Vinnige feite

  • Dit is nie seker presies in watter jaar Jesus gekruisig en uit die dood opgewek is nie. Geleerdes meen dit kon tussen die jare 30 en 33 van ons huidige jaartelling gewees het. Sommige plaas dit so vroeg as die jaar 25.
  • Daar is twee plekke in Jerusalem, Israel, wat aangedui word as moontlike plekke waar Jesus begrawe is en uit die dood opgestaan het. Een is die Kerk van die Heilige Graf (Church of the Holy Sepulchre) op ’n terrein wat al in die vierde eeu geïdentifiseer is. Die ander is die tuingraf wat in 1867 ontdek is. 3
  • In die Bybel word op twee maniere oor die opstanding gepraat. ’n Paar keer word gesê dat Jesus “opgestaan het” uit die dood, maar meestal word daar gesê dat Jesus deur God “opgewek is” uit die dood.
  • Die tradisionele groet tussen Christene op Paassondag is dat die een sê: “Christus het opgestaan!” Daarop antwoord die ander: “Hy het waarlik opgestaan.”
  • In die tradisionele kerklike viering word Paassondag met ’n lekker ete gevier nadat daar tydens die Lydenstyd gevas is.
  • Paaseiers het ’n simbool van Paasfees geword omdat eiers ’n simbool is van nuwe lewe.

Die opstanding van Jesus Christus uit die dood is die hoeksteen van die Christelike geloof. Daarom dat die apostel Paulus in 1 Korintiërs 13:14 skryf: “En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en is julle geloof ook sonder inhoud.” (Aanhalings kom uit die 1983-vertaling van die Bybel in Afrikaans.)

’n Mens sou met reg kon sê dat as Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, sou die Christelike geloof nie bestaan het nie. Dan sou Jesus maar net soos een van duisende ander mense tydens die Romeinse bewind aan ’n kruis gesterf het. Jesus se kruisdood was nie uniek nie, maar sy opstanding was. 1

Maar die opstanding kan ook nie losgemaak word van die kruisiging en van die res van Jesus se lewe en werk op aarde nie. Dit is alles deel van die evangelie, maar dit is die opstanding wat daarvan evangelie maak.

Verskille in die Bybelverhale

Dit is interessant dat daar nie in die Bybel ’n direkte beskrywing is van wat gebeur het toe Jesus uit die dood opgewek is nie. Daar word net verhale vertel van wat ná Jesus se opstanding uit die dood gebeur het. Dit sluit veral twee soorte verhale in. Die eerste is verhale oor die ontdekking dat die graf leeg is en die tweede groep verhale gaan oor die opgestane Jesus se verskyning aan sy volgelinge.

Tussen hierdie verhale wat in die vier evangelies – Matteus, Markus, Lukas en Johannes – opgeteken is, is daar soms duidelike verskille. Die sentrale boodskap van die verhale – dat die graf leeg is en dat Jesus uit die dood opgewek is – is deurgaans dieselfde, maar van die besonderhede van die verhale verskil van mekaar.

So vertel Matteus van een engel by die graf; volgens Markus was daar ’n jongman; volgens Lukas was daar twee manne met blink klere aan; Johannes vertel van twee engele met wit klere aan.

Hierdie verskille word nie gesien as ’n teken dat die verhale onbetroubaar is nie. Inteendeel. Geleerdes sê dat as Jesus se volgelinge sou saamsweer om ’n storie te versprei dat Hy uit die dood opgestaan het, sou hulle gesorg het dat almal se storie ooreenstem. Daarom is die verskille ironies genoeg juis ’n aanduiding van die egtheid van die getuienis dat Jesus wel uit die dood opgestaan het.

Verhale oor die leë graf

Elkeen van die vier evangelies vertel ’n verhaal van Jesus se volgelinge wat op die Sondagoggend by Jesus se graf aankom en ontdek dat dit leeg is.

Matteus

Volgens Matteus het twee vroue, Maria Magdalena en “die ander Maria”, na die graf toe gegaan. Daar was ’n aardbeweging en ’n engel het die steen voor die graf kom wegrol. Die wagte het van skrik “soos dooies geword”. Die engel sê vir die vrou om nie bang te wees nie en dat Jesus uit die dood opgewek is. Hy nooi hulle om te kyk na die plek waar Jesus gelê het en sê dan vir hulle Jesus is na Galilea toe, hulle sal Hom daar kry. Dan hardloop die vroue om dit vir die dissipels te vertel.

