Vinnige feite

  • ’n Mens kry vrugteslaaibome! Boere in Australië kweek bome waaraan tot ses verskillende vrugte groei. 13
  • Sjokolade (eintlik die kakaobone waarvan dit gemaak word) is baie jare gelede in Mexiko en Suid-Amerika as betaalmiddel (geld) gebruik. 14
  • Het jy geweet dat soutbeskuitjies slegter is vir jou tande as suiker? Dit is omdat die grootste sondebok van tandbederf suur is, en nie suiker nie. 15
  • Voordat mense met hoenders begin boer het (en vir hulle spesiale kos begin gee het), het hoenders net omtrent 12 eiers elk per jaar gelê. Vandag lê hoenders honderde eiers per jaar. Die rekord vir die hoender wat die meeste eiers in een jaar gelê het, is in 1971 in die VSA opgestel – 371 eiers in 364 dae! 16
  • Die kos wat die meeste in die wêreld gesteel word, is kaas. Amper 4% van die kaas wat elke jaar gemaak word, word gesteel. 17
  • Spookasem is deur ’n tandarts uitgevind. William Morrison het dié uitvindsel in 1897 “Fairy Floss” genoem. Nog ’n tandarts het later die masjien uitgevind wat gebruik word om dié draderige lekkerny te maak. 18
  • Waatlemoene, pampoene, piesangs en avokado’s is tegnies almal bessies, en aarbeie is nie. 19 Appels, pere en pruime behoort aan die roosfamilie. 20
  • Wortels was vroeër jare pers of wit en het byna geen smaak gehad nie. Die oranje wortel wat ons vandag ken, is in die 17de eeu gekweek ter ere van koning Willem van Oranje en die totstandkoming van die Nederlandse Republiek. 21
  • ’n Komkommer bestaan amper net uit water (96%) en omtrent 60% van ’n aartappel is water. 22
  • Al maak ’n wegneemete jou dalk versadig, is dit nie gesond nie. Dit bevat net sowat 37% van die voedingstowwe wat jy veronderstel is om elke dag te eet. Het jy geweet McDonald’s verkoop 75 hamburgers elke sekonde! 23
Foto: iStock

Net soos ’n mens petrol in die motor moet gooi sodat hy kan ry, moet ons elke dag die regte kos eet sodat ons genoeg energie kan hê om met ons maats te speel én in die klas te konsentreer. As ons te veel van een soort kos en te min van ’n ander eet, het ons nie krag om dinge te doen nie en kan ons selfs siek word omdat ons liggame nie genoeg van die regte voedingstowwe het om ons teen siektes te beskerm nie.

’n Gebalanseerde dieet is ’n dieet wat uit die regte aantal porsies van al die voedselgroepe bestaan sodat ons onder meer genoeg vitamiene en minerale inneem. Ons moet ook genoeg water drink. Hoewel water nie energie verskaf nie, is dit steeds ’n voedingstof. Ongeveer 60% van ’n mens se liggaamsmassa is water en die brein bestaan uit 75% water. Water help onder meer met die vervoer van voeding- en afvalstowwe, en reguleer die liggaam se temperatuur en die korrekte funksionering (werking) van liggaamselle. 1

Om dit sommer baie makliker te maak om te onthou wat ’n mens elke dag móét eet, word kos in voedselgroepe verdeel (kos wat baie dieselfde is, word saam in ’n groep gesit). Al is gesonde kos bykans tien keer duurder 2 as ons gunstelinghamburger of pizza, is dit belangrik dat ons ’n gebalanseerde dieet volg wat uit al die voedselgroepe bestaan. 3

Die hoofvoedselgroepe

Groente en vrugte

Hierdie is die belangrikste voedselgroep en bevat baie vitamiene om ons teen infeksies en siektes te beskerm.  Vrugte en groente verskaf nie net vitamiene nie, maar ook minerale soos yster, kalsium en kalium. 4

’n Mens moet ten minste vyf porsies groente en vrugte per dag eet, of dit rou, gekook, gevries of uit ’n blikkie is. Sommige vrugte en groente is ook ryk aan vesel en laat ’n mens se maag gereeld werk (sodat ons liggame van vuilgoed ontslae kan raak) en dit maak ’n mens ook nie vet nie.

Hierdie is goeie vrugte en groente, en tel as een porsie:

  • 1 appel, piesang, peer of lemoen;
  • ’n halwe pomelo of avokadopeer;
  • 1 groot skyfie pynappel of spanspek;
  • 3 groot eetlepels vol groente; en
  • ’n hand vol druiwe.

Vrugtesap bevat baie suiker, so ’n mens moenie te veel daarvan drink nie. Dieetkundiges (mense wat ons help om te weet wat reg is om te eet en wat ons liggame nodig het) sê ons moet nie meer as 150 ml vrugtesap (omtrent ’n halwe glas) per dag drink nie. Gedroogte vrugte bevat ook baie suiker.

Het jy geweet sommige groente is gesonder as dit gekook is? Dit is beter om groente soos pampoen, sampioene, spinasie, aspersies en wortels gaar pleks van rou te eet. Hierdie groente bevat almal antioksidante (wat ons liggame help om siektes te beveg) wat makliker deur die liggaam opgeneem word as dit gaargemaak is. 5 Dit is egter belangrik om te onthou dat groente wateroplosbare voedingstowwe bevat wat maklik verlore kan gaan as dit vir te lank in water lê of papgekook word. Groente moet ook in so min as moontlik water gaargemaak word, en verkieslik net voordat dit geëet gaan word. 6 Op hierdie manier kan jy verseker dat die maksimum voedingstowwe uit die groente verkry word.

