Vinnige feite

  • Strijdom het tydens die 1918-griepepidemie baie siek geword en by die dood omgedraai. 3
  • Strijdom is deur iemand met die verhaal van Moses in Eksodus vergelyk: Hy kon die beloofde land (die Republiek) sien, maar nie daar ingaan nie. Suid-Afrika het drie jaar ná sy dood ’n republiek geword. 2
  • Strijdom was die oom van F.W. de Klerk, die president tussen 1989 en 1994. 11

Hans Strijdom was die premier van Suid-Afrika tussen 1954 en 1958. Sy bynaam onder sommige mense was die “Leeu van Noorde”, ’n naam wat sy hoë aansien onder hulle aandui.

Soos ander Nasionale Party (NP)-leiers is sy nalatenskap goed én sleg. Aan die een kant het hy die NP deur moeilike jare gedra en die droom van ’n republiek lewendig gehou. Aan die ander kant het hy en sy party apartheid al hoe meer onverbiddelik toegepas.

Grootwordjare

Johannes Gerhardus (Hans) Strijdom is op 14 Julie 1893 in die distrik Willowmore gebore. 1 Dit was in daardie stadium in die Brits-beheerde Kaapkolonie. 2

Hy was die tweede kind van tien van Petrus Gerhardus Strijdom en Ellen Elizabeth Nortier.

Strijdom het op die platteland grootgeword, en sy eerste skool was ’n plaasskool. Hy het in 1909 aan die Hoërskool Franschhoek gematrikuleer. Hierdie skool se sterk vaderlandse gees het Strijdom op hoërskool al besiel. 3

Studentejare

Strijdom wou landbou studeer, maar daar was by Victoria Kollege (tans die Universiteit Stellenbosch) geen kursus vir landbouwetenskap nie. Hy het toe besluit om eerder tale te studeer.

Strijdom was ’n aktiewe student. Hy was ’n geesdriftige rugby- en tennisspeler. Hy was ook lid van die debatsvereniging en filosofievereniging.

Sy vaderlandsliefde het in die jare in Stellenbosch nóg dieper geword. Hy was lid van die Afrikaanse Taalvereniging, en het reeds daar vir Afrikaans en Afrikanerbelange geveg. Dit was deels ’n reaksie teen die verengelsingsbeleid ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902).

Strijdom was ’n skitterende student en het in 1912 sy graad voltooi. Hy was maar 18 jaar oud. 1

Vroeë werksjare en die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918)

Omdat hy akademies uitgeblink het, was dit ’n verrassing toe Strijdom ná universiteit saam met sy familie op Willowmore met volstruise gaan boer het. Dit het egter nie lank gehou nie, want die mark vir volstruisvere het in 1914 in duie gestort. Strijdom het toe na Pretoria verhuis en ’n pos in die staatsdiens aanvaar. 1

Strijdom het deernis met die deelnemers aan die Rebellie van 1914 gehad. Hy het egter gevoel dat sy plig was om die regering te ondersteun.

Hy is opgekommandeer, maar hy wou nie veg nie, en het gevra dat hy deel word van die ambulansafdeling. Gedurende hierdie tyd het ook ’n veldtog teen Duitsland in Suidwes-Afrika (tans Namibië) meegemaak.

In 1916 het hy na Pretoria teruggekeer. Hy het hom nou beywer om ’n regsgeleerde te word. Hy het sy leertyd as klerk by ’n prokureursfirma gedoen. Terselfdertyd het hy deeltyds regte by die Transvaalse Universiteitskollege (tans die Universiteit van Pretoria) studeer. 1

Hy het hierdie graad in 1917 verwerf. 1 In Januarie 1918 is hy tot die balie toegelaat en kon die titel “advokaat” voor sy naam skryf. Tog het hy nooit as advokaat opgetree nie, maar as prokureur gepraktiseer. 3

Nylstroom

Adv. Strijdom het besluit om ’n klein regspraktyk in Nylstroom (vandag Modimolle) te stig. 1 In 1918 het hy by die Nasionale Party (NP), ’n nuwe politieke party van generaal J.B.M. Hertzog, aangesluit. 4 Strijdom is gou binne die NP se Waterberg-tak bevorder. 1

Strijdom het hom steeds vir die waardige behandeling van Afrikaans beywer. Suid-Afrika se grondwet het Afrikaans en Engels gelykgestel. Dit is egter nie so in die praktyk toegepas nie.

