Vinnige feite

  • Die VN het die Volkebond vervang, wat dit nie kon regkry om die Tweede Wêreldoorlog te keer nie. 9
  • Die organisasie se hoofkwartier is in Manhattan, New York. 9
  • Die Internasionale Geregshof is die enigste van die VN se hoofliggame wat nie in New York gesetel is nie, maar in Den Haag, Nederland. 2
  • Die Internasionale Geregshof is nie dieselfde as die Internasionale Strafhof in Den Haag nie. Laasgenoemde hoor sake aan teen individue wat aangekla word van volksmoord, misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade. 2
  • Die Model Verenigde Nasies (NMUN) is ’n opvoedingsprogram waar groepe studente die geleentheid kry om deur rolspel as lidlande van die VN op te tree. 15
  • Die langste toespraak voor die Algemene Vergadering deur ’n wêreldleier is deur Fidel Castro, die voormalige president van Kuba, op 26 September 1960, gegee. Dit was vier uur en 29 minute lank. 10
Foto: iStock

Die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) was die grootste oorlog wat die wêreld al ooit beleef het. Tussen 35 en 60 miljoen mense het in dié oorlog gesterf, en dit het vernietiging gesaai in Europa, Asië en dele van Afrika. 1

Die leiers van die wenlande (die Verenigde State van Amerika, Brittanje en die destydse Sowjetunie) het ooreengekom om ’n organisasie te stig wat moes seker maak dat daar nóóit weer só oorlog sou uitbreek nie. Hulle het dit die Verenigde Nasies (VN) genoem.

Die VN is ’n organisasie wat omtrent elke land in die wêreld insluit. Lidmaatskap is vrywillig: lande kies om aan te sluit en kan nie gedwing word nie. 2 Dit is in die eerste plek ’n bymekaarkomplek waar lande met mekaar kan praat, kwessies, konflik en krisisse kan identifiseer, en saam na oplossings kan soek. 3 Die VN het ook maatreëls ingestel om allerlei kwessies aan te pak – van armoede tot oorlog. 2

Oorsprong

Reeds gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die leiers van die VSA en Brittanje, F.D. Roosevelt en Winston Churchill, saamgestem dat ’n wêreldwye organisasie gestig moes word om die verhouding tussen lande te reguleer. Saam met die leier van die destydse Sowjetunie (vandag Rusland), Josef Stalin, het hulle in April 1945 by die San Francisco-konferensie op ’n handves vir die voorgenome organisasie besluit. 4 Hierdie handves het die grondslag en strukture daarvan uitgelê. 5

Altesaam 51 lande het die VN se handves aanvaar en word dus as die stigtingslede beskou. 2 Dis op 24 Oktober 1945 amptelik bekragtig. 5

Doel van die VN

Toe die VN in 1945 gestig is, was die doel om vrede te bewaar en om seker te maak dat daar nie nog ’n wêreldoorlog uitbreek nie. 3 Daardie doel word steeds nagestreef, maar in die byna 80 jaar wat die VN al bestaan, het sy doelwitte uitgebrei. Dit sluit vandag ook pogings in om van die wêreld ’n beter plek te maak. 2

Sake waarop die VN fokus sluit in:

  • vrede en sekuriteit;
  • menseregte;
  • humanitêre hulp, soos vlugtelingbeskerming, kos en mediese hulp; 5
  • volhoubare ontwikkeling, klimaataksie en omgewingsbeskerming; 6
  • die administrasie van internasionale wette, soos vervoer en handel; 7
  • globale kwessies, soos die veroudering van die wêreld se bevolking, internasionale gesondheid, verwydering van landmyne, en die bevordering van kulturele erfenis; 2
  • die bevordering van demokrasie, menseregte, geslagsgelykheid en vroueregte en;
  • regerings, ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling. 5

Handves van die Verenigde Nasies

Die Handves van die Verenigde Nasies is die riglyne wat die regte en verantwoordelikhede van die lidlande uitstippel.

