Vinnige feite

  • Daar bestaan ’n mite dat Napoleon baie kort was. Die gemiddelde man in Frankryk vandag is 1,78 m lank, 10 en Napoleon was maar 1,68 m. As jy hom egter vergelyk met die mans van sy eie tyd, was hy 3 cm langer as die gemiddelde, want die gemiddelde man in Frankryk in 1800 was 1,65 m lank! 11
  • In 1803 moes Napoleon geld bymekaar maak vir sy oorlogspoging. Hy het ’n stuk grond in Noord-Amerika wat Frankryk besit het, aan die VSA verkoop vir $15 miljoen, in wat bekendstaan as die Louisiana Purchase. 1 Dit is in vandag se geldwaarde meer as R7,7 miljard, vir ’n stuk grond groter as Spanje, Italië, Duitsland, Frankryk en Pole saam! 12
  • Op sy hoogtepunt het Napoleon se ryk meer as 10% van die wêreld se bevolking ingesluit. 4
  • Een van Napoleon se bekende sêgoed was: “Die enigste manier om ’n goeie leier te wees, is om vir mense die toekoms te wys; ’n leier is iemand wat in hoop handel dryf”. 1
  • Die eiland waarheen Napoleon verban is, St. Helena, was later een van die plekke waarheen Boere-krygsgevangenes in die Anglo-Boereoorlog verban is. 5
  • Die idee om na ʼn oorlog as ʼn guerrilla-oorlog te verwys, kom van die Spaanse guerrilla-vegters wat teen Napoleon op die Iberiese skiereiland geveg het. 3
  • Die bekende Arc de Triomphe-monument in Frankryk is opgerig in Napoleon se eer. 13
Foto: iStock

Wanneer ‘n mens aan die grootste militêre leiers in die geskiedenis dink, is een van die eerste name wat by jou opkom, dié van Napoleon Bonaparte. Hy was ’n Franse keiser wat vroeg in die 19de eeu Europa oorheers het, en in die proses een van die grootste ryke in die geskiedenis geskep het!

Vroeë jare

Napoleon Bonaparte is op 15 Augustus 1769 in Korsika, ’n eiland in die Middellandse See, gebore. Hy was die tweede kind van Carlo Buonaparte, ’n prokureur, en Letizia Romalina Buonaparte. Die familie was deel van die adellike stand, maar hulle was nie ryk nie. 1

Korsika was ’n Italiaanse staat, maar in die jaar voor Napoleon se geboorte het Frankryk die eiland oorgeneem. Daarom het Napoleon die Franse spelling van sy van, Bonaparte, bó die Italiaanse spelling, Buonaparte, verkies. 1

Napoleon was in Frankryk op skool. In adellike families was die gebruik dat die tweede seun by die weermag aansluit, en daarom is Napoleon na ’n Franse militêre akademie toe, waar hy in 1785 gegradueer het. 2

Vroeë loopbaan en die Franse Revolusie

Napoleon het sy militêre loopbaan begin as tweede luitenant in ’n artillerieregiment. Hy het ’n natuurlike aanleg in wiskunde en militêre wetenskap gehad en dit het van hom ’n uitstekende militêre offisier gemaak het. Hy is dus vinnig bevorder. 3

Toe die Franse Revolusie in 1789 uitbreek, was Napoleon met vakansie in Korsika en het hy sy pos in die weermag verloor. In 1793 het die Buonaparte-familie na Frankryk gevlug, waar Napoleon weer by die weermag aangesluit het. 1

’n Radikale groep, die Jakobyne, het intussen mag in Frankryk oorgeneem. Hulle het die Franse Skrikbewend (soms die Rooi Terreur genoem) op die been gebring, wat ’n tydperk van geweld teen die vyande van die Revolusie teweeggebring het. Napoleon was goed bevriend met die Jakobyne se leier, Maximilien Robespierre, se broer, Augustin. Hy is gou tot brigadier-generaal bevorder. 1

Maximilien Robespierre, leier van die Jakobyne.

Teen 1794 het die Jakobyne egter mag verloor en Napoleon is onder huisarres geplaas. 1

Die opkoms van Napoleon

Napoleon is die volgende jaar vrygelaat en het weer by die weermag aangesluit. Een van die belangrikste oomblikke van sy vroeë loopbaan het nou aangebreek.

