Vinnige feite

  • Transkei was nie net die eerste tuisland in Suid-Afrika nie, maar was ook die grootste van al die tuislande. 7
  • Toerisme is belangrik in Transkei omdat die natuur daar so pragtig is. Die meeste mense in Suid-Afrika weet van die Wildekus – dit is hoe die kus van Transkei genoem word. Daar is byvoorbeeld staproetes al langs die Wildekus wat baie gewild is onder stappers. 7
  • Transkei se lughawe was die K.D. Matanzimalughawe by Umtata (vandag Mthatha) genoem. Die lughawe se naam is nou Mthathalughawe, hoewel dit soms steeds Umtatalughawe genoem word. 16
  • Daar was eers agt en later tien tuislande in Suid-Afrika.
  • Daar was net vier tuislande wat uiteindelik onafhanklik geword het – Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei. Hierdie vier lande is die TBVC-lande genoem. 17
  • Ciskei was die vierde tuisland wat onafhanklik geword het – op 4 Desember 1981. 12
  • Dr. Lennox Sebe was medeskrywer van ʼn reeks Xhosaskoolboeke, en hy het in 1979 ʼn eredoktorsgraad in die regte van die Universiteit van Fort Hare ontvang. 12
  • Brittanje het drie protektorate in Suidelike Afrika gehad: Lesotho, Swaziland (vandag Eswatini) en Betsjoeanaland (vandag Botswana).
  • Geen land in die buiteland het die onafhanklikheid van die tuislande in Suid-Afrika erken nie – die buiteland het daarmee dus gesê dat die tuislande volgens hulle nie werklik onafhanklike lande is nie, maar deel was van Suid-Afrika.
  • Daar is net drie onafhanklike lande in die hele wêreld wat heeltemal deur ʼn ander land omring word: Lesotho, die Vatikaanstad en die Republiek van San Marino. 2
  • In Lesotho kan ʼn mens by die Afriski-oord gaan ski.

 

Foto: iStock

Jy het miskien al gehoor dat mense van die bergkoninkryk praat – dit is presies wat Lesotho is, ʼn land waarvan ʼn groot deel tussen en bo-op berge lê. Dit is ook die plek waarheen mense gaan as hulle wil gaan ski omdat daardie berge hoog genoeg is en die winter daar koud genoeg is vir genoeg sneeu waarop mense kan ski.

Hoe Lesotho ontstaan het

Lesotho, wat tot in 1966 Basotholand genoem is, het in 1818 tot stand gekom (begin bestaan). Dit het gebeur toe Mosjesj (ook Moshoeshoe genoem) ʼn klompie stamme onder hom verenig het. Hy was toe hoof van ʼn Sothostam met die naam Bamokoteli. Tussen 1856 en 1868 was daar baie keer oorloë tussen die mense van Mosjesj en die boere van die Oranje-Vrystaat. Mosjesj het toe die hulp van die Britse regering gevra en Basotholand het ʼn Britse protektoraat geword.

Mosjesj is in 1870 dood, en Basotholand is by die Kaapkolonie ingelyf. Daarvan het die Sotho niks gehou nie, en in 1884 het die land ʼn Britse kolonie geword. In 1966 het die land se naam verander na Lesotho, en die land het onafhanklik binne die Britse Gemenebes (British Commonwealth) geword. In hierdie tyd was Mosjesj II die koning of staatshoof, en Leabua Jonathan was die eerste minister of regeringshoof. 1

Samuel Ntsokoane Matekane is vanaf Oktober 2022 die eerste minister en die staatshoof is Koning Letsie III. Hy is reeds vanaf Februarie 1996 die koning. 2 Die meeste mense in Lesotho praat Suid-Sotho.

Moeketsi Majoro
Letsie III

Klein landjie op ʼn groot vasteland

Lesotho is een van die heel kleinste onafhanklike lande in die hele Afrika – hy is net 30 355 vierkante kilometer groot. 1 Ter vergelyking: Suid-Afrika is 1,2 miljoen vierkante kilometer groot. Suid-Afrika is een van die grootste lande in Afrika en die vyf-en-twintigste grootste land ter wêreld. 3 Lesotho lê binne-in Suid-Afrika, hy word dus heeltemal deur Suid-Afrika omring.

