Vinnige feite

  • 1 Januarie is die gewildste openbare vakansiedag op aarde, met 90% van die wêreld wat op dié dag ʼn afdag geniet. Dit beteken nie dat die oorblywende 10% nie Nuwejaarsdag vier nie. Sommige lande volg die Joodse of Koptiese kalender en vier dit later in die jaar. Daar is vyf lande waar 1 Januarie ʼn openbare vakansiedag is, maar nie omdat dit Nuwejaarsdag is nie: Kubane vier die Triomf van die Rewolusie, Tsjegge die Hersteldag van die Onafhanklike Tsjeggiese Staat, Haïtiane en Soedannese vier Onafhanklikheidsdag, en die Slowake vier die Dag van die Stigting van die Slowaakse Republiek. 35
  • Kersdag is nog ʼn baie gewilde vakansiedag wêreldwyd. Hoewel Kersdag meestal op 25 Desember val, word die Ortodokse, Armeense en Koptiese Kersdag op 6 (Armeens) en 7 Januarie gevier. Bykans 40 van die wêreld se sowat 200 lande het glad nie Kersdag op hul kalender nie, insluitend Afghanistan, Algerië, China, Iran, Libië, Noord-Korea, Saoedi-Arabië, Somalië, Tadjikistan, Tunisië, Turkmenistan, die Verenigde Arabiese Emirate en Viëtnam. In talle nie-Christenlande word Kersfees wel met geskenke, ʼn Kersboom en versierings gevier. 36
  • As dit by die mees ongewone openbare vakansiedae kom, neem Japan beslis die voortou. Dié land vier Volwassewordingdag, Bergdag en Respek vir Bejaardesdag, om maar net ʼn paar te noem. Bangladesj vier Taalmartelaarsdag, Pakistan gedenk Kasjmirdag, Katar Nasionale Sportdag, Noord-Korea Boomplantdag en in Kambodja sal jy Waterfeesseremoniedag op die kalender aantref.
  • As jy die bekende sjef Jan Braai (Jan Scannell) van die gewilde kykNET-televisiereeks Jan Braai vir Erfenis sou vra, sal hy sê élke dag is braaidag. Daar is wel een spesiale dag per jaar waarop Suid-Afrikaners wêreldwyd aangemoedig word om ʼn vleisie op die kole te gooi: Nasionale Braaidag word jaarliks op 24 September (Erfenisdag) gevier. Nasionale Braaidag is vir die eerste keer in 2005 georganiseer. Die inisiatief het in 2008 amptelike goedkeuring van Suid-Afrika se Nasionale Erfenisraad ontvang. 37
Foto: iStock

Daar is darem niks lekkerder nie as ʼn heerlike langnaweek (of sommer net ʼn afdag in die middel van die week!) wat ʼn mens laat kan slaap, ʼn vleisie saam met familie en vriende kan braai, gaan fliek, of sommer net van al die skool- en leerwerk kan vergeet. Ons noem hierdie dae publieke of openbare vakansiedae.

As ʼn openbare vakansiedag nie in die skoolvakansie val nie, is skole op dié dag gesluit. Hoewel die meeste winkels ook vroeër jare op openbare vakansiedae toe was, veral tydens Christelike feesdae soos Goeie Vrydag en Kersdag, is dit vandag nie meer die geval nie.

Baie mense werk op openbare vakansiedae, veral mense wat in winkels en restaurante werk, omdat talle mense juis op vakansiedae na die winkels toe skarrel om inkopies te doen of die geleentheid gebruik om heerlik as gesin uit te eet of te gaan fliek. Sakeondernemings wil die kans benut om op dié dae ʼn ekstra paar rand te maak en bly dan eerder oop vir besigheid.

Mense wat op openbare vakansiedae werk, word dubbel vir dié dag se werk betaal omdat dit volgens Suid-Afrika se arbeidswetgewing (wat werknemers se regte in die werkplek beskerm) as rusdae beskou word, net soos ʼn Sondag. Indien werknemers kies of besluit om nié op ʼn openbare vakansiedag te werk nie, moet die werkgewer hulle steeds vir dié dag betaal. ʼn Mens noem dit ʼn betaalde vakansiedag. Net soos ʼn werknemer geregtig is op ʼn sekere aantal dae verlof (betaalde vakansiedae) per jaar, net so is openbare vakansiedae “afdae” waarop werkende mense geregtig is. 1

Wie besluit oor openbare vakansiedae?

