Vinnige feite

  • Daar is baie insekte op die aarde en hulle vorm die grootste groep diere op ons planeet.
  • Ongeveer 75% van alle diere is insekte. 5
  • Deur die eeue is daar baie stories rondom krieke opgemaak en allerlei mites bestaan soos dat hulle geluk vir mense kan bring en as jy hulle doodmaak … wag daar teenspoed op jou!
  • Mense in China het vir eeue krieke in hokke geplaas sodat hulle kan veg en op hul gunstelingkriek kan wed.
  • Sprinkane word in sekere dele van die wêreld deur mense geëet omdat sprinkane baie proteïen bevat.
  • Sprinkane spuit soms ’n bruin vloeistof op hul vyande as ’n vorm van selfverdediging
  • Die Oecanthus fultoni is ’n tipe kriek wat dikwels die termometerkriek genoem word. Hoekom? Jy kan die temperatuur in Fahrenheit meet deur die aantal tjirps in 15 sekondes te tel en dan die syfer 40 daarby te voeg!
  • Het jy geweet? Krieke wat in bome en bosse bly, sing gewoonlik in die aand, terwyl krieke wat in grasse bly, in die dag en nag sing.
  • Sprinkane is uitstekende springers. As mense so ver soos hulle kon spring, sou ons oor ’n rugbyveld kon spring!

 

Foto: iStock

Albei insekte kan spring, het twee paar vlerke en sterk agterpote wat hulle in staat stel om soos topatlete hoog te spring. Krieke en sprinkane se pote het ook gewoonlik drie of vier segmente en behoort aan die insekorde Orthoptera.

Orthoptera is afgelei van die Griekse woord ortho wat reguit en ptera wat vlerk beteken. Die woord verwys na hul voorvlerke. 1

Hierdie insekte kom al ’n lang pad saam met die aarde, want daar word beraam dat sprinkane nog voor die dinosourusse op die aarde was! Volgens wetenskaplikes het sprinkane meer as 300 miljoen jaar gelede al op die aarde gebly. 2

Krieke en sprinkane eet omtrent enige tipe plante en volwasse sprinkane eet daagliks omtrent die helfte van hul gewig in plante op … Een sprinkaan het dus reeds ’n baie gesonde aptyt, maar as daar swerms van hulle is, kan dit ’n groot probleem vir gewasse word. Hulle kan groot skade op plase aanrig en oeste laat verdwyn …

Groot swerms sprinkane verskyn gereeld in dele van Afrika, Asië en Noord-Amerika en vreet dan oeste voor die voet op. Sprinkane kan dus ’n groot pes wees en as ons na krieke kyk, is daar ook spesies wat die mens pla, soos molkrieke. Molkrieke kan groot amok op grasperke en gholfbane maak.

’n Kykie na Orthoptera-spesies

Acrididae is herbivore en kom in die algemeen in graslande voor. Hierdie familie sluit verskeie spesies in wat peste is, soos die dubbelstreepsprinkaan (Melanoplus bivittatus), die differensiële sprinkaan (Melanoplus differentialis), Afrika-treksprinkaan (Locusta migratoria), en die woestynsprinkaan (Schistocerca gregaria).

Tetrigidae is ’n groep van dwergsprinkane, ook herbivore, en deel ’n paar eienskappe met korthoringsprinkane.

Tettigoniidae is langhoringsprinkane en ook herbivore. Van hierdie spesies vernietig bome en struike blitsig.

Gryllidae is krieke wat herbivore en aasvreters is. Die huiskriek Acheta domesticus vorm deel van hierdie familie.

Gryllacrididae word ook kameelkrieke genoem en is aasvreters. ’n Paar van hulle bly selfs in grotte.

Gryllotalpidae is die bekende molkriek en hul voorpote is aangepas om te grawe. Die meeste spesies eet plantwortels, maar van hulle is roofdiere.

Die spesies en hul seine

Baie van die mannetjies wat deel van die Orthoptera-spesie vorm, gebruik klankseine om hul maat te lok. Die geluid word gemaak deur die boonste gedeelte van een vlerk teen die laer gedeelte van die ander vlerk te vryf. Sommige spesies vryf ook hul agterpoot teen hul voorvlerk en dit maak dan dié spesifieke geluid.

Elke spesie produseer ’n unieke roepsein om hul maat te lok en dus sal ’n wyfie van dieselfde spesie in die omtrek dadelik weet dat daar ’n mannetjie is.

Daar is talle sprinkaanspesies wat ultrasoniese seine gebruik om hul maats te lok en die menslike oor kan dit nie eens hoor nie. Party spesies se wekroep gaan so hoog as 100 kHz en mense kan slegs tot omtrent 20 kHz hoor …

Krieke

“Ware” krieke is deel van die familie Gryllidae en daar is ongeveer 2 400 kriekspesies. Krieke kom bykans oral op die aardbol voor en hulle is bekend vir daardie kenmerkende tjirpgeluid.

Die tjirp se doel is nie om ons mense te irriteer nie. Dis mannetjies wat so raas, want hulle soek hul maat en lok vroulike krieke om voort te plant. Hul geluide verskil ook, want soms wil hulle ander mannetjies laat weet om nie naby hulle te kom nie.