’n Paryse skare het teen die regering in opstand gekom en die paleis by Tuilerieë bestorm. 2 Napoleon het die opstand onderdruk deur sy troepe te beveel om op die skare te vuur. 1 As gevolg hiervan, en ook omdat baie generaals óf dood is óf as gevolg van die Revolusie uit Frankryk gevlug het, is hy tot generaal bevorder. Hy was slegs 24 jaar oud. 4

Sedert 1792 was Frankryk in ’n reeks oorloë met die ander Europese lande gewikkel. Napoleon is as bevelvoerder van die Franse magte in Oostenryk aangestel. Sy troepe het die Oostenrykse magte in Italië verslaan en vir Frankryk baie grondgebied verower. 1 Hy was besig om vir homself ’n goeie reputasie op te bou. 2

In 1798 het die regering hom beveel om Engeland in te val. Napoleon het egter gevoel dat Frankryk se vloot nie sterk genoeg was nie. Hy het voorgestel dat hulle eerder Egipte inval in ’n poging om Brittanje se handelsroetes met Indië te vernietig. 1

Die Slag van Piramides in Julie 1798.

Napoleon se troepe het die Egiptenare by die Slag van die Piramides in Julie 1798 verslaan en Egipte oorgeneem. 5 Die Franse vloot is egter die volgende maand deur die Britse vloot in die Slag van die Nyl afgemaai. Napoleon se weermag was nou gestrand, sonder ’n manier om terug te keer Frankryk toe. Hulle het dus oos beweeg en vroeg in 1799 die land Sirië, wat in daardie stadium deel van die Ottomaanse Ryk was, ingeval. 1

Staatsgreep

Die politieke situasie in Frankryk was onstabiel. Die land het erge ekonomiese probleme gehad en die direktoraat, die groep van vyf mense wat Frankryk sedert 1789 regeer het, was korrup en ongewild. 2

Napoleon het sy kans aangegryp. Hy het teruggekeer Frankryk toe, waar hy soos ’n held ontvang is. Op 9 November 1799 het Napoleon aan die staatsgreep deelgeneem wat die direktoraat omvergewerp het. Die direktoraat is vervang met ’n konsulaat bestaande uit drie konsuls. Napoleon was die eerste konsul, met ander woorde die mees leidende persoon in Frankryk. 1

As eerste konsul kon Napoleon wette maak, ministers aanstel, en oorlog verklaar. 6 Sy mag is verder versterk toe hy in 1802 as lewenslange eerste konsul aangewys is. 7

Hy wou egter nie saam met die ander konsuls regeer nie. Daarom het hy in 1804 ’n volkstemming uitgeroep waar die mense kon stem of hulle hom as keiser wou hê. Omtrent 4 miljoen mense het gestem en die meerderheid het “ja” gestem. 3 In ’n uitspattige seremonie by die Notre Dame-katedraal het Napoleon homself op 2 Desember 1804 as keiser van Frankryk gekroon. 7

Napoleon as heerser

Napoleon se bewind kan vanuit twee perspektiewe bestudeer word. Die eerste is sy binnelandse beleid, of die manier hoe hy Frankryk polities, ekonomies, kultureel, maatskaplik en godsdienstig regeer het. Die tweede is sy buitelandse beleid wat hy deur ’n reeks oorloë, vandag bekend as die Napoleontiese Oorloë, probeer bereik het.

Binnelandse beleid

Napoleon het regeer in die chaotiese jare ná afloop van die Franse Revolusie. Hy moes Frankryk probeer stabiel kry en ook die idees van die Revolusie, soos gelykheid en vryheid, uitbou. 6

Op politieke gebied het hy die regering gesentraliseer. Sy grootste sukses was die Napoleontiese Kode (in Frans: Code Napoléon), ’n nuwe Franse regstelsel wat vandag nog in gebruik is. 1 Volgens die Napoleontiese Kode is alle mans (nie vroue nie) gelyk verklaar, en die regte en verantwoordelikhede van elke Fransman is uiteengesit. Voorts is verhore met ’n jurie ingestel en egskeidings is wettig gemaak. 6

Napoleon het die idee dat mense bevorder moes word, gebaseer op talent en meriete, en nie meer stand en familie nie, laat implementeer. Hy het in 1802 die Erelegioen (in Frans: Ordre national de la Légion d’honneur) geskep. Dit het mense met talent vereer en beloon vir hul diens aan die land, deur aan hulle medaljes of pensioene te gee. 6

Op ekonomiese gebied het hy die Bank van Frankryk (in Frans: Banque de France) gestig. 4 Nuwe paaie, brûe, kanale en geboue is gebou. Ligte wat met gas gewerk het, is opgerig om strate te verlig, en skoon water is na die stede aangelê. 6

Die Bank van Frankryk het sy ontstaan aan Napoleon te danke.

