Vinnige feite

  • Graça Machel – met wie Mandela in 1998 op sy 80ste verjaarsdag getrou het – is die enigste vrou in die wêreld wat met twee staatsleiers getroud was. Sy was voorheen met Samora Machel – Mosambiek se president van 1975 totdat hy in 1986 in ʼn vliegtuigongeluk dood is – getroud. 20
  • Voor Graça Machel was Mandela met Evelyn Ntoko Mase getroud (1944 tot 1958) en Winnie Madikizela Mandela (1958 tot 1996). Mandela het ses kinders, 17 kleinkinders en 19 agterkleinkinders gehad. 21
  • Gevangenes op Robbeneiland moes harde arbeid (werk) doen. Hulle moes bedags vir ure by ʼn kalksteengroef kap. Dié werk het Mandela se oë só beskadig dat sy oë later in sy lewe nie meer trane kon maak nie. 22 23
  • Nelson Mandela het behalwe die Nobelprys vir Vrede meer as 250 toekennings ontvang. Hy het ook eredoktorsgrade by meer as 50 universiteite wêreldwyd ontvang.
  • Al het hy saam met die bekendste mense in die wêreld vir ete aangesit, was afval sy gunstelingkos. 24
Foto: iStock

Nelson Rolihlahla Mandela was Suid-Afrika se eerste swart president en word as die “vader van demokrasie” in Suid-Afrika beskou omdat hy vir vrede en regverdigheid geveg het, asook vreedsaam onderhandel het vir die beëindiging van apartheid in Suid-Afrika. 1

Sy kinderjare

Hy is op 18 Julie 1918 as deel van die Thembu-stam in Mvezu as Rolihlahla Mandela gebore. Dié Xhosa-naam beteken ‘moeilikheidmaker’ en ‘om ʼn tak van ʼn boom af te breek’.

Mandela se pa was Gadla Henry Mphakanyiswa Mandela en sy ma was Noqaphi Nosekeni. Mandela se pa het vier vroue en 13 kinders gehad (vier seuns en nege dogters), en Mandela was sy pa se jongste seun. Sy pa is in 1930 oorlede toe Mandela net 12 jaar oud was. 2

Juffrou Mdingane, sy onderwyser by die laerskool in Qunu in die Oos-Kaap, het hom “Nelson” begin noem. Ná laerskool is hy eers na die Clarkebury Boarding Institute en matrikuleer eindelik aan Healdtown, ʼn Metodisteskool in Fort Beaufort.

Dit is ook hier waar sy liefde vir boks begin het. 3

Ná skool

Ná skool wou hy vir ʼn BA-graad aan die Fort Hare Missionary College studeer, maar hy word in 1940 uitgeskop omdat hy ʼn protes gereël het teen die wit leierskap van dié kollege. Mandela het in Fort Hare vir Oliver Tambo ontmoet. 4

Tambo het later die leier van die African National Congress (ANC) geword, en hy en Mandela was beste vriende en sakevennote. Mandela verhuis in 1941 na Johannesburg, waar hy eers ʼn sekuriteitswag by ʼn mynmaatskappy was. 5

In 1943 behaal hy sy graad aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Hy het toe ʼn tweejaardiploma in Regte aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gedoen, wat hom in staat gestel het om ʼn prokureur te kon word.

Mandela en Tambo begin in 1952 die firma Mandela & Tambo, Suid-Afrika se eerste swart regsfirma. 6

Gevangenisskap

Mandela is ʼn paar keer in hegtenis geneem omdat hy ʼn kampvegter teen apartheid was. Hy was sedert 1942 by die politiek betrokke, en hy het in 1944 by die ANC aangesluit. 7 Op 11 Januarie 1962 – met die skuilnaam David Motsamayi – het Mandela in die geheim Suid-Afrika verlaat. 8 Hy het deur Afrika gereis en Engeland besoek om steun vir die gewapende stryd te kry. Hy ontvang militêre opleiding in Marokko en Ethiopië en keer in Julie 1962 na Suid-Afrika terug. 9

Hy is deur die Suid-Afrikaanse en selfs die Amerikaanse regering as ʼn terroris beskou, en Mandela is in 1963 vir sabotasie aangekla. 10 In 1964 word hy en sewe ander – Walter Sisulu, Ahmed Kathrada, Govan Mbeki, Raymond Mhlaba, Denis Goldberg, Elias Motsoaledi en Andrew Mlangeni – tot lewenslange tronkstraf in die nou bekende Rivonia-verhoor gevonnis. 11