Strijdom het dus besluit om ’n Afrikaanse titelakte op te stel. Toe hy dit inhandig, het die Registrateur geweier om dit te aanvaar. Eers toe Strijdom hom dreig dat hy hom hof toe sou vat omdat hy die Grondwet oortree het, het hy dit aanvaar. Dit het hierna gou algemene praktyk geword om regsdokumente in Afrikaans op te stel. 2

Strijdom se regspraktyk het ná ’n paar moeilike jare floreer. Hy het vir hom plase gekoop op die Springbokvlakte (in vandag se Limpopo) en naby Warmbad (vandag Bela-Bela).

As boer het hy ook ’n leier in die gemeenskap geword. Hy was tussen 1923 en 1929 die president van die Waterbergse Landbougenootskap. 3

Volksraad

Strijdom is in 1929 tot lid van die Volksraad (LV) vir die Waterberg verkies. 2 Hy het hierdie setel ononderbroke tot sy dood gehou. 3 Dit was duidelik dat Strijdom uiters gewild onder die mense in sy eie gemeenskap was. 2

Strijdom was diep nasionalisties en deel van die republikeinse vleuel van die NP. Hy het geglo dat Suid-Afrika op die lange duur hul bande met Brittanje moes breek en ’n republiek word. 1

J.B.M. Hertzog

Samesmelting

In 1934 het die Suid-Afrikaanse Party (SAP) van Jan Smuts, die eerste minister en leier van die SAP, en Hertzog se NP saamgesmelt. Hulle het die nuwe Verenigde Party (VP) – ook die “Smelters” genoem – gevorm. 5

Strijdom was skerp hierteen gekant. 1 Hy het gevoel dat dié twee partye probeer het om twee onversoenbare beginsels te versoen: die NP was republikeins en die SAP wou met die Britte saamwerk. 2

In reaksie tot die samesmelting het dr. D.F. Malan, die leier van die NP in die Kaap, weggebreek en die Gesuiwerde Nasionale Party (GNP) – in die volksmond die “Gesuiwerdes” genoem – gestig. 3 Al was Strijdom ’n lojale volgeling van Hertzog kon hy ook nie samesmelting aanvaar nie. 6 Hy het dus by Malan aangesluit.

Van die 19 Nasionale Party LV’s in die Transvaal was hy die enigste een wat vir Malan gevolg het. 3

Gesuiwerde Nasionale Party

Strydom word leier

Strijdom was die mees prominente NP-lid in die Transvaal wat nie saamgesmelt het nie. 2 Hy het dus in 1936 die Transvaalse leier van die GNP, of net NP, soos wat hulle maar meestal genoem is, geword. Hy het daarmee saam lid van die hoofbestuur van die NP geword. 1

Hy was net 40 jaar oud, en tot op daardie stadium was hy ’n redelik onbekende agterbanker.

Dit het maar sleg gelyk vir die NP in Transvaal. Meeste van hul lede het by die VP aangesluit. Die media was teen hulle, en hulle het nie fondse gehad om die party op te bou nie.

Nietemin was dit presies wat Strijdom moes doen. 1

Leier van die Transvaalse NP

Strijdom het ongelooflik hard gewerk en sy party met wilskrag, ywer en toewyding gelei. 1

Dit was worsteljare. Afrikaners het oorweldigend die VP ondersteun. In die verkiesing van 1938 was Strijdom steeds die enigste NP-LV in Transvaal. 3 Hy het boonop net-net gewen. 2

Strijdom het deurgedruk. Hy het honderde vergaderings dwarsoor die provinsie gehou. 7 Dit was soms met beperkte sukses: by sommige van sy toesprake het daar minder as 10 mense opgedaag! 2 Tog, daardie mense wat wel daar was, is egter deur hom besiel: hy was ’n uitstekende spreker en sy toesprake was vlot en logies en is met vuur en geesdrif gelewer. 3

Hy het die getal NP-takke in die Transvaal vermeerder en geld vir fondse ingesamel om die party te help groei.

