Vinnige feite

  • Tydens die bewind van Alexander die Grote (356-323 v.C.) het die kruisiging ‘n alledaagse straf geword. Hy het per geleentheid duisende van sy vyande gekruisig. 1
  • Kruisiging het tydens die bewind van keiser Konstantyn (324-337) in onbruik verval. 2
  • Buiten in die evangelies is daar talle verwysings na die kruisiging in die Bybel. Hebreërs 12:12 lui: “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 7
  • Volgens tradisie word die X-kruis na die apostel Andreas genoem. Hy is ter dood veroordeel as gevolg van sy geloof in Jesus. Hy het egter versoek dat sy kruis anders as Jesus s’n moes lyk omdat hy onwaardig gevoel het om op dieselfde kruis as die Here te sterf. 1
  • Daar is twee plekke in Jerusalem wat aangedui word as die plek waar Jesus moontlik gekruigig en begrawe is. Die een is die Church of the Holy Sephulchre of Kerk van die Heilige Graf wat al sedert die vierde eeu as die plek van die kruis en graf beskou word. Die ander is die Tuingraf, wat in 1867 ontdek is. 8

Jesus Christus is die sentrale figuur van die Christendom, en die kruisiging en opstanding van Jesus Christus is die grondslag van die Christelike geloof. Geloof in Jesus se lewe en dood, en die betekenis daarvan, is die grootste verskil tussen Christenskap en die ander groot gelowe, soos Judaïsme en Islam. Christene glo dat God vir Jesus, sy Seun, gestuur het om aan die kruis te sterf, om mense van hul sondes te verlos (bevry).

Wat is kruisiging?

Die woord kruisiging kom van die Latynse woord crucifixion of crucifixus wat “vasgemaak aan ’n kruis” beteken. 1

In Jesus se tyd was kruisiging een van die gruwelikste moontlike maniere om mense tereg te stel. 2 Dit was ’n gevreesde en skandelike manier om te sterf en is hoofsaaklik gebruik om verraaiers, slawe en die ergste misdadigers te straf. 1 Voor die kruisiging, is die gevangene gewoonlik eers gemartel deur hulle te gesel, aan te rand of te vermink. 1

Pelgrims in die kerk by Golgota.

Kruisigings het meestal buite die dorp of stad plaasgevind en die kruiselinge moes hul eie kruise dra tot waar hulle gekruisig is. 2

Daar is hoofsaaklike drie soorte kruise gebruik. Die eerste was die crux commissa, wat gevorm was soos ‘n hoofletter T. Hierdie kruis word ook St. Antonius se kruis of die Tau-kruis genoem. Die tweede is die crux decussata, ‘n X-vormige kruis. Dit word ook die St. Andreas-kruis genoem. Die kruis waarop Jesus gekruisig is, is die crux immissa, ook genoem die Latynse kruis. Dit lyk soos ’n kleinletter t. 1

Jesus se kruisiging in die Bybel

Die verhaal van Jesus se kruisiging word in die Nuwe Testament, in die vier evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes, vertel. Daar is verskille tussen die vertellings, maar die hooftrekke van die verhaal is dieselfde.

Aanloop tot en redes vir die kruisiging van Jesus

Die spanning tussen Jesus en die Joodse leiers het vroeg al hoog geloop. Ons lees reeds in Markus 3:6 van die eerste komplot om Jesus om die lewe te bring.

