Vinnige feite

  • Daar is ongeveer 2 000 jaar gelede reeds in Suidelike Afrika met beeste geboer.
  • Daar is ongeveer 150 verskillende inheemse beesrasse in Suid-Afrika.
  • Beeste is nie slegs vir vleis gebruik nie, maar het ook kulturele gebruike gehad.
Foto: iStock

Khoekhoenjagters (of Khoi-jagters) in Suidelike Afrika was ongeveer 2 000 jaar gelede reeds nomadiese herders wat met beeste geboer het. Tot en met die koms van die koloniale tydperk was die Khoekhoengroepe redelik suksesvolle veeboere. 1

Daar is in Suid-Afrika ’n groot aantal woonterreine uit die Ystertydperk waar daar beendere van, onder meer, beeste gekry is. Mapungubwe is een van hierdie terreine. 1

Herkoms van die beeste in Suid-Afrika

Die Afrikanerbeeste waarmee daar in Suid-Afrika geboer word, is afstammelinge van drie verskillende soorte beeste:

  • Die skoflose bees van Eurasië – Bos taurus.
  • Bos indicus van Asië.
  • Bos primigenius van Noord-Afrika. 1

Verskillende inheemse beesrasse

Daar is ongeveer 150 beesrasse wat inheems aan Afrika is. Hierdie rasse het eiesoortige eienskappe ontwikkel omdat hulle by verskillende soorte omgewings moes aanpas.  Die inheemse Afrika-beesrasse kom oor die hele kontinent van Afrika voor. Die enigste uitsondering is die Sahara en in ’n gedeelte van die Kongo waar daar geen beeste voorkom nie 2.

Ongelukkig het baie van hierdie inheemse rasse reeds verdwyn en ander is steeds besig om te verdwyn. Dit word, onder meer, veroorsaak deur kruisteling en die inbring van baie uitheemse beesrasse. 2

Verskillende gebruike van beesprodukte

Mens vergeet soms dat dit nie net die vleis van die bees is wat gebruik is nie:

  • Vel: Die vel van beeste is gebruik om klere en komberse van te maak
  • Mis: Mis is gebruik om mee vuur te maak. Dit word vandag soms steeds so gedoen.

Dit was die werk van vroue en kinders om die mis in die veld te versamel. Soms is droë miskoeke in die veld opgetel om mee vuur te maak. Soms is nat beesmis gebruik om ovaalvormige stukke (miskoeke) te vorm. Hierdie vorms is dan in die son drooggemaak en by die huise opgestapel vir vuurmaakgoed.

Mis is ook gebruik om huise se vloere en mure mee te smeer. Die mis-en-modderpleisters het egter oorgegaan na pleisterwerk met sement.

Kulturele betekenis van beeste

Beeste is nie slegs belangrik vir boere om inkomste vir boere en voedsel vir mense te gee nie. Beeste het ook ’n belangrike kulturele betekenis onder van die volke in Suid-Afrika.

Hier volg voorbeelde van enkele van die kulturele gebruike van beeste:

Lobola

Beeste is ook die manier waarop ’n man vir sy vrou “betaal” het. Mans het beeste as lobola aan die familie van sy vrou gegee voor hulle getroud is. Die lobola is oorhandig ná lang onderhandelings tussen lede van die twee families. 3

Begrafnisse en troues

Beeste word tydens begrafnisse en troues geslag. Dit word nie alleen gedoen om vleis te gee vir die mense wat die begrafnis bywoon nie, maar dit vorm ook deel van die rituele by hierdie geleenthede. 4

Woonplekke

Wanneer ’n nuwe woonplek gekies moes word, word die woonplek gebou waar daar goeie weiding vir die beeste is. Die beeskraal word beskou as ’n belangrike en heilige plek en die kraal was gewoonlik sentraal met die wonings rondom die pleister gebruik.