In 2023 was die bevolking van Lesotho 2.3 miljoen. 19

Lesotho se vlag

Baie slim waterplan tussen bure

Die Drakensberge loop regdeur Lesotho, en die Malutiberge kry ʼn mens ook hier. Hierdie berge sorg vir baie afloopwater wat nie net vir Lesotho self noodsaaklik is nie, maar ook vir Suid-Afrika.

Kranse in die Ukhahlamba Drakensburg, Suid-Afrika.

Daar is drie riviere wat in hierdie berge ontspring (begin). Hulle is die Tugelarivier, Oranjerivier en Caledonrivier. Hierdie riviere bring ook water uit die berge na Suid-Afrika toe. 1

Caledonrivier

Die Lesotho-Hooglandwaterprojek is ʼn baie belangrike projek wat gesamentlik deur Lesotho en Suid-Afrika ontwikkel is. Hierdie projek is teen die einde van die 1980’s geloods, en in 1997 is die eerste fase van die projek voltooi toe die Katsedam klaar gebou is. Die hele projek bestaan uit damme, wateropgaarplekke, tonnels en ʼn hidroëlektriese kragstasie. Daarmee sal water vanaf Lesotho met die Oranjerivier na die Vaalrivier gebring word vir gebruik in Suid-Afrika. Vir Lesotho sal hidroëlektriese krag deur die projek opgewek word. Die tweede fase van die projek is in 2014 begin met die bou van die Polihalidam, en ook ʼn tonnel om hierdie nuwe dam met die Katsedam te verbind. 2

Katsedam

Hierdie hele projek is ʼn baie slim plan wat gemaak is met water uit Lesotho se berge, wat uiteindelik vir Lesotho én vir Suid-Afrika baie waardevol kan wees. Die aanvanklike voltooiingsdatum was 2014 – 30 jaar nadat dit begin is. Ongelukkig word hierdie slim projek deur verskillende probleme vertraag, en dit sal eers in 2028 voltooi wees 4

Maseru, Lesotho

Transkei en Ciskei: twee verskillende lande vir mense wat dieselfde taal praat

Transkei en Ciskei was twee tuislande in Suid-Afrika toe die Nasionale Party in die land regeer het (lande wat deur die regering geskep is vir groepe wat onder andere dieselfde taal gepraat het).

Ciskei

Voor ʼn mens kyk na hoe die twee tuislande – Transkei en Ciskei – gelyk het, kom ons gesels eers oor waarom daar twee verskillende tuislande vir Xhosasprekende mense was. Dit is nie maklik om ʼn duidelike verklaring daarvoor te gee nie. Dit is miskien die beste om te kyk waar die twee name – Ciskei en Transkei – vandaan kom en van wanneer af die twee gebiede so genoem is.

Die wit mense wat in die 1700’s in die Kaapkolonie gewoon het, het die gebied tussen die Groot-Visrivier en die Groot-Keirivier Ciskei genoem. 5

Transkei

Die gebied noordoos van die Keirivier is Transkei genoem. Die woord trans beteken ‘aan die ander kant’, dit wil sê Transkei beteken dus letterlik ‘anderkant of oorkant die Keirivier’ – dit is nou as ʼn mens van Kaapstad se kant af kyk. 6

Daar is dus reeds ʼn onderskeid gemaak tussen die twee gebiede amper 200 jaar voordat die twee tuislande deur die Nasionale Party-regering gestig is.

Transkei

Hoe Transkei begin het

Reeds in 1778 is die Groot-Keirivier as die grens tussen die Kaapprovinsie en die gebied waar Transkei later sou wees, vasgestel, maar daar was kort-kort grensoorloë tussen die plaaslike Xhosabevolking en die Britse regering wat toe in die Kaap aan bewind was (wat toe regeer het). Uiteindelik was daar nege van hierdie oorloë. Ná die grensoorloë is die hele gebied van die latere Transkei by die Kaapkolonie ingelyf (dit is deel gemaak van die Kaapkolonie). 7

Vlag van Transkei

Transkei word ʼn tuisland

Transkei is in 1959 deur die Nasionale Party- (NP-)regering wat toe aan bewind was (regeer het), as ʼn tuisland vir Xhosasprekendes gestig. Transkei was op hierdie stadium nie ʼn onafhanklike land nie. 5

In 1963 het die Suid-Afrikaanse regering aan Transkei gedeeltelike selfregering gegee, met die belofte dat die land later heeltemal onafhanklik sal wees. In November 1963 is daar die eerste keer ʼn verkiesing in Transkei gehou vir ʼn wetgewende vergadering, en Kaizer Matanzima is as die eerste hoofminister verkies. Teen 1966 was Transkei steeds die enigste tuisland wat ʼn eie hoofminister, kabinet en wetgewende vergadering gehad het.