Daar is verskeie redes waarom mense Jesus wou doodmaak: 3

  • Jesus se boodskap oor die koninkryk van God (Matteus 4:17; Markus 1:15, Lukas 4:43) het Jode wat met die Romeinse heersers saamgewerk het, laat dink dat Hy dalk ’n revolusie teen die Romeinse bewind beplan. Die aanklag dat Hy Homself koning van die Jode genoem het, was dan ook die aanklag waarop hy gekruisig is soos ’n bordjie boaan die kruis aangedui het (Markus 15:26; Lukas 23:38; Johannes 19:19).
  • Die tempel was die sentrum van die Joodse geloof. Toe Jesus sê dat Hy die tempel sou afbreek en in drie dae sou opbou, het Hy van sy eie liggaam gepraat, maar mense het gedink hy praat van die tempelgebou. Hulle het gedink hy praat godslasterlik (Matteus 26:61: Markus 14:58; Johannes 2:19).
  • Jesus se reiniging van die tempel, toe hy geldwisselaars en handelaars van die tempelterrein verjaag het en hulle tafels omgekeer het (Matteus 21:12-17; Markus 11:15-19; Lukas 19:45-48; Johannes 2:13-22), was moontlik die laaste strooi wat ’n paar dae later tot sy kruisiging gelei het. Daardeur het hy die die tempelstelsel waardeur arm mense uitgebuit is, ontwrig.
  • Jesus het verskeie mense op die sabbat gesond gemaak (Markus 1:21-31; Markus 3:1-6; Lukas 13:10-17; Lukas 14:1-6; Johannes 5:1-17; Johannes 9:1-12). Dit het die godsdienstige leiers woedend gemaak omdat hulle dit as ’n oortreding van die wet gesien het. Die eerste sameswering om Jesus dood te maak, kom juis ná so ’n genesing (Markus 3:1-6).
  • Jesus en sy dissipels het ook ander Joodse gebruike oortree, soos om saam met die verkeerde mense te eet (Markus 2:16), nie die vastyd te hou nie (Markus 2:18), en nie hulle hande voor ete te was nie (Markus 7:1-13). Dit, saam met uitsprake van Jesus wat hulle as godslasterlik gesien het (bv. Markus 2:6), het alles bygedra om die woede teen Jesus te laat oplaai.

Die week voor die kruisiging

Die evangelie van Markus beskryf die verloop van gebeure in die laaste week voor Jesus se kruising stap vir stap. Hierdie week word in sommige kerke “Groot Heilige Week” genoem en volgens die verloop van gebeure gevier. Die gebeure op die verskillende dae is:

  • Op die Sondag ry Jesus Jerusalem van die Olyfberg se kant af op die rug van ’n donkie binne (Markus 11:1-11). Dit word as Palmsondag gevier omdat mense Hom volgens Johannes 12:13 met palmtakke verwelkom het.
  • Die volgende dag (Maandag) het Jesus die tempel gereinig deur mense wat daar koop en verkoop, uit te jaag en hulle tafels en stoele om te keer (Markus 11:12-19).
  • Die dag daarna (Dinsdag) wy Jesus grootliks aan allerlei gesprekke op die tempelterrein (Markus 11:20 – 13:37).
  • Op die Woensdag het ’n vrou Jesus met baie duur olie kom salf (Markus 14:1-11).
  • Op die Donderdag het Jesus en sy dissipels saam die Paasmaaltyd gedeel en daarna na die tuin van Getesemane gegaan waar Hy gebid het, deur Judas verraai is en in hegtenis geneem is. Dié nag verskyn Jesus voor die Joodse raad en voor die goewerneur, Pontius Pilatus, wat Hom uiteindelik laat kruisig. (Markus 14:12 – 15:15)
  • Op die Vrydag is Jesus deur die soldate gespot en gemartel, en daarna gekruisig en begrawe (Markus 15: 16-47). Dit word vandag as Goeie Vrydag herdenk.
  • Op die Saterdag, die Joodse sabbat, was Jesus in die graf.
  • Op die Sondagoggend is ontdek dat die graf leeg is en het die opgestane Jesus aan sommige van sy volgelinge verskyn (Markus 16).

Opsomming van die Bybelverhaal

Jesus was in Jerusalem, in die provinsie Judea. Die Joodse hoëpriesters en skrifgeleerdes van Judea het Jesus van godslastering aangekla en wou hom laat teregstel. Judea was deel van die Romeinse Ryk en daarom moes die Romeinse regering die doodstraf goedkeur. Jesus is daarom na Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur van Judea, geneem.

Pilatus kon nie ’n rede vind om Jesus te veroordeel nie. Daar was egter ’n groot skare byeen wat Pilatus probeer oortuig en intimideer het deur uit te roep: “Kruisig hom!”

Volgens die boek Lukas is hy hierna na Herodes, die goewerneur van die provinsie Galilea, waar Jesus grootgeword het, geneem. Herodes het Jesus gespot en hom toe na Pilates teruggestuur.

Pilatus het aan die skare die keuse gegee tussen om vir Jesus of ’n ander aangeklaagde, Jesus Barabbas, vry te laat. Die skare het daarop aangedring dat Jesus gekruisig word. 4

Die Kerk van die Heilige Graf.

