Die Afrikaanse spreekwoord “so gemaak, en so gelaat staan” is vir baie dinge waar, maar beslis nie vir Afrikaans nie.

Aantal sprekers 

Afrikaans is die moedertaal van meer as ses miljoen Suid-Afrikaners (sowat 12,2%) en is, naas Zoeloe en Xhosa, die derde grootste taal in die land. 1

Huisgenoot, 1935

Oorsprong

Hierdie taal, met sy kleurvolle woordeskat wat hoofsaaklik uit Nederlands tot stand gekom het, is tot ’n mindere en meerdere mate beïnvloed deur verskeie ander tale, insluitende Maleis, Khoi, Duits, Engels en Frans. Die vestiging van ’n verversingspos van die Generale Vereenighde Nederlantsche Geoctroyeerde Oostindische Compagnie, beter bekend as die VOC, aan die Kaap in 1652 het Nederlands op ’n meer permanente basis na die suide van Afrika gebring.

Hoewel Nederlanders en Portugese seevaarders, soos Bartholomeu Dias (1488) en Vasco da Gama (1498), 2 amper 200 jaar vóór Jan van Riebeeck se koms reeds die klanke van Europese tale aan die suidpunt van Afrika laat hoor het, het die permanente vestiging van Nederlandsprekendes sowel as die koms van Duitsers, Franse en die slawe uit verskeie streke in die Ooste sowel as elders in Afrika die klimaat vir die omvorming van die Europese Nederlands geskep.

Teen 1750 is ’n vroeë vorm van Afrikaans reeds aan die Kaap gepraat. Dit was ’n taal wat selfs vir Nederlandse reisigers uitermatig vreemd op die oor geval het. Een Nederlander wat as tolk in die Kaap kom werk het, J.G. Swaving, het byvoorbeeld in 1830 oor dié taal opgemerk (vertaal in Afrikaans): “Dit is ’n heeltemal nuwe taal vir my, naamlik ’n vorm van baster Hollands, wat in hierdie land gepraat word deur die boere en slawe en ook deur die Hottentotte [sic] en alle soorte van vry heidense stamme.” 3

1870’s Kaapstad hawe

Baster Hollands

Met tyd het die inwoners aan die Kaap en die grensgebiede van die latere Britse kolonie hul van Europa gespeen, wortelgeskiet in Afrika en toenemend na hulself as “Afrikaners” verwys. 4 Later sou hul moedertaal, die sogenaamde “baster Hollands”, ook die naam van die kontinent aangeneem en as Afrikaans bekendstaan – ’n taal van Afrika.

Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) en die Eerste Taalbeweging

Afrikaans se totstandkoming het egter nie oornag plaasgevind nie en “honderde, nee duisende, eintlik ’n ‘ongetelde skare’” het, volgens die taalhistorikus prof. J.C. (Jaap) Steyn, gehelp om van Afrikaans ’n kultuurtaal te maak. 5 Die eerste formele poging om van dié “kombuistaal” ’n skryftaal te maak het gekom van ’n groep Afrikaners van die Paarl wat onder leiding van ds. S.J. du Toit gestaan het. Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) is op 14 Augustus 1875 gestig om Afrikaners te oortuig dat hulle ’n eie taal het, naamlik Afrikaans.

In 1916 is die Hertzogprys (wat jaarliks om die beurt vir drama, poësie of prosa toegeken word) aan Totius toegeken vir sy digbundel Trekkerswee. Die eerste gedig daarin is getiteld “Silwer strale”. Die eerste strofe daarvan lui: “Dis heuwels, heuwels net / sover ’n mens se oog kan speur: / grasheuwels waar ook riwwe gaan, / met enkele stroompies tussendeur.”

Die vertaling van die Bybel in Afrikaans was vir die GRA ook ’n noodsaaklikheid. “Die regte weg is nou om die volk ’n Bybel in die taal te gee wat hulle aldae praat en dus die beste verstaan, maar voor dit kan geskied, moet die volk eers tot die oortuiging gebring word dat hulle ’n eie taal het, en die taak is moeiliker as wat dit, oppervlakkig beskou, lyk,” het Du Toit in 1880 geskryf. 6

Hoewel die GRA-lede nie die eerste mense was wat in Afrikaans geskryf het nie, was hulle wel die eerstes wat die taal op ’n georganiseerde wyse bevorder het. Die stigting van die GRA word as ’n belangrike mylpaal in die geskiedenis van die taal beskou en as die begin van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. 7

Die Anglo-Boereoorlog en Afrikaans

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het ’n groot deel van die Afrikaanssprekende gemeenskap ekonomies en geestelik verwoes. Die vredesvoorwaardes na afloop van die oorlog het boonop onder meer bepaal dat Engels die enigste voertaal in die land se administrasie en gereg sou wees en slegs beperkte voorsiening is vir die gebruik van Hollands gemaak. 8

Hoewel die akademikus John Kannemeyer reken dat die oorlog nie veel vir die Afrikaanse taalstryd beteken het nie, 9 meen die vooraanstaande Afrikaanse digter en denker, N.P. van Wyk Louw, dat: “die groot stryd, al is hy verloor, het die Afrikaanse volk trots gemaak: hy het vir die wêreld gewys dat hy drie jaar lank teen die magtigste ryk van dié dae kon veg.” 10

Die Mei 1924-uitgawe van die Afrikaanse vrouetydskrif, Die Boerevrou. Dit was die eerste Afrikaanse vrouetydskrif – verskeie ander sou in die jare daarna volg, insluitende Sarie Marais (later bekend as Sarie) en Rooi Rose.

Die Tweede Taalbeweging

’n Tydperk van verengelsing het ná die oorlog gevolg, maar die Tweede Afrikaanse Taalbeweging wat in dié tyd begin is het veel gedoen om Afrikaans te laat groei. Op 13 Desember 1905 word die Afrikaanse Taalgenootskap (ATG) gestig met die doel om “Afrikaners te oortuig van hulle taal, om die Afrikaanse taal in ’n suiwer vorm te ontwikkel en ’n Afrikaanse nasionaliteitsgevoel aan te kweek”. 11 In Augustus 1908 het dr. D.F. Malan, toenmalige predikant op Montagu en latere koerantredakteur en eerste minister, verklaar: “Gee aan die jong Afrikaner ’n skryftaal wat vir hom maklik en natuurlik is, en u het daarmee ’n bolwerk teen die verengelsing van ons volk.” 12

D.F. Malan

Afrikaans as onderwystaal

In 1914 is ’n reusesukses in die geskiedenis van die taal behaal, toe Afrikaans as onderrigmedium in skole erken is. 13 Teen 1918 is in ’n hoofartikel van De Burger oor die vordering van Afrikaans opgemerk dat waar die jonger geslag voorheen verkies het om, in plaas van in Hollands, in Engels te skryf, hulle nou veel eerder in Afrikaans skryf. In die tweede helfte van daardie jaar is Afrikaans ook vir die eerste keer tot universiteitsvak verhef. 14

FAK eerste uitvoerende komitee, 1919

Afrikaans word ’n amptelike taal

Die vordering van Afrikaans op onderwysgebied het die weg gebaan vir amptelike erkenning van Afrikaans en die taal is op 8 Mei 1925 uiteindelik as amptelike taal erken. 15 C.J. Langenhoven se immergewilde Brolloks en Bittergal het in dieselfde jaar vir die eerste keer verskyn.

C.J. Langenhoven

Die Bybel in Afrikaans

Die publikasie van die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans het nagenoeg ’n dekade later, in 1933, gevolg. In Oktober 1933 is berig dat nagenoeg 200 000 eksemplare van die Bybel in slegs nege maande gedruk is, en teen Desember daardie jaar is sowat 1 000 Bybels per dag verkoop. Meer as 266 000 Bybels is vanaf die bekendstelling daarvan in Mei 1933 tot Desember 1934 verkoop – in daardie stadium ’n rekordgetal vir die eerste uitgawe in ’n nuwe taal. 16

Afrikaans groei op elke gebied

Die dekades wat hierop gevolg het, was jare van ongekende groei en oplewing vir die taal – die publikasie van Afrikaanse boeke, skryf van toneelstukke, musiek en vervaardiging van Afrikaanse radioprogramme en rolprente het gevolg.

Ons Klyntji, die eerste Afrikaanse tydskrif, se eerste uitgawe het in Maart 1896 verskyn. Die foto toon die voorblad van die Maart 1904-uitgawe van die tydskrif.

Afrikaans gedurende apartheid

Politieke onstabiliteit van die 1970’s het egter in ’n stryd oor Afrikaans ontaard. Op 16 Junie 1976 het duisende skoliere in Soweto teen Afrikaans as voertaal in skole betoog. Die geweld het uitgekring en uiteindelik is aangekondig dat Engels as voertaal in swart skole ingestel kan word. 17

Betoging, Soweto

Afrikaans sedert 1994

In 1994, met die oorgang van Suid-Afrika na ’n demokratiese bedeling, is Afrikaans as een van die elf amptelike tale aangewys. Afrikaans is egter sedertdien grotendeels by voormalige Afrikaanse universiteite afgeskaf. Tog werk verskeie instellings – insluitende die burgerregte-organisasie AfriForum – vir die beskerming van Afrikaans as primêre onderrigtaal en die bevordering daarvan in die formele sektor. 18

Eerstes in Afrikaans

  • Koerant: Die Afrikaanse Patriot (15 Januarie 1876).
  • Tydskrif: Ons Klyntji (Maart 1896).
  • Historiese roman: Di Koningin van Skeba, deur S.J. du Toit (1898).
  • Gepubliseerde toneelstuk: Magrita Prinsloo, of Liefde getrou tot in die dood, deur S.J. du Toit (1897).
  • Hertzog-prys: In 1916 toegeken aan Totius vir sy digbundel Trekkerswee.
  • Bybelvertaling (boek): Genesis, deur S.J. du Toit (1893).
  • Bybelvertaling (volledig): 1933
  • Kinderbybel: Bybelgeskiedenis vir ons volk, deur W.J. Conradie (1912).
  • Vroueblad: Die Boerevrouw (1919) (die naam is in Junie 1920 na Die Boerevrou verander).
  • Stilrolprent: De Voortrekkers (1916).
  • Klankrolprent: Moedertjie (1931).
  • Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS): 1917
  • Appèlhofuitspraak: Regter F.W. (Willie) Beyers op 27 Oktober 1932. 19
  • Openbare radio: Openingsrede deur administrateur van die Vrystaat, E.R. Grobler op 18 Desember 1923. 20
  • Nuusbulletin op televisie: Deur Riaan Cruywagen op 26 November 1975. 21
  • Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT): Verskyn die eerste keer in 1965. 22
’n Toneel uit die eerste Afrikaanse klankrolprent, Moedertjie, wat in 1931 vrygestel is.

Meer oor …

Die Burger

Die eerste uitgawe van De Burger het op 26 Julie 1915 verskyn. Die eerste sinne van die hoofartikel van die koerant het gelui: “De Burger is ’n kind van smart en hoop. Hy is gebore uit die wee van ons volk. Indien swaar rampe ons volksbestaan nie getref het nie, sou hy seker nie daar gewees het nie.” 23

Huisgenoot

In Mei 1916 verskyn die eerste uitgawe van De Huisgenoot. Die tydskrif het vanaf Desember 1917 as Die Huisgenoot bekendgestaan. 24

De Huisgenoot (later Die Huisgenoot en tans slegs bekend as Huisgenoot) het in Mei 1916 die eerste keer op die rak verskyn. Dié voorblaaie van uitgawes wat in 1935, 1948, 1958 en 1983 verskyn het, toon die metamorfose wat die tydskrif met tyd ondergaan het.

Huisgenoot van 1959

Afrikaans – ’n taal gemaak uit vele ander tale

Verskeie Afrikaanse woorde se herkoms is te danke aan die verskeie tale waarmee vroeë sprekers in aanraking gekom het, insluitende Khoi, Maleis en Portugees.

Hier is enkele woorde uit dié tale wat tot die kleurvolle Afrikaanse woordeskat bygedra het:

  • abba (Khoi)
  • kierie (Khoi)
  • eina (Khoi)
  • tokkelossie (Zoeloe)
  • piesang (Maleis)
  • blatjang (Maleis)
  • baie (Maleis)
  • kraal (Portugees)
Afrikaanse Taalmonument

Foto: AfriForum UitgewersFoto: ShutterstockFoto: AfriForum UitgewersFoto: AfriForum UitgewersFoto: iStockFoto: AfriForum UitgewersFoto: iStockFoto: iStockFoto: AfriForum UitgewersFoto: AfriForum UitgewersFoto: AfriForum UitgewersFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Februarie 2022 | Bygewerk op 5 Maart 2024