Baie lande het openbare vakansiedae wat ooreenstem (dieselfde is), soos Nuwejaarsdag, Werkersdag en Kersdag. Verskillende lande het egter ook unieke dae wat die betrokke land as belangrik beskou of waarop geskiedkundige gebeure plaasgevind het, en wat jaarliks op spesifieke (dieselfde) datums gedenk of gevier word.

Suid-Afrika het 12 amptelike openbare vakansiedae wat deur die regering ingestel of bepaal is. Ons vakansiedae is vervat (uiteengesit) in die Wet op Openbare Vakansiedae (Wet 36 van 1994). As ʼn vakansiedag op ʼn Sondag val, is die daaropvolgende Maandag ook ʼn vakansiedag, lui dié wet. 2

Die president kan egter ook spesiale vakansiedae aankondig wat net vir ʼn sekere dag van ʼn spesifieke jaar geld, byvoorbeeld, wanneer mense vir die nasionale regering moet gaan stem, word hierdie “stemdag” dikwels as ʼn vakansiedag verklaar. Die president het die reg om dié besluit te maak danksy die Wysigingswet op Openbare Vakansiedae (Wet 48 van 1995). 3

het pres. Cyril Ramaphosa byvoorbeeld aangekondig dat Suid-Afrikaners op 15 Desember 2023 ’n ekstra vakansiedag kan geniet die Springbokke die vierde keer in die Rugby-wêreldbeker koning gekraai het. 40

Suid-Afrika se openbare vakansiedae

Die meeste van Suid-Afrika se vakansiedae is elke jaar op dieselfde datum, behalwe die datums waarop Goeie Vrydag en Paassondag val. Dit wissel elke jaar, maar is gewoonlik tussen einde Maart en laat April. Die Maandag ná Paassondag staan as Gesinsdag bekend.

Ons 12 vakansiedae is soos volg: 2

  • 1 Januarie – Nuwejaarsdag
  • 21 Maart – Menseregtedag
  • Maart/April – Goeie Vrydag
  • Maart/April – Gesinsdag
  • 27 April – Vryheidsdag
  • 1 Mei – Werkersdag
  • 16 Junie – Jeugdag
  • 9 Augustus – Nasionale Vrouedag
  • 24 September – Erfenisdag
  • 16 Desember – Versoeningsdag
  • 25 Desember – Kersdag
  • 26 Desember – Welwillendheidsdag

Hoekom vier ons dié dae?

Nuwejaarsdag

Die vroegste opgetekende feesvieringe ter ere van ʼn nuwe jaar se koms dateer sowat 4 000 jaar terug uit antieke Babilon. Vir die Babiloniërs het die eerste nuwemaan ná die lente-ewening – die dag aan die einde van Maart wat die dag en nag ewe lank was – die begin van ʼn nuwe jaar ingelui. 4

Die beskawings reg oor die wêreld het toenemend gesofistikeerde (beter en meer akkurate) kalenders ontwikkel, wat die eerste dag van die jaar met ʼn landbou- of astronomiese gebeurtenis verbind het. In Egipte het die jaar byvoorbeeld begin met die jaarlikse oorstroming van die Nylrivier. 4

Die vroeë Romeinse kalender wat deur Romulus, die stigter van Rome, in die agtste eeu v.C. geskep is, het uit 10 maande en 304 dae bestaan. ʼn Latere koning, Numa Pompilius, kry die eer vir die byvoeging van die maande Januarius en Februarius. 4

Julius Caesar

Deur die eeue heen het die kalender egter uit pas (ritme) met die son geraak, en in die jaar 46 v.C. het keiser Julius Caesar besluit om dié probleem op te los deur die mees prominente (slimste en vernaamste) sterrekundiges en wiskundiges van sy tyd se raad te vra. Hy het die Juliaanse kalender bekendgestel, wat baie ooreenstem met die meer moderne Gregoriaanse kalender wat die meeste lande vandag gebruik. 4