Artikel 1 van die Handves bevat die vier doelwitte van die VN:

  • om internasionale vrede en sekuriteit te handhaaf;
  • om vriendelike verhoudings tussen nasies te bou;
  • om probleme deur internasionale samewerking op te los; en
  • om ’n plek te wees wat die aksies van nasies koördineer om gedeelde doelwitte te bereik. 2

Artikel 2 van die Handves lê die VN se beginsels uit:

  1. Die VN is gebaseer op die beginsel van onafhanklikheid en gelykheid van alle lidlande.
  2. Om seker te maak dat al die regte en voordele van lidmaatskap aan hulle gegee word, moet alle lidlande hul verpligtinge volgens die Handves nakom.
  3. Alle lidlande moet hul internasionale dispute op ʼn vreedsame wyse en op só manier oplos dat dit internasionale vrede, sekuriteit en geregtigheid beskerm.
  4. Lidlande mag nie geweld gebruik om ander lande se grondgebied of onafhanklikheid aan te val nie.
  5. Lidlande moet aan die VN hulp verleen in aksies wat die VN onderneem, en strook met die Handves, en onderneem om nie organisasies te help wat nie ’n lidland van die VN is nie.
  6. Die VN sal probeer om lande wat nie lidlande is nie, te oortuig om in ooreenstemming met die VN se beginsels op te tree.
  7. Die VN mag nie in die binnelandse sake van lidlande inmeng of lidlande forseer om sulke sake aan die VN voor te lê nie. 2

Die VN se liggame

Die VN bestaan uit verskillende liggame (soms ook organe genoem). Daar is ses hoofliggame: die Algemene Vergadering, die Veiligheidsraad, die sekretaris-generaal, die Sekretariaat, die Ekonomiese en Maatskaplike Raad (Ecosoc) en die Internasionale Geregshof. 2

Algemene Vergadering

Die Algemene Vergadering bestaan uit verteenwoordigers van al die lidlande. 2 Die Algemene Vergadering vergader jaarliks in September. Hier kry wêreldleiers ’n kans om te ontmoet, beter verhoudinge te bou, 8 belangrike kwessies te bespreek en daaroor te stem. 9

Elke lidland het een stem. Gewone sake het net ’n gewone meerderheid nodig, maar belangrike sake, soos die aanvaarding van nuwe lede of die begroting, het ’n tweederde-meerderheid nodig. 2

Besluite van die Algemene Vergadering, wat resolusies genoem word, is aanbevelings, nie wet nie. Dit is met ander woorde nie bindend nie en die Algemene Vergadering het geen manier om die resolusies af te dwing nie. 9 Omdat alle lande stem, reflekteer die resolusies die waardes en doelwitte van die meerderheid van lande. Die lande wat nie stem nie, wéét dus dat hulle in die minderheid is. 10

Die Algemene Vergadering het filiale organe wat op spesifieke kwessies fokus, soos byvoorbeeld die Ontwapeningskommissie en die Menseregteraad. 2

Veiligheidsraad

Die Veiligheidsraad is die magtigste liggaam van die VN, 10 en moet internasionale vrede en sekuriteit onderhou. Dit bestaan uit permanente en niepermanente lede.

Daar is vyf permanente lede: Frankryk, Rusland, China, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika. Die permanente lede het elkeen ’n veto-stem. Dit is al amper 300 keer gebruik, veral deur Rusland, oftewel die Sowjetunie (120 keer), en die Verenigde State (82 keer). 11

Daar is tien niepermanente lede wat tweejaartermyne dien. Die niepermanente lede word só gekies dat daar verteenwoordigers van streke reg oor die wêreld is. 2

Die Veiligheidsraad reageer op bedreigings vir vrede (soos oorloë) en moet enige tyd kan ontmoet. Daarom moet daar ten alle tye verteenwoordigers van die Veiligheidsraad se lidlande by die VN se hoofkwartier wees. Die Veiligheidsraad se leier is die Presidensie en dit wissel maandeliks volgens ’n Engelse alfabetiese lys. 2

In teenstelling met die Algemene Vergadering is die Veiligheidsraad se resolusies wél bindend. 9 Die Veiligheidsraad kan byvoorbeeld sanksies instel, soos wat hulle gedoen het teen Noord-Korea, of selfs ’n militêre inval van ’n land goedkeur, soos in Libië in 2011. 10

Militêre aksie van die VN word deur VN-vredebewaarders gedoen. Die vredebewaarders is militêre magte wat deur lidlande bygedra word. 9

Funksies en magte van die Veiligheidsraad sluit onder meer die volgende in:

