Vinnige feite

  • Somerset was van koninklike Plantagnet-bloed en het in die manlike lyn direk afgestam van koning Eduard III van Engeland. 2
  • Somerset was die derde goewerneur van die tweede Britse besetting, met ander woorde ná 1806.
  • Daar was 80 000 aansoekers om deel te word van die Britse setlaars, en tussen April en Junie 1820 het sowat 4 000 Engelssprekendes in die kolonie aangekom. 1
  • Daar is heelwat dorpe na Somerset se familie vernoem: Worcester, Somerset-Wes, Somerset-Oos, Beaufort-Wes, Port Beaufort en Fort Beaufort. 2
  • Die beeldhouer I. Mitford-Barberton het ʼn borsbeeld van Somerset gemaak vir die 1820-Setlaarsgedenkmonument in Grahamstad. 2

Lord Charles Henry Somerset (1767–1831) was die goewerneur van die Kaapkolonie tussen 1814 en 1826. Hy was die goewerneur oor een van die weerbarstigste tydperke in die geskiedenis van die kolonie – ʼn tyd van verengelsing, onstuimige oosgrenskonflik en die stryd om ʼn vrye pers. 1

Birkenhead-stranding, 1852

Vroeë jare

Somerset was die vyfde seun van Henry, die vyfde Hertog van Beaufort, en sy vrou Elizabeth. Hy is gebore in Gloucestershire in Engeland. Hy het in 1784 gematrikuleer by Westminster School, en daarna gaan studeer by Trinity College in Oxford. 2

Trinity College, Oxford

Sy militêre loopbaan het in 1785 begin, en hy het in die 1790’s aan die Rewolusionêre Oorloë teen Frankryk deelgeneem. Alhoewel hy uiteindelik tot generaal bevorder is, was Somerset nie werklik geïnteresseerd in die lewe van ʼn soldaat nie. Hy wou eintlik in die politiek ingegaan het, en het daarom in 1791 vir die Britse regering begin werk. Alhoewel sy werk vir hulle nie regtig uitstaande was nie, is hy tog in 1813 die pos van Goewerneur van die Kaapkolonie aangebied. Hy het waarskynlik die pos aanvaar omdat dit met ʼn groot salaris gekom het. 2

Die Kaap se status voor 1814

Brittanje het in 1795 die Kaap die eerste keer beset. Toe is die Kaap in die Bataafse periode teruggee aan Nederland, voor dit in 1806 finaal deur Brittanje oorgeneem is. Die Kaap het egter eers agt jaar later, in 1814 (met die sluiting van die Vrede van Parys na afloop van die Napoleontiese Oorloë) 3 ʼn formele Britse kolonie geword. Dit het beteken dat die goewerneurs nie die reg gehad het om besluite te neem sonder die Britse regering in Londen se toestemming nie. Die Britse regering was egter doenig met die Napoleontiese Oorloë, en dit het soms tot ses maande geduur vir ʼn Kaapse goewerneur om ʼn antwoord te kry. Boonop was die meeste goewerneurs voor 1814 ʼn onbevoegde spul was. Die gevolg is dat die regering tussen 1795 en 1814 ʼn deurmekaarspul was. 1

Somerset was goewerneur van 1814 af, en was dus die eerste goewerneur toe die Kaapkolonie ʼn formele Britse kolonie geword het.

Somerset se goewerneurskap

Die twaalf jaar wat Somerset goewerneur was, was ʼn uiters onstuimige tyd in die geskiedenis van die Kaapkolonie. Kwessies waarmee hy doenig was, het ingesluit wildbewaring, verhoudings met die Xhosa en die onstabiele oosgrens, administrasie en verengelsing, finansies, die Britse setlaars van 1820, asook die stryd om ʼn vrye pers.

Wildbewaring

Somerset was baie geïnteresseerd in die bewaring van wild, beide vir jag en wetenskaplike navorsing. Hy het dit byvoorbeeld onwettig gemaak om sommige wilde diere sonder ʼn lisensie dood te maak. Hy wou egter gevaarlike diere soos tiere, wolwe en wildekatte uitroei, en het daarvoor lisensies uitgereik. Hy het spesifieke spesies, soos springbokke en bontebokke, deur proklamasies – amptelike regeringsaankondigings – beskerm. 2