Caesar het 1 Januarie as die eerste dag van die jaar ingestel, deels om die maand se naamgenoot te vereer: Janus, die Romeinse god van Begin, wie se twee gesigte hom toegelaat het om in die verlede terug te kyk en vorentoe die toekoms in. 4

In Middeleeuse Europa het Christelike leiers 1 Januarie tydelik vervang as die eerste dag van die jaar met dae wat meer godsdienstige betekenis dra, soos 25 Desember (die herdenking van Jesus se geboorte) en 25 Maart (die Fees van die Aankondiging). Pous Gregorius XIII het 1 Januarie egter in 1582 as Nuwejaarsdag heringestel. 4

Vandag begin die meeste Nuwejaarsfeeste op 31 Desember (Oujaarsaand), die laaste dag van die Gregoriaanse kalender, en duur tot in die vroeë oggendure van 1 Januarie. Algemene tradisies sluit in om partytjies by te woon, spesiale kos te eet, voornemens vir die nuwe jaar te maak en na vuurwerkvertonings te kyk. 4

Menseregtedag

Menseregte is dinge waarop alle mense geregtig is. In 1948 het die Verenigde Nasies 30 artikels van menseregte in die Universele Handves van Menseregte omskryf. Dit het universele (wat vir almal geld) menseregte gevestig op grond van menslikheid, vryheid, geregtigheid en vrede. 5

Suid-Afrika se menseregte is in ons Handves van Menseregte, Hoofstuk 2 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 ingesluit. Die Handves van Menseregte wat in ons Grondwet ingesluit is, is die hoeksteen van ons demokrasie. Die Grondwet is die hoogste wet, wat beteken dat geen wette belangriker as dit is nie en ook nie iets anders kan bepaal (sê) as wat in die Grondwet staan nie. Ons Handves van Menseregte bepaal dat alle mense in ons land regte het en bevestig ons demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid. 5

Waarom word Menseregtedag op 21 Maart gevier? Menseregtedag in Suid-Afrika word histories verbind met 21 Maart 1960 en die gebeure in Sharpeville, ʼn woongebied naby Vereeniging. Op daardie dag is 69 mense dood en 180 gewond toe die polisie op ʼn vreedsame skare (groep mense) geskiet het wat in protes teen die paswette saamgedrom het. 5

Grafte van die oorledenes

Die paswette het vereis dat Suid-Afrikaners wat ingevolge die Bevolkingsregistrasiewet as ‘swart’ gedefinieer is, ʼn soort paspoort, bekend as ʼn pasboek, moes dra. Die pasboek het voorgeskryf (bepaal) waar mense kon woon en werk. 5

Nadat Suid-Afrika sy eerste demokratiese verkiesing in 1994 gehou het en Nelson Mandela as die eerste demokratiese president verkies is, is 21 Maart as Menseregtedag en ʼn openbare vakansiedag verklaar. Op dié dag word Suid-Afrikaners gevra om oor hul regte te besin (na te dink), en om hul regte en die regte van alle mense te beskerm, ongeag ras, geslag, godsdiens en seksuele oriëntasie. Menseregte geld vir almal, en almal is gelyk. 5

Goeie Vrydag

Elke jaar vier Christene oor die wêreld heen Paasfees. Dit is van die belangrikste Christelike vakansiedae. Dié fees vier die dood en opstanding van Jesus Christus as versoening vir die sondes van die mensdom. Daar is geen vasgestelde datum vir Paasfees nie. Dit kan op enige datum tussen 22 Maart en 25 April val. Mense hou Paasfees vir ʼn periode van drie dae wat op ʼn Vrydag begin.

Hierdie dag staan bekend as Goeie Vrydag, die dag van Jesus se dood deur die kruisiging. Dit strek tot Sondag, ook bekend as Paassondag, toe Jesus uit die dood opgestaan het. Voordat Paasfees begin, vas en bid sommige Christene vir ʼn tydperk van 40 dae. 6

Vryheidsdag

Vryheidsdag word jaarliks op 27 April gevier. Op dié dag in 1994 is die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika gehou. Dié verkiesing was die eerste nasionale verkiesing waartydens alle stemgeregtigdes, ouer as 18 jaar en van enige bevolkingsgroep, insluitend buitelandse burgers wat permanent in Suid-Afrika gewoon het, toegelaat is om te stem.