Mannetjies kan nogal aggressief met mekaar raak en mekaar selfs met hul voelhorings aanval. As hulle egter sien hulle kan ’n groter vyand se prooi word, is daar ook ander verdedigingsmetodes soos kamoeflering. [Lees meer hier oor kamoeflering.]

Krieke wissel in grootte. Daar is van hulle wat piepklein is, ongeveer 3 mm, en dan is daar ander wat 50 mm groot word. Hulle het dun antennas, oftewel voelhorings, agterpote met sterk dye om te spring, en twee stelle vlerke. Krieke het twee groot saamgestelde oë en het drie eenvoudige oë (genoem ocelli) op die voorkop. Hul agterlyf het ook ’n paar aanhegsels (cerci) op die agterste segment.

Die grootte van krieke se vlerke verskil van spesie tot spesie.

Die twee voorvlerke is styf en leeragtig en het twee lang, vliesagtige agtervlerke om mee te vlieg, hoewel daar baie spesies is wat nie vlieg nie.

Die manlike krieke se musikale tjirpgeluide word veroorsaak deur ’n skraper wat aan een van die voorvlerke vas is en wat teen ’n rytjie van 50 tot 250 tandjies op die oorkantste voorvlerke geskuur word.

Wyfies lê eiers met ’n lang ovipositor. Die ovipositor werk soos ’n lang boor waarmee ’n gaatjie in die grond gemaak word en dan word ’n sakkie met eiers gelê. Dit word gewoonlik in die grond of in plantstammetjies gedoen en soms kan dit ook skade vir die plante beteken. As die eiers uitbroei, is daar ’n nimfstadium en die nimfe lyk toenemend soos ’n volwasse kriek soos hulle groei. Daar is ongeveer ses tot 12 larwestadiums en met elke vel wat afgeskud word, lyk die nimf al hoe meer soos ’n kriek.

As die kriek volwasse is, is dit tyd om voort te plant. Volwasse krieke leef ongeveer ses tot agt weke. 3

Sprinkane

Hierdie insekte se suborde is Caelifera en hulle word in ’n verskeidenheid van habitatte gevind: van tropiese woude tot graslande. Die kleur van sprinkane wissel na gelang van die spesies. Daar is groenes en bruines en party het selfs geel of rooi merkies op. Sprinkane ruik deur hul voelhorings, oftewel antennas, en hoor deur ’n orgaan wat in die eerste segment van die abdomen voorkom. Dis vreemd, maar hul “ore” is op hul maag! Dis membrane wat vibreer as daar klankgolwe deurkom.

Sprinkane het saamgestelde oë en die meeste van hul spesies is herbivore.

Die gedeelte van hul boonste agterpote word die femur genoem en is groter as die ander pote omdat daar groot spiere is. Dit maak die pote ideaal om mee te spring. Die manlike sprinkane maak ’n geluid deur die tandjies op die agterpoot teen ’n aar op die voorvlerk te beweeg. ’n Mens noem dit stridulasie as hulle ’n skril geluid maak.

Party sprinkane is aangepas tot sekere habitatte soos die Suid-Amerikaanse sprinkane van Pauliniidae. Hulle kan swem en lê eiers op onderwaterplante!

Sprinkane word nogal groot en party word tot groter as 11 cm soos die Tropidacris in Suid-Amerika.

Sprinkane word in die natuur beheer deur ’n prooi te wees vir roofdiere soos voëls, paddas en slange en as hulle oeste vernietig, gebruik boere gewoonlik insekdoders om van hulle ontslae te raak.

Nes krieke, lê die wyfie ook die eiers met ’n ovipositor (of lêboor) in die grond en wanneer die weer dit toelaat, broei die eiers uit en die nimfe kom te voorskyn. Hierdie nimfe vervel dan ’n paar keer en lyk ná elke vervelling al hoe meer soos ’n sprinkaan moet lyk. Die meeste sprinkane vervel vyf keer en nadat die laaste vel afgeskud word, is dit tyd om volwasse te word. 4

Woordbank

aasvreter Diere wat ontbinde materiaal eet.
abdomen Insek se agterlyf.
kamoefleer Wanneer jy probeer om jouself onopsigtelik te maak deur ’n bedekking of beskildering.
gewasse Dit wat aangeplant word vir boerderydoeleindes, soos koring, mielies, vrugte en dies meer.
herbivore ’n Dier wat hoofsaaklik plante eet.
ovipositor Dit word ook ’n lêboor genoem en is die orgaan waarmee insekte eiers in pakkies in die grond of in ’n plant lê nadat ’n gaatjie geboor is.
pes Iets wat jy haat; ’n plaag.
prooi ’n Dier wat deur ander diere gevang en geëet word.
stridulasie Dis ’n skril geluid wat sommige insekte maak of laat hoor.
voelhorings Dis die tasorgane wat in die vorm van ’n spring of horing aan die kop van sekere diere is.
voor die voet Alles, sonder onderskeid/uitsondering; sommer net so.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer uit te vind

10 feite oor sprinkane

Mooiste sprinkane

Reusagtige gepantserde krieke

Só lyk ’n sprinkaanplaag

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Oktober 2022 | Bygewerk op 8 November 2023