Verhoudings met die Xhosa en die onstabiele oosgrens

Somerset se grootste kopseer was die Kaapkolonie se oosgrens, en die slegte verhoudings met die Xhosa-stamme daar. 2 Hy het gesukkel om ʼn oplossing te vind, en sy oplossings was nie eintlik suksesvol nie. Een rede daarvoor was die houding van die Britse regering, en ʼn ander rede was Somerset se hardkoppigheid, wat veroorsaak het dat hy nie altyd besef het hoe ongewikkeld die grensprobleem was nie. 1

Die Britse regering wou militêre uitgawes verminder het, terwyl Somerset juis gevoel het dat meer Britse troepe nodig was, veral ruitery (soldate wat te perd was). Ten spyte van sy aandrang, het Brittanje geweier om meer soldate te stuur. 2 Somerset móés die grens beskerm, maar het nie genoeg militêre middele gehad nie.

Kort voor Somerset in die Kaap aangekom het, het ʼn Kaapse militêre mag die Xhosa van die oosgrens af verdryf, wagposte opgerig en gereelde patrollies – inspeksies van die gebied – begin onderneem. Die vrede was egter van korte duur, en veediefstalle het weer begin toeneem. Daarom het Somerset in April 1817 samesprekings met die Xhosa opperhoof, Ngqika, wat Brittanje se bondgenoot was, sy oom en mededinger, Ndlambe, asook ander belangrike stamhoofde van die Katriviervallei, gehou. 4

Somerset kon (of wou) nie verstaan hoe die Xhosa-samelewing werk nie. Hy wou vir Ngqika, as opperhoof van die Xhosa, verantwoordelik hou vir ál die Xhosa se aksies, en dus ál die veediefstalle. Ngqika het vir Somerset probeer verduidelik dat dit nie so werk nie – hy het byvoorbeeld geen gesag oor die volgelinge van Ndlambe gehad nie. Maar Somerset het geweier om dit so te aanvaar. 1

By die samesprekings is besluit op die sogenaamde “spoorstelsel”. Hiervolgens moes die Xhosa-gemeenskap, waarheen die spore van gesteelde vee gelei het, vergoeding betaal aan die persoon wie se vee gesteel is, of die gesteelde vee in daardie gemeenskap se kraal was, of nie. 2 As die hoofman nie skuldig was nie, moes hy dan ewe veel vergoeding gaan eis by die werklike dief. 1

Die gevolge van die stelsel was rampspoedig, en dit het bloot nie gewerk nie. In Januarie 1818 moes Brittanje in elk geval Ndlambe se gebied inval om te probeer om gesteelde beeste op te spoor. In Junie 1818 het Ndlambe op sy beurt vir Ngqika aangeval en verpletterend verslaan. Ngqika het toe vir die Britte om hulp gevra. 1 Dit het gelei tot die Vyfde Grensoorlog, wat tot in Junie 1819 geduur het, 4 en Ndlambe se mag baie verminder het. 1

In Oktober 1819 het Somerset weer met die Xhosa-stamhoofde vergader. Hy het nou ʼn plan geformuleer om die vrede te bewaar, en dit was om die Xhosa uit die digte bosse langs die Groot Visrivier te kry. 2 Hy het summier, of onmiddellik, die gebied tussen die Keiskammarivier en die Groot Visrivier as ʼn “neutrale” strook verklaar: Almal wat daar gewoon het, Xhosas en wit koloniste, moes trek. 1 Slegs militêre patrollies mag die gebied binnegaan. Die vrede is wel bewaar, maar die Xhosa het baie grond verloor, en Ngqika, wat veronderstel was om Brittanje se bondgenoot te wees, het drie maal meer grond as Ndlambe verloor. 2

Die land wat Ngqika verloor het, was omtrent 10 000 km3 – ʼn gebied omtrent helfte so groot soos Gauteng – en, volgens Somerset self, “so ʼn voortreflike stuk grond as wat ʼn mens op enige ander plek op aarde sal vind.” 1 en dit het gou duidelik geword dat die verbod op vestiging slegs vir die Xhosa gegeld het – die regering het inderdaad begin om plase in die noordelike deel van die neutrale strook aan burgers en setlaars te gee. Daarom het die gebied gou onder die Xhosa as die “Verowerde Gebied” bekendgestaan. 1

Hierdie Verowerde Gebied was ʼn keerpunt in grensverhoudings. Die Xhosa het verontreg gevoel, en het nooit weer die koloniale regering vertrou nie. Daardie wantroue, asook die spoorstelsel, het die kloof tussen die Xhosa en die Britte verdiep. 1

