaan het ʼn Griekse oorsprong, wat beteken “See van Atlas”.
  • Op 8 Junie word Oseanedag wêreldwyd gevier.
  • In 2013 het ses mense die Atlantiese Oseaan oorgesteek op seilplanke wat oor die water gesleep is (ongeveer 6 000 km!). 4
Foto: iStock

Die Atlantiese Oseaan is die tweede grootste oseaan naas die Stille Oseaan. Die oseaan beslaan 106 400 000 km2 en is die seegebied tussen die westekant van Noord- en Suid-Amerika en die oostelike kuslyn van Europa en Afrika. 1

Fisiese kenmerke

In die middel van die Atlantiese Oseaan se bodem loop ’n rif wat genoem word die Mid-Atlantiese Rug. Die hoogste toppe van hierdie onderwater rif vorm eilande in die see en die heel hoogste punt steek by Ysland bo die oseaan uit. Hierdie rug en ander rûe verdeel die see se bodem in groot valleie of klowe wat elkeen ongeveer 5 000 m diep is. In die Atlantiese Oseaan word veral die Noord-Atlantiese skeepsroetes deur baie skepe gebruik. Daar word in dié oseaan baie intensief visgevang, maar besoedeling en die storting van giftige afvalstowwe, bekend as die Mid-Atlantiese rommelkol, bedreig die vislewe in dié see.

Herkoms van die naam

Die naam “Atlanties” is óf afgelei van die Atlasgebergte óf van die legendariese ryk van Atlantis. Toe die seevaarders uit Europa die wêreld se oseane in die 16de eeu intensief begin verken het, het die kartograwe (mense wat kaarte teken) die naam Atlantiese Oseaan gebruik vir die groot stuk see tussen die Amerikas aan die een kant en Europa en Afrika aan die ander kant.

Ligging en grootte

Die grense tussen die Atlantiese Oseaan, Stille Oseaan en Indiese Oseaan:

  • Noord van die Atlantiese Oseaan lê die Bering-seestraat.
  • Suid is die skeidslyn tussen die Atlantiese en die Stille Oseaan die kortste lyn tussen Vuurland en die Antarktiese Suid-Shetland-eilande.
  • Die grens tussen die Atlantiese en Indiese Oseaan is vasgestel op die 20ste lengtegraad van Kaap Agulhas af suid.
  • Rondom die Atlantiese Oseaan is ʼn groot aantal grensseë en baaie. Die totale oppervlak van die Atlantiese Oseaan, met sy kleiner grensseë bygereken, beslaan 106 miljoen km2 en sy volume is 355 miljoen km3. Sonder die grensseë is die oppervlak 82 miljoen km2 en die volume 325 miljoen km3. Die Stille Oseaan is groter as die Atlantiese Oseaan, maar ʼn groot deel van die water wat van die vastelande af na die see stroom, vloei na die Atlantiese Oseaan. Vanweë die reliëf van die kontinente vloei daar vier keer meer water na die Atlantiese Oseaan as na die Stille en Indiese Oseaan tesame.

Ontstaan

Die Atlantiese Oseaan het waarskynlik ontstaan toe die kontinente rondom die oseaan uitmekaar begin dryf het. Hierdie beweging het ongeveer 180 miljoen jaar gelede begin en dit duur steeds voort.

Strome en soorte water

Oppervlakwater

Die patroon waarvolgens die oppervlakwater beweeg, is in al drie die groot oseane dieselfde. Hierdie patroon word bepaal deur die draai van die aardbol en deur wind. In die Noordelike Halfrond beweeg die oppervlakwater kloksgewys en in die Suidelike Halfrond anti-kloksgewys.

Daar is verskillende seestrome in die Atlantiese Oseaan. Die passaatwinde stoot twee strome na die weste – een noord van die ewenaar en een suid van die ewenaar. Tussen hierdie twee strome is die Guineestroom – hierdie stroom word in die Noordelike Halfrond voortgesit as die Golfstroom wat al langs die Amerikaanse kus vloei en daarna in kleiner strome verdeel. 2

Die twee belangrikste van hierdie strome is die kouer Kanariese stroom wat suid vloei, en die warm Golfstroom wat noord vloei en ʼn groot invloed op die klimaat in Noordwes-Europa het. Hierdie twee strome vorm dan ʼn sirkel met die kalm Sargasso-see in die middel. Die suidelike ekwatoriaalstroom en die Brasiliëstroom is warm strome en die Benguelastroom is ’n koue stroom wat langs die kus van Afrika noordwaarts vloei.

Kaappunt

Diepwater

Die stroompatroon van die diepwater lyk heeltemal anders. Die diep strome beweeg baie stadiger, teen ongeveer 40 cm per sekonde, en die oppervlakwater enkele meters per sekonde. Die stroompatroon in die diepwater word ook deur ander faktore bepaal, soos verskille in die gewig van die water, wat bepaal word deur die soutgraad en temperatuur.

Daar is nog drie watersoorte: die bodemwater, die Atlantiese diepwater en die water binne die poolsirkel.

Temperatuur en soutgraad

Op die oppervlak word die temperatuur en die soutgraad deur die geografiese breedte bepaal. Die temperatuur wissel van 0˚C in die poolstreke tot 25˚C tussen die keerkring. Die verdeling van warm en koue water word sterk beïnvloed deur die seestrome. Die soutgraad van die oppervlakwater wissel van 3.7% in die subtropiese gebiede, waar daar sterk verdamping is, tot 3.4% in die koudste dele, waar daar yssmelting is. In die diepwater wissel die temperatuur van -0.4˚C in die bodemwater tot tussen 3˚C en 5˚C in die watergebied binne die poolsirkel.

Betekenis vir die mens

Die noordelike deel van die Atlantiese Oseaan lê tussen die twee mees geïndustrialiseerde dele in die wêreld. Baie skepe vaar hier heen-en-weer – die Atlantiese Oseaan dra die meeste skeepsverkeer van alle oseane.

Die lugruim bokant die noordelike helfte van die oseaan word deur baie vliegtuie gebruik. Op die bodem van die oseaan is ook kabels gelê vir kommunikasie. Die eerste kabels is in 1866 gelê. Die Atlantiese Oseaan is ook baie belangrik vir visvang danksy die groot hoeveelheid suurstofryke water wat vanaf die poolgebiede daarin vloei. Die water is ryk aan plankton (plantaardige en dierlike organismes) wat reuseskole visse aanlok. Die Atlantiese Oseaan word meer as die ander oseane deur afvalstowwe besoedel omdat so baie geïndustrialiseerde lande langs die oseaan geleë is en dit vir handelsvervoer gebruik. 3

Groot hoeveelhede gifstof en industriële afval beland via riviere of deur regstreekse storting in die see, veral in die noordelike deel van die Atlantiese Oseaan. Ook vir Suid-Afrika is die Atlantiese Oseaan baie belangrik, onder meer om handel te kan dryf (om te koop en verkoop deur produkte oor die see te vervoer).

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024