Die verkiesing het gekom ná die ontbanning van bevrydingsorganisasies soos die ANC, die vrylating van politieke gevangenes soos Nelson Mandela, lang onderhandelings tussen verskeie politieke partye en die opstel van ʼn tussentydse Grondwet. 7

Robbeneiland, waar Nelson Mandela in gevangenis was

Werkersdag

Die opkoms van nywerhede (soos fabrieke) in die 1800’s het uitbuiting en misbruik van werkers reg oor die wêreld meegebring. Werkers het vir jare geveg vir beter werksomstandighede en nuwe arbeidswette. Nadat hulle eise vir ʼn werksdag van agt uur vanaf 1 Mei 1886 op dowe ore geval het, het vakbonde en werkers in die Verenigde State van Amerika begin staak. 8

Die konflik het op 4 Mei 1886 breekpunt bereik toe ʼn vreedsame protesbyeenkoms in Haymarket Square in Chicago, Illinois, deur die ontploffing van ʼn bom wat deur arbeidsaktiviste gebou is, ontwrig is. Die ontploffing is gevolg deur geweervuur tussen die polisie en betogers. Sewe polisiebeamptes en minstens vier ander mense het gesterf. Die Haymarket-voorval het die grondslag geword vir die Internasionale Werkersdag wat op 1 Mei in talle lande gevier word. 8

In Suid-Afrika word Werkersdag amptelik sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 gevier. Dié vakansiedag dien beide as ʼn viering van werkers se regte en as ʼn herinnering aan die rol wat vakbonde, die Kommunistiese Party en ander arbeidsorganisasies in die stryd teen apartheid gespeel het. 8

Jeugdag

Jeugdag word jaarliks op 16 Junie gehou om die moed en durf van ons land se jongmense te vier. Dié dag se ontstaan kan teruggevoer word na 16 Junie 1976 toe ʼn betoging in Soweto, wat grootliks deur hoërskoolleerlinge gelei is, plaasgevind het. Tussen 3 000 en 20 000 jongmense het dié dag aan ʼn optog na die Orlando-sokkerstadion deelgeneem uit protes teen die verpligte gebruik van Afrikaans as onderrigmedium in skole. 9

Die polisie het met rubberkoeëls, lewendige ammunisie (regte patrone) en traangas op die optoggangers losgebrand en dit het uiteindelik tot groot konflik reg deur die land gelei. Een van die eerste mense wat geskiet is, was die 12-jarige Hector Pieterson. Op die baie bekende foto deur Sam Nzima van The World Newspaper word hy deur sy medeleerder Mbuyisa Makhubo gedra, met Hector se sussie Antoinette wat langs hulle hardloop.

Hector het op dié dag, waarop minstens 23 kinders dood is (sommige bronne meen die dodetal was nader aan 200) en honderde gewond is, ʼn internasionale simbool van die stryd teen apartheid geword. 10

In die 1990’s is ʼn gedenkteken vir Hector Pieterson in Orlando, Soweto, opgerig – twee blokke van die plek af waar hy geskiet is – en in 2002 is die Hector Pieterson-museum agter die gedenkterrein geopen. Daar is vandag ook ʼn Hector Pieterson-rylaan in Soweto. 11

Hector Pieterson-museum

Nasionale Vrouedag

Nasionale Vrouedag word jaarliks op 9 Augustus gevier. Die dag herdenk die 1956-optog van ongeveer 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria wat protes teen die land se paswette aangeteken het. Die groep vroue (een van hulle was die bekende Frances Baard) het 14 000 petisies by die kantoordeur van die destydse eerste minister, J.G. Strijdom, gelos.  Die vroue het vir 30 minute lank stil gestaan en toe die proteslied “Wathint’ Abafazi Wathint’ Imbokodo!” gesing. Dié liedjie bevat die bekende frase: “As jy aan ʼn vrou slaan, slaan jy ʼn rots” en het sedertdien ʼn simbool geword van alle vroue in Suid-Afrika se moed en krag. 12