Administrasie en verengelsing

Dit was Somerset se uitgesproke ideaal om die Afrikaanse koloniste so gou as moontlik te leer om Engels te praat en skryf. Hy het geglo Britse kultuur en instellings was van beter en hoër gehalte as die Hollandse kultuur waarmee die Afrikaners groot geword het, en alle inwoners moes soos Britte gevorm word. 4 Hy is tot ʼn mate hierin gehelp deur die voorbeeld van die Britse setlaars. 4 Somerset het Hollandse regeringstelsels soos heemrade en landdroste vervang met die Britse juriestelsel, siviele kommissarisse en vrederegters. 4 Maar dit het lank gevat voor Engels Hollands vervang het as die enigste ampstaal. 1

Tydens sy eerste reis na die binneland in 1817, het Somerset gesien dat daar ʼn tekort aan onderwysers en dominees in die plattelandse distrikte was. 2 Hy het hom hierna beywer om onderwysers en dominees na die kolonie te bring, eers van Nederland af, en toe van Skotland af. 1 Bekende onderwysers (soos James Rose Innes 2 en William Robertson), en bekende dominees (soos Andrew Murray, Henry Sutherland en George Thom) het in sy tyd na die Kaap geïmmigreer. 4

Die inwoners van Kaapstad het relatief gou Engels begin bemeester, maar dit was glad nie die geval buite Kaapstad nie. In Januarie 1821 het dominee Thom in ʼn brief aan Somerset geskryf dat hy gemeen het dat daar nie meer as 400 mense buite Kaapstad was wat Engels kon praat nie, en skaars 200 wat dit kon lees en skryf. 5

In 1822 het Somerset sy taalbeleid aangekondig. Die plan was dat Engels oor die volgende vyf jaar ingefaseer sou word as die taal van beide regering én lewe. Skole en kerke moes verengels, so byvoorbeeld is regeringskole wat Engels as voertaal gebruik het, gratis gemaak. Die burgers wóú gehad het dat hulle kinders Engels leer, maar nie ten koste van Hollands nie. 6 Somerset het ook die Kaapse kerk aangespoor om Engels in dienste te gebruik, en koloniale jeugdiges probeer oortuig dat Engels voordelig sou wees indien hulle vir die regering wou werk. 1

Somerset het persoonlik baie gedoen om die kolonie op te knap. Hy was verantwoordelik vir die vestiging van die Somerset-hospitaal, die Handelsbank, die Suid-Afrikaanse Biblioteek, die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad en ʼn melaatse hospitaal by Hemel en Aarde naby Caledon. 2

Hy het ook die invoer van hoë kwaliteit volbloedperde, beeste en ramme bevorder, wat baie voordelig was vir die boere, want dit het die kwaliteit van die Kaapse veetroppe verbeter. Somerset het gehelp om wolproduksie uit te brei, en hy was ook aktief betrokke by boerdery. Hy het byvoorbeeld moderne werktuie uit Engeland laat kom, en ploeë en ander plaaswerktuie teen kosprys laat herstel. 2

Finansies

Somerset het nie die Kaap se finansies besonder goed bestuur nie. Hy het geweet die Kaap het nie stabiele uitvoere nie, en die regering het dus nie eintlik geld gehad vir publieke werke, soos paaie, nie. Hy wou ook keer dat te veel geld aan militêre uitgawes spandeer word, maar terselfdertyd wou hy nie die belasting verhoog nie, en het hy self min gedoen om verkwisting, of vermorsing, van regeringsgeld te stop. So het hy onder meer staatsfondse gebruik om beide sy goewerneurswoning en sy privaat woonhuis in Nuweland op te knap en gedeeltelik oor te bou. 2

Ingang tot die Staatstuine, Kaapstad

Op 6 Junie 1825 het Somerset ʼn ordonnansie (wet) uitgevaardig, waarvolgens die Britse pond sterling die Hollandse riksdaalder as Kaapse betaalmiddel vervang het. Die gebrek aan munte in die Kaap het egter die oorskakeling vertraag, en die riksdaalder is eers in 1831 herroep. 5

Die Britse setlaars van 1820

Somerset het vroeg in sy goewerneurskap al begin dink dat die beste manier om die Kaapse oosgrensprobleme op te los, sal wees om die gebied dig te bevolk met mense uit Brittanje. Hy het dus in sy skrywes na Londen immigrasieplanne voorgestel, soos ʼn pleidooi in 1817 waarin hy gevra het vir gekeurde setlaars om as veeboere op die oosgrens te vestig. 4