  • behoud van internasionale vrede en sekuriteit ooreenkomstig die beginsels van die VN;
  • ondersoek van enige dispuut of situasie wat tot internasionale konflik kan lei en voorstelle van hoe om die dispuut op te los;
  • identifiseer toekomstige bedreigings vir vrede en stel optredes voor om dit te keer;
  • vra lidlande om ekonomiese sanksies te implementeer of om aan militêre aksie deel te neem om aggressie te keer;
  • stel nuwe lidlande voor;
  • reguleer lande se wapenarsenaal; en
  • stel kandidate voor vir die VN se sekretaris-generaal, en kies saam met die Algemene Vergadering die regters van die Internasionale Geregshof. 2

Die sekretaris-generaal (SG)

Die SG is basies die VN se uitvoerende hoof. Hy of sy is die simbool van die VN se ideale en ’n woordvoerder vir die regte van die wêreld se mense, veral die armes en kwesbares. 2

Die sekretaris-generaal word deur die Veiligheidsraad aanbeveel en deur die Algemene Vergadering aangestel. Dit beteken dus dat die SG se aanstelling deur een van die permanente lede geveto kan word. 12

Die SG vervul dienste wat aan hom of haar gegee word deur enige van die liggame van die VN. Voorts kan die SG ook kwessies na die Veiligheidsraad bring as hy of sy glo internasionale vrede is in gevaar. 2

Die SG reik jaarliks ’n verslag oor die VN se aktiwiteite en toekomstige doelwitte uit. 2

Die huidige en negende SG van die VN is António Guterres van Portugal. Hy het dié pos op 1 Januarie 2017 opgeneem. 12

Sekretariaat

Die Sekretariaat is verantwoordelik vir die VN se dag-tot-dag bedrywighede. Dit bestaan uit tienduisende werknemers 13 in verskeie departemente en kantore dwarsoor die wêreld. 8

Die Sekretariaat is verantwoordelik vir:

  • navorsing en studies oor wêreldkwessies (bv. menseregte en volhoubare ontwikkeling) en die implementering van die bevindings van die studies; 9
  • die administrering (beheer en bestuur) van vredesendings;
  • koördinering met die media oor die werk wat die VN doen;
  • organisering van internasionale konferensies oor kwessies wat wêreldwyd probleme gee; en
  • vertaling van dokumente in die VN se amptelike tale. 2

Ekonomiese en Maatskaplike Raad (Ecosoc)

Ecosoc koördineer die ekonomiese, maatskaplike en omgewingsdoelwitte en bedrywighede van die VN. Hulle werk saam met ander VN-liggame, filiale organisasies en regerings. 14

Ecosoc bestaan uit 54 lande wat vir driejaartermyne verkies word. Elke geografiese streek in die wêreld moet verteenwoordig wees. 2 Ecosoc se lede word soos volg uitgewerk: 14 vir Afrika-lande, 11 vir Asiatiese lande, ses vir Oos-Europese state, 10 vir Latyns-Amerika en die Karibiese Eilande, en dertien vir Wes-Europa en ander state. 2

Daar is kommissies wat óf werk met die probleme van ’n spesifieke streek (byvoorbeeld hongersnood in Haïti), óf aan ’n wêreldwye kwessie (byvoorbeeld klimaatsverandering). Hierdie kommissies ondersoek kwessies, deur middel van studies, analises en onafhanklike kenners, en stel moontlike oplossings voor. 2

Internasionale Geregshof

Die Internasionale Geregshof is die wetlike liggaam van die VN. Dit lewer oordeel oor dispute tussen lande en gee regsadvies aan VN-liggame. Die setel is in die Vredespaleis in Den Haag, Nederland. Dit is ook die enigste VN-liggaam wat buite die VSA geleë is. 2

Die hof bestaan uit 15 regters wat vir negejaartermyne deur die Algemene Vergadering en Veiligheidsraad verkies word. 2

VN organisasies en inisiatiewe

Die VN het 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte wat die planeet en die mense daarop sterker moet maak. Die doelwitte is in kategorieë soos armoede, hongersnood, gesondheid, opvoeding, geslagsgelykheid, energie, ekonomiese groei en klimaatsverandering opgedeel. 8

Die VN se Universele Verklaring van Menseregte is ’n lys van regte en vryhede wat elke mens in die wêreld behoort te hê, ongeag van wie hy of sy is. 3 Dit sluit byvoorbeeld in die reg tot lewe, vryheid en veiligheid, en die reg om nie ’n slaaf te wees nie. Baie mense op aarde het vandag steeds nie hierdie regte nie en die VN poog daarom om menseregte uit te brei. 10

Die VN het ook baie ander komitees, fondse, programme en agentskappe. Die lys sluit onder meer die volgende in:

  • Wêreldvoedselprogram
  • Kinderfonds (Unicef)
  • VN se Ontwikkelingsprogram (UNDP)
  • Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO)
  • Vlugtelinge-agentskap
  • Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco).