Strijdom het sy vurige Afrikanernasionalisme wyd verkondig. Hy het ook sy droom om Suid-Afrika ’n republiek te maak, as beginsel in die NP se grondwet laat inskryf.

Strijdom het voorgestel dat die NP ’n mondstuk moes vind om hul boodskap uit te dra. Dit het uitgeloop op die stigting van Die Transvaler in 1937. Hendrik Verwoerd, die latere eerste minister en president, was die eerste redakteur, terwyl Strijdom voorsitter van die direksie was. Hierdie twee het gou ’n gedugte span gemaak. 3

Dit was in hierdie tyd dat Strijdom die bynaam “Leeu van die Noorde” 7 of “Leeu van die Waterberg” gekry het. 2

Tweede Wêreldoorlog (1939-1945)

Die kwessie van Suid-Afrika se betrokkenheid in die Tweede Wêreldoorlog het die samewerking tussen Hertzog en Smuts beëindig. Strijdom, soos Hertzog, was teen Suid-Afrikaanse betrokkenheid gekant. Dit was geensins omdat hy ’n aanhanger van Adolf Hitler en die Nazi-party was nie. Hy was inderdaad teen antiSemitisme gekant. Dit was eerder omdat hy nie in ’n oorlog saam met Brittanje wou betrokke raak nie. 3

Hertzog se volgelinge het weer by die NP aangesluit, en die Herenigde Nasionale Party (HNP) – maar steeds die NP genoem – is gevorm. 2

Jan Smuts

Die HNP ná 1939

Strijdom en J.C.G. Kemp was die medeleiers van die NP in Transvaal.

Strijdom het gehelp om die NP te suiwer. Hy het daarop aangedring dat mense wat by die NP wou aansluit, hul beleid móés onderskryf. Lede van die Nuwe Orde van Oswald Pirow en die Ossewabrandwag is dus uit die party gesit. Dit het die NP se getalle verswak en hulle het selfs ná die hereniging net ses NP-LV’s oorgehad. 3

Strijdom was gou naas Malan die belangrikste leier in die Nasionale Party.

Hy het só hard gewerk, dat hy van soms van uitputting in die bed moes bly. 2

Teen die 1943-verkiesing was die NP aan die groei. Hulle het 11 Transvaalse Volksraadsetels gewen. 2

Ná Kemp se dood op 31 Desember 1946 was Strijdom die enigste NP-leier in Transvaal. 8

Ná die oorlog

Daar was spanning tussen Strijdom en Malan oor die republikeinse ideaal. Strijdom wou harder daarvoor werk, terwyl Malan geglo het dit sou die Afrikaners verdeel en moes eerder gelos word. 2

In die jare ná die oorlog het Afrikanernasionalisme herleef, en daar was groeiende eenheid onder Afrikaners.

In 1947 het die party besluit om met die Afrikanerparty (sommige van Hertzog se ou ondersteuners) saam te werk. Strijdom was teen die verkiesingsooreenkoms tussen die twee partye gekant, maar dit is toe wel goedgekeur. 3

D.F. Malan

Oorwinning van 1948

Die NP se oorwinning in die verkiesing van 1939 was ’n verrassing vir almal. 3

Dit was die kroon op Strijdom se jare lange ywer. Die Transvaalse NP het in 10 jaar van 1 setel na die grootste politieke party in die provinsie gegaan. Die groei van die NP in Transvaal was grootliks aan Strijdom se standvastigheid, harde werk en leiding te danke. 2

Minister

Strijdom het die minister van lande en besproeiing geword. 3

Dit was eintlik ’n minder belangrike portefeulje vir iemand van Strijdom se statuur. 3 Hy het egter gevra daarvoor, sodat hy ook op sy pligte as Transvaalse leier kon fokus. 2

In die Volksraadverkiesing van 1953 het die NP al 23 die plattelandse kiesafdelings gewen. Die NP was besig om van krag tot krag te gaan. 3

Nasionale leier van die NP

Ná Malan se aftrede is Strijdom in 1954 eenparig as hoofleier van die NP verkies. Dit was teen die wil van Malan, wat ’n ander kandidaat verkies het.