Transkei het op 26 Oktober 1976 onafhanklik geword. 8 Die eerste president van die Republiek van Transkei was Botha Sigcau, en hy is opgevolg deur Kaiser Daliwonga Matanzima. Matanzima was toe al lankal ʼn leier in die gebied – hy het reeds in 1940 die pos van streekhoof van een van die streke gehad en was eerste minister totdat hy president geword het. 7

Bietjie meer Inligting oor Transkei

  • Die oppervlak van Transkei het ongeveer 45 000 vierkante kilometer beslaan, en die hoofstad was Umtata. Dit is in die suidoostelike deel van Suid-Afrika – tussen die Indiese Oseaan, Natal, Lesotho en die Kaapprovinsie – geleë gewees. In die noorde was die Drakensberge die grens, en in die weste was die grens die Groot-Keirivier.
  • Daar is ʼn hele paar standhoudende riviere in Transkei (riviere wat die hele jaar deur water het). Hierdie riviere Umzimkulu, Umtamvuna, Umtentu, Umzimvubu, Umtata, Bashee en Groot-Kei.
  • Transkei was een van min tuislande wat aan die see grens – die meeste van die ander tuislande was in die binneland en was heeltemal deur Suid-Afrika omring.
  • Die inwoners het met vee geboer – beeste, skape en bokke – en hulle het ook onder meer mielies en sorghum geplant.
  • Transkei het selfs ʼn eie lugdiens gehad! 7
Kaart van Lesotho

Dinge het nie goed gegaan nie

Daar was nie goeie infrastruktuur (dinge soos paaie, brûe en damme) in Transkei nie. Die land se ekonomie was ook glad nie sterk nie. Teen die laat 1970’s kon Transkei net 10% van die voedsel wat sy eie mense nodig gehad het, voorsien (vervaardig en aan die mense verskaf). Die regering kon ook net vir 20% van die land se uitgawes met sy eie begroting betaal. Mense in die land moes aan die lewe bly met die geld van pensioene en met geld wat trekarbeiders wat in Suid-Afrika gewerk het, na hulle mense in die tuislande gestuur het. 9

In die onderhandeling tussen die NP en die African National Congress (ANC) voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994, is besluit dat al die tuislande weer deel sou word van Suid-Afrika en toe het Transkei opgehou om as ʼn afsonderlike land te bestaan. 9

Ciskei

Ciskei is aan alle kante omring gewees deur Suid-Afrika, behalwe in die suidooste waar dit aan die Indiese Oseaan gegrens het. Ciskei het suid van die Groot-Keirivier gelê. 10

Ciskei se oppervlak was ongeveer 9 000 vierkante kilometer, en dit was een van die kleinste tuislande. Ongeveer een derde van Ciskei se bevolking het in dorpe en stede gebly. Twee van die groot stede in Ciskei was Mdantsane en Zwelitsha. 11

Vlag van Ciskei

Die hoofstad van Ciskei was Bisho. Die mense wat in Ciskei gebly het, was hoofsaaklik mense wat Xhosa gepraat het en ook ʼn klein hoeveelheid wat Suid-Sotho gepraat het. 12

ʼn Paar belangrike datums in die tuisland se geskiedenis

Ciskei het in 1971 ʼn wetgewende vergadering gekry. 9

In 1981 het Ciskei onafhanklik geword. 13

Bisho

In die tyd toe daar in Suid-Afrika ook opstande teen die regering was, het dieselfde ook in Ciskei gebeur. In Junie 1992 het die ANC ʼn optog na die regeringsgebou in Bisho, die hoofstad van Ciskei, gereël. Soldate van Ciskei het op die optoggangers geskiet, en 29 mense is dood. 9

Geen goeie leier nie

Hoofminister Lennox Sebe (dr. Lennox Leslie Wongama Sebe) was hoofminister toe Ciskei in 1981 onafhanklik geword het. Hy is op 26 Julie 1926 gebore. 12

Hy het ongelukkig die mense van sy land onderdruk (streng en onregverdig teenoor hulle opgetree). Daar is ook nie opposisiepartye toegelaat nie en daar was baie korrupsie in die land. Ongelukkig het hy ook min gedoen om die land se ekonomie te verbeter. 14