Die Britse regering het naderhand ingestem, en in 1820 het daar ongeveer 4 000 Britse setlaars in die Kaap opgedaag. 1 Op daardie stadium was Somerset op langverlof in Engeland, en die waarnemende goewerneur, sir Rufane Donkin, het hulle in die Kaap ontvang en aan hulle grond toegeken. 4 Somerset was bitter ontevrede met die wyse waarop Donkin in sy plek regeer het nie. Met sy terugkoms in 1822 het hy toe soveel konflik met Donkin gehad, dat hy sy pligte afgeskeep het. 2

Somerset het die setlaars die eerste keer in 1825 besoek. Dit was ʼn fout. Die setlaars was verwaarloos, en hulle het gesukkel om aan die gang te kom. Somerset het sleg gevoel en probeer om daarvoor op te maak, 2 maar sy verhouding met die setlaars het stram gebly. Hulle was gewoond aan die regte wat hulle in Engeland gehad het, en ʼn mate van demokrasie. 1 Die Kaap was nie ʼn demokrasie nie: Die goewerneur was in beheer, en was vir sy besluite aan die regering in Londen verantwoordelik, nie aan die koloniste nie. Somerset veral het ʼn baie outokratiese manier gehad – hy was die enigste een in beheer – en hy kon nie kritiek hanteer nie. 4 Die konflik het ʼn hoogtepunt bereik in die stryd om ʼn vrye pers.

Die stryd om die vrye pers

Somerset was gekant teen enige nuusbron wat nie onder die regering se beheer was nie. Die Staatskoerant, wat aan die regering behoort het, was die enigste koerant en dus die enigste manier vir die Kapenaars om die nuus te kry. In 1820 het die regering ʼn drukpers gekonfiskeer, sodat daar nie nog koerante kon verskyn nie. Dit het slegs die onstaan van vry koerante vertraag, nie verhoed nie. In 1824 het George Greig se South African Commercial Advertiser, wat kortweg die Advertiser genoem is, verskyn, die eerste koerant in die Kaap wat onafhanklik van die regering was, en dus vry van regeringsinmenging. 1

In die 1820’s was daar ʼn paar sensasionele hofsake, onder andere een waar biskop Burnett, een van die Britse setlaars, vir Somerset van laster – wanneer mens sleg praat van iemand sodat hulle in ʼn slegte lig gestel word – aangekla het. Die Advertiser het die hele hofsaak in detail gepubliseer. 1 Somerset is uiteindelik onskuldig bevind aan die aanklagte, maar hy was woedend oor die skade wat die hofsaak aan sy reputasie, oftewel wat mense van hom gedink het, gedoen het. 2 Hy het verdere uitgawes van die Advertiser ná Mei 1824 verbied. Greig het in Londen ʼn klag teen Somerset gaan indien. Die Britse regering het in Greig se guns gevind. Ná 1828 kon die goewerneur nie meer joernaliste en koerante keer om enige kritiek teen hom te publiseer nie. 4 In 1829 het ʼn ordonnansie die Kaapse pers totaal onafhanklik gemaak. Hierna kon hulle publiseer net wat hulle wou. 1

Ontslag

Somerset se outokratiese optrede het vir hom baie vyande gemaak. Hy het onder andere stry gekry met John Philip, die hoof van die Londense Sendinggenootskap, wat heelwat invloed in Brittanje gehad het. Somerset is deur die Britse regering op amptelike verlof geplaas, wat basies beteken het dat hy afgedank is. In Maart 1826 is hy terug na Brittanje, en hy het nooit weer na Suid-Afrika teruggekeer nie. 2

John Philip

Latere jare

In Brittanje het hy probeer om sy goewerneurskap te verdedig, en hy het dit uiteindelik meestal reggekry om die aanklagte teen hom te laat vaar. Hy was vir ʼn kort rukkie ʼn lid van die Britse parlement, maar het in 1827 bedank. 2 Hy het die res van sy lewe stil deurgebring. 2

Evaluasie

Somerset was een van die mees omstrede goewerneurs van die Kaapkolonie. Hy was nie ʼn baie goeie politikus nie, en hy het die land regeer asof dit sy eie private landgoed was. Sy outokratiese manier, onderdrukking van die pers, en onhandige hantering van die oosgrenskwessie getuig daarvan. 1 Hy was soms kortgebonde en oorhaastig. Hy het nie kritiek baie goed hanteer nie, en kon teenstand nie verdra nie. Hy wou gehad het dat die koloniste pligsgetroue onderdane eerder as bloot wetsgehoorsame landsburgers moes wees, en nie in die politiek moes inmeng nie. 2

Groote Post, distrik Malmesbury. In 1752 was dit reeds een van die belangrikste plase in die distrik. Dit was die huis van Lord Charles Somerset van 1814 tot 1827.

