Vinnige feite

  • Die oudste insekfossiel is in Skotland gevind en daar word beraam dat dit 408 tot 438 miljoen jaar oud is! Die oudste fossiel met vlerke dateer weer 330 miljoen jaar gelede. 7
  • Daar word altyd gesê dat bye besig is, en hulle is beslis as jy hoor dat slegs een heuningbykolonie jaarliks ongeveer 100 kg heuning maak. Dis ongeveer 220 flessies.
  • Raar, maar glo waar: Muskiete het blykbaar ʼn ding vir stink voete …
  • Liewenheersbesies is slimmer as wat ons dink, want hulle maak soms asof hulle dood is as hulle ʼn vyand gewaar.
  • Die Goliatkewer van tropiese Afrika weeg blykbaar die swaarste van al die insekte. Die outjie weeg ongeveer 100 g.

Party mense hou van hulle, en party mense hou net mooi niks van hulle nie. Hulle dink dié diertjies is die grillerigste goeters op aarde. Ja, jy het reg geraai. Ons praat van goggas oftewel insekte. Wat is insekte? Wel, ʼn magdom klein diertjies behoort aan die insekfamilie, maar om ʼn insek genoem te word, moet jy ses pote hê. Die woordeboek sê ʼn insek is dus ʼn klein diertjie wat kruip of vlieg en wat ses pote het. 1

Skoenlappers, bye, miere, sprinkane, naaldekokers, kewers en vlieë is almal deel van die enorme insekfamilie. As jy gedink het jy het ʼn groot familie, moet jy die insekfamilie sien. Hulle is soms klein tot piepklein, maar hulle vorm saam die grootste groep diere op ons planeet. Ongeveer 75% van alle diere op aarde is insekte.

Die insekte was selfs hier voor ons mense op die aarde, en vandag is daar ongeveer 1 miljoen insekspesies. Wat veral merkwaardig is, is dat wetenskaplikes steeds nuwe spesies ontdek! 2

ʼn Pes of plesier?

Dit is ʼn feit dat ons mensdom insekte nodig het om te oorleef. Hulle is noodsaaklik vir enige ekostelsel. Hulle bestuif plante, breek plant- en dierereste af, is ʼn bron van kos en vorm ʼn onontbeerlike deel van voedselkettings. Baie diere eet insekte, spesifiek voëls eet ongeveer 400 tot 500 miljoen ton insekte per jaar. 3  Wat sal hierdie diere eet as daar nie insekte is nie? Die bewaring van insekte is dus ʼn ernstige saak, want ons het veral insekte nodig om plante te bestuif, sodat mens en dier dit kan eet. Insekte bestuif ʼn derde van alle gewasse wat ons eet. Hulle help ook om gesonde, lewende grond te skep. 4

Heuningbye is glo die belangrikste van al die bestuiwers. 5 Insekte kan beter beskerm word as sekere gebiede bewaar word en as mense meer insekvriendelik is en nie pesdoders (wat alle insekte uitwis) gebruik nie. 4  

Insekte het baie natuurlike vyande, maar die mens is seker die grootste vyand van almal, want ons beskadig hul ekostelsels. Hoe gebeur dit? Hul ekostelsels word bedreig deur besoedeling, skadelike pesdoders, indringerspesies wat hul habitat oorneem en klimaatsverandering. 4

Nog ʼn voordeel van insekte is dat hulle dinge maak wat ons as mense nodig het, byvoorbeeld bye se heuning en sywurms se sy. Sy is ʼn baie waardevolle produk, en China is veral bekend vir hul sy. Hulle vervaardig ongeveer 50 000 metrieke ton rou sy per jaar, wat omtrent 80% van die wêreld se voorraad is. Byewas word weer as ʼn basis van talle produkte gebruik – van kerse tot rome. Sekere insekspesies gee ook kleurmiddels wat in allerlei produkte gebruik word. 5

Insekte word boonop in navorsing gebruik om meer te leer. Vrugtevlieë word byvoorbeeld in genetiese studies gebruik omdat hulle so ʼn kort lewensduur het. Hulle leef net vir tien dae. 5

Daar is egter ook insekte wat siektes oordra wat gevaarlik vir mense en dier is. Muskiete kan byvoorbeeld malaria oordra wat baie gevaarlik is, en bosluise kan omtrent ʼn swetterjoel siektes oordra, soos Lyme-siekte, Krim-Kongo- hemorragiese koorssiekte en die Arena-virus. 6

Vlieë is draers van talle bakterieë wat tot siektes soos ingewandskoors, disenterie en cholera kan lei. Swartmuggies kan weer rivierblindheid versprei, wat veral in Wes- en Sentraal-Afrika voorkom.