Lennox Sebe het regeer tot in 1990 toe hy deur Oupa Gqozo ontsetel is. Gqozo het in 1981 by die Ciskeise weermag aangesluit. Terwyl president Sebe in Maart 1990 op ʼn staatsbesoek in die buiteland was, het Gqozo die regering oorgeneem. Hy was aan bewind (die leier van die land) totdat Ciskei in 1944 weer deel van Suid-Afrika geword het. 15

Die klein landjie se groot probleem

Daar was nie naastenby genoeg werk in Ciskei vir die land se inwoners nie. Daarom het duisende mense wat in Ciskei gewoon het, elke dag vanaf plekke soos Dimbaza, Mdantsane en Zwelitsha oor die grens gependel om in blanke gebiede te gaan werk. Die dorpe waar hulle veral gaan werk het, was onder meer Oos-Londen en King William’s Town (vandag Qonce). 12

Mens moet onthou dat die inwoners van Ciskei in hierdie tyd nie toegelaat is om nader aan hulle werksplekke te woon nie. Tuislande soos Ciskei is juis gestig sodat swart mense wat dieselfde taal praat, uit die blanke gebiede geskuif kon word na lande waar mense wat dieselfde taal praat, saamgewoon het.

Panoramiese uitsig vanaf ‘n berg in Lesotho

Woordbank

aanvanklik Aan die begin; eers. Hy het aanvanklik nie van sport gehou nie, maar dit later baie geniet.
Gemenebes Bond van onafhanklike state.
demokraties Regeringsvorm met verteenwoordigers wat deur die hele bevolking gekies is.
eredoktorsgraad ʼn Graad wat aan iemand toegeken word wanneer die persoon uitsonderlike, baie goeie prestasies behaal het, maar sonder dat die persoon eksamen afgelê het.
fase Een stadium of ontwikkelingstrap, soos die eerste fase van ʼn nuwe projek.
hidroëlektries Dit het te doen met elektrisiteit wat met behulp van die beweging van water opgewek word.
ingelyf Om as deel van ʼn groep of gemeenskap opgeneem te word. Ontgroening op skool (wat nie meer veronderstel is om te gebeur nie) se doel was om junior of nuwe leerders in te lyf.
Nguni Die versamelnaam vir ʼn aantal Suidoos-Afrikaanse Bantoetale wat aan mekaar verwant is – Zoeloe, Xhosa, Swazi en Ndebele.
omring Aan alle kante ingesluit, soos ʼn rugbyveld wat deur motors omring is.
onafhanklik Vry, selfstandig, om nie onderdanig te wees nie – wanneer ʼn land sy eie besluite kan neem.
ontsetel Om iemand van sy posisie te ontneem.
pendel Om gereeld tussen byvoorbeeld jou werkplek en jou huis te ry.
protektoraat ʼn Gebied wat gewoonlik nie goed ontwikkel is nie en deur ʼn sterk staat onder daardie staat se beheer geplaas word. Die inwoners word nie die sterk staat se onderdane nie, maar die sterk staat is soos ʼn beskermheer wat die soewereine magte van die gebied oorneem.
regeringshoof Soms is die regeringshoof ʼn president en soms ʼn eerste minister.
staatshoof Persoon in die staat met die hoogste gesag.
trekarbeiders Persoon wat nie naby sy/haar werksplek woon nie en net tydelik op ʼn plek naby sy/haar werk woon.
tuisland Volgens die beleid van afsonderlike ontwikkeling het die Nasionale Partyregering van Suid-Afrika tuislande geskep vir swart mense wat dieselfde taal gepraat het, asook aan dieselfde etniese groep behoort het.
verenig Om saam te voeg, saam te kom, een groep te vorm.
waardevol Iets wat groot waarde het, soos ʼn waardevolle vriendskap.
wetgewende vergadering ʼn Liggaam wat deel vorm van die regering van ʼn land en wette maak vir die land. 18

Lees hierdie artikel om nog meer te leer oor Lesotho

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Basothokoninkryk (Lesotho), Transkei en Ciskei

Inligting oor die Sothokultuur

Lesotho se water

Kyk hier hoe Lesotho lyk

Mense stap langs die Wildekus in Transkei

Die geskiedenis van Ciskei

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 Desember 2022 | Bygewerk op 8 Mei 2024