Op kultuurgebied het hy die kunste en wetenskap bevorder deur onder meer monumente en kunsgalerye te laat oprig. 6

Op maatskaplike gebied het hy die onderwysstelsel hervorm. 1 Skole is gebou en die skoolstelsel moes verseker dat iemand se talent, eerder as sy of haar stand, daardie persoon se toekoms bepaal. 2

Op godsdienstige gebied het hy die twis wat daar tussen die Franse regering en die Katolieke Kerk was probeer herstel. 1 In 1801 het hy ’n konkordaat met die Pous geteken wat die Katolieke geloof as die amptelike geloof in Frankryk herstel het. Geloofsvryheid vir ander gelowe is egter steeds toegelaat. 6 Omdat die meeste Franse Katolieke was, was die konkordaat ’n uiters gewilde stap. 2

Napoleon neem goeie én slegte besluite

Ten spyte van al sy positiewe hervormings, het Napoleon soos ’n despoot, oftewel ’n alleenheerser wat met geweld sy mag beskerm, regeer. 6

Hy het byvoorbeeld die Franse adellike stand, wat deur die Revolusie vernietig is, teruggebring. 1 In daardie gebiede wat Frankryk verower het, het hy sy eie broers as koninklikes aangestel. 6

Slawerny is teruggebring en vroue se regte is verminder. 3

Geen teenstand teen hom is geduld nie. Vryheid van spraak is onderdruk en die koerante is aan die regering onderwerp en gebruik vir propaganda. Die geheime polisie moes sy vyande uitsnuffel. Hy het al sy regeringsamptenare self aangestel en hulle persoonlik bestuur. 6

Napoleon se leierskap het goeie én slegte eienskappe gehad. Frankryk was wél ’n diktatorskap, maar sy hervormings het die meeste mense se lewe verbeter. 6

Impak van Napoleon se idees

Napoleon se idees het vinnig deur die lande wat deur Frankryk oorwin is, versprei. Die Napoleontiese Kode is oral geïmplementeer. Die idees daarin, soos dat jy onskuldig was totdat jy skuldig bewys is, dat jy nie sonder rede in hegtenis geneem kon word nie, en dat almal gelyk voor die wet behandel moes word, het die lewe van mense oor die hele Europa onherroeplik verbeter. 3

Een van die belangrikste gevolge van die Napoleontiese ryk was die opkoms van nasionalisme. Vir die eerste keer het soldate vir hul land, eerder as ’n koning, geveg. Die inwoners van lande wat hy oorwin het, wou nie onder Franse beheer wees nie, maar eerder onder ’n regeerder van hul eie land. 6

Nasionalisme was een van die belangrikste nuwe idees van die 19de eeu, en een van die oorsake van die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918).

Buitelandse beleid: Die Napoleontiese oorloë, 1803-1815

Gedurende Napoleon se bewind was Frankryk betrokke in wat vandag bekend staan as die Napoleontiese Oorloë. 1 Napoleon het Frankryk se grondgebied aggressief probeer uitbrei en die ander Europese nasies het verskeie koalisies gevorm om hom te probeer keer. 4

Agtergrond

Voor 1802 was Frankryk in oorloë gewikkel met ander Europese moondhede, maar teen 1802 het Frankryk óf die ander oorwin, óf met hulle vredesverdrae gesluit. Die laaste hiervan was die Vrede van Amiens met Engeland. 1 Hiervolgens moes Engeland die grondgebied wat hulle in Frankryk, Spanje en Nederland ingepalm het, teruggee. Dit was die einde van die sogenaamde Revolusionêre Oorloë. 5

Die begin van die Napoleontiese Oorloë en die Derde Koalisie

Teen Mei 1803 het die verdrag van Amiens in duie gestort en oorlog het weer tussen Frankryk en Brittanje uitgebreek. Oor die volgende paar jaar het Oostenryk, Swede, Rusland en ’n paar Italiaanse state by Brittanje aangesluit in wat sou bekend staan as die Derde Koalisie (die Eerste en Tweede Koalisies is in die jare voor Napoleon gevorm). 4

Napoleon het ’n veldtog beplan om Brittanje in 1805 in te val. 7 Dit het egter nooit gebeur nie, want die Britse vloot het in Oktober 1805 die Franse vloot by die Seeslag van Trafalgar uitgewis. 1 Sonder ’n vloot kon Napoleon Brittanje nie inval nie.