Vlooie is ook nie skadeloos nie, want hulle kan allerlei infeksies by mens en dier veroorsaak. Hulle was vermoedelik vir die builepes – waaraan soveel mense tydens die Middeleeue dood is – verantwoordelik. 6

Habitat

Insekte bly oor die wêreld heen, en hulle kan omtrent enige plek op aarde bly, solank daar net kos beskikbaar is. Insekte word selfs in koue gebiede gevind en so ook in warm reënwoude, woestyne, berge, grotte en varswaterbronne. ʼn Paar spesies kan selfs in soutwater oorleef. 2

Voorkoms

Insekte vorm ook deel van ʼn groter groep Arthropoda. In Afrikaans noem ons hulle die geleedpotiges, wat ook spinnekoppe, vlooie, krewe en krappe insluit.  Insekte en ander geleedpotiges se liggame kan in duidelike segmente verdeel word. Hulle is ongewerweld. Dit beteken hulle het nie ʼn skelet in die liggaam nie, en het almal ʼn bedekking (soos ʼn vel of dop) buite hul liggaam. Hierdie uitwendige skelet word ʼn eksoskelet genoem en beskerm hul liggaam en ingewande. 2

Hoewel insekte deel van ’n klas van die geleedpotiges is, is daar wel verskille tussen die klasse, veral wat liggaamsdele betref. Insekte het drie hoofsegmente – die kop, die toraks (bolyf) en abdomen (agterlyf). Hulle het ook ses bene, waar ander geleedpotiges (soos spinnekoppe) weer agt pote het. Insekte het ook minstens een paar voelers of antennas, en hul koppe bevat die mond, oë en voelers. 2

Baie insekspesies se volwasse insekte het twee paar oë: eenvoudig en saamgesteld. Saamgestelde oë is eintlik baie oë en gee die insek uitstekende sig, en hy kan alles sommer uit ʼn paar hoeke terselfdertyd aanskou. As hy byvoorbeeld sy oog op ʼn prooi het, sal die prooi sukkel om ongesiens weg te kom …

Die toraksgedeelte het drie paar pote en gewoonlik twee paar vlerke, maar ons kry ook insekte met slegs een paar vlerke of geen vlerke nie.

Die agterlyf het baie gedeeltes soos die organe.

Soos genoem, is daar ongelooflik baie spesies van insekte, en natuurlik lyk hulle almal nie presies dieselfde nie, al deel hulle sekere kenmerke. Hul kleure verskil en natuurlik hul grootte ook. Die meeste spesies is klein, gewoonlik minder as 6 mm lank, maar party insekte soos stokinsekte (walking sticks) kan meer as 30 cm groot word.

Voeding

Insekte eet ʼn groot verskeidenheid van plante, diere en ander lewendige dinge. Naaldekokers is byvoorbeeld karnivore en smul graag aan muskiete, terwyl ander insekte soos sprinkane weer slegs plante eet en herbivore is. Sekere insekte bly selfs op die liggame van ander diere en kry só hul kos in. Hierdie insekte, soos luise en vlooie, word parasiete genoem.

Gedrag

Insekte beskerm hulself op verskeie maniere teen hul vyande. Party kamoefleer hulself soos ʼn jagter wat ʼn kamoefleerbaadjie aantrek om onopsigtelik in die bos te wees. [Lees hier meer van kamoeflering.] Daar is byvoorbeeld motte wat dieselfde kleur as bome se stamme aanneem. Kewers het weer ʼn harde dop wat hulle beskerm. Sekere insekte byt of steek hul vyande (eina, bye en muskiete!) en daar is ander wat selfs gif produseer.

Sommige insekte hou van hul eie geselskap, terwyl ander weer in groepe leef. Termiete, miere en sekere bye leef in georganiseerde groepe. Elkeen in die gemeenskap het ʼn spesifieke rol soos termiete wat óf werkers, óf soldate is. 2

Insekte se lewensiklus

Die meeste insekte broei uit eiers en daar is twee basiese lewensiklusse. Sommige insekte word in byna dieselfde vorm as hul volwasse vorm gebore, soos sprinkane en kakkerlakke. Hulle gaan dan deur ʼn groeiproses.

Ander insekte ondergaan ʼn totale verandering of metamorfose. Nadat hulle uitbroei, is hulle eers ʼn larwe en lyk meer soos ʼn wurm as ʼn insek. Die larwe eet ook en verander van vorm, en dan is daar ʼn rustende stadium in ʼn vorm wat ʼn papie genoem word. In hierdie stadium word al die kenmerke van ʼn volwasse insek gevorm, soos die vlerke en pote. As die stadium voltooi is, verskyn die volwasse insek. Bye, skoenlappers en motte word op hierdie manier ontwikkel.

Woordbank

abdomen Insek se agterlyf
ekostelsel ʼn Stelsel wat uit lewende organismes en hul omgewing bestaan 1
eksoskelet Die harde buitenste vel van sekere ongewerwelde diere 1
kamoefleer As jy probeer om jouself onopsigtelik te maak deur ʼn bedekking of beskildering 1
herbivore ʼn Dier wat hoofsaaklik plante eet
karnivore ʼn Dier wat hoofsaaklik vleis eet 1
metamorfose ʼn Verandering in vorm en dikwels gewoontes van ʼn dier gedurende normale ontwikkeling ná die embriofase, byvoorbeeld, by insekte, die larwe/wurm wat as vlieg/skoenlapper uit die papie klim 1
parasiete ʼn Klein diertjie of plantjie wat op of binne-in ʼn ander dier of plant lewe en vir sy voedsel van die dier of plant afhanklik is.
prooi ʼn Dier wat deur ander diere gevang en geëet word 1
toraks Die borsgedeelte van ʼn insek 1

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor insekte

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor insekte

Leer hier meer oor die verskillende tipes insekte

Die fassinerende wêreld van insekte

10 interessante insekte

 

 

Gepubliseer op: 17 Mei 2022 | Bygewerk op 23 Januarie 2024