Strijdom het nie eens ’n verkiesingsveldtog gehad nie. Hy was inderdaad kort voor die verkiesing op ’n uitgebreide toer deur Europa. Dit bewys hoe gewild hy was. 2

Premier, 1954-1958

Op 61-jarige ouderdom was Strijdom die premier (ook genoem eerste minister) van Suid-Afrika. 3

Strijdom se oorwinning was ook een vir die meer radikale faksie van die Transvaal oor die meer gematigde faksie van die Kaap. 6

Strijdom het ’n kortstondige premierskap gehad. Hy het ook deurentyd gesukkel met die kwaal wat hom uiteindelik sou doodmaak. 1

Beleid as premier

As premier was Strijdom bestendig en het met oorleg gelei.

Stemreg vir wit mense is tot 18 jaar verlaag. Die ekonomie het vooruitgegaan. 3

Republiekwording

Oor hierdie kwessie het Strijdom matigheid gewys. Hy het aangekondig dat dit nie op mense afgedwing sou word nie, en dat Engelssprekende Suid-Afrikaners se regte gerespekteer sou word. 3 Hy het beloof dat die NP net met republiekwording sou voortgaan as dit in die breë volkswil was. 2 Suid-Afrika het dus nie in Strijdom se tyd ’n republiek geword nie, maar eers in die regeringsjare van Verwoerd, wat hom opgevolg het.

Rassebeleid

Strijdom het geglo aan “wit baasskap”: wit mense moes Suid-Afrika regeer. 2 Hy het ook geglo aan totale gebiedskeiding en afsonderlike ontwikkeling. 3

Hy wou bruin mense se stemreg van die gemeenskaplike kieserslyste verwyder. Hul stemreg was egter in die Grondwet verskans.

Strijdom het dus die getal regters in die appèlhof van 5 tot 11 vermeerder. Hy het die parlement vergroot en die setels aan NP-ondersteuners gegee. Nou het hulle die tweederdemeerderheid gehad om die Grondwet te verander. 3

Bruin mense is dus op aparte kieserslyste geplaas, en kon ’n wit verteenwoordiger kies om hulle in die regering te verteenwoordig. 2

Wat Strijdom gedoen het, was wettig, 2 maar dit het baie kritiek ontlok. Baie mense het gevoel dat hierdie optrede aan outokrasie gegrens het. 3

Weerstand teen sy rassebeleid

Tydens sy regeringstyd was daar groeiende verset teen die NP se rassebeleid. ’n Volkskongres is in 1955 in Kliptown gehou, waarna die Vryheidsmanifes verskyn het. Dit het gelei tot sterk reaksie van die polisie waartydens duisende mense in hegtenis geneem en verban is. Die Hoogverraadsaak van 1956 het ʼn aanvang geneem. 7

Paswetgewing is in 1956 na swart vroue uitgebrei. Dit het gelei tot die beroemde vroue-optog van 1956, 2 waartydens die bekende lied: “Strijdom, tref ’n vrou, tref ’n maalklip” gesing is. 9

Nasionale simbole

Al is republiekwording uitgestel, het Suid-Afrika begin wegbeweeg van sy bande met Brittanje:

  • Die Unievlag is in 1957 tot die enigste landsvlag verhef, wat beteken die Union Jack is nie meer gehys nie. 2
  • “Die Stem” (met ’n Engelse weergawe) was die enigste volkslied. 3
  • Die appèlhof is tot die hoogste hof bevorder, en mense kon nie meer na die Britse Geheime Raad appelleer nie. 2
  • Die Suid-Afrikaanse vloot het Simonstad by die Britte oorgeneem. 3
Strijdom, Malan en Sauer

