Vinnige feite

  • Daar is in 2024 sowat 662 000 mense wat betalende lede van die ANC as organisasie is.
  • Die ANC se “hoofkantoor” is die Luthuli-huis in Johannesburg, wat vernoem is na die ANC-leier Albert Luthuli.
  • Die drieparty-alliansie is ʼn vennootskap van samewerking tussen die ANC, Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die vakbond Cosatu wat in 1990 gevorm is.
  • Die ANC was vir 30 jaar – tussen 1960 en 1990 – deur die apartheidsregering verban.
  • In die ANC se logo verteenwoordig die swart kleur die swart mense van Suid-Afrika, die groen verteenwoordig die vrugbare grond en die goud verteenwoordig die land se ryk mineraalhulpbronne.

 

Foto: iStock

Die African National Congress (ANC) as vryheidsbeweging en uiteindelik politieke party is ’n sleutelrolspeler in Suid-Afrika se politieke landskap. Hierdie artikel neem jou deur die geskiedenis, leierskap, waardes, en beleide van die ANC, met ’n kritiese oog op sy uitdagings en omstredenheid.

Wanneer en waarom is die ANC gestig?

Die ANC is op 8 Januarie 1912 gestig en is een van die oudste politieke bewegings in Afrika. Dit is gevorm in reaksie op die rassediskriminasie wat deur die Suid-Afrikaanse regering van daardie tyd toegepas is.

Die party se vroeë doelwitte het gefokus op die bevordering van gelykheid vir swart mense en die stryd teen onderdrukking.

Hoe die ANC verander het

Oor die jare het die ANC verskillende taktieke in sy vryheidstryd gebruik, insluitend burgerlike ongehoorsaamheid, stakings en, in later jare, ʼn gewapende stryd deur sy militêre vleuel, umKhonto weSizwe (MK). Die party het ’n groot rol gespeel in die Kodesa-onderhandelings wat tot die einde van apartheid in 1994 gelei het.

Die ANC het ’n lang en ingewikkelde geskiedenis, wat verskillende fases insluit, elk gekenmerk deur unieke uitdagings en strategieë. 1

  • Stigtingsfase en vroeë struggle (1912-1948): In hierdie tydperk het die SANNC (die South African Native National Congress wat later die ANC sou word) homself gewy aan die basiese stryd teen die ongeregtighede van vroeë apartheidswette. Hierdie fase was gekenmerk deur petisies, passiewe verset, en pogings om dialoog met die regering aan te moedig.
  • Verhoogde verset (1948-1960): Met die formele instelling van apartheid in 1948, het die ANC sy taktiek verskerp deur die Defiance Campaign (in Afrikaans: “uittartende veldtog”) en ander massaverset-aksies. Die fokus was steeds op niegewelddadige protes, maar met ’n sterker en meer direkte uitdaging teen die apartheidstelsel.
  • Militante struggle en verbanning (1960-1990): Ná die Sharpeville-slagting in 1960 en die daaropvolgende verbod op die ANC, het die party oorgeskakel na ’n meer militante fase met die stigting van sy militêre vleuel, MK. In hierdie tydperk het die ANC ook ’n belangrike speler op die internasionale toneel geword. Die party en sy leierskap was grootliks in ballingskap, en die stryd teen apartheid het toenemend gewelddadig geword.
  • Onderhandelings en bedelingsverandering (1990-1994): Met die vrylating van Nelson Mandela in 1990 en die ontbanning van die ANC, het ’n nuwe fase van onderhandeling begin. Die party het ’n sentrale rol gespeel in die gesprekke wat tot die einde van die apartheidsbedeling gelei het.
  • Regeringsleierskap (1994 tot hede): Sedert die ANC aan bewind gekom het, het die party se fokus verskuif na die regering en die implementering van sy beleid met betrekking tot ekonomiese transformasie, sosiale ontwikkeling, en nasiebou. Hierdie fase is egter ook gekenmerk deur uitdagings soos faksiegevegte, korrupsie, ekonomiese stagnasie, en toenemende openbare ontevredenheid.

Verskillende ANC-leiers

John Langalibalele Dube (1912-1917):
As die eerste president van die ANC, het Dube ’n fondament gelê vir die organisasie as vryheidsbeweging deur onderwys en petisies. Sy leierskap was die grondslag vir die ANC se vroeë benadering tot burgerregte en politieke aktivisme. 1

John L. Dube, eerste president van die ANC.