Volgens gebruik is Jesus voor die kruisiging in die openbaar aangerand en bespot. ’n Doringkroon is op sy kop gesit en hy is kaal uitgetrek. Teen dié tyd was hy te swak om te loop, en Simon van Sirene is gedwing om sy kruis vír hom te dra.

Jesus is na Golgota, die plek buite die stad waar hy sou gekruisig word, gelei. Voor hy aan die kruis vasgespyker is, is ’n mengsel van wyn, gal en mirre aangebied (wat moontlik sy lyding kon verminder), maar ná hy dit geproe het, het hy geweier om dit te drink.

Spykers is toe deur sy gewrigte en enkels geslaan en hy is aan die kruis vasgemaak. Die inskrywing bo sy kop het gelui: “Die Koning van die ”Jode”. Hierna het hy vir ongeveer ses uur aan die kruis gehang.

Besoekers by die Tuingraf.

Twee misdadigers is langs hom gekruisig. Volgens Lukas het een hom gelaster, maar die ander het Jesus verdedig. Jesus het vir die tweede misdadiger gesê dat hy saam met hom (Jesus) in die paradys sou wees. 3

Intussen het die soldate lootjies getrek en Jesus se klere tussen hulle verdeel, en bystanders het beledigings na hom geslinger en gelaster. Hy het met sy moeder Maria en ’n dissipel gepraat. Hy het ook, volgens Johannes, ’n sluk wyn gevat. Tussen 12:00 en 15:00 uur het duisternis die land bedek. Jesus het na God uitgeroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

Die binnekant van die Tuingraf.

Volgens Lukas het hy uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” 3 Toe Jesus sy laaste asem uitblaas, was daar ’n aardbewing en die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur. Volgens Matteus het grafte oopgegaan en dooie gelowiges (heiliges) is lewendig gemaak. 5

Soldate het Jesus se sy met ’n spies deurboor om seker te maak hy is dood. Voor sonsondergang is hy deur Nikodemus en Josef van Arimatea van die kruis afgehaal en begrawe. 5

Jesus praat sewe keer

(Aanhalings kom uit die 1983-vertaling van die Bybel in Afrikaans.)

Gaan ’n mens al die kruisverhale na, is daar altesaam sewe uitsprake opgeteken wat Jesus gemaak het, terwyl Hy aan die kruis gehang het. Dit word die sewe kruiswoorde genoem. Hulle is:

  • Nadat Hy aan die kruis vasgespyker is, het Jesus gebid: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23:34).
  • Nadat ’n misdadiger wat aan Jesus se een kant gekruisig is, Jesus teen die spot van die ander misdadiger verdedig het en toe vir Jesus gevra het: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom,” het Jesus gesê: “Ek verseker jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43).
  • Jesus het sy ma, Maria, en “die dissipel vir wie Hy baie lief was”, Johannes, bymekaar sien staan en toe vir Maria gesê: “Daar is jou seun” en vir Johannes: “Daar is jou moeder.” (Johannes 19:25-27).
  • Daarna het Jesus gesê: “Ek is dors”, waarna die soldate ’n spons vol suurwyn gemaak en dit met ’n takkie teen sy lippe vasgedruk het. (Johannes 19:28).
  • Nadat hy die suurwyn gekry het, het Jesus gesê: “Dit is volbring.” (Johannes 19:30).
  • Teen drie-uur die middag het Jesus uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?”, wat beteken: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Dit is die woorde waarmee Psalm 22 begin. (Matteus 27:36; Markus 15:34).
  • Net voordat Hy sy laaste asem uitgeblaas het, het Jesus gesê: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” (Lukas 23:46).

Die betekenis van die kruisiging

Jesus gee self betekenis aan sy kruisiging. So sê Hy volgens Markus 10:45 dat Hy gekom het “om te dien en sy lewe te gee as ’n offer vir baie mense”.

Tydens die Paasmaaltyd die aand voordat Hy gekruisig is, neem Jesus brood en wyn en Hy gee dit vir sy volgelinge as teken van sy liggaam wat gebreek is en sy bloed wat gestort is. Dit is ’n teken van die nuwe verbond tussen God en mense en word sedertdien deur die eeue in die kerk as die nagmaal gevier.