Mandela het 27 jaar in die tronk deurgebring, waarvan 18 jaar op Robbeneiland was. Sy ma en seun is in onderskeidelik 1968 en 1969 oorlede, en hy is nie toegelaat om hulle begrafnisse by te woon nie. Terwyl hy in die tronk was, het Mandela Afrikaans leer praat, geskryf en ook verder gestudeer, onder andere aan die Universiteit van Londen en Wits (maar hy het nie dié studies voltooi nie). Hy het in 1989, net voor hy vrygelaat is, ʼn LLB-graad aan Unisa behaal.

Ingang by Robbeneiland se gevangenis

Van vry man tot president

Mandela was eers die ANC se adjunkpresident (1990) en word in 1992 dié organisasie (en later politieke party) se president. Mandela is op 11 Februarie 1990 uit die Victor Verster-tronk (naby Paarl in die Wes-Kaap) vrygelaat. 12 Hy het voor sy vrylating met F.W. de Klerk, wat toe ons land se president was, onderhandel oor vrede en om Suid-Afrika op die pad na demokrasie en die einde van apartheid te plaas. Mandela en De Klerk het in 1993 die Nobelprys vir Vrede ontvang vir die werk wat hulle gedoen het om verandering en nierassigheid in die land te bewerkstellig. 13

Die jaar waarin Mandela Suid-Afrika se eerste swart president geword het, 1994, was ook die eerste keer wat hy gestem het. Hy was toe 76 jaar oud. Baie mense het hom Madiba genoem, wat die naam is van die Thembu-stam waarvan hy deel was. 14

Mandela se publikasies en bydrae

Mandela publiseer in 1994 sy outobiografie (ʼn boek wat hy oor sy lewe geskryf het), A Long Walk to Freedom. Hy het nog ʼn klomp ander boeke ook geskryf, waarvan die bekendste is Conversations with Myself, In His Own Words en Prison Letters. A Long Walk to Freedom, wat in 2013 in ʼn rolprent omskep is, is in baie tale vertaal, onder andere ʼn Afrikaanse vertaling deur Antjie Krog. 15

Mandela het in 2004, toe hy al 85 jaar oud was, besluit om af te tree en nie meer so baie te reis nie. Die Verenigde Nasies het in 2009 besluit om Mandela se verjaarsdag (18 Julie) tot Internasionale Nelson Mandela-dag te verklaar. Mense word gevra om elke jaar op dié dag 67 minute van hulle tyd te gee om iets goed vir ander te doen, net soos Mandela 67 jaar van sy lewe daaraan gewy het om verandering in Suid-Afrika teweeg te bring. 16 Hy is op 5 Desember 2013 by sy huis in Johannesburg oorlede, en hy is in Qunu in die Oos-Kaap begrawe. 17

Liefdadigheidswerk

Mandela was baie bekend vir die liefdadigheidswerk. Sy nommer in die tronk 466/64 het oor die jare baie bekend geword. Mandela sal veral onthou word vir die Nelson Mandela Kinderfonds wat in 1995 begin is. Dié fonds – wat binne die eerste paar jaar meer as R35 miljoen ingesamel en 780 projekte begin het – het vandag ook kantore in die Verenigde Koninkryk en die VSA. 18

Mandela was ook ʼn kampvegter vir die bewusmaking oor MIV/Vigs, omdat sy seun hieraan dood is. Die Nelson Mandela-stigting is in 1999 op die been gebring toe hy as president uitgetree het. Dit is ʼn organisasie sonder winsoogmerk wat daarna streef om op sy liefdadigheidswerk en nalatenskap voort te bou. Die organisasie het ook ‘n gedenksentrum vir Mandela geword, amper soos ʼn biblioteek, wat rekords en argiewe van sy lewe en werk hou. 19

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk die onderstaande video’s vir addisionele toeligting oor Nelson Mandela

Nelson Mandela se merkwaardige lewe

Nelson Mandela se lewensverhaal

Die lewe van Nelson Mandela

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Oktober 2021 | Bygewerk op 8 Mei 2024