Siekte en tweede termyn

In November 1957 het Strijdom begin siek word. 3

In die 1958-verkiesing het die NP sy grootse oorwinning tot op daardie stadium behaal. Die NP het meer stemme as al die ander partye saam gekry: 103 uit 156 setels in die Volksraad. 2

Tydens die eerste Volksraadsessie ná die verkiesing was Strijdom weer op sy pos. Dit was egter ook waar hy sy laaste toespraak gemaak het. 3

Dood

Strijdom het weer siek geword en is in Kaapstad in die hospitaal opgeneem. 3 Hy het op 24 Augustus 1958 aan ’n hartaanval gesterf. 2

Sy roudiens is in die Groote Kerk in Kaapstad gehou. Sy liggaam is daarna per trein na Pretoria geneem. Daar was ’n roudiens by die Uniegebou gehou wat deur om en by 10 000 mense bygewoon is.

Strijdom is in die Heldeakker in Pretoria ter ruste gelê. 3

Persoonlike lewe

Strijdom was diep godsdienstig. 3

Hy was twee keer getroud. Sy eerste huwelik was ná ’n blitsromanse met Margaretha van Hulsteijn. 2 Sy was ’n bekende aktrise met die verhoognaam Marda Vanne. Die huwelik was van korte duur en hulle het geskei. 3

In 1931 het hy met Susanna de Klerk, ’n musiekonderwyseres en dogter van ’n politikus, getrou. Sy het ook in politiek belang gestel. Sy het meermale namens hom toesprake gehou. Hulle het twee kinders gehad. 3

Susanna Strijdom

Evaluasie

Strijdom se vrou het hom beskryf as “idealistiese volksmens, lief vir die skone, die kunste, maar veral vir musiek. Hy was lief vir tradisie… in sy huis net soos in sy politieke lewe”. 10

Hy was goedgeaard, vol liefde en bekend vir sy eerlikheid. Hy was ook baie nederig – ten spyte van die feit dat hy in 1952 ‘n doktorsgraad in Publieke Administrasie by die Universiteit van Pretoria ontvang het, het hy geweier om as doktor aangespreek te word.

Aan die ander kant het hy minder goeie eienskappe gehad: hy was te waaksaam en onbuigsaam, en het soms dinge oorvereenvoudig. 3

Strijdom was nie iemand wat van jongs af gedroom het oor politiek nie. Dit was eers ná sy boerdery misluk het, dat hy gaan regte studeer het, en dit was eers toe hy in Nylstroom was, dat hy in die politiek betrokke geraak het.

Hy was wel van vroegs af polities ingestel. Hy was passievol oor die regte van Afrikaans. 2

Hy het ’n sleutelrol in die voortbestaan van die NP in die Transvaal deur die worsteljare van die 1920’s en 1930’s gespeel. Sy welslae was te danke aan sy sterk wil en eerlikheid. Hy het besef dat ’n beleid net sou slaag as dit die volkswil was en prakties uitgevoer kon word.

As leier van die NP het hy die idee van republiekwording lewendig gehou. Daarom staan hy soms as die argitek van die Republiek van Suid-Afrika bekend. 3