Markus

Markus vertel van drie vroue, Maria Magdalena, Maria die ma van Jakobus, en Salome wat met reukolie na die graf toe is. Hulle vind dat die klip voor die graf klaar weggerol is en dat daar binne die graf ’n jongman met wit klere sit. Die jongman vertel ook dat Jesus uit die dood opgewek is en na Galilea toe is. Hulle moet dit vir die dissipels, maar veral vir Petrus gaan vertel. Die vroue was egter bang en het vir niemand anders iets daarvan vertel nie.

Lukas

Volgens Lukas het ’n groep vroue met reukolie na die graf gegaan, gevind dat die klip voor die graf se ingang weggerol is, en dat Jesus se liggaam nie daar was nie. Hulle het nie geweet wat om te dink nie, tot daar skielik twee manne met blink klere by hulle staan. Hulle vra die vroue toe waarom hulle die Lewende by die dooies soek en herinner hulle aan hoe Jesus vroeër vir hulle vertel het dat hy gekruisig sou word en op die derde dag weer sal opstaan. Hulle het dit vir die dissipels gaan vertel, wat gedink het dis onsin en hulle nie geglo het nie. Petrus het egter graf toe gehardloop, die doeke gesien en vol verwondering teruggekeer huis toe.

Johannes

Johannes vertel dat Maria Magdalena vroeg die Sondag graf toe is en gesien het dat die steen voor die graf se ingang weggerol is. Sy het na Petrus en Johannes (“die dissipel vir wie Jesus baie lief was”) gegaan en vir hulle vertel dat iemand Jesus se liggaam weggevat het en nou weet hulle nie waar Hy nou begrawe is nie. Petrus en Johannes hardloop toe na die graf, sien dis leeg, maar verstaan nog nie dat Jesus uit die dood opgestaan het nie.

Uit al die verhale blyk dit dat vroue die eerste getuies van die leë graf was. Dit is volgens geleerdes nóg ’n aanduiding van die egtheid van die verhale. Vroue is nie destyds as betroubare getuies gesien nie, en as dit bloot ’n sameswering was om te vertel dat Jesus uit die dood opgestaan het, sou die samesweerders nie vroue as die eerste getuies gekies het nie.

Dit is ook duidelik dat die leë graf alleen nie genoeg was om almal te oortuig dat Jesus uit die dood opgestaan het nie. Daarom is daar ook verhale oor die opgestane Jesus se verskynings aan sy volgelinge.

Verhale oor Jesus se verskyning aan mense

Matteus

Volgens Matteus het Jesus voor die twee vroue verskyn terwyl hulle van die graf af op pad was om die dissipels te gaan vertel wat hulle daar beleef het. Hy herhaal die engel se opdrag dat hulle vir die dissipels moet gaan sê om na Galilea te gaan omdat hulle Jesus daar sou kry. Dit doen hulle en die dissipels ontmoet Jesus op ’n berg in Galilea waar Hy vir hulle opdrag gee om na al die nasies te gaan en mense sy dissipels te maak. Hulle moet die mense doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en hulle leer om alles te doen wat Jesus hulle geleer het. Jesus verseker hulle ook dat Hy altyd by hulle sal wees.

Markus

Die evangelie van Markus het oorspronklik by hoofstuk 16:8 geëindig en nie ’n verskyningsverhaal bevat nie. Later is ’n gedeelte bygevoeg waarin vertel word van Jesus se verskyning aan Maria Magdalena, aan die twee op pad na die platteland toe en aan die res van die dissipels.

Paulus, wat nie vir Jesus self geken het terwyl Hy as mens op aarde was nie, skryf in 1 Korintiërs 15:5-8 dat Jesus eers aan Petrus verskyn het, toe aan “die twaalf”, later aan 500 mense gelyk, toe aan Jakobus en toe aan al die apostels. Laastens, sê Paulus, het Jesus ook aan Hom verskyn. Dis is ’n verwysing na sy bekering terwyl hy op pad Damaskus toe was om die gelowiges te vervolg.