Die apostel Paulus is die persoon wat die grootste rol gespeel het in die groei van die Christendom ná Jesus se dood. Sy naam word gekoppel aan 13 briewe in die Nuwe Testament. In hierdie briewe speel die kruisiging van Jesus só ’n belangrike rol dat dit soms die kruisteologie genoem word. Paulus glo daar is twee pilare waarop die evangelie rus: Jesus Christus se kruisiging en Jesus Christus se opstanding. 2

Die kruis word vandag beskou as die simbool van Jesus se lewe en sterwe. Die kruisdood is ’n skandedood en daarom is die kruis die simbool van die sonde wat Jesus namens die mensdom gedra het. Terselfdertyd is dit die simbool van Christus se oorwinning oor die magte van die bose. 2

Omdat Jesus op só ’n pynlike manier aan die kruis gesterf het, verstaan Hy nou menslike pyn en lyding. Die pyn maak die opoffering van sy lewe soveel meer betekenisvol. Dit is ’n bewys dat goed oor sleg geseëvier het. Die dood van Jesus is die nodige opoffering vir die goeie om oor die dood en sonde te seëvier. 6

‘n Spaanse kruis.

Ná die sondeval in Genesis was daar ’n verwydering tussen God en die mens. Die kruisiging lei tot die versoening tussen God en die mens. Omdat God mens geword en toe aan die kruis gesterf het, word mense verlos van hul sonde. Omdat Jesus die perfekte, sondelose offer was, kan hy die volle prys betaal vir die ganse mensdom se sondes. 5

Goeie Vrydag

Goeie Vrydag is die dag waarop Christus se lyding en sterwe aan die kruis herdenk word. 1

Verskillende Christelike kerke vier dit op verskillende maniere. Sommige Christene het kerkdienste, party vas of bid, of spandeer dit in meditasie. 1

Die woord goeie in Goeie Vrydag kom van die idee dat God heilig is en mense sondig. Mense se sonde skei hulle van God se heiligheid. Die straf vir sonde is die ewige dood. Menslike dood en offergawes is nie genoeg om mense van sonde te vergewe nie. Die mens se versoening met God het ’n perfekte offer aan God nodig. 1

Christene glo Jesus is perfek. Sy dood is dus die perfekte versoenende offer vir die sonde, en deur Jesus word mense se sonde vergewe. As mense Jesus aanvaar as hul Redder, vee hy die sonde weg en kan die mens dus in die regte verhouding met God wees. God se genade maak redding moontlik en daarom ontvang mens die ewige lewe deur Jesus. Daarom is die dag waarop Jesus gekruisig is “goed”. 1

Woordbank

gesel

Iemand te slaan met ’n bondeltjie dun rieme of toutjies met knope, koeëltjies of skerp stukkies yster voor aan die punte.
godslastering Belastering/ontering van God, bv. deur vloektaal te gebruik.
goewerneur Die hoof van ’n staat.
hoëpriesters Die hoogste priester in verskillende gelowe, onder meer by die Jode.
kruisteologie Die studie van godsdiens wat voorhou dat kennis van God beheer moet word deur die openbaring van die genade van God deur die vernedering en lyding van Christus aan die kruis.
laster Onwaar kwaadsprekery; opsetlike skending van iemand se karakter sonder om bewyse te kan aanvoer; karakterskending.
lootjies Deur loting beslis; lootjies trek om te bepaal wie wat gaan kry.
gemartel Iemand moedswillig baie seermaak.
meditasie Godsdienstige diepe nadink.
skandelike Iets waarvoor jy jouself behoort te skaam.
skrifgeleerdes Kenners van heilige geskrifte, skrifuitlêer; vertolker van die wet.
tereg te stel Met die dood te straf.
vas ’n Lang ruk niks eet/drink nie.
verlos Bevry.
vermink Ernstig beseer/beskadig sodat dit (lelike) merke agterlaat.
veroordeel Iemand aan iets skuldig bevind en sê hoe hy/sy gestraf moet word.
voorhangsel Veral in die Joodse tempel, ’n gordyn “van pers en purperrooi en bloedrooi” versier met gerubs (engele) wat ’n skeiding maak tussen die Heilige (deel van die tempel) en die Allerheiligste. 7
verbond ’n Onderneming van God waardeur Hy Homself aan sy mense verbind.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die geskiedenis van die Bybel

Jesus sterf aan die kruis

Ergste en wrede strawwe in die geskiedenis van die mens 

Gepubliseer op: 12 Maart 2024 | Bygewerk op 27 Maart 2024