Somerset was ʼn opperste aristokraat – iemand wat tot die hoogste sosiale klas behoort het. 1 Hy wou gehad het dat die mense rondom hom altyd bewus moes bly dat hy ʼn koninklike afstammeling was. 2 Ten spyte hiervan was Somerset baie aangenaam op persoonlike vlak, en dís wat gemaak het dat sy regering ten minste aan die begin redelik glad verloop het. Hy was populêr onder verskeie groepe: Engelse handelaars, die Britse offisiere, en ook die Afrikanergemeenskap, veral die ouer koloniste. Hulle was bereid om sy outokrasie te aanvaar, omdat dit maar so was in daardie dae. 2

Somerset was hardwerkend en pligsgetrou. Hy het werklik omgegee, en altyd probeer doen wat hy gedink het, was die beste. Die bekende historikus G.M. Theal het van hom gesê: “[Somerset was] so verbind tot die verbetering van die kolonie en die voorspoed van sy inwoners as wat ʼn mens kan wees, maar wou hê dat al die verbeteringe en voorspoed van hom afkomstig moes wees.” 2

Persoonlike lewe

Somerset het sy jeugjare by sy ouma of op sy familie se landgoed, Badminton, spandeer. Daar was jag en perdry ʼn lewenswyse. Hy het hier ʼn lewenslange passie vir perde ontwikkel. Hy was ʼn bekwame ruiter en beoordelaar van perde. In die Kaap het hy jag en perdewedrenne aangemoedig, en teen die tyd dat hy die Kaap verlaat het, was daar florerende wedrenklubs in ʼn paar stede. Hy het ook belanggestel in perdeteelt. 2

Somerset het op Universiteit sy meestersgraad gekry, maar hy was nie ʼn ywerige student nie. 2

Somerset se eerste vrou was lady . Hulle is in ʼn weglooptroue verenig. Dit was teen sy ouers se wense, maar hulle het later versoen. Sy is in 1815 in Suid-Afrika oorlede, en is in die grafkelder van die Groote Kerk in Kaapstad ter aarde bestel. Hulle het vyf of ses kinders gehad. Gedurende sy verloftyd in Engeland het hy weer getrou, met lady Mary Poulett. Hulle het ʼn seun en ʼn dogter gehad. 2

Somerset het afstammelinge in Suid-Afrika nagelaat. Sy seun, Henry Somerset, was vir jare ʼn kommandant op die oosgrens. Een van sy ander seuns was die stamvader van die Somerset-familie in Suid-Afrika. 2

Groote Kerk

Woordbank

aristokraat Iemand wat tot die hoogste sosiale klas behoort.
bondgenoot Iemand wat hom verbind om ʼn ander te help.
drukpers Masjien wat gebruik is om afdrukke, soos koerante, te maak.
kolonisering Politieke beheer oor ʼn gebied verkry en mense van jou land stuur om daar te gaan woon.
konfiskeer Beslag lê op iemand se goedere.
laster Om kwaad te praat van iemand, sodat hulle in ʼn slegte lig gestel word.
onafhanklik Die reg om nie onderdanig te wees nie, maar vry en selfstandig.
ordonnansie Wet van ʼn regerende liggaam laer as die sentrale regering, soos ʼn stadsraad.
outokratiese Om alleen met onbeperkte mag te regeer.
patrollies Wanneer iemand gereeld na verskillende dele van ʼn gebied gaan om seker te maak daar is nie gevaar nie.
pers Koerante en die mense (joernaliste/verslaggewers) wat vir hulle skryf.
pleidooi ʼn Dringende versoek.
proklamasies Amptelike aankondiging, in die vorm van ʼn brief of toespraak.
reputasie Wat mense van iemand/iets dink as gevolg van wat in die verlede gebeur het.
ruitery Soldate te perd.
summier Onmiddellik of dadelik.
vergoeding Aan iemand iets gee of vir iemand iets doen, omdat hy/sy vir jou iets gedoen het of vir skade wat hy/sy gely het.
verkwisting Om te mors. 7

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 November 2022 | Bygewerk op 10 November 2023