Finansies

Die VN kry fondse uit die gewone begroting, die vredesendingsbegroting en vrywillige bydraes.

Alle lidlande betaal jaarliks ledegeld vir die gewone begroting. Die hoeveelheid wat elke land betaal, hang af van hoe groot en ryk die land is. As ’n lidland meer as twee jaar agter is met hul ledegeldbetalings, verloor hulle hul stem in die Algemene Vergadering. Baie lande betaal gereeld laat, wat die werk van die VN baie moeilik maak. 2

Vredesendingbegrotingsbydraes word meestal gemaak deur die permanente lede van die Veiligheidsraad omdat daar nie van armer lande verwag word om daarvoor te betaal nie. 2 Dit word betaal vir spesifieke vredesendings.

Die vrywillige bydraes word gebruik vir die VN se ontwikkelings en humanitêre programme, soos Unicef. Lande kan self kies watter programme hulle wil finansier en daar is geen verpligting op lande om hiervoor by te dra nie. 2

Lidmaatskap

Slegs onafhanklike lande mag lid van die VN word. 2 Om lid van die VN te word, moet nege van die 15 lede van die Veiligheidsraad die aansoek goedkeur en geen van die permanente lede mag dit veto nie. Daarna moet twee-derdes van die Algemene Vergadering ook ja stem. 8

Die VN het met 51 lidlande begin 5 en lidmaatskap het deur die jare gegroei. Baie nuwe onafhanklike lande het bygekom met die einde van kolonisasie in Afrika en elders, asook die beëindiging van die Sowjetunie in 1991 en Joegoslawië in 1992. 2 Die mees onlangse lid wat bygekom het, is Suid-Soeden wat in 2011 onafhanklik van Soedan geword het. 7 In 2023 was daar 193 lidlande. 8

Daar is vier onafhanklike lande wat nie lid van die VN is nie: Taiwan, Kosovo, die Vatikaanstad en Palestina. 3

Die VN kan lande se lidmaatskap opskort of hulle selfs skors as hulle nie getrou bly aan die Handves en Beginsels van die VN nie. Dit het nog nooit gebeur nie. Suid-Afrika het sy eie lidmaatskap opgeskort toe die land onder die apartheidswetgewing was. 2

Evaluering van die VN

Die VN het baie kritici. Aan die een kant is daar mense wat voel die organisasie doen te veel, en aan die ander kant is daar weer mense wat voel die organisasie doen nie genoeg nie.

Hoewel die situasie in die wêreld verbeter het sedert die Tweede Wêreldoorlog, is daar steeds wêreldwye probleme. Dit sluit in ongelykheid binne-in én tussen lande, armoede en gebrek aan lewensmiddele. Die VN het ’n gemengde geskiedenis as dit kom by voorkoming van massa-gruweldade en volksmoord. 2 Die Bosniese Oorlog in die vroeë 1990’s, die Rwanda-volksmoord van 1994, en die krisis in Suid-Soedan in 2011 is voorbeelde van mislukkings. 5 Die VN sukkel ook om probleme soos die wapenwedloop, vlugtelinge en konflik in die Midde-Ooste op te los. 7

Daar is baie kritiek teen die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad en hulle vetoreg. Hierdie lande was die vyf magtigste lande in die wêreld in 1945, maar hulle is nie meer vandag nie. Hulle verteenwoordig ook nie al die streke in die wêreld nie (daar is nie ’n lid uit Afrika of Suid-Amerika nie). 2 Die veto-stem maak besluitneming ongelyk omdat die permanente lede met hul veto enige stem kan stop, selfs al stem elke ander land teen hulle. 3

Baie kritici meen die VN is verkwistend. Die VN het regerings al amper ’n half biljoen (duisend miljard) dollar gekos en spandeer $40 miljard per jaar. Die kritici reken dat hierdie geld op beter maniere spandeer kan word. 3