Terselfdertyd was Napoleon in ’n stryd met ’n Oostenryk-Russiese mag gewikkel. Hier was hy meer suksesvol en in Desember 1805, met die Slag van Austerlitz 1 – een van die bekendste veldslae van die tyd – het hy hulle verslaan. 3

Die Slag van Austerlitz was een van die bekendste veldslae van sy tyd.

As gevolg van hierdie oorwinning, het Napoleon baie grondgebied verower, veral in Pruise, ’n Duitse staat. Hy het hierna die grootste deel van Wes-Europa beheer. 4

Die Vierde Koalisie

’n Paar maande ná die Derde Koalisie oorwin is, is die Vierde Koalisie gevorm. Dit het bestaan uit onder andere Pruise, Rusland, Brittanje en Swede. 4

In 1806 het Pruise besluit om oorlog teen Frankryk te verklaar. Dit was voordat hul bondgenote naby genoeg was om hulp aan te bied. Napoleon het die Pruisiese magte by die Slag van Jena-Auerstedt verslaan, daarna oos gedraai en die Russiese magte by Eylau en Friedland verslaan. 5 Vrede met Rusland is gesluit met die Vredesverdrag van Tilsit in 1807. 4

Die Slag van Friedland.

Die Vierde Koalisie is verslaan, Frankryk het baie nuwe grondgebied gekry, en het hierna ’n wurggreep oor Europa gehad. 5

Die Kontinentale Stelsel, 1806

Napoleon se grootste vyand was Brittanje en sy grootste kopseer die Britse vloot. Laasgenoemde het gemaak dat hy nie Brittanje direk kon aanval nie, en dit het Brittanje in staat gestel om ander lande teen Napoleon te steun. 4

In ’n poging om Brittanje te vernietig, het Napoleon die Kontinentale Stelsel geïmplementeer. 5 Die plan was om alle hawens op Europa se vasteland teen Britse handel te sluit en alle Europese lande te verbied om met Brittanje handel te dryf. 1 Sodoende sou Brittanje ekonomies geknak word.

Die plan het egter nie geslaag nie. Brittanje het hul vloot gebruik om álle seehandel met Europa stop te sit. 5 Sommige lande het boonop aangehou om agter sy rug met Brittanje handel te dryf, gevolglik is Brittanje se ekonomie nié verswak nie. Die ander Europese lande het ekonomies skade gely en Napoleon daarvoor verkwalik. 4

Peninsulêre oorlog

Portugal en Spanje, die twee lande op die Iberiese skiereiland, het nie by die Kontinentale Stelsel gebly nie. Gewone mense in die twee lande het in opstand gekom teen die Franse besetting van die gebied. 5 Napoleon het sy troepe na die gebied gelei om die weerstand te onderdruk. Hulle was aanvanklik suksesvol, maar toe die Vyfde Koalisie in 1809 gevorm is, moes Frankryk sommige troepe onttrek en oos stuur. Boonop het Brittanje tot die hulp van die Spanjaarde gekom. 4 Britse troepe onder generaal Wellesley, wat later die hertog van Wellington geword het, het begin grond wen. 5 Die oorlog het Franse mannekrag en hulpbronne gedreineer. 4

Die Vyfde Koalisie

In 1809 het Oostenryk en Brittanje die vyfde koalisie gevorm. Oostenryk het in die ooste die Franse gebied van Pole ingeval om grondgebied wat hulle vroeër aan Frankryk verloor het, terug te wen. Die Britte sou intussen die Franse troepe in Iberië in die weste besig hou. 4

Napoleon het self na die oorlogsfront gegaan om sy troepe te lei. Die Franse is tydelik teruggedryf, maar het uiteindelik die Oostenrykers by die Slag van Wagram verslaan, en Wene, die hoofstad van Oostenryk, beset. 4

In die Slag van Wagram is die Oostenrykers verslaan.

Die inval in Rusland

Rusland het ook die Kontinentale Stelsel geskend. Napoleon het die Grande Armée, ’n massiewe weermag van 600 000 soldate, op die been gebring en Rusland in 1812 binnegeval. 4

Pleks daarvan om terug te veg, was die Russe se taktiek om telkens terug te val wanneer Napoleon se magte hulle aangeval het. Napoleon se troepe het sodoende al hoe dieper in Rusland inbeweeg, al was hulle glad nie gereed vir ’n lang veldtog nie. Daar was wel ’n paar groot veldslae, soos die Slag van Borodino in September, maar ten spyte van groot verliese kon nie een land die oorhand kry nie. 1

Die Slag van Borodino.