Albert Luthuli (1952-1967):

Luthuli, wenner van die Nobelprys vir Vrede, het die ANC tydens ’n kritieke tydperk gelei toe die organisasie ’n meer militante houding teen apartheid begin aanneem het. Sy leierskap is gekenmerk deur ’n verbintenis tot geweldloosheid.

Albert Luthuli was ‘n ANC-leier en ontvanger van die Nobelprys vir Vrede.

Oliver Tambo (1967-1991):

Oliver Tambo se lang termyn as president het die ANC deur ʼn moeilike fase gelei, insluitend die verbanning en die vorming van MK. Onder sy leiding het die ANC ’n sleutelspeler op die internasionale verhoog geword.

Oliver Tambo was die langsdienende leier van die ANC.

Nelson Mandela (1991-1999):

Hoewel Mandela die ANC vir ’n kort tydperk voor die 1994-verkiesings gelei het, was sy invloed op die party en die stryd teen apartheid enorm. Sy vrylating uit die gevangenis in 1990 het ’n nuwe era vir die ANC ingelui.

Sedert 1994 was Mandela se termyn as ANC-leier ’n tydperk van hoop, gerig op nasionale eenheid en versoening ná Suid-Afrika se bedelingsverandering. Mandela was die eerste ANC-leier wat ook president van Suid-Afrika sou word.

Oudpres. Nelson Mandela was die eerste ANC-leier wat president geword het.

Thabo Mbeki (1999-2008):

Mbeki se termyn het gefokus op ekonomiese bestendigheid en die bevordering van ’n Afrika-renaissance, ’n poging om Afrika se plek in die wêreld te versterk.

Thabo Mbeki het daarop gefokus op Afrika se vastrapplek in die wêreld te verstewig.

Jacob Zuma (2009-2018):

Zuma se leierskap is oorheers deur korrupsieskandale en ekonomiese agteruitgang. Ondanks aanvanklike gewildheid het sy termyn as ANC-leier en president ’n tydperk van politieke onstabiliteit en wantroue in staatsinstellings geword.

Jacob Zuma se termyn was een van politieke onstabiliteit en wantroue.

Cyril Ramaphosa (2018-hede):

Ramaphosa het die ANC-leisels oorgeneem met ’n belofte van ʼn nuwe daeraad, gefokus op ekonomiese herlewing en die bekamping van korrupsie.

Pres. Cyril Ramaphosa het die ANC-leisels in 2018 oorgeneem met ’n belofte van ʼn nuwe daeraad.

Waar is die ANC op die politieke spektrum?

Die ANC is sentrum-links op die politieke spektrum. Die ANC het invloede wat strek oor ʼn breë spektrum van politieke denke. Onder hierdie invloede is die neomarxistiese karakter. Dit het ʼn belangrike rol gespeel in die party se benadering tot sosiale en ekonomiese kwessies in postapartheid Suid-Afrika. Hierdie benadering weerspieël ’n diep verbintenis tot die stryd teen ongelykheid en die bevordering van sosiale geregtigheid. 2

Een van die belangrike dele van die ANC se neomarxistiese invloed, is sy fokus op ekonomiese transformasie – om te probeer om die ekonomiese landskap van Suid-Afrika te herstruktureer om meer inklusief te wees.

Beleide soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), grondhervorming, en nasionalisering van sekere belangrike sektore weerspieël ’n strewe na die herverdeling van rykdom en hulpbronne.

Die ANC se sosiale beleide – soos toegang tot gratis gesondheidsorg, gratis onderwys en maatskaplike toelaes – wys ook die ANC se neomarxistiese benadering tot die bou van ’n welsynstaat. 3

ʼn Mens sien hierdie neomarxistiese benadering ook in die ANC se buitelandse beleid en verbintenis tot ander bevrydingsbewegings in die wêreld. Die party se steun vir die Palestynse saak en sy kritiek op neokolonialisme en imperialisme is voorbeelde van hoe hierdie ideologiese standpunte in praktiese beleidsrigtings omskep word.