Die eerste Nasionale Vrouedag is op 9 Augustus 1995 gevier en in 2006, met die 50ste herdenking van die geskiedkundige optog na die Uniegebou, is ʼn heruitvoering (nabootsing) van die optog gehou waaraan baie van die oorspronklike vroue deelgeneem het. 12

Erfenisdag

Wyle oudpresident Nelson Mandela het die woord “reënboognasie” gebruik om Suid-Afrika se uiteenlopende kulture, gebruike, tradisies, geskiedenisse en tale te beskryf. Ná ons land se eerste demokratiese verkiesing is besluit dat daar ʼn dag moet wees waarop Suid-Afrikaners, van watter bevolkingsgroepe ook al, hul eie erfenis moes gedenk. Dit het beteken dat niemand moes vergeet wie en wat hy is en waar hy vandaan kom nie. Daar is toe besluit om Erfenisdag vanaf 24 September 1995 in te stel as ʼn viering van ons kleurryke verskeidenheid. Erfenisdag gaan ook oor die uitreiking tussen die verskillende kultuurgroepe om nasionale eenheid, nasiebou, versoening en patriotisme (vaderlandsliefde) aan te moedig. 13

Versoeningsdag

16 Desember is vir die eerste keer in 1995 as Versoeningsdag gevier. Dié dag is belangrik as gevolg van twee gebeurtenisse uit Suid-Afrika se verlede. In 1838 tydens die Slag van Bloedrivier het die Voortrekkers teen die Zoeloes baklei. Op 16 Desember het hulle ʼn gelofte voor God afgelê en belowe om, as Hy aan hulle ʼn oorwinning oor die Zoeloes sou skenk, ʼn kerk te bou en dat hulle nageslagte hierdie dag as ʼn dankseggingsdag sou vier. Tot en met 1994 is dié vakansiedag amptelik as Geloftedag gevier. 14

Tweedens was 16 Desember die dag waarop UmKhonto weSizwe (MK), die ANC (African National Congress) se militêre vleuel, in 1961 gestig is. Die hoofdoel van MK was om met sabotasie die aandag op die stryd teen apartheid te fokus. Vandag verteenwoordig dié dag versoening en nasionale eenheid, en om die lesse van die verlede te gebruik om nuwe hoop vir die landsburgers te bring. 14

Kersdag

Hierdie Christelike tradisie is een van die grootste Christelike feeste ter wêreld, wat die geboorte van Jesus Christus elke jaar op 25 Desember gedenk. As die Messias het Jesus gekom en gesterf vir mense se sondes. Mense in meer as 160 lande oor die wêreld heen vier dié geleentheid, selfs nie-Christene. Mense vier gewoonlik Kersfees deur geskenke vir mekaar te gee, welwillendheid te betoon en aan verskillende maaltye te smul. Daarbenewens kom die meeste gesinne oor dié tyd van die jaar saam om fees te vier. 15

Ander plaaslike gedenkdae

Hoewel dit nie volgens wet as amptelike Suid-Afrikaanse openbare vakansiedae beskou word nie (skole is dus nie gesluit nie en ons ouers kry ook nie ʼn betaalde vakansiedag nie) is daar talle dae wat deel van die Afrikanergeskiedenis of die Christelike geloof is en steeds elke jaar deur talle mense onthou en gevier word.

Hier is sewe van die bekendstes:

Majubadag – 27 Februarie

Majubadag het sy naam te danke aan die Boere se oorwinning oor die Britte tydens die Slag van Majuba in 1881. Dié geskiedkundige gebeurtenis tydens die Eerste Vryheidsoorlog word jaarliks by die Majuba-gedenkplaas naby Volksrust in Mpumalanga gevier. Tydens die Slag van Majuba wou genl.maj. sir George Colley van die Britse magte glo die Boere onkant betrap met sy aanval, maar die Boere het die Britse soldate op die berg gewaar en eerste aangeval. Hoewel dit nie ʼn lang geveg was nie, was dit ʼn groot oorwinning vir die Boere en ʼn reusenederlaag vir die Rooinekke. 16