Lukas

Lukas vertel van twee mense, Kleopas en nog een wie se naam nie genoem word nie, wat van Jerusalem na ’n dorpie genaamd Emmaus stap. Hulle gesels oor alles wat gebeur het, toe Jesus by hulle aansluit. Hulle herken Hom egter nie. Jesus verduidelik vir hulle langs die pad alles wat in die Skrif staan. By hulle bestemming aangekom, dring hulle aan dat Jesus eers saam met hulle eet. Wanneer Hy die brood breek, herken hulle Hom, maar dan verdwyn Hy voor hulle oë. Die twee hardloop toe terug Jerusalem toe om die dissipels te gaan vertel wat gebeur het. Terwyl hulle nog daaroor praat, verskyn Jesus tussen hulle. Hulle skrik, maar Jesus nooi hulle om na die wonde aan sy hande en voete te kyk. Hy vra ook iets te ete en as hulle Hom ʼn stuk gebakte vis gee, eet Hy dit voor hulle. Jesus praat verder met hulle oor wat gebeur het en sê vir hulle hulle moet in Jerusalem bly.

Johannes

Johannes vertel dat Jesus eerste aan Maria Magdalena verskyn het. Sy herken hom eers nie en dink dis die tuinier. Sy vra of Hy weet waar Jesus se liggaam is. Eers as Jesus haar op haar naam noem, herken sy Hom. Sy het toe die dissipels gaan vertel sy het Jesus gesien. Daardie aand is die dissipels saam in ’n vertrek waarvan die deur gesluit is omdat hulle bang is. Jesus verskyn tussen hulle en wys vir hulle sy hande en sy sy. Tomas was egter nie by hulle nie, en as hulle hom later vertel Jesus was daar, glo hy hulle nie. Hy sal net glo as hy self die merke van die spykers in Jesus se hande en die merk van die spies aan sy sy kan voel. ’n Week later is Tomas by as Jesus weer in die geslote vertrek aan hulle verskyn. Dan kan Tomas sy wonde voel en glo.

In Johannes lees ons ook van ’n laaste verskyning van Jesus aan sewe dissipels terwyl hulle probeer visvang op die See van Galilea. Nadat hulle niks gevang het nie, sê Jesus hulle moet die net aan die ander kant van die skuit uitgooi. Hulle doen dit en vang toe ’n groot klomp vis. Intussen het Jesus op die oewer ’n maaltyd van vis en brood vir hulle voorberei. Ná ete vra Jesus drie keer vir Petrus of hy Hom liefhet en drie keer antwoord Petrus bevestigend. Uiteindelik sê Jesus vir hom: “Volg My!”

Die vreemdheid van Jesus se verskynings

Daar is ’n paar dinge in die verskyningsverhale wat vreemd voorkom.

Aan die een kant is daar dinge wat wys dat Jesus met ’n regte liggaam opgestaan het. Hy was nie bloot ’n gees nie. So kan die dissipels sy wonde sien en Tomas kan daaraan vat. Daarby eet Jesus ook in hul teenwoordigheid.

Aan die ander kant blyk dit ook dat Jesus se liggaam nie meer ’n gewone liggaam was nie. Soms herken diegene wat jare saam met Hom geleef het, Hom nie. Daarby verskyn Jesus uit die niet voor hulle terwyl die vertrek waarin hulle is, se deur gesluit is. Net so verdwyn Jesus ook by geleentheid uit hul teenwoordigheid.

Terwyl dit ’n regte liggaam was waarmee Jesus opgestaan het, was dit nie meer ’n gewone liggaam nie. Dit was anders as byvoorbeeld met Lasarus en Jaïrus se dogtertjie, vir wie Jesus albei lewend gemaak het. Hulle het teruggekom uit die dood met dieselfde liggaam wat later weer sou sterf.

Jesus het nie teruggekom uit die dood nie. Hy is deur die dood. Hy het die dood oorwin en het met ’n veranderde liggaam opgestaan.

Paulus skryf in 1 Korintiërs 15 oor die opstandingsliggaam. Dit is iets wat ons nie in hierdie lewe ken nie, maar wat volgens Paulus ’n werklikheid is wat gelowiges ná die dood sal ken.