ʼn Mens sien dit ook in die ANC se beleid van kaderontplooiing. Volgens hierdie beleid moet poste gevul word met politieke vertrouelinge, eerder as die mees gekwalifiseerde persoon vir die werk. In die staatsdiens en in die privaat sektor moet mense aangestel word as hulle reg lyk (swart is) en reg dink (lojaal aan die ANC is).

Die ANC se geskiedenis as bevrydingsbeweging het ʼn groot impak op sy huidige karakter, beleid, en ideologiese oriëntasie gehad. Dit het die party se politieke en sosiale doelwitte gevorm én die manier waarop hy sy rol as die regerende party van Suid-Afrika benader.

As ’n bevrydingsbeweging was die ANC gewortel in die stryd teen rassediskriminasie en -skeiding. Hierdie het ’n sterk verbintenis tot sosiale geregtigheid, gelykheid, en die herverdeling van rykdom en hulpbronne ingeskerp. Dit het gelei tot die aanvaarding van ’n reeks beleide wat gemik is op die transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing weg van hoe apartheid-Suid-Afrika gelyk het.

Ook het die oorgang van ’n bevrydingsbeweging na ’n regerende party unieke uitdagings aan die ANC gegee. Die idealisme en strydgees wat die ANC tydens die apartheidsera gekenmerk het, het baie gebots met die kompleksiteite en kompromieë wat met regering en staatsbestuur gepaard gaan.

Dit is waarom sommige mense die ANC beskryf as ʼn bevrydingsbeweging wat nooit mooi geweet het hoe om ʼn regering te word nie. Dieselfde dinge wat vir ʼn bevrydingsbeweging belangrik is, is nie noodwendig belangrik om ʼn land te regeer nie.

Stry en baklei

Sedert sy stigting in 1912, het die ANC ’n sambreelorganisasie geword wat ’n diverse groep van anti-apartheid aktiviste insluit, van gematigde hervormers tot radikale vryheidsvegters. Hierdie vroeë diversiteit het ’n grondslag gelê vir latere interne konflikte, aangesien verskillende groepe verskillende benaderings tot die stryd teen apartheid en later tot die bestuur van die land gehad het.

Die fragmentering waarmee die ANC sukkel, is ook gewortel in die party se stryd om sy breë ideologiese spektrum asook die intense mededinging om politieke en ekonomiese mag binne die party te versoen.

Soos wat die ANC oorgeskakel het van ’n bevrydingsbeweging na ’n regerende party, het die druk om ekonomiese en sosiale hervormings te bewerkstellig, verskerp. Hierdie het uiteindelik onderliggende probleme in die party versterk en uitgelig.

Die groot faksies binne die ANC kan oor die algemeen in twee breë kampe gekategoriseer word: 4

  • die radikale of linkse groepering wat pleit vir enorme strukturele veranderings aan Suid-Afrika se ekonomie en samelewing (wat insluit meer aggressiewe grondhervorming en nasionalisering van sektore en radikale ekonomiese transformasie); en
  • ʼn sentristiese en pragmatiese faksie wat ’n meer pragmatiese benadering tot bestuur ondersteun, probeer fokus op inklusiewe groei, beleggingsaantrekkingskrag en stabiliteit.

Die radikale groep word dikwels met ander figure soos Julius Malema, Ace Magashule, Jacob Zuma, Supra Mahumapelo en David Mabuza geassosieer. Hierdie faksie voer aan dat die ANC se beleid te konserwatief was en nie daarin geslaag het om ekonomiese ongelykhede die hoof te bied nie.

Die sentristiese en pragmatiese faksie word weer verbind met leiers soos Thabo Mbeki. Hulle voer aan dat radikale ekonomiese beleid die ekonomie kan destabiliseer en investering kan afskrik, en eerder vir geleidelike hervormings en vennootskappe tussen die regering en privaat maatskappye gevra.

’n Ander belangrike skeiding is tussen reformiste (wat groter deursigtigheid, aanspreeklikheid, en die bekamping van korrupsie wil hê) en die lojaliste (wat dikwels verbind is aan gevestigde belange en individuele leierskapfigure).

Die verskillende faksies het oor die algemeen steeds dieselfde beleidsdoelwitte wat hulle wil bereik – hulle verskil net oor hóé dit bereik moet word.