Napoleon se troepe het uiteindelik in Moskou inmarsjeer, maar die Russe het die stad ontruim. Die terugvallende Russiese troepe het boonop dele van die stad aan die brand gesteek om te verhoed dat die Franse enige hulpbronne, soos kos, kon kry. Napoleon het vir die Russe gewag om te kom oorgee, maar hy het tevergeefs gewag. 1

Ná 36 dae in Moskou het hy sy honger, moeë troepe beveel om terug te val Frankryk toe. 1

Die terugval was ’n ramp. Die Grande Armée is meedoënloos deur die Russiese weermag lastig geval. Die ysige Russiese winter het ook sy tol geëis. Minder as ’n tiende van al die Franse soldate het dit lewendig huis toe gemaak. 8

‘n Voorstelling van die Grande Armée.

Napoleon het dus geen veldslae in Rusland verloor nie, maar ook nie ’n beslissende oorwinning gehad nie. 3 Hy kon daarom nie die Russe dwing om by sy Kontinentale Stelsel te hou nie.

Napoleon word verslaan

Die peninsulêre oorlog het intussen voortgesleep. Die Spanjaarde en Portugese, met die hulp van die Britte, het dit uiteindelik reggekry om die Franse te verdryf. In 1813 het die Franse ’n groot terugslag beleef toe hulle in Leipzig teen ’n koalisie van Oostenrykse, Pruisiese, Russiese en Sweedse troepe verloor het. 1 Hierdie slag staan soms as die Slag van Nasies bekend en is waarskynlik een van die belangrikste veldslae van die Napoleontiese Oorloë. 4

Napoleon moes terugval tot in Frankryk, en in Maart 1814 het die koalisie Parys beset. 1

Napoleon het sy generaals se steun verloor, 4 en op 6 April 1814 het hy sy van sy kroon afstand gedoen. Volgens die Verdrag van Fontainebleau is hy na Elba, ’n eiland in die Middellandse See, verban. 1

Die Honderd Dae-veldtog en die slag van Waterloo

Op 26 Februarie 1815, ná minder as ’n jaar in ballingskap, het Napoleon met ongeveer 1 000 ondersteuners ontsnap en na Frankryk geseil. 1 Die nuwe Franse koning, Louis XVIII, was uiters ongewild, 3 en Napoleon is in Parys deur jubelende skares verwelkom. Louis XVIII het gevlug, en Napoleon het weer die troon oorgeneem. 1

Die Franse koning Louis XVIII was baie ongewild.

Die tydperk wat hierop volg, staan as die Honderd Dae-veldtog bekend. Direk ná Napoleon se terugkeer het ’n koalisie van Oostenryk, Brittanje, Pruise en Rusland begin gereedmaak vir oorlog. Napoleon het ’n nuwe weermag op die been gebring, en beplan om eerste aan te val, sodat hy die ander lande se magte een vir een kon vernietig voordat hulle kon verenig. 1

In Junie 1815 het sy troepe België binnegeval, waar Britse en Pruisiese troepe gestasioneer was. Op 16 Junie het sy troepe die troepe van Pruise by die slag van Ligny oorwin. Twee dae later, by die Slag van Waterloo, is die Franse deur die Britte, met die hulp van Pruisiese magte, verslaan. 1

Die Franse is deur die Britte by die Slag van Waterloo verslaan.

Napoleon het nou weer al sy steun verloor en op 22 Junie 1815 moes hy wéér abdikeer. 1

Napoleon se verbanning

Hierdie keer is Napoleon na die afgeleë Britse eiland van Sint Helena, in die middel van die Suid-Atlantiese Oseaan, verban. 1 Hy het die res van sy lewe daar deurgebring.

Hoekom was Napoleon so suksesvol?

