Vinnige feite

  • Die meeste lande se vlae is reghoekig (dit is twee keer so breed soos wat dit hoog is), maar daar is uitsonderings. Nepal se vlak is nie reghoekig of vierkantig nie en bestaan uit twee driehoeke wat soos die bergpieke van die Himalajagebergte lyk. Switserland en die Vatikaanstad se vlae is die enigstes in die wêreld wat presies vierkantig is. 10
  • Daar is drie lande wat vlae met verskillende voor- en agterkante het. Dié lande is Moldawië, Paraguay en Saoedi-Arabië. 11
  • Die Guinness-wêreldrekord vir die grootste vlag wat nog ooit gehys is, is in 2017 in Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate opgestel. Dié vlag was bykans 2,5 km2 (2 448,56 m2) groot! 12
  • Toe Koningin Elizabeth van Brittanje in Buckingham-paleis was, is die koninklike vlag (of die Royal Standard) bo die paleis gehys. Wanneer sy nie daar was nie (byvoorbeeld as sy op reis was of in een van die ander paleise tuisgegaan het), was die Verenigde Koninkryk se vlag – die Union Jack – gehys. 11
  • Daar is baie lande met geloofsimbole op hulle vlae. Drie lande – Turkye, Algerië en Pakistan – het ʼn sekelmaan en ster op, terwyl Israel se vlag die Ster van Dawid vertoon.
  • In die Verenigde State van Amerika is dit wet om vlae wat nie meer mooi is nie, te vernietig – verkieslik deur middel van verbranding. In Denemarke, die land met die oudste vlag in die wêreld (dit dateer uit 1219), is dit onwettig om enige land se vlag aan die brand te steek, behalwe hul eie vlag! 13
  • Die Filippynse vlag word in tye van oorlog met sy rooi streep na bo gehys, en in tye van vrede word die blou streep na bo gehys.
  • Die Amerikaanse vlag word agterstevoor (met die sterretjies regs) op vliegtuie en militêre uniforms gedra. Dit word só gedoen om te lyk asof die vlag wapper soos die persoon of vliegtuig vorentoe beweeg. 14

 

Foto: iStock

ʼn Nasionale vlag is ʼn vlag wat eie aan ʼn spesifieke land is, net soos jou skoolklere of skool se wapen spesiaal vir jou skool gemaak is, word ʼn land se vlag spesiaal vir hom gemaak. Sommige lande se vlae kan ooreenkomste toon (soos dieselfde kleure), maar elke vlag het iets wat hom anders as ander vlae maak.

Suid-Afrika se vlag kan buite regeringsgeboue, skole, polisiekantore, in die buiteland en selfs by sportbyeenkomste waar Suid-Afrika deelneem, gesien word. Dink net hoeveel vlae wapper in stadions as die Springbokke rugby speel!

Die kleure

Suid-Afrika spog met ʼn baie mooi vlag. Ons vlag is uniek, omdat dit uit ses kleure bestaan – rooi, groen, blou, swart, wit en goud (geel). Die meeste lande se vlae bestaan uit twee of drie kleure, en moderne vlae bestaan uit vier tot vyf kleure. Suid-Afrika se vlag is die enigste vlag in die wêreld, behalwe dié van Suid-Soedan, 1 met só baie kleure en het ook nie ʼn seël of ʼn wapen op nie. Dit is ʼn kleurvolle uitbeelding van die “reënboognasie” – soos ons land se mense ook bekendstaan. 2 Baie mense voel die vlag simboliseer ʼn stroom van al die verskillende mense in Suid-Afrika wat saamvloei en die pad na eenheid toe saamstap. 3

Die ontwerp

Met Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing om die draai, is ʼn kompetisie gehou om ʼn nuwe landsvlag te ontwerp. 4 Meer as 7 000 mense het voorstelle ingestuur, en ses ontwerpe is voorgelê, maar nie een is gekies nie. Dr. Fred Brownell, staatsheraldikus van 1982 tot 2002, is in Maart 1994 gevra om ʼn nuwe vlag te ontwerp. Hy het net ʼn week hiervoor gehad!

Dr. Brownell was in Augustus 1993, kort voordat hy gevra is om die vlag te ontwerp, by ʼn vlagkongres in Switserland. Daar het hy, terwyl hy verveeld was, ʼn idee vir ʼn nuwe vlag op die agterkant van sy program geteken. Die nuwe vlag is uit dié sketse gebore. 5 Dr. Brownell, wat ook betrokke by die ontwerp van Namibië se vlag was toe dié land in 1990 onafhanklik geword het, asook die vlag van Lesotho, het in 2015 ʼn doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal. 6

Van tydelik tot permanent

Ons vlag is die eerste keer op 27 April 1994 gebruik toe die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika plaasgevind het. Dié dag word van toe af elke jaar as Vryheidsdag gevier. Die vlag is amptelik op 10 Mei 1994 – toe Nelson Mandela as president ingehuldig is – gehys.

Die vlag sou eers net tydelik gebruik word, 7 maar baie Suid-Afrikaners het van die nuwe vlag gehou en was positief oor die land se toekoms. Die vlag is toe in 1996 in Suid-Afrika se Grondwet (hoofstuk 14 se bylae 1 – Nasionale Vlag (bl. 129)) as die amptelike nuwe vlag erken.

Vlagreëls

Daar is baie reëls oor hoe nasionale vlae vertoon of gehys mag word. Dit word protokol genoem. 8 As Suid-Afrika se vlag horisontaal gehys word (met ander woorde dat die groen band wat soos ʼn “Y” lyk op sy kant lê), moet die toue waarmee die vlag gehys word, links wees, en die rooi band bo. As die vlag vertikaal hang (met ander woorde dat die groen band wat soos ʼn “Y” lyk van bo na onder loop), moet die rooi band links wees.

Die vlag word gewoonlik in die oggend met sonsopkoms gehys en weer gestryk (laat sak) as die son begin sak. Ons vlag mag net deur die nag bly hang as dit goed belig word (as daar sterk ligte daarop skyn). 9 Suid-Afrika se vlag mag nie aan die grond raak of as tafeldoek of drapering gebruik word nie. Dit mag ook nie gebruik word om die begin of einde van byvoorbeeld ʼn wedloop aan te dui nie.

Ander protokol, wat in die meeste lande geld, sluit in: Wanneer ʼn nasionale vlag saam met ander vlae verskyn, moet dit eerste gehys en laaste gestryk word. Die nasionale vlag of gasheerland se vlag moet altyd die belangrikste of ereposisie hê.

Soms word vlae net halfpad teen ʼn paal gehys (ʼn mens sê dan die vlag hang “halfstok”), wanneer die land byvoorbeeld rou of hartseer is oor ʼn gebeurtenis, of wanneer ʼn belangrike persoon sterf. Dit is gewoonlik die president wat aankondig dat die land se vlag (in Suid-Afrika, maar ook enige ander plek in die wêreld waar ons vlag hang, byvoorbeeld by ambassades) vir ʼn sekere tyd halfstok moet hang.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wêreldvlae

Die lande en vlae van die wêreld

 

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: | Bygewerk op 5 Maart 2024