Die ANC se nasionale konferensies, veral dié by Polokwane in 2007 en Nasrec in 2017, het die diepte van die party se interne verdeeldheid beklemtoon. Hierdie konferensies, wat onderskeidelik Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa verkies het, is gekenmerk deur intense faksionalisme en het ’n groot verskuiwing in die party se leierskap en beleidsrigting aangedui.

Die leierskapstryde weerspieël dikwels breër ideologiese en strategiese verdeeldheid binne die party, met elke faksie wat saamstaan agter kandidate wat hulle glo hul visie vir die party en die land sal bevorder. 5

Die interne fragmentering van die ANC het verskeie gevolge gehad, insluitend beleidsonsekerheid, probleme met bestuur, en ’n onvermoë om daadwerklik aandag te gee aan korrupsie in die party. Die party se verdeeldheid het ook na die regering oorgespoel, wat dienslewering en ekonomiese beleid beïnvloed.

Dié voortslepende faksiegevegte toets nie net die ANC se veerkragtigheid as politieke organisasie nie, maar het ook diepgaande implikasies vir Suid-Afrika se politieke stabiliteit.

Die ANC se nalatenskap

Die nalatenskap van die ANC het heelwat verander sedert 1912. Oorspronklik gestig as ’n beweging om die regte van die swart meerderheid te beskerm en te bevorder, het die ANC homself gevestig as die stem van verset teen apartheid. Gedurende die vroeë en middel 20ste eeu was die ANC ’n simbool van hoop en vryheid vir baie swart mense, wat ’n niegewelddadige stryd en later ’n gewapende stryd teen apartheid gelei het.

Ná die einde van apartheid en die ANC se opkoms tot mag in 1994, het die party se fokus verskuif van verset na regering. Die aanvanklike jare onder Mandela se leierskap is gekenmerk deur ’n strewe na nasionale eenheid en die opbou van ’n “reënboognasie”. In dié tydperk het die ANC se nalatenskap as ’n bevrydingsbeweging dit ’n aansienlike mate van morele gesag gegee.

Staatskaping

In die afgelope jare het die party se nalatenskap ingewikkeld geword weens uitdagings soos korrupsie, wanbestuur, en die mislukking om doeltreffend aandag te gee aan ekonomiese agteruitgang. Die staatskapingsera en ander hoëprofiel-korrupsiesake het die party se reputasie ernstige skade berokken.

Staatskaping het veral prominent geword tydens die termyn van Jacob Zuma. 6

Regter Raymond Zondo het uiteindelik ’n kommissie van ondersoek na staatskaping gelei. Dié kommissie het gekyk na die aard, omvang, en impak van staatskaping in Suid-Afrika. Die Zondo-kommissie het verslae uitgereik wat wys hoe individue en private entiteite, veral die Gupta-familie, ʼn verskriklike invloed op staatsbesluite, tenderprosesse, en die aanstelling van sleutelpersoneel in staatsbeheerde ondernemings verkry het.

Die verslae het ook gewys dat ANC-lede tot op die hoogste vlak by staatskaping betrokke was óf dit moontlik gemaak het. Dié verslae was die grootste onthulling van korrupsie in Suid-Afrika sedert 1994.

Dié onthullings het die ANC onder baie druk geplaas om sy lede en leiers wat van korrupsie en betrokkenheid by staatskaping beskuldig word, verantwoordbaar te hou.

Een van die dinge wat staatskaping moontlik gemaak het, is die verweefdheid tussen die ANC as die regerende party en die staatsdiens. Die lang beheer van die ANC oor die regering het ’n omgewing geskep waarin ‘n mens nie meer mooi kon onderskei tussen party en staat nie – dit het die potensiaal vir magsmisbruik vergroot.

Staatskaping het veroorsaak dat mense die ANC skerp veroordeel en minder vertrou. Hoewel die ANC gesê het hy gaan op korrupsie fokus, bly daar onsekerheid oor die party se vermoë en wil om werklik teen magsmisbruik binne sy eie geledere op te tree.

Daar is steeds in die ANC die invloed van faksies en individue wat met staatskaping geassosieer word.

