Vinnige feite

  • Sir Herbert Baker was goeie vriende met Cecil John Rhodes wat onder meer ‘n Britse mynmagnaat en die eerste minister van die Kaapkolonie was.
  • Baker het in 1892 vanaf Engeland na Suid-Afrika gekom en sy eerste taak in Suid-Afrika was om Groote Schuur, Rhodes se huis, te restoureer.
  • Baker het verskeie geboue in Pretoria ontwerp. Daar is huise met sy stempel op en hy het ook die bekende treinstasie in Pretoria ontwerp.
  • Meintjieskop, tuiste van die Uniegebou, is na Stephanus Jacobus Meintjes vernoem. Hy het Arcadia, die eerste voorstad van Pretoria, uitgelê. 5
  • Meintjieskop het ’n ryk geskiedenis. Een van die destydse eienaars het die plaas met die koppie van pres. M.W. Pretorius gekry in ruil vir ’n Basoeto-ponie. Dit is ook die koppie waar ’n konsentrasiekamp, Britse blokhuise en ’n Britse hospitaal in die Anglo-Boereoorlog was. 6 [Lees meer oor konsentrasiekampe.]
  • Die Uniegebou het al talle belangrike gebeurtenisse gesien. Afrikanervroue het ’n optog in 1915 daarheen gehou en gevra dat mense wat aan ’n mislukte rebellie deelgeneem het, vrygelaat moes word. In 1956 het ongeveer 20 000 vroue by die Uniegebou teen die apartheidswetgewing betoog. Die vroue was die inspirasie vir Nasionale Vrouedag wat jaarliks op 9 Augustus gevier word. Die name wat vandag met die optog geassosieer word, is Lilian Ngoyi, Helen Joseph, Sophie Williams en Rahima Moosa.
  • Nelson Mandela was die eerste president van Suid-Afrika wat demokraties verkies is. Sy inhuldiging as president is by die Uniegebou gehou.
  • Die gebou het destyds £1 180 000 gekos om te bou. As ons destyds se inflasie in gedagte hou, sou dit in vandag se geldwaarde £177 829 874,79 gewees het. Dit werk in 2024 op ’n allemintige R4 203 554 283 uit.  
  • Sir Herbert Baker (1862-1946) was ’n Britse argitek wat ’n groot invloed op die argitektuur in Suid-Afrika gehad het. Hy het ook geboue in verskeie ander lande ontwerp. Cecil John Rhodes het betaal sodat Baker ook argitektuur in Italië, Griekeland en Egipte kon bestudeer. Dit het ’n groot invloed gehad op die latere monumente en staatsgeboue wat hy ontwerp het. 7
  • Die Uniegebou en Voortrekkermonument in Pretoria is twee baie belangrike geboue in Suid-Afrika. Daarom is daar wetgewing wat voorkom dat geboue nie ’n sekere hoogte mag oorskry nie, want die twee geboue moet sigbaar van mekaar wees. Jy moet dus die Voortrekkermonument vanaf die Uniegebou kan sien en andersom. 8

As die Uniegebou in Pretoria kon praat, sou dié gebou wat al meer as ‘n eeu oud is, seker nooit ophou gesels nie! Die gebou het ’n pragtige uitsig oor die stad Pretoria en is die amptelike setel van Suid-Afrika se regering. Die presidensie (die president en die span mense wat vir hom werk) se kantore is in die Uniegebou. As jy dus ’n bietjie met president Ramaphosa wil gesels en hy is in Pretoria, is die Uniegebou die plek waar jy hom moontlik sal raakloop!

Die idee van ‘n spesiale regeringsgebou

Eens op ’n tyd was daar groot konflik in Suid-Afrika tussen die Boererepublieke en die Britte, maar ná twee oorloë waarin daar baie mense dood is, is die land verenig. Suid-Afrika het op 31 Mei 1910 die Unie van Suid-Afrika geword.

Die parlement was in daardie tyd reeds in Kaapstad en die regering het besluit om dit in Kaapstad te hou, met Pretoria as die administratiewe hoofstad en Bloemfontein as die wetgewende hoofstad, omdat die appèlhof daar is.