Stigtingsdag – 6 April

Vir baie jare was 6 April ʼn openbare vakansiedag in Suid-Afrika wat as Van Riebeeckdag en later Stigtingsdag bekendgestaan het. In 2022 is dit reeds 370 jaar nadat die VOC-nedersetting aan die Kaap de Goede Hoop in 1652 deur Jan van Riebeeck tot stand gebring is. Jan van Riebeeck het in 1651 saam met sowat 90 mans, vroue en kinders met drie klein skepe, die Drommedaris, Reijger en Goede Hoop uit Texel in Nederland vertrek om ’n verversingstasie en militêre teenwoordigheid in die Kaap te vestig. Aan Jan se sy was Maria de la Queillerie, sy vertroueling en geliefde “huijsvrouw”. 17

Tafelbaai, 1683

Hemelvaartdag – April/Mei

Hemelvaartdag is ʼn Christelike feesdag wat herdenk dat Christus ná sy dood, begrafnis en opstanding sigbaar en liggaamlik (fisiek) na die hemel opgevaar het. Hemelvaartdag word deur baie kerke gevier en dit vind plaas op die Donderdag 40 dae ná Paasfees. Die vertelling van Jesus se hemelvaart is in Lukas 24:49, Markus 16:19 en Handelinge 1:3 en 9 opgeteken. Volgens een van die vroeë kerkvaders, Augustinus van Hippo, het die viering van hemelvaart reeds in die tyd van die apostels (die eerste eeu ná Christus) ontstaan. Daar is aanduidings dat dit reeds in die jaar 68 deur die vroeë kerk gevier is. Die eerste skriftelike optekening wat ons van die viering van hemelvaart het, dateer uit die tyd van keiser Konstantyn in die vierde eeu. 18

Republiekdag – 31 Mei

31 Mei het ʼn besonderse betekenis dwarsdeur die Afrikanergeskiedenis. Op dié dag in 1902 breek die einde van die Anglo-Boereoorlog (Tweede Vryheidsoorlog) aan. Op 31 Mei 1910 het die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom met Transvaal, die Oranje-Vrystaat, Natal en die Kaap as die grondgebiede. Die Unievlag, later die Republiekvlag, is op 31 Mei 1928 bekendgestel. Op 31 Mei 1961 het die Unie van Suid-Afrika die Republiek van Suid-Afrika geword met ons uittrede uit die Statebond, en op 31 Mei 1994 het Suid-Afrika weer tot die Statebond toegetree. 19

Republiekwording, 1961

Afrikaanse Taaldag – 14 Augustus

Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig. Dit was die eerste amptelike poging (probeerslag) om Afrikaans as eie taal te vestig en daarom word dié dag jaarliks as Afrikaanse Taaldag of Afrikaanse Boekdag gevier. Die GRA het verskeie pogings aangewend om die taal op te bou en, onder meer, die koerant Die Afrikaanse Patriot begin. ʼn Eeu ná die stigting van die GRA in 1975, is die Afrikaanse Taalmuseum amptelik in die Paarl geopen. Die GRA het ook gesorg dat ons met die heel eerste Afrikaanse Bybelvertaling in 1933 kon spog. 20

Afrikaanse Taalmonument, Paarl

Krugerdag – 10 Oktober

Dié dag, wat ook as Heldedag bekendstaan, is die eerste keer in 1882 gevier om Paul Kruger se geboortedag te gedenk. Oom Paul, soos hy geliefd bekendgestaan het, het verbete teen die Britse bewind geveg en later president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) geword. Kruger het soveel respek van sy volksgenote geniet dat sy verjaardag as ʼn openbare vakansiedag ingestel is. Die gebruik het geëindig toe Brittanje die destydse ZAR verslaan het. Die viering van die dag is in 1952 heringestel as Heldedag en van tyd tot tyd is dit amptelik deur opeenvolgende regerings as óf Heldedag óf Krugerdag op die kalender aangeteken. Dit word egter sedert 1994 nie meer as amptelike vakansiedag erken nie. 21

President Paul Kruger

Geloftedag (Versoeningsdag) – 16 Desember

Hoewel dié dag sedert 1995 as Versoeningsdag bekendstaan, word 16 Desember steeds deur baie mense as Geloftedag gevier en as een van die belangrikste gedenkdae in die Afrikanergeskiedenis beskou. Honderde kerkdienste en feeste word landwyd op dié dag gehou. Een van die grootste Geloftedagsaamtrekke vind by die Voortrekkermonument in Pretoria plaas.