Die leen van beeste tussen boere

Onder die Zoeloes kom die gebruik van ukusisa voor. Hierdie gebruik het beteken dat ’n ryk boer (umnumzane) met baie beeste ’n aantal beeste “geleen” het aan ander boere wat nie baie beeste gehad het nie. Die tweede boer pas die ryk boer se beeste op en in ruil daarvoor kan hy die beeste melk en die melk self gebruik. Hy kry ook sommige van die kalwers van daardie beeste wanneer hy die beeste teruggee. Op hierdie manier kry albei boere voordeel uit die ooreenkoms tussen hulle.

Die beeste is op hierdie manier ook oor ’n groter gebied versprei. Indien daar dan droogte of iets soos ’n natuurramp in een gebied was, beteken dit dat al die beeste nie daardeur getref is nie. 4

Die eienaar van die beeste kon die beeste enige tyd terugvra. Hy kon ook vra vir melk van sy koeie. Hierdie gebruik het ook die mag van die ryk boer gewys en die boer wat die beeste so geleen het, moes respek toon aan die eienaar van die beeste 5.

Die Tswanas het ’n soortgelyke gebruik gehad. Ook die Sotho’s het so ’n gebruik gehad wat hulle mafias genoem het. 5

Wit beeste

Konings het soms ’n voorkeur vir sekere soort beeste gehad. Koning Shaka het byvoorbeeld wit beeste verkies met swart op die punte van die ore en rondom die bekke. Die kleur wit het onder die Zoeloes ’n godsdienstige en geestelike betekenis gehad. Wit is ook beskou as die kleur van die voorvaders en van waarsêers. ’n Wit kleur het ook, volgens die Zoeloes, teen weerlig beskerm.  Daarom is wit kalwers wat onder die beeste van die koning se onderdane gebore is, vir die koning gegee. 4

Die belang van beeste onder die Xhosa

Ook onder die Xhosas is beeste die fokus waarom ’n groot deel van hul bestaan gedraai het. Beeste is gebruik as offers aan die voorouergeeste en was dus ’n soort skakel tussen die mense wat nog leef en die wat reeds oorlede is. 4

Nongqawuse en Nonkosi, 1856

’n Baie belangrike gebeurtenis met beeste onder die Xhosa, het in die tydperk 1856-’57 gebeur. ’n Jong meisie met die naam Nongqawuse wat 15 jaar oud was, was saam met ’n ander meisie besig by haar oom se landerye in die omgewing van waar die Wildekus vandag is. Toe hulle terugkeer huis’ toe, het Nongqawuse aan die volwassenes vertel dat sy ’n ontmoeting met voorouergeeste gehad het.

Hulle het haar opdrag gegee om die volgende aan haar volk oor te dra: 6

Hulle moes al die beeste doodmaak en nie meer enigiets in die landerye plant nie. Wanneer hulle dit doen, sou dooie familielede weer lewendig word en die voorouergeeste sou al die Europese setlaars in die see injaag. Dan sou die Xhosa-volk weer hul graanhouers kon volmaak en hul krale met meer en beter beeste volmaak. 7

Nie almal het hierdie voorspelling geglo nie, maar die meeste Xhosa-boere het oor ’n tydperk van ongeveer ’n jaar hul vee en graan vernietig. Daar het toe ernstige hongersnood ontstaan en duisende Xhosas is as gevolg daarvan dood. 7

Ander gebruike van beeste

In die tyd van die Voortrekkers het beeste die belangrike werk gehad om die waens waarmee die Voortrekkers uit die Kaap uit weggetrek het, te trek.

Osse is ook gebruik om boere se ploeë mee te trek 6.

Woordbank

inheems Iets wat in ’n land of gebied tuishoort, wat van nature daar hoort.
koloniale tydperk Die tyd waarin lande ander lande beheer en as hulle kolonies regeer het.
nomadiese herders Herders wat rondgetrek het.
Ystertydperk ’n Tyd waarin mense wapens en implemente begin gebruik het wat hulle van yster gemaak het. 7

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 Februarie 2022 | Bygewerk op 18 Maart 2024