Pretoria het toe al ’n aantal regeringsgeboue gehad en daarom is daar besluit om die stad ook die tuiste van die hoofregeringsgebou te maak. Die bekende argitek sir Herbert Baker is in 1909 deur die Transvaalse regering opdrag gegee om ’n regeringsgebou spesiaal vir die Unie van Suid-Afrika te bou. Baker het begin om na die regte ligging vir die nuwe gebou te soek. 1

Sir Herbert Baker, argitek van die Uniegebou in Pretoria.

Die regering het toe reeds ’n paar straatblokke rondom Kerkplein (in Pretoria) gekoop en het dit as ’n ligging vir die gebou voorgestel, maar Baker het nie gedink dat dit goed genoeg vir die splinternuwe regeringsgebou was nie. Hy het in sy geestesoog iets soos die akropolisse in Griekeland gesien. Die antieke Grieke het hul vestings hoog gebou (op heuwels of koppies), wat dan ’n goeie uitsig oor die omgewing gebied het. Dit is wat Baker vir die Uniegebou wou hê en die idee het baie met die visie van die Britse argitek sir Christopher Wren ooreengestem. Wren het gesê dat ’n openbare gebou ’n nasionale ornament moes wees wat mense en handel sou lok en mense trots op hul land maak.

Toe Baker Meintjieskop gevind het, was dit vir hom die perfekte plek, want die koppie het ’n mooi uitsig oor Pretoria gebied. Generaal Jan Smuts was in daardie stadium deel van die Unieregering en hy het dit ook besoek. Hy was baie in sy noppies daarmee en het dit as ideaal vir die nuwe regeringsgebou bestempel.

Daar was egter mense wat nie so mal oor die ligging was nie, maar die regering het met hul planne deurgedruk. Die Britse hoë kommissaris van daardie tyd was lord Selborne en hy het voorspel dat mense van heinde en ver sou kom om hulle aan die skoonheid van die ligging te verwonder. Hy het ook gesê dat dié mense die mans, wat die besluit gemaak het, se dapperheid en voorbedagtheid sou bewonder. 2

Die voorgestelde ontwerp

Die ontwerp van die Uniegebou is grootliks deur die terrein beïnvloed. Baker het twee identiese vleuels van reghoekige kantoorblokke voorgestel wat elk een van die twee amptelike tale destyds – Engels en Afrikaans – kon verteenwoordig. 3

Die vleuels moes dan deur ’n halfmaanvormige vleuel verbind word. Die ruimte tussen die twee vleuels sou ’n amfiteater vorm wat vir vergaderings of byeenkomste gebruik kon word.

Baker wou aanvanklik die geboue met ingevoerde graniet gebou het, maar dit was belangrik vir die regering dat die belangrikste regeringsgebou in die land met Suid-Afrikaanse materiaal gebou moes word.

Die terrasse en mure op die terrein is grootliks met bergklip gebou en die fondament van die gebou van graniet, terwyl sandsteen vir die buitemure, die amfiteater en die binnehowe gebruik is.

Baker het op die neoklassieke argitektuurstyl van die Italiaanse Renaissance vir die ontwerp van die gebou besluit. Hy het dit met elemente uit die Engelse Renaissance gekombineer en dan is daar ook sterk invloede van die Kaaps-Hollandse styl. Laasgenoemde styl kan ‘n mens in die balustrades, hortjievensters, ysterwerk en deurgange sien.

Die regering het twee spanne kontrakteurs aangestel om die bouwerk te doen. Ene Meischke, ʼn Hollander, het die twee kantoorblokke gebou en Messrs Prentice and Mackie is aangestel om die amfiteaterblok bou. Die hoeksteen van die Uniegebou is op 26 November 1910 gelê. Die gebou is in Oktober 1913 voltooi. 4

Feite oor dié sta(a)tige gebou

Ongeveer 1 265 vakmanne en arbeiders het nagenoeg drie jaar aan die gebou gewerk.

Hulle het 14 miljoen bakstene vir die binnemure gebruik, 14 160 m³ sandsteen, 2 095 m³ beton, 40 000 sakke sement en 570 m³ graniet. Agt-en-tagtig hyskrane is ingespan. 4

Die sandsteenmure is van ligkleurige Suid-Afrikaanse sandsteen gebou en is meer as 275 m lank.

Daar is twee vleuels wat uit drie verdiepings elk bestaan wat kantore huisves. Elke vleuel is ongeveer 90 m lank.