Koolhidrate en stysel

Dit is voedsel soos rys, pasta, aartappels, ontbytgraan en brood. ’n Derde van ’n mens se dieet (ongeveer 3 tot 5 porsies) behoort uit dié voedselgroep te kom. Twee snye brood of ’n aartappel so groot soos jou vuis tel as een porsie. Koolhidrate gee vir ’n mens energie en bevat noodsaaklike voedingstowwe soos vesel, kalsium (maak jou bene en tande sterk), yster en vitamiene. Dit help ook om liggaamselle te bou.

Volgraankos is meer voedsaam, gee jou ’n bietjie energie op ’n slag en sal jou langer vol laat voel. Eet daarom eerder volgraanbrood, hawermout en bruinrys, want dit bevat minder sout, suiker en kalorieë (wat ons energie gee, maar ook baie gewig kan laat optel). Volgraankos is ook ’n baie goeie bron van vesel, wat help met spysvertering. 7

Suiwel

Suiwelprodukte soos melk, kaas en jogurt bevat ook kalsium (wat ons bene en tande sterk en gesond hou), is goed vir ons hart en bloeddruk, en hou ons gewig in toom. ’n Mens kry vandag baie gesonder suiwelprodukte as ’n paar jaar gelede, soos sojamelk, laevet- of vetvrye melk en laevetjogurt. Dit is steeds propvol voedingswaarde, maar gesonder as byvoorbeeld volroommelk.

Dieetkundiges beveel aan dat ons drie porsies suiwel per dag inneem. Een porsie is byvoorbeeld een koppie laevet- of vetvrye melk, een koppie laevet- of vetvrye jogurt, of ’n halwe koppie laevetroomkaas. 8

Proteïene

Hierdie groep sluit vis, eiers, rooivleis (soos bees, skaap en vark), pluimvee (soos hoender, kalkoen en eend), en verwerkte vleis (soos ham, salami, worsies en spek) in. Verwerkte vleis bevat dikwels baie sout en ander bymiddels en moet liefs vermy word. Suiwelprodukte soos kaas en melk is ook ’n goeie bron van proteïene. Plantaardige proteïene sluit bone, ertjies en lensies in.

Proteïene bevat aminosure wat die liggaam help om spiere en bene te bou en spiere gesond te hou. Neute en sade soos amandels, okkerneute, makadamias, haselneute, kasjoeneute, pampoenpitte, sesamsaad en sonneblomsaad is propvol proteïene.  ’n Mens behoort minstens drie porsies per dag te eet. Twee gekookte eiers of ’n hoenderborsie so groot soos die helfte van ’n grootmens se hand, tel as een porsie. Dieetkundiges beveel ook aan dat ons minstens twee keer per week vis moet eet. 9

Vette en olies

Vette en olies kom in feitlik alle kos voor. Botter en varkvet is vette van diere, terwyl kook- en slaai-olie afkomstig is van sade, neute, vrugte en groente. Vette en olies behoort tot ’n groep stowwe wat lipiede genoem word, wat biologiese chemikalieë is wat nie in water oplos nie. Die verskil tussen vette en olies is dat vette solied is teen kamertemperatuur terwyl olies vloeibaar is.

Vette en olies verbeter die smaak en tekstuur (hoe dit lyk en voel) van kos en maak dit makliker om dit gaar te maak. Die meeste mense geniet die ryk, romerige smaak van vette, wat een van die redes is waarom ons so lekker aan roomys en sjokolade smul! 10

’n Mens kry verskillende soorte vette. Versadigde vette is nie so gesond nie (dit verhoog ons cholesterol en ook die risiko vir hartsiektes, kanker, diabetes en oorgewig), terwyl onversadigde vette ons risiko vir hartsiektes verminder. Vette is nodig in die liggaam om te help met sig, die oordra van boodskappe in die brein, beskerming van organe en om die vetoplosbare vitamiene A, D, E en K te kan gebruik. 11

Dit is altyd gesonder om kos te bak, stoom of kook, eerder as om dit in olie te braai.

Die volgende kossoorte is bronne van “goeie vet”: 12

  • Avokado’s;
  • Neute;
  • Kaas;
  • Eiers;
  • Vis (soos salm en sardiens);
  • Olyf-, klapper- en druiwepitolie;
  • Lynsaad (“flaxseed”);
  • Regte botter; en
  • Olywe.

Woordbank

diabetes Stofwisselingsiekte waardeur daar te veel suiker (glukose) in die bloed is; suikersiekte.
dieetkundiges Iemand wat opgelei is om aan mense raad te gee oor wat gesond is om te eet en drink.
infeksies Binnedringing van siektekieme of organismes soos bakterieë/swamme/wurms/ens. wat siekte veroorsaak; aansteking; besmetting.
lipiede Enigeen van ‘n groep organiese verbindings wat vette en daaraan verwante stowwe omvat.
voedingstof Enige stof wat as voedsel kan dien of wat voedingswaarde het; voedende bestanddeel wat uit voedsel in die dermkanaal in die bloed opgeneem word; nutriënt.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die vyf fantastiese voedselgroepe

Die voedselpiramide

Leer meer oor gesonde en ongesonde kos

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 Februarie 2022 | Bygewerk op 20 Februarie 2024