Napoleon was ’n buitengewoon talentvolle militêre leier. Hy het ’n ongelooflike geheue gehad, en kon spesifieke besonderhede, soos hoeveel soldate in elk van sy regimente was, onthou. Hy het geweet waar elkeen was en waarheen hulle op pad moes wees. 6

Boonop het sy soldate geweet dat hy vir hulle omgegee het. Hy het byvoorbeeld gesê: “ n Weermag marsjeer op sy maag”, en het altyd seker gemaak dat sy troepe genoeg en voedsame kos gehad het. 6

Terloops, Napoleon het na aanleiding van die probleem om voedsel aan soldate te verskaf, ’n prys van 12 000 frank uitgeloof. Nicolas Appert het toe met ’n metode vorendag gekom om voedsel te preserveer. Appert staan vandag bekend as die vader van die voedselwetenskap. 9

Napoleon was baie ambisieus, uiters charismaties en ongelooflik gewild. Vir baie Franse was hy die toonbeeld van die Nuwe Wêreld ná die Franse Revolusie: ’n bewys dat iemand met die talent, vermoë en ambisie die hoogste posisie in die land, wat vroeër slegs vir koninklikes beskore was, kon beklee. 2

Persoonlike lewe

In 1799 het Napoleon met Josephine de Beauharnais getrou. Sy was ’n weduwee met twee tieners. Toe hulle tien jaar later nog nie kinders gehad nie, het hy die huwelik ontbind om met ’n vrou te trou wat vir hom ’n erfgenaam kon gee. 1

In 1810 het hy met Marie Louise, die dogter van die keiser van Oostenryk, getrou. Die volgende jaar is Napoleon François Joseph Charles Bonaparte, wat later bekend was as Napoleon II, gebore. Napoleon het ook ander buite-egtelike kinders gehad. 1

Napoleon het op 5 Mei 1821 op 51-jarige ouderdom gesterf, waarskynlik aan kanker. 1

Hy is eers op St. Helena begrawe, ten spyte van sy versoek om in Parys begrawe te word. In 1840 is sy oorskot opgegrawe en teruggeneem Frankryk toe, waar hy in die grafkelder by Les Invalides in Parys, waar ander militêre leiers ook lê, herbegrawe is. 1

Napoleon se oorskot by Les Invalides.
Die Arc de Triomphe-monument in Parys is ter ere van Napoleon opgerig.

Woordbank

abdikeer

Afstand doen van die troon.
adellike Mense wat tot die hoogste sosiale stand behoort.
afgemaai Mense in groot getalle laat sterf.
aggressief Aanvallend, veglustig.
agter sy rug In die geheim, sonder dat hy iets agterkom.
akademie Opleidingsinrigting.
ambisieus ʼn Begeerte hê om suksesvol te wees.
artillerie Kanonne en ander groot geskut van ’n weermag.
beset Om beheer oor ’n plek te neem.
bevorder Om ’n beter werk of hoër rang te kry.
charismaties Sterk en oortuigend. 
despoot ’n Alleenheerser wat met geweld mag uitoefen.
frank Geldeenheid.
geskend Oortree.
gestasioneer Tydelike basis/plek waar soldate gebly het.
jubelende Juigende.
jurie ’n Groep gewone mense wat by verhore beslis of iemand skuldig is of nie.
koalisies Wanneer twee of meer lande ’n ooreenkoms aangaan teen ’n derde land.
konkordaat Ooreenkoms.
korrup Om op ’n oneerlike manier jou mag gebruik om jouself ryk of magtig te maak.
meedoënloos Sonder ophou.
nasionalisme Om lief te wees vir jou land en te glo dis die beste land in die wêreld.
onherroeplik Onveranderd; wat nie ongedaan gemaak kan word nie.
onmin Onenigheid of twis.
peninsulêre oorlog Oorlog op ʼn skiereiland.
propaganda Wanneer die regering inligting vervals of net deel daarvan gebruik om mense te beïnvloed.
Radikale Groep wat drastiese politieke verandering wil hê, soms deur geweld te gebruik.
regeringsamptenare 
Iemand wat ‘n openbare pos het, bv. in diens van die regering. 
regiment Eenheid in ’n weermag.
reputasie Goeie naam; aansien.
sentraliseer Om iets onder een stelsel te verenig.
skiereiland ’n Stuk land wat amper heeltemal deur die see omring is.
staatsgreep Om die regering met geweld oor te neem.
sy tol geëis Swaar verliese gelei.
taktiek Die manier hoe hulle dinge georganiseer het.
uitspattige Oordadige, weelderige.
verban As jy gedwing word om jou land te verlaat.
vloot ’n Land se seemag.
wurggreep Greep waaruit niemand kan loskom nie.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wie was Napoleon?

Die opkoms en val van Napoleon Bonaparte

Volledige geskiedenis van die Napoleontiese oorloë

Die slag van Waterloo

Napoleon: held of boosaard?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Oktober 2023 | Bygewerk op 14 Mei 2024