Elke gebou het sy eie kloktoring wat ongeveer 55 m hoog is.

In die middel van die twee vleuels is daar ’n halfmaanvormige gebou wat die torings met mekaar verbind. Dit vorm die agtergrond vir die amfiteater wat sitplek vir 9 000 mense het.

Die Uniegebou was in daardie stadium die grootste gebou in die land en ook die grootste bouprojek wat nog in die Suidelike Halfrond aangepak is.

Die tuine by die Uniegebou is pragtig en spog met heelwat inheemse plante.

Daar is baie monumente en standbeelde in die tuine. Een van die monumente is dié van Louis Botha wat in die 1900’s die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika was.

Die standbeeld van Louis Botha met die Uniegebou in die agtergrond.

Die grootste (en nuutste) standbeeld op die terrein is dié van wyle oudpres. Nelson Mandela. Dit is 9 m hoog en in 2013 onthul. Die standbeeld het ongeveer R8 miljoen gekos. Mandela het – ná sy afsterwe op 5 Desember 2013 en voor sy begrafnis in Qunu die Oos-Kaap – van 11 tot 13 Desember 2013 in staatsie by die Uniegebou gelê. Dit het aan nagenoeg 100 000 gewone Suid-Afrikaners die geleentheid gebied om hul laaste eer oor dié drie dae aan dié staatsman te betoon.

Die Nelson Mandela-standbeeld staan op die plek waar die voormalige eerste minister J.B.M. Hertzog se standbeeld gestaan het. Hertzog se standbeeld staan nou elders op die terrein.

Daar is ook ’n Delvillebos-gedenkteken op die terrein opgerig. Dit bring hulde aan die Suid-Afrikaanse manskappe wat in die Tweede Wêreldoorlog geveg het en in die Slag van Delvillebos, Frankryk, gesterf het.

Woordbank

administratiewe   Wat op die administrasie betrekking het.
akropolisse Boonste vesting van ’n Griekse stad.
argitektuur Wetenskap van die ontwerp, optrek en versiering van geboue, boukuns.
geassosieer Met mekaar in verband bring.
amfiteater ’n Halfronde skouburg sonder dak, met skuins oplopende sitplekke rondom ’n oop ruimte.
balustrades ’n Reling van hout, steen of yster om die rand van ’n balkon, brug of terras wat as versiering dien en voorkom dat mense afval.
betoog As mense ’n betoging hou in opstand teen iets.
binnehowe Ruimtes of tuine w atdeur mure van geboue begrens word.
blokhuise ’n Versterkte skuiling met skietgate.
elders Op ’n ander plek.
erfenisterrein Plek wat deel van ’n mens se erfenis uitmaak en wat beskerm word en besigtig kan word.
fondament Grondslag.
van heinde en ver Van oraloor.
graniet Harde, korrelrige kristalrots, bestaande uit kwarts, mika en veldspaat.
in sy noppies Hoogs tevrede, in jou skik wees.
inspirasie Aansporing.
konsentrasiekamp ’n Kamp waar politieke gevangenes en ander mense wat nie soldate is nie, aangehou word, veral gedurende ’n oorlog.
kontrakteurs Iemand wat ’n kontrak aangegaan het om werk te verrig.
monumente Gedenkteken.
neoklassieke ’n Nuwe styl wat op ’n herlewing van die klassieke styl berus.
ornament Sieraad, versiersel.
parlement Dis ’n liggaam waarvan die lede deur die inwoners van ’n land verkies word om hulle in landsake te verteenwoordig. Dit is dan volgens die beleid van die politieke party waaraan elke lid behoort.
rebellie ’n Opstand teen die wettige gesag van ’n land.
restoureer Verbeter, herstel, weer opbou, opknap, tot sy oorspronklike toestand terugbring.
sandsteen Fynkorrelrige klipsoort.
setel ’n Plek waar iemand of iets gevestig is
terrasse Trapsgewys aangelegde grondvlak.
verenig Saamvoeg of een maak.
visie Siening, verbeeldingryke insig.
voorbedagtheid Vooraf beplan.
wetgewende Met die gesag om wette te maak.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Só lyk die Uniegebou

Sir Herbert Baker se bekende geboue

Foto: iStock
Gepubliseer op: 6 Junie 2023 | Bygewerk op 24 April 2024