Die betekenisse van die opstanding

Die opstanding van Jesus Christus uit die dood is ’n sleutelgebeurtenis wat vir gelowiges ryk aan betekenis is. ’n Mens sou ’n klomp dinge oor die betekenis van die opstanding kon sê. Party hou verband met mekaar of oorvleuel. ’n Mens sou waarskynlik nog meer kon sê, maar hier is ’n aantal betekenisse van die opstanding wat ’n mens sou kon noem:

  • Jesus lewe. Al is Hy gekruisig, is Hy nie meer dood nie. Vir gelowiges is Hy ’n lewende teenwoordigheid in hul lewens.
  • Die dood is verslaan. Dit is nie meer iets waarvoor ’n mens bang hoef te wees nie. Die dood sal ons nie van God kan skei nie. Gelowiges sien uit na ’n lewe saam met God ná die dood.
  • Dit is nie net die dood wat verslaan is nie, maar ook die Bose en alle bose magte. Terwyl slegte dinge nog gebeur, kan gelowiges daarom met die versekering lewe dat die bose nie die finale sê sal hê nie.
  • Daarom word gelowiges ook verlos van hul eie boosheid en sonde. Danksy die kruisiging en opstanding spreek God mense vry. Die opstandig is die teken dat God die offer wat Jesus aan die kruis gebring het, aanvaar het.
  • Dit maak dat mense nou reeds, voor die dood, deel kan hê in die nuwe lewe wat deur die opstanding moontlik gemaak word.
  • Dit is nie net vir ’n individuele gelowige wat nuwe lewe nou reeds aanbreek nie. Die opstanding bring ’n nuwe bedeling waarin die opgestane Jesus alle mag in hemel en op aarde kry. Dit is iets van die koninkryk van God wat nou reeds na vore kom, al sal dit eers later volkome werklikheid word.

Die kerk se viering van die opstanding

Sondag, die dag van die opstanding, het baie gou die feesdag van die kerk geword. Dit word ook die dag van die Here genoem. Daarom is elke Sondag en elke erediens eintlik ’n viering van Jesus se opstanding uit die dood.

Athanasius, in die vierde eeu die biskop van Alexandrië in Egipte, het dit die “eersgeborene van die feeste” genoem. 2

Later het ander kerklike feeste ontwikkel wat deel vorm van die kerkjaar. Paasfees, spesifiek Opstandingsdag, is die belangrikste daarvan. Die datum waarop Paassondag val, wissel van jaar tot jaar. In die Westerse kerke val Paassondag op die eerste Sondag ná die eerste volmaan ná die dag-en-nagewening van 21 en 22 Maart.

Woordbank

dag-en-nagewening Die gebeurtenis, twee keer per jaar, wanneer die son met die wisseling van die seisoene reg bo die ewenaar is en wanneer die dag en nag dan ewe lank is.
dissipels Mense wat iemand anders volg om by hom te leer.
evangelie Letterlik: blye boodskap. Dit word op twee maniere gebruik: 1. Die blye boodskap van Jesus se Christus se koms en sy verlossingswerk. 2. Die eerste vier boeke van die Nuwe Testament (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) word die vier evangelies genoem.
getuies Mense wat iets gesien of gehoor het en daarvan kan vertel.
hoeksteen Die eerste steen wat in ’n bouproses gelê word en wat bepaal hoe alle ander stene gelê word.
ironies Anders as wat verwag is.
reukolie Olie wat lekker ruik en wat gebruik is om ’n liggaam te salf of te balsem.
sameswering  ’n Plan wat deur ’n groep mense beraam word om ander ’n rat voor die oë te draai of hulle te benadeel.
sentrale Die kern of belangrikste deel.
uniek Enig in sy soort; merkwaardig; buitengewoon, eiesoortig; onvergelykbaar.

Lees hierdie twee artikels om jou meer te leer van die opstanding

Kyk hierdie video’s om die werklikheid van Jesus se opstanding beter te verstaan

Die kruisiging van Jesus was nie verniet nie

Die tuingraf

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Maart 2024 | Bygewerk op 2 April 2024