Susanna Strijdom op haar man se begrafnis

Woordbank

aansien Hoë rang/stand.
agterbanker ’n Parlementslid wat minder belangrik of junior is.
antiSemitisme Om Joodse mense te haat.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in rassegroepe geskei is.
appèlhof As jy skuldig bevind word, is hierdie die hof wat jy vra om weer oor jou uitspraak te besluit.
argitek Die ontwerper van iets.
balie Versamelnaam vir alle advokate; wanneer iemand tot die balie toegelaat word, word hy toegelaat om as advokaat te praktiseer.
beginsels Reëls, riglyne.
beleid Plan/program/wet vir die bestuur van ʼn party.
besiel Iemand vol moed/geesdrif maak.
bestendig Iemand wat standvastig is en nie te veel verander nie.
bevorder Aan iemand ’n beter werk of hoër rang gee.
blitsromanse ’n Liefdesverhouding wat baie vinnig ontwikkel.
breë volkswil Iets wat deur ’n groot deel van ’n volk ondersteun word, nie net deur ’n paar mense nie.
Britse Geheime Raad Die Britse appèlhof, met ander woorde die laaste hof wat jy kon vra om weer oor jou uitspraak te besluit indien jy skuldig bevind is aan iets.
debatsvereniging Kultuurvereniging wat baie tyd aan debatte, oftewel gesprekke van die voor- en nadele van ’n saak, bestee.
deernis Om jammer te voel oor iemand anders se swaarkry; diep meegevoel en empatie.
direksie Groep persone wat ’n maatskappy of saak bestuur.
eenparig ʼn Besluit waar al die mense wat betrokke is, met mekaar saamstem.
filosofievereniging Kultuurvereniging wat baie tyd aan debatte, oftewel gesprekke van die voor- en nadele van ’n saak, bestee.
floreer Vooruitgaan, welvarend word, voorspoedig wees, groei, uitbrei, ontwikkel.
gemeenskaplike kieserslys Die lys waarop elke mens in die land is wat mag stem.
generaal Iemand wat die hoogste of tweede hoogste rang onder ʼn kommandant-generaal of ʼn veldmaarskalk het; veldheer; strateeg.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ’n staat of organisasie regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit.
Hoogverraadsaak van 1956 Hofsaak waarin 156 politieke teenstanders van die NP-regering, insluitend Nelson Mandela, van hoogverraad aangekla is. Almal is onskuldig bevind.
idealistiese Iemand wat hoë standaarde het en dit probeer uitleef.
in duie gestort Misluk, of tot ’n einde kom.
kandidaat Iemand wat hom- of haarself beskikbaar stel vir ’n verkiesing tot ’n posisie in die openbare lewe, soos byvoorbeeld die posisie van ’n politikus.
klerk Iemand wat in ’n kantoorwerk; assistent.
kortstondige Wanneer iets nie baie lank hou nie.
kritiek Beoordeling van die waarde van iets/iemand, veral deur te sê wat jy dink minder goed is.
kroon Gesien as ʼn beloning.
kwaal ’n Siekte wat gewoonlik terugkom.
landbouwetenskap Die studie van landbou en hoe dit werk.
logies Sinvol, verstaanbaar.
lojale Getrou aan iemand/’n beginsel/’n belofte/’n regering of volk; opreg.
maalklip ’n Klip wat bietjie uitgehol is, waarop mens graan of mielies met ’n ander klip maal.
mark Die handel van ’n sekere produk.
mondstuk Iets soos ’n koerant wat namens ’n groep “praat”.
naas Langs, sy aan sy.
nasionalisties Mense van ʼn sekere groep wat hul eie belange wil bevorder.
Nazi-party Party van Duitse nasionaal-sosialiste, veral volgelinge van Hitler voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Nuwe Orde Politieke party in die 1940’s wat republiek wou stig op Nasionaal-sosialistiese beginsels.
onbuigsaam Iemand wat nie maklik verander nie.
ononderbroke Sonder om te stop; aanhoudend.
ontlok Veroorsaak, teweegbring.
onverbiddelik Streng, wreed of vasbeslote; wat nie tot ander insigte gebring kan word nie.
onversoenbare Wat so hewig van mekaar verskil dat hulle glad nie ’n ooreenkoms kan bereik nie.
oorleg Om goed oor iets na te dink voor jy optree.
oorvereenvoudig Om te maak of iets wat ingewikkeld is, nie so ingewikkeld is nie.