Die gelofte word voorgelees, soos elke jaar sedert dit die eerste keer in 1838 deur die Voortrekkers voor die Slag van Bloedrivier afgelê is, en presies om 12:00 op Geloftedag skyn die son op die senotaaf (grafmonument) in die Voortrekkermonument. 22

Openbare vakansiedae in ander lande

As jy na die lys van openbare vakansiedae in die wêreld kyk, loop Oosterse lande (lande in Asië) loshande voor, met Kambodja wat koning kraai. Kambodjane het jaarliks 28 openbare vakansiedae! Sri Lanka is in die tweede plek met 25 dae, gevolg deur Indië, Egipte en Kazakstan met 21 openbare vakansiedae. China en Hongkong het 17 openbare vakansiedae, terwyl daar 16 openbare vakansiedae in Thailand, Turkye en Pakistan is. 23

En hoe lyk dinge op ander vastelande? Die boonste plek op Europa se podium word ingeneem deur Turkye (16 dae), gevolg deur Litaue en Swede (15 dae). In die Amerikas het Colombia (18), Argentinië (15) en Chili (14) die meeste openbare vakansiedae. Die Verenigde State van Amerika (VSA), Finland, Rusland, Suid-Afrika, Italië, Griekeland en Spanje het 12 vakansiedae teenoor Australië, Fiji, Duitsland en Nieu-Seeland se 10 vakansiedae. Singapoer, Denemarke, Frankryk, die Verenigde Arabiese Emirate, Marokko, die Tsjeggiese Republiek en Luxemburg het 11 openbare vakansiedae. 24

Vreemde en fassinerende feesdae

Soms het ʼn mens nie ʼn amptelike vakansiedag of verskoning nodig om sommer net fees te vier en die lewe te geniet nie! Daar vind bykans elke dag van die jaar êrens een of ander spesiale viering in die wêreld plaas – enigiets van Eet roomys vir ontbyt-dag tot Springmieliedag, Internasionale Piekniekdag, Maak jou bed op-dag en Praat soos ʼn seerower-dag.

Hier is tien vreemde en fassinerende vakansiedae wat gevier word:

Kersfees word dalk nie in Japan gevier nie, maar op 25 Desember is dit KFC Aandetedag daar! Die Japannese stroom reeds sedert 1974 op dié dag na KFC vir smullekker-wegneemhoender. Die tradisie het oor die jare só gewild geword, dat bestellings reeds twee maande voor die tyd geplaas moet word! 25

Nasionale Drukkiedag word elke jaar op 21 Januarie in die VSA gevier om mense aan te moedig om meer drukkies aan vriende en familie uit te deel. Dit is die eerste keer in 1986 in Ohio, Michigan, gevier. 26

Steek ʼn sneeuman aan die brand-dag word sedert 1971 jaarliks op 20 Maart in die VSA en Switserland gevier om die oorgang van die winter na die lente te vier. Dis natuurlik onmoontlik om sneeu te laat brand, so ʼn enorme sneeuman word van strooi, papier, hout en draad gemaak en geverf. Dit word tydens ʼn fees van worsbroodjies, hamburgers en poësie in die grootste vuur van die jaar aan die brand gesteek. 27

Koreaanse Alfabetdag vier die skepping van die Koreaanse alfabet. Dit word op 9 Oktober deur die Suid-Koreane gevier, terwyl Noord-Koreane dit op 15 Januarie doen. Dié vakansiedag behels nie enige spesifieke vierings nie, maar die meeste mense kry ʼn dag af by die werk! 28

Spanspekdag is weer ʼn groot gedoente in Turkmenistan. Dié dag word op die tweede Sondag in Augustus gevier. Die Turkmeense mense glo God het die grond in ʼn vrugbare bron met ʼn oorvloed van die lekkerste vrugte verander, insluitend Turkmeense spanspekke, wat die resultaat is van die boere se harde werk en aan die vrugte van die Paradys herinner. 29

Is jy soggens altyd die laaste een uit die vere? Dan kan jy bly wees jy woon nie in Finland nie! Op Nasionale Laatslaperdag (“Sleepyhead Day”) op 27 Julie word die laaste persoon in die huis wat nog slaap, met ʼn emmer water in die gesig wakker gemaak! Die stad Naantali neem dinge nog ʼn stappie verder en gooi een laatslaper in die see! 30

Wêreld-emojidag word jaarliks op 17 Julie gevier. Die oulike klein prentjies, wat eers as emotikons bekendgestaan het, is in 1999 deur die Japanse kunstenaar Shigetaka Kurita geskep. Volgens Emojipedia word daar elke dag 10 miljard emoji’s gestuur. Dit is 7 miljoen elke minuut van die dag! Daar is tans bykans 4 000 emoji’s. 31

ʼn Appel ʼn dag laat nie net die dokter wag nie, maar dié voedsame vrug propvol vitamiene en antioksidante spog ook met sy eie spesiale dag op 1 Desember: Eet ʼn rooi appel-dag. 32

As ʼn mens ná ʼn lang dag wil ontspan, is ʼn warm skuimbad net die regte medisyne! Volgens legende het die Griekse wiskundige en wetenskaplike Archimedes op 14 Junie, terwyl hy gebad het, ontdek dat ʼn voorwerp se volume akkuraat gemeet kan word deur dit onder die water te dompel! Hy was glo só opgewonde dat hy uit die bad gespring en “Eureka, Eureka!” deur die strate van Syracuse, Griekeland, geskree het. Internasionale Baddag is daarom aan dié slim man te danke. 33

Melktert is so Afrikaans soos koeksisters, braaivleis, biltong en bobotie! Nasionale Melktertdag word sedert 2013 elke jaar op 27 Februarie in Suid-Afrika gevier – en met goeie rede, want wie hou nou nie van Ouma of die plaaslike tuisnywerheid se watertandmelktert met geurige kaneel nie! 34

Woordbank

arbeidswetgewing Wetgewing wat werkers se regte soos werksure, vergoeding en verlof in die werkplek beskerm, soos die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (1997). 38
astronomiese Sterrekunde. 39
beskawings Geestelike ontwikkeling; verfyning. 39
demokrasie Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele bevolking gekies is. 39
erfenis Nalatenskap; wat van een geslag na ʼn volgende oorgedra word. 39
fassinerend Boeiend; betowerend; baie interessant. 39
gedoente Iets wat verbasing wek; iets koddigs; affêre. 39
gesofistikeerde Wat tegnies ver gevorderd is; die indruk skep van verfyndheid/kundigheid/wêreldwysheid. 39
grondwet Wet wat in hooftrekke die regeringsvorm van ʼn staat, die funksies van staatsorgane en die verpligtinge en regte van die burgers bepaal. 39
lente-ewening Die tyd van die jaar wanneer die lengte van die dag en nag gelyk is as gevolg van die posisie van die aarde ten opsigte van die son. 39
menseregte Die basiese regte wat elke mens behoort te hê om regverdig behandel te word en vry te kan leef. 39
patriotisme Vaderlandsliefde. 39
petisies Versoekskrif aan ʼn owerheid. 39
protes Iets wat jy doen, jou optrede om vir iemand te wys iets is verkeerd of onregverdig. 39
sabotasie Opsetlike beskadiging of vernietiging van byvoorbeeld toerusting of voertuie sodat die vyand/teenstander dit nie kan gebruik nie; planne in die wiele ry. 39
traangas Chemiese stof wat, vermeng met lug, die oë tydelik irriteer en laat traan sodat ’n mens nie kan sien nie. 39
universele Wat alles omvat; wat algemeen is. 39
verlof Toestemming om van diens vrygestel te word; vakansie. 39
versoening Herstel van vrede/vriendskap. 39
vieringe Feesviering; herdenking. 39
voornemens Planne of besluite. 39

Lees die volgende artikels om meer te leer oor openbare vakansiedae

Kyk die volgende video’s om meer te leer oor openbare vakansiedae

Wat is Erfenisdag en waarom vier ons dit?

Vreemde vakansiedae wat werklik bestaan

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Junie 2022 | Bygewerk op 8 Mei 2024