Die toekoms

Terwyl die ANC ’n onbetwiste rol in die einde van apartheid gespeel het, bly die party se huidige status ingewikkeld, met lof vir sy historiese bydraes, maar ook beduidende kritiek oor sy hedendaagse uitdagings. Die toekoms van die ANC in Suid-Afrikaanse politiek sal waarskynlik afhang van sy vermoë om te hervorm en die vertroue van sy kiesers te herwin.

Woordbank

Afrika-renaissance Dit is ʼn filosofiese en politieke beweging wat gebruik word om sosiale saamhorigheid, demokrasie, ekonomiese heropbou en groei vir Afrika-ontwikkeling aan te dui.
aggressiewe Aanvallende, bakleierige.
aktivisme Die beleid of optrede om kragtige veldtogte te gebruik om politieke of sosiale verandering teweeg te bring.
alliansie Vereniging/verbond tussen mense/volke; bondgenootskap.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in rassegroepe geskei is.
ballingskap Iemand wat in ballingskap is, het sy of haar land verlaat om vervolging deur die regering te voorkom.
bedelingsverandering Verandering van stelsel of reëling.
beduidende Betekenisvolle.
beleggingsaantrekkingskrag Dit wat beleggers aanmoedig/aantrek om geld in ’n land te belê.
burgerlike ongehoorsaamheid Inwoners van ʼn land wat teen die wet optree.
destabiliseer Onstabiel maak, ontwrig, omverwerp.
deursigtigheid Op ʼn oop wyse, sonder enige geheime.
dialoog Gesprek.
die hoof te bied Iets teenstaan, beveg, oorkom.
diverse Uiteenlopende/veelsydige; verskillende, veelsoortige.
entiteit Iets wat werklik bestaan en ʼn duidelike identiteit van sy eie het.
era ʼn Tydperk in die geskiedenis.
faksie ʼn Groep mense wat binne ʼn groter organisasie hul eie belange wil bevorder.
fragmentering Versplintering.
gekategoriseer Indeel, klassifiseer, rangskik, sorteer.
gewortel Gevestig, gegrond op.
grondhervorming Beleid wat daarop gemik is om die patroon van eiendomsbesit stelselmatig te verander.
herstruktureer Nuut en anders struktureer/organiseer.
hoëprofiel-korrupsiesake Hoëprofielsake handel gewoonlik oor ʼn persoon wat ʼn invloedryke posisie in die samelewing beklee, hetsy polities, kommersieel, godsdienstig of andersins.
idealisme Geloof in of nastreef van ideale/idees.
ideologiese Dit wat politieke, kulturele of godsdienstige oortuigings beskryf.
imperialisme Die politieke beleid van ʼn staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring.
ingelui Die begin van ʼn gebeurtenis, tydperk, ens. aankondig.
ingeskerp Om iemand/mense bewus te maak van die belangrikheid van iets.
inklusief Wat almal/alles insluit.
internasionale verhoog Wanneer ʼn persoon/organisasie op ʼn belangrike manier optree of presteer wat ʼn impak op internasionale aangeleenthede het.
interne Binne ʼn volk, groep, party, organisasie, regering.
investering  Belegging.
imperialisme Die politieke beleid van ʼn staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring.
implikasies Gevolge.
kader Persoon of groep wat opgelei is om die opdragte van ʼn party uit te voer, wat die doelwitte van die party vurig ondersteun en lojaliteit en gehoorsaamheid aan partyreëls en -regulasies stimuleer of afdwing.
kaderontplooiing Die aanstelling deur die regerende party van lojale kaders om te verseker dat doelwitte van die party getrou nagestreef en uitgevoer word.
kompleksiteite Alles wat moeilik en ingewikkeld is.
kompromieë Ooreenkomste waarin al die betrokkenes minder aanvaar as wat hulle oorspronklik wou hê; skikking waarby elke kant iets toegee.
konflikte Stryd/botsings/rusies tussen mense/groepe/partye/lande.
konserwatief Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie; behoudend.
korrupsie Oneerlike optrede om jouself of ʼn ander te bevoordeel; omkoop of die meedoen daaraan.
kritiese oog Beoordelend.
militante Strydlustig, vyandig, aanvallend, militaristies.
nalatenskap Dit wat jy agter los vir volgende geslagte.
nasionalisering Onder die beheer van die staat bring.
neokolonialisme Die sosio-ekonomiese stelsel waar ekonomiese en sosiale mag in die hande van wit kapitaliste en die wit minderheidsbevolking bly onder die dekmantel van swart politieke beheer.
neomarxistiese ʼn Vorm van sosiale beheer van werkers.
nuwe daeraad Aanbreek van ʼn nuwe era/tydperk.
omstredenheid Waaroor baie gestry word; betwisbaar, aanvegbaar; iets wat bevraagteken word.
onderhandelings Dis waar daar mondeling of skriftelik iets bespreek word met ʼn ander party/partye om tot ʼn ooreenkoms te probeer kom.
onderliggende   Verborge, wat nie sigbaar is/was nie.
onthulling Iets bekend maak aan die publiek, dikwels iets negatiefs.
oriëntasie Stand, posisie.
passiewe verset Weiering om iets te doen.
petisies Versoek aan die owerheid in skriftelike vorm.
politieke landskap Hoe die politiek in ʼn land lyk en werk.
politieke onstabiliteit Wanneer ‘n land se regering vinnig kan verander of onseker is.
politieke spektrum Die verskillende idees en oortuigings oor hoe regering en politiek moet werk.
postapartheid Ná apartheid.
radikale Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal.
rassediskriminasie Diskriminasie teenoor die lede van ʼn ras wat as minderwaardig beskou word op grond van velkleur/geloof/ens. deur basiese menseregte van hulle te weerhou.
reputasie Dit waarvoor iemand bekend is, hetsy goed of sleg.
sambreelorganisasie ʼn Organisasie wat die aktiwiteite van verskeie ander organisasies (wat almal ʼn soortgelyke doel het) beheer of organiseer.
sektore Afdelings of gebiede van iets.
sentrum-links Mense of partye in die politiek wat ‘n bietjie meer verandering wil hê as die middel. Hulle ondersteun dinge soos regeringsprogramme, regeringsinmenging en herverdeling van welvaart.
sleutelrolspeler Wat ʼn baie belangrike rol speel.
staatsinstellings Owerheidsinstelling, veral een wat deur die sentrale regering opgerig en in stand gehou word (skole, hospitale, ens).
stagnasie Stilstand.
stakings Die weiering van werkers om met hul werk voort te gaan, veral om beter diensvoorwaardes te probeer verkry.
 strategieë Wyses waarop ʼn mens volgens beplanning beoog om ʼn doel te bereik.
struggle Die stryd om apartheid te beëindig.
swart ekonomiese bemagtiging Beleid van die Suid-Afrikaanse regering wat daarop gemik is om breër deelname aan die ekonomie deur swart mense te fasiliteer.
taktieke Oordeelkundige optredes, handelings, bewegings om die einddoel te bereik.
termyn Vasgestelde beperkte periode, tydsduur; ampstyd, sitting.
transformasie Gedaanteverandering, herskepping, vervorming.
umKhonto weSizwe umKhonto weSizwe (MK) was die militêre vleuel van die ANC en beteken “Spies van die nasie”. Daar is tans ‘n politieke party met dieselfde naam, onder leierskap van Jacob Zuma.
veerkragtigheid Die vermoë om te herstel, of om ernstige terugslae te weerstaan.
vennootskappe Ooreenkomste waarby twee of meer persone hulle verbind om iets saam te doen en die voordele daarvan met mekaar deel.
verantwoordbaar Verantwoordelikheid neem.
verbanning Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ʼn land uitstuur; uitstoot; verdryf.
verweefdheid Om so verbind te wees dat dit moeilik is om te skei.
visie ʼn Idee of prentjie van hoe iets moet wees.
welsynstaat Staat met hoogontwikkelde sosiale dienste, bv. gesondheidsorg/versekering/pensioene/werklosesorg/ens., wat alles deur die staat gefinansier word.

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die politieke spektrum

Verstaan staatskaping met hierdie animasievideo

Kaderontplooiing, die storie van staatskaping – die oorsaak van korrupsie in Suid-Afrika

Radikale ekonomiese transformasie

Staatskaping – die oorsprong en effek daarvan in ’n neutedop

10 dinge wat jy van Ramaphosa moet weet

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Mei 2024 | Bygewerk op 17 Mei 2024