opgekommandeer Wanneer iemand/mense vir militêre diens opgeroep of beveel word om aan te sluit of iets te doen, sê mens hy/hulle word opgekommandeer.
Ossewabrandwag Afrikanernasionalistiese organisasie met sterk bande met nasionaal-sosialisme, gestig in Bloemfontein op 4 Februarie 1939. Die organisasie was sterk gekant teen Suid-Afrikaanse deelname aan die Tweede Wêreldoorlog, en het Nazi-Duitsland ondersteun.
outokrasie Om alleen met onbeperkte mag te regeer.
Paswetgewing Wette wat mense gedwing het om passe te dra, oftewel dokumente wat aandui waar iemand mag en nie mag wees nie.
plaasskool Skool wat formele onderrig aan kinders van ʼn plaasgemeenskap bied; tot in die 1960’s was daar nog baie plaasskole op die platteland waar kinders wat op plase gebly het, skoolgegaan het.
portefeulje ’n Afdeling van die staatsdiens wat ’n minister bestuur, soos opvoeding of polisie.
praktyk Hoe iets in die werklikheid is.
premier Hoof van die regering van ’n Suid-Afrikaanse provinsie; eerste minister.
president In hierdie geval ʼn voorsitter.
prokureur Iemand wat (in die) regte gestudeer het en wie se werk dit is om aan mense wette te verduidelik, formele ooreenkomste op te stel en kliënte in die hof te verteenwoordig.
prominente Bekend, beroemd; belangrik; uitstekend.
radikale faksie ’n Groep mense wat binne ’n groter organisasie hul eie belange wil bevorder – in hierdie geval ’n sterker vorm van Afrikanernasionalisme en rasseskeiding.
redakteur Iemand wat rigting gee en toesig hou oor die beleid van ’n publikasie.
Registrateur ’n Amptenaar wat sake in die regering se amptelike register opteken.
regspraktyk Die kantoor of sakeonderneming van ʼn advokaat of prokureur wat mense met regskwessies help.
republiek ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers.
republiekwording Om totaal onafhanklik te word van ’n ander land, in hierdie geval alle Britse invloed uit Suid-Afrika te verwyder.
saamgesmelt Uit twee of meer sake ʼn enkele saak vorm.
setel ’n Gebied (en die mense wat daar woon) wat deur iemand in die parlement verteenwoordig word.
sleutelrol ’n Baie belangrike rol in ’n saak te speel.
staatsdiens Die gesamentlike departemente wat die administrasie van ʼn staat behartig.
statuur Reputasie, belangrikheid en waarde.
titelakte ’n Dokument wat aantoon wie die eienaar van ’n eiendom is.
toewyding Om ’n taak met oorgawe aan te pak, dit so goed as moontlik te doen.
tradisie Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk.
vaderlandse Met liefde vir jou land en sy mense.
van krag tot krag Om meer suksesvol of invloedryk te word.
veldtog ʼn Georganiseerde optrede teen iets.
verban Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ʼn land uitstuur; uitstoot; verdryf.
verkiesingsooreenkoms Wanneer twee politieke partye besluit om saam te werk om ’n verkiesing te wen; koalisie.
verkiesingsveldtog ’n Veldtog wat iemand organiseer om mense te oortuig om in ’n verkiesing vir hulle te stem.
verset Weerstand/teenstand/opstand teen.
verskans Wanneer iets deur die Grondwet beskerm word. Dit beteken ’n tweederdemeerderheid van die parlement moes saamstem om daardie stemreg uit die Grondwet te verwyder.
vleuel Afdeling van ’n groter groep op party.
vlot Sonder haakplek, vloeiend, moeiteloos.
voorsitter Die leier van ʼn organisasie.
waaksaam Om baie versigtig en noulettend iets dop te hou om seker maak dat ’n saak reg verloop.
ywer Werklus, met geesdrif werk.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor J.G. Strijdom

Kyk hierdie video’s oor J.G. Strijdom

ʼn Kort biografie oor J.G. Strijdom

Die loopbaan van die “Leeu van die Noorde”

Apartheidswette

1956-vroue-optog en die sing van “Wathint’ abafazi, wathint’ imbokodo” (In Afrikaans: “Tref ʼn vrou, tref ʼn maalklip”; in Engels: “You Strike a Woman, You Strike a Rock”)

Die geskiedenis en betekenis van die Suid-Afrikaanse vlag

Gepubliseer op: 7 Mei 2024 | Bygewerk op 14 Mei 2024