Die VN is ’n netwerk van lande en organisasies wat afhang van die wil en samewerking van die mense in hierdie lande. Dit beteken dat as die wil nie daar is nie, die VN nie behoorlik kan werk nie. 7

Aan die ander kant het die VN sy oorspronklike doel, naamlik om vrede te bewaar, meestal behaal. 2 Daar was sedert die Tweede Wêreldoorlog nog nie weer ’n wêreldoorlog nie. 3

Verder het die VN massiewe vooruitgang gemaak in internasionale wetgewing, armoedeverligting, ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling, en die vreedsame oorgang na onafhanklikheid van voormalige kolonies. 2 Die VN het al kos aan 90 miljoen mense in 75 lande verskaf, meer as 34 miljoen vlugtelinge gehelp, 71 internasionale vredesendings gedoen, met 140 lande gewerk om klimaatsverandering die hoof te bied, 50 lande gehelp met verkiesings, en inentings verskaf aan 58% van die kinders in die wêreld. Hulle help tans 30 miljoen mense per jaar met moederlike sorg en beskerm menseregte met meer as 80 verdrae en verklarings. 5

Dit is ’n plek van samekoms, waar internasionale norme geskep word. Solank die VN die plek is waar lande probleme bespreek, eerder as om daaroor oorlog te maak, lewer die VN ’n kritiese diens. 7 Die meeste mense glo dat, ten spyte van die VN se foute en tekortkominge, die VN noodsaaklike werk doen om wêreldwyd vrede en stabiliteit te bevorder. 5

Woordbank

administrering Beheer en bestuur.
analises Kritiese ondersoeke.
bekragtig Dit wettig maak; jou goedkeuring daaraan gee/heg.
beginsels Reëls, riglyne.
dispute ’n Ernstige meningsverskil/geskil oor iets.
filiale organe Ondergeskikte inrigtings; takke, veral van ’n handelsonderneming, op ’n ander plek as dié waar die hoofkantoor gevestig is.
grondslag Die basis waarop iets anders steun of waaruit iets anders ontwikkel.
handves ’n Dokument wat die (regs)beginsels/pligte/doelwitte van ’n belangrike liggaam/organisasie uiteensit.
humanitêre In belang van mense.
ideale Iets wat jy hoop om te bereik; iets waarna jy streef.
konferensies Groot, formele vergaderings waar baie mense ’n paar dae lank byeenkom om belangrike sake soos politiek, ekonomie, wetenskap, ens., te bespreek.
koördineer Iets so reël dat die mense wat daarby betrokke is, goed saamwerk en die bes moontlike resultaat behaal.
kritici Mense wat kritiek lewer, dus die slegte dinge van ’n persoon of organisasie uitwys, of die dinge wat daardie persoon of organisasie verkeerd doen.
maatreëls (Amptelike) handelings waardeur mense probeer om sake reg te laat verloop.
maatskaplike Wat met die samelewing te make het.
media Al die verskillende vorms van kommunikasie (koerante, tydskrifte, radio, televisie, die internet, ens.) waardeur nuus en inligting versprei word.
norme Standaarde of maatstawwe waarvolgens ’n mens iets toets.
onafhanklikheid Vry en selfstandig.
opskort Uitstel.
reflekteer Weerspieël.
reguleer ’n Aktiwiteit/proses beheer, veral deur reëls.
riglyne Reëls/instruksies rakende die beste manier om iets te doen.
resolusies Besluite, beslissings.
sanksies Amptelike bevele/wette wat handel en kommunikasie met ’n ander land verbied in ’n poging om die leiers van daardie land tot politieke verandering te dwing.
sekuriteit Veiligheid.
setel Die amptelike plek waar ʼn organisasie/maatskappy gevestig is.
simbool ’n Voorwerp/teken/ens. wat ’n bepaalde betekenis het of iets voorstel.
strukture Die maniere waarop die dele van iets saam ’n geheel vorm.
verdrae Ooreenkomste tussen twee of meer lande.
verkwistend Om te mors.
veto Die wetlike reg om ‘n voorstel/wet te keer/verwerp.
vrywillig Om iets te doen uit vrye wil, en nie gedwing word nie.
wapenarsenaal ʼn Land se totale militêre mag/wapens.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die ontstaan en funksie van die VN

Wat is kinders se regte?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 November 2023 | Bygewerk op 19 Februarie 2024