Vinnige feite

  • Meeste soorte diere, insekte, voëls asook plante gebruik kamoeflering vir, onder meer, beskerming en om te jag – in albei gevalle ter wille van oorlewing.
  • Blare word die meeste deur diere nageboots.
  • Baie visse wat in helder waters leef, is óf deurskynend óf hulle het ʼn blouerige rug en ʼn silwer pens om vyande van bo en van onder te verwar.
  • Sommige diere kamoefleer hulself deur die reuk van ’n ander spesie na te maak. So ontsnap hulle van roofdiere.
Foto: iStock

Kamoeflering word deur baie organismes (diere en plante) gebruik om hul voorkoms by hul omgewing aan te pas. Kamoeflering kan te doene hê met die nabootsing van sekere kleure, maar kan ook die nabootsing van plante, ander diere of voorwerpe wees. 1

Doel van kamoeflering

Beskerming

Diere en plante kamoefleer hulself om hulle teen gevare te beskerm om te oorleef. Baie plante en diere pas hul vorm en kleur so goed by hul omgewing aan dat hulle moeilik raakgesien word.

Om beter te kan jag

Roofdiere maak ook van kamoeflering gebruik sodat hulle hul prooi van ver af kan bekruip sonder om gesien te word.

Diere wat hulself kamoefleer

  • Klein, swak en weerlose spesies wat nie vinnig kan beweeg nie;
  • Nagdiere wat bedags slaap en dan aan gevare blootgestel is;
  • Vroulike diere wat hul aandag aan die versorging van hul kleintjies moet gee; en
  • Jong diere wat meer weerloos as ouer en meer ervare diere is.

Nou verstaan mens waarom valke wat meestal in die lug is, minder gekamoefleer is as patryse wat op die grond leef. Dit verklaar ook waarom wyfievoëls redelik vaal is teenoor die helderkleurige mannetjies asook waarom kleiner diere en voëls se kleure verskil van dié van hul ouers.

Kleurskakerings en -veranderings

Die rol van kleurskakerings

Die doel van ’n dier se kleurskakerings is om die kleur en vorm van sy liggaam by ander natuurlike kleure en vorms in sy omgewing aan te pas. Die wit vlekke op die pels van ʼn jong takbok lyk byvoorbeeld soos die patroon van sonlig en skaduwee in die woude waar dié jong bokke die eerste ruk ná hul geboorte leef. ’n Ander voorbeeld is die volstruis: volstruismannetjies se vere is swart omrede hulle die eiers snags bewaak. Die wyfies is vaalbruin omdat hulle weer bedags die eiers oppas. Hierdie verskillende kleurskakerings maak dat dié voëls by hul omgewing kan inpas.

Kleurskakerings help ook om die buitelyne van ʼn dier weg te steek. Dit is veral met strepe die geval. Die swart en wit strepe van ʼn sebra maak dit moeiliker om die diere in lang gras raak te sien. Dit laat dit ook lyk asof die sebra se liggaam in afsonderlike stukkies opgebreek is. 2

Daarby help kleurskakering ook om die dier se oë minder sigbaar te maak. Die meeste diere se oë is swart, blink en rond en word maklik raakgesien. Daarom het baie voëls, visse en ander diersoorte soos dassies en ratels, gesigte met swart strepe wat oor die oë loop.

Kleurverandering

Die meeste diere het reg deur hul volwasse lewe dieselfde kleur omdat hulle die heeltyd in dieselfde omgewing leef. So het die fennekvos van die Sahara (ook bekend as die woestynvos) dieselfde vaalbruin kleur as die woestynsand, terwyl die ysbeer van die Noordpool se spierwit pels net soos sy omgewing lyk. Dit werk natuurlik vir hom baie goed wanneer hy sy prooi op die wit ys en sneeu bekruip. (Terloops, die ysbeer se “spierwit” pels bestaan eintlik uit ’n dik pels van kleurlose hare. Elke haar is hol, weerkaats die lig en sneeu en laat die ysbeer perfek by sy omgewing insmelt). 3

Baie visse wat in helder waters leef, is óf deurskynend óf hulle het ʼn blouerige rug en ʼn silwer pens om vyande van bo en van onder te verwar. Dan is daar diere wat in die somer heeltemal anders lyk as in die winter. Hierdie diere woon in gebiede waar die landskap in die somer groen en bruin is, en in die winter spierwit van die sneeu.

Die sneeuhoender is ’n goeie voorbeeld om hier te gebruik. In die winter is hy spierwit met net sy stertvere wat swart is. In die somer is hy bruin met wit vlerkpunte. En terwyl hy in die herfs of lente verveer, is hy bruin-en-wit gespikkel om te lyk soos die natuurlike omgewing van sneeu en plantegroei.

Kleurveranderings gebeur deur verharing, vervelling of ververing.

Spontane kleurverandering

Sommige diere beweeg dikwels uit hul onmiddellike omgewing. Vir hulle is dit baie belangrik dat hulle vinnig van kleur moet kan verander. Die verkleurmannetjie is beslis die heel beste voorbeeld hiervan. Daar is ook baie ander diere wat hul kleurskakerings vinnig kan verander. Die boompadda se kleur is oor die algemeen groen omdat hy gewoonlik tussen blare en bosse skuil. Wanneer hy teen ʼn donker boomstam opkruip om by die blare te kom, word hy bruinerig van kleur terwyl hy beweeg sodat hy soos die boomstam kan lyk. 4

Visse wat ook kleurverandering gebruik, is skelvis en klipvis. Hulle is plat visse wat gewoonlik op die seebodem lê. Aan die onderkant is hierdie visse wit, maar aan die bokant kan hulle ʼn verskeidenheid kleurpatrone vertoon. Daarom lyk hulle soos die fyn sand, growwe sand of klippies waarop hulle lê.

Hoe weet ʼn dier wanneer hy van kleur moet verander?

Diere sien wanneer die omgewing verander en weet so wanneer hulle self van kleur moet verander. Hierdie boodskap dat die vel van kleur moet verander, word deur die senuweestelsel of deur bloedvate oorgedra. So ’n kleurverandering kan soms binne sekondes gebeur.

Een van die sewe lewensprosesse wat bepaal of ’n organisme lewend is of nie, is waarneming of sensitiwiteit teenoor die omgewing. Dit help organismes om in hul omgewing te oorleef en kamoeflering is een van die metodes wat gebruik word.

Nabootsing

Egte nabootsing

Kamoeflering werk op die beste wanneer ʼn plant of dier daarin slaag om ʼn ander plant, dier of nielewende, natuurlike voorwerp(e) só goed na te boots dat niemand die plant of dier kan raaksien of herken nie.

Diere wat dele van plante naboots

Die plantdeel wat die meeste deur diere nageboots word, is blare. Insekte soos sprinkane, krieke, motte en skoenlappers, sommige paddas, verkleurmannetjies en visse, boots blare na met hul liggaamshouding, -vorm en -kleur.

Wanneer ʼn skoenlapper gaan sit, vou hy gewoonlik sy vlerke toe. Dit word gedoen om die helderkleurige binnekant van die vlerke te verberg en om die fyn aartjies aan die buitekant van die vlerke, wat net soos die aarnetwerk van blare lyk, te vertoon. In Suid-Amerika is daar ʼn skoenlapper (Draconia rusina) waarvan die vlerke uitgerafel en verslete is sodat dit net soos ʼn droë blaar waaraan ʼn dier geknibbel het, lyk.

Die insek wat blare die beste naboots, is die sogenaamde stokinsek (ook bekend as die wandelende stok). Dié diertjie se liggaam lyk soos ʼn takkie met ʼn verskeidenheid groot en klein blare: nie net die lyfgedeelte is blaarvormig nie, maar ook die pote en die kop.

Die bekendste vis wat blare naboots, is die Amasone-blaarvis (Monocirrhus polyacanthus), wat in stadig vloeiende waters voorkom. Sy bruinerige liggaam het aan weerskante ʼn donker streep met kleiner strepies wat soos blare se are lyk. Die vis het ook ʼn uitgroeisel aan die voorpunt van die onderkaak wat soos ʼn gebreekte blaarstingel lyk.

Paddas en verkleurmannetjies boots blare gewoonlik na deur die pote onder die liggaam in te vou en die kop in te trek.

Nabootsing van ander diere

Anders as diere wat hulself kamoefleer om weg te kruip, is daar diere wat ander diere naboots juis om raakgesien te word. Die grootste groep diere wat ander naboots, is eetbare, weerlose spesies. Hulle boots byvoorbeeld giftige spesies na om moontlike aanvalle deur hul vyande af te skrik. Hierdie vorm van nabootsing staan as die Batesiaanse nabootsing bekend en is vernoem na Henry Walter Bates, ’n Britse natuurkundige, wat waardevolle navorsing oor hierdie verskynsel gedoen het.

Papilio dardanus

Voorbeelde hiervan:

  • ʼn Voël wat een keer deur ʼn perdeby gesteek is nadat hy probeer het om hom te vang, sal nie sommer insekte van die spesie Aegeria apiformis probeer vang nie omdat hulle net soos perdebye lyk.
  • Wyfies van die na-aperswaelstert (Papilio dardanus), ʼn skoenlapper wat in Afrika aangetref word, boots byvoorbeeld ʼn verskeidenheid giftige skoenlappers na.
  • Diersoorte met dieselfde verdedigingsmeganisme het dikwels dieselfde kleure. Insekte met angels is meestal geel en swart, terwyl insekte wat sleg smaak, soos die lieweheersbesie, dikwels rooi is. ʼn Roofvyand wat een keer deur ʼn insek gesteek is, of wat een met ʼn slegte smaak moes uitspoeg, leer gou om ʼn swart en geel of ’n rooi insek te vermy. Hierdie verskynsel word die Müller-nabootsing genoem, vernoem na die Duitse dierkundige Fritz Müller.
  • Sommige roofdiere en parasiete gebruik ook nabootsing. Wyfies van die vuurvlieg-genus Photurus boots die ligseine na waarmee wyfies van die vuurvlieg-genus Photinus hul mannetjies naderlok. Wanneer ʼn Photinus-mannetjie dan ʼn Photurus-wyfie nader, maak sy hom dood.
  • Sommige voëls en visse gebruik ook hierdie aggressiewe nabootsing. In Sentraal- en Suid-Amerika word ʼn valkspesie aangetref wat net soos sy prooi lyk. Natuurlik help dit hierdie valk om sy kos maklik in die hande te kry.
  • ’n Vis, genaamd vals skoonmakertjie (Aspidontus taeniatus) lyk net soos die egte blou skoonmakertjie (Labroides dimidiatus), wat parasiete van die skubbe van groter visse verwyder. Die vals skoonmakertjie se voorkoms flous die werklike blou skoonmakertjie dus maklik en hy laat hom toe om baie naby te kom. In plaas daarvan dat hy hom van parasiete bevry, byt hy ʼn stuk van sy vinne af.
  • Sommige diere boots hul eie soort na. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die mannetjiesby (hommel) wat geen angel het nie, maar byna net soos die werkerby lyk, maar wat kwaai kan steek.

Nabootsing van nielewende voorwerpe

Klippe en mis is van die dooie voorwerpe wat deur verskeie diere nageboots word.

In die Stille Oseaan vind mens die klipvis waarvan die hele liggaam met swamagtige uitgroeisels wat soos vratjies lyk, bedek is. Die vis lê gewoonlik doodstil op die seebodem en lyk soos ʼn klip wat met waterplante bedek is. As ʼn prooi naby hom kom, maak hy sy groot bek vinnig oop en sluk hom in.

In Amerika word ʼn varswaterskilpad aangetref wat hom half in die modder begrawe terwyl hy sy bek wyd oophou. Sy tong is grysbruin soos die modder, maar aan die punt daarvan is ʼn dun rooi strepie en wanneer hy sy tong heen en weer beweeg, lyk dit soos ʼn wriemelende wurm. ʼn Vis wat dink dat hy ’n wurm op ’n klip gaan vang, swem dus reguit in die skilpad se bek in. 5

Sommige insekte maak slim planne om hul grootste vyande – voëls – te flous. Hulle boots hul eie mis na omdat hulle weet dat voëls nie daarin sal belangstel nie! Baie motte se vlerke is swart of bruin en wit, en as hulle gaan sit, word die vlerke om die liggaam gevou om dit soos ʼn misbolletjie te laat lyk. 6

Sommige spinnekoppe maak hul eie slim planne. In Asië is ʼn spinnekop wat sy web op verskeie plekke dikker spin sodat daar meer as een donker kol is wat soos ’n spinnekop lyk. Dit beteken dat ʼn voël dalk eers na ʼn vals “spinnekop” sal pik, sodat die regte spinnekop kans kry om te ontsnap.

Net soos soldate takke en gras op hul uniforms en helms vasmaak wanneer hulle die vyand in bosse bekruip, vermom sekere diere hulle ook. Sandkrappe is die bekendste voorbeelde hiervan. Met sy knypers waarmee hy feitlik enige deel van sy liggaam kan bereik, knip die krap wiere en seegras af en “plant” dit op sy rug.

Ander krappe knip weer stukke spons van die seebodem af wat hulle soos ʼn hoed oor hul rûe sit. Die agterste twee pare pote is spesiaal aangepas om hierdie “hoed” in posisie te hou.

Kamoeflering deur reuk

Sommige diere kamoefleer hulself deur die reuk van ’n ander spesie na te maak. So ontsnap hulle van roofdiere. In Kalifornië is daar ’n soort eekhoring wat die vel van ratelslange (nadat hulle vervel het!) kou totdat dit soos ