Vinnige feite

  • Die naam “silwer” kom van die ou Anglo-Saksiese woord sealfor, wat van die Germaanse woord silabar kom. 17
  • Die simbool op die periodieke tabel (Ag) kom van die Latynse woord vir die metaal, argentum. 12 Hierdie woord beteken “blink wit”.
  • In Antieke Egipte was silwer kosbaarder as goud. 18
  • In die Griekse mitologie ry die godin Artemis op ’n silwerstrydwa terwyl sy silwer maanstrale met haar boog na die aarde skiet. 13
  • Silwerjodied is al gebruik om wolke te laat reën. 13
  • Silwerkristalle is vierkantig. 13
  • In Indië is kos soms met ’n dun lagie silwer, wat “varak” genoem is, versier. 13
  • Argentinië se naam kom van die naam vir silwer (argentum), want die Spaanse veroweraars wat daar aangeland het, het silwergeskenke van die inwoners ontvang. 13
  • Bakterieë kan nie ’n weerstand teen silwer opbou, soos wat hulle met antibiotika kan maak nie. 13
  • ’n Silwerkoeël is glo die enigste ding waarmee ’n mens ’n weerwolf kan oorwin. Deesdae verwys dit egter in ’n algemener sin ook na ’n perfekte of ideale oplossing vir ’n moeilike probleem. 13
Foto: iStock

Silwer is ’n blink edelmetaal (net soos goud en platinum) wat op die periodieke tabel met die simbool “Ag” voorgestel word. Mense beskou dit as waardevol omdat dit gebruik word om juwele te maak, en omdat dit ’n goeie geleier van elektrisiteit is. 1 Silwer is ook baie eeue lank as betaalmiddel gebruik. 2

Hoewel silwer nie vreeslik reaktief is nie, slaan silwervoorwerpe met tyd aan en kry dit ’n lagie swart silwersulfied as ’n mens dit nie skoonmaak nie. 3 Dit is ’n vorm van verwering, en hoewel suiwer silwer nie kan roes nie, reageer dit wel met swaelverbindings in die lug en vorm dan silwersulfied. Gelukkig kan hierdie aanpaksel maklik verwyder word.

Wanneer en deur wie is dit ontdek?

Silwer word al so lank gebruik dat ons nie meer kan vasstel wie dit ontdek het nie. Ons weet wel dat prehistoriese mense dit al van 5000 jaar v.C. begin ontgin het, 4 en dat dit al meer as 6 000 jaar lank as ’n kosbare metaal beskou word. 2

Ongeveer 3000 v.C. is die eerste groot silwermyne gevestig. Die silwermyne in Anatolië, ’n streek in die huidige Türkiye (voorheen Turkye), het juis ontstaan omdat die stadstate in die antieke tye silwer as betaalmiddel gebruik het. 4

Die metaal is in daardie tyd gelouter (suiwer gemaak) deur middel van ’n proses wat as kupellasie bekend staan. Die eerste mense wat dit gedoen het, was die Chaldeërs (’n volk wat vanaf 800 v.C. oor Babilonië – die huidige Irak – geheers het). Die metaal word in ’n vlak bekertjie gesmelt en verhit, en dan word lug daaroor geblaas. Die ander metale in die mengsel, soos lood en koper, oksideer, en net die suiwer silwer bly agter. 5

In 1200 v.C. het die Grieke groot silwerneerslae by Laurius (omtrent 50 km suid van Athene in Griekeland) ontdek. Die silwer uit hierdie myne het die Grieke só ryk gemaak dat hulle ’n baie sterk weermag kon opbou. Met hierdie sterk weermag kon hulle die Perse uit die streek verdryf en die sterkste land rondom die Middellandse See word. Een van hulle silwermunte, die Atheense uil, is dwarsdeur die hele Mediterreense streek as geldeenheid gebruik. 4

Die Romeinse Ryk het ook baie van sy rykdom uit silwer gekry. In ongeveer 200 v.C. het die Romeine Spanje oorgeneem en op dié manier beheer gekry oor Spanje se silwermyne. Geskiedkundiges meen dat die Romeine elke jaar ongeveer 200 ton silwer uit Spanje gekry het. 4 Net soos die Grieke, het die Romeine hul inkomste uit silwer gebruik om ’n sterk weermag op te bou, sodat hulle daarmee die res van Europa kon oorneem en beheer.

Een van die groot redes vir Spanje en Portugal se kolonisering van Suid-Amerika in die laat 1400’s was hulle oortuiging dat daar groot hoeveelhede silwer en goud in hierdie kontinent was. In 1545, minder as 50 jaar nadat Spaanse ontdekkingsreisigers in Suid-Amerika geland het, het hulle groot silwerneerslae in Bolivië ontdek. Die jaar daarna is silwer in Mexiko en Peru gevind. Hierdie silwer het die Spaanse conquistadors (veroweraars) baie ryk gemaak. 4

Groot silwerneerslae is ook in die 1800’s in die Verenigde State van Amerika (VSA) ontdek, wat op dieselfde manier stormlope veroorsaak het as toe goud daar ontdek is. 4

Waar kom dit voor?

Net soos goud, is silwer die produk van supernovas. Wanneer ’n supernova plaasvind, genereer dit soveel hitte dat die kerne van atome versmelt in ’n proses wat wetenskaplikes kernfusie (in Engels: nuclear fusion) noem, en verskillende elemente word in die proses gevorm. Die fusieproses waardeur silwer gevorm word, staan bekend as die swak-r-proses. 6

Omdat silwerneerslae dus gevorm is uit sterstof wat op die aarde geval het, is dit logies dat silwer wydverspreid oor die aarde voorkom. Silwer is egter ook relatief skaars in vergelyking met ander metale. Daarby kom dit ook meestal voor in kombinasie met ander metale, soos lood, koper en sink, en daarom is silwer dikwels ’n neweproduk van die ontginning en suiwering van ander metale. 1 Silwer kan egter ook in sy suiwer vorm in die natuur gevind word.

Die drie lande in die wêreld wat in 2022 die meeste silwer geproduseer het, was Mexiko (24% van algehele produksie), China (13,6%) en Peru (13%). Daarna volg Pole en Chile. 7

Waarvoor word dit gebruik?

Silwer is ’n relatiewe sagte metaal. Dit beteken voorwerpe wat uit silwer gemaak word, kan maklik buig of krap. Daarom meng silwersmede ander metale by die silwer in, net om dit meer duursaam te maak. Ons noem hierdie silwermengsel “sterlingsilwer” (in Engels: sterling silver), dit is gewaarborgde, egte silwer, wat ’n allooi is van 92,5% silwer en 7,5% koper en ander metale. 5

Oor die jare het ons silwer vir ’n hele paar verskillende doeleindes gebruik:

Juweliersware en ander kosbare voorwerpe

Omdat silwer so mooi blink en relatief maklik is om mee te werk, word dit al vir eeue as metaal in juweliersware gebruik. Die Mesopotamiërs het al silwer vir juweliersware gebruik, en ons lees van silwerjuwele in die Bybel. Onthou jy die gelykenis wat Jesus vertel het van die vrou wat een van haar kosbare silwerstukke verloor het, en toe al haar vriendinne en bure gevra het om te help soek daarna? (Lees die gelykenis in Lukas 15:8-10.)

Dwarsdeur die geskiedenis is silwer as ’n kosbare metaal gebruik, nie net vir juweliersware nie, maar vir die vervaardiging van messegoed en ander tafelversierings, vir religieuse (godsdienstige) simbole soos kandelare en kruise wat in katedrale en kerke in seremonies gebruik is, en vir medaljes wat tydens prysuitdelings aan akademiese uitblinkers, atlete en ander presteerders uitgedeel word. 8

Betaalmiddel

Op dieselfde manier as wat goud as ’n betaalmiddel gebruik is, is silwer in handelstransaksies gebruik. 5 Stel jou voor jy moet by ’n winkel met silwer vir lekkergoed of ’n brood betaal. Hoeveel silwer het jy daarvoor nodig? Hoe weet die winkelier die silwer waarmee jy betaal, is suiwer? En hoe gee die winkelier vir jou kleingeld as jou stukkie silwer te veel is?

Om dié probleem op te los, het regerings munte van silwer gemaak. Omdat munte gestandaardiseer is (presies dieselfde eienskappe en waarde het), is dit vir die twee partye wat handel dryf, moontlik om te weet presies hoeveel ’n bepaalde silwermunt werd is. Dit maak dit makliker om die verkoopstransaksie te beklink.

Ons het reeds verwys na die Atheense uil, die muntstuk wat algemeen gebruik is toe Griekeland die grootste handelsnasie in die wêreld was. Ons lees in die Bybel ook van silwermuntstukke: Judas het Jesus vir 30 silwerstukke verraai (Mattheus 26:15).

Ander lande het ook bekende silwermunte gemaak: Die VSA het die bekende Morgan-dollar gemunt, Australië het ’n floryn gehad, en Brittanje het ’n silwer handelsmunt gemaak, sodat sy kolonies in die Ooste een geldeenheid kon gebruik. Kanada het ’n munt met die bekende esdoringblaar (in Engels: maple leaf) op gemaak wat amper 100% suiwer is en dus baie gewild is onder versamelaars. Die Mexikaanse silwerpeso en die Chinese panda-munt is ook gesogte versamelaarsitems. 9

Suid-Afrika munt ook ’n silwermunt vir versamelaars. Net soos wat ons die bekende goue Krugerrand maak, het ons ’n Krugerrand wat suiwer silwer bevat. Dit beteken versamelaars weet presies hoeveel silwer hulle besit as hulle hierdie munt koop. 10

Deesdae gebruik lande nie sommer meer egte silwermunte as algemene betaalmiddel nie, want die waarde van die silwer is meer as die waarde van die munt.

Elektronika

Silwer se belangrikste gebruik in nywerheid, is in elektronika. Min ander elemente is só ’n goeie termiese (hitte-) en elektriese geleier, daarom gaan silwer nie maklik deur goedkoper materiaal vervang kan word nie. In skakelaars word die kontakpunte byvoorbeeld van silwer gemaak, van ligte wat jy in die huis aan- en afskakel, tot by skakelaars wat vir groot, industriële masjiene gebruik word. 8 Silwer is selfs ’n beter geleier van elektrisiteit as wat koper is. 11

Silwer word ook gebruik in die selle waarmee ons sonkrag opwek, in sekere batterye, in supergeleiers, in plasma-TV’s en in sekere dele van die stelsel waarmee ons kernkrag opwek. 8

Spieëls

Silwer is die beste reflektor (weerkaatser) van lig van al die elemente. Daarom word die agterkant van spieëls al van die 1600’s met silwer gemaak. Deesdae gebruik vervaardigers ook ander, goedkoper metale, maar goeie spieëls wat byvoorbeeld in instrumente soos kameras en mikroskope gebruik word, het nog ’n lagie silwer agter die glas. 12

Fotografie

Voor die koms van digitale fotografie, het hierdie bedryf film gebruik om beelde op vas te lê. Film het silwerhaliedkristalle op, wat reageer as dit aan lig blootgestel word. Die spesifieke reaksie van die silwerhaliedkristalle het dan die beeld wat deur die kamera se lens gekom het, op die film vasgelê. 8

Geneeskunde

Silwer tree op as ’n katalisator, want dit absorbeer suurstof. Vir duisende jare het mense silwer in salf ingemeng of bladsilwer gebruik om infeksie in wonde te verhoed of genees. Hierdie gebruik het afgeneem nadat ons antibiotika begin maak het, maar ons gebruik steeds silwer in oogdruppels en in tandheelkunde om infeksies te keer en genees. 8 Silwernitraat is ’n verbinding van silwer, stikstof en suurstof en word as ontsmettingsmiddel of vir wondsorg gebruik. Dit word selfs gebruik vir die behandeling van vratte.

Kunsmatige wolke

Silwer jodied (AgI) is ’n onskadelike chemiese verbinding wat in die natuur gevind en gebruik word om reënwolke te vorm. Hierdie verbinding word dikwels deur vliegtuie in die lug uitgestort. Dit los nie in water op nie, en help met die vorming van yskristalle wat dan lei tot die vorming van reën. 13

Basiese eienskappe van silwer

Atoomgetal (getal protone in die kern): 47

Simbool op die periodieke tabel: Ag

Relatiewe atoommassa (Ar): 107,868

Fase van materie teen kamertemperatuur: Vaste stof

Kookpunt: 2162 °C

Smeltpunt: 961,78 °C

’n Nota oor atoommassa

’n Massaspektrometer kan gebruik word om atoommassa akkuraat te bereken. Wetenskaplikes het ’n standaardmassa van 12 ame (atoommassa-eenheid) aan die koolstofatoom (koolstof-12) toegeken. Die massa van koolstof-12 is 1,99 x 10-26 kg, en ander atome se massa kan relatief tot hierdie atoommassakonstante bepaal word.

Vandag praat wetenskaplikes van die relatiewe atoommassa (Ar). Hierdie waarde het geen eenheid nie, want dit is slegs ’n syfer wat aandui hoeveel maal groter een atoom van die spesifieke element is as een twaalfde van die massa van ’n koolstof-12-atoom. 14

Bohr-model

Die Deense wetenskaplike Niels Bohr (1885-1962) het ’n atoommodel voorgestel. Hierdie model word soms die planetêre atoommodel genoem. 15 Die elektrone beweeg in hul spesifieke energievlakke al óm die kern. Deur die aantal energievlakke en elektrone te tel, kan die atoom maklik uitgeken word. 16

Die Deense wetenskaplike Niels Bohr.

’n Atoom is die kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat selfstandig of in verbinding met ander atome kan bestaan. Atome bestaan weer uit kleiner deeltjies wat subatomiese deeltjies genoem word. Daar is drie soorte subatomiese deeltjies, naamlik elektrone, protone en neutrone. Die silweratoom het ’n atoomgetal van 47. Dit beteken dat die atoom 47 protone het. Atome het ’n neutrale lading, en daarom is daar ook 47 elektrone wat óm die kern beweeg. Dit het ook 61 neutrone wat saam met die protone in die kern voorkom. Silwer het twee natuurlike isotope.

Woordbank

allooi ’n Materiaal wat gemaak word deur ’n metaal met klein hoeveelhede van ander metale of niemetale te vermeng.
atome Die kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat selfstandig of in verbinding met ander atome kan bestaan.
atoomgetal Die getal protone in die kern van die atoom.
atoommassa Word ook massagetal genoem. Dit is die totale aantal protone en neutrone in die kern van die atoom.
conquistadors ’n Spaanse woord wat “veroweraar” beteken en waarmee daar na die Spaanse koloniseerders van Suid-Amerika verwys word.
edelmetaal Metaal wat nie roes nie, veral goud/silwer. ’n Metaal met meer waarde as ander metale omdat dit skaars is, verskeie toepassings het en ’n belegging is.
elektrone Baie klein, negatief gelaaide deeltjies (partikels) wat in die energievlakke van ’n atoom rondbeweeg. Elektrone maak die vorming van chemiese verbindings moontlik. 11
element Dit is ’n stof wat saamgestel is uit atome wat dieselfde atoomgetal het.
isotoop Enigeen van twee of meer vorme van ’n element wat dieselfde atoomgetal (protone) en eenderse chemiese eienskappe het, maar waarvan die atoommassa en radioaktiewe gedrag verskil. Die aantal protone en elektrone is dus dieselfde, maar die aantal neutrone verskil.
kernfusie Samesmelting van ligtere atome om swaarderes te vorm, met vrystelling van ontsaglike hoeveelhede energie.
kupellasie ’n Louteringsproses vir silwer.
gelouter Suiwer maak. Word dikwels gebruik om te verwys na die proses waarby metale uit erts verkry word deur smelting of chemiese prosesse.
neutrone Neutrale deeltjies (partikels) wat geen elektriese lading het nie en saam met protone in die kern van die atoom voorkom. ’n Neutron en proton het dieselfde gewig. 11
neweproduk Artikel wat ontstaan by die vervaardiging van ‘n ander, belangriker artikel.
ontgin Delf, myn.
periodieke tabel Dit is die tabel van die elemente, gerangskik volgens toenemende atoomgetal, sodat elemente met soortgelyke eienskappe in dieselfde vertikale kolom voorkom.
protone Positief gelaaide deeltjies (partikels) wat in die kern van ’n atoom voorkom en die elektrone in posisie hou. Atome het ewe veel protone as elektrone en het dus ’n neutrale lading. 11
gestandaardiseer Iets met ’n bepaalde standaard laat ooreenstem, veral om eenvormigheid, gehalte en reëlmatigheid te verseker.
stormlope ’n Deurmekaar en ongeorganiseerde toestroming van mense na ’n plek, gewoonlik nadat daar neerslae van ’n kosbare metaal of edelstene ontdek word.
supernovas Nuwe, uitsonderlik helder ster – met lig tot 100 miljoen keer sterker as dié van ons son. Ontploffing van ’n ster aan die einde van sy lewe.
swak-r-proses Die fusieproses waardeur silwer in supernovas gevorm word.
verbinding Dit is die samevoeging van ongelyksoortige atome tot molekules.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Silwer: die elemente van verandering

Die ongewone gebruike van silwer

Hoe word silwer ontgin?

Die vervaardiging van silwermunte

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Februarie 2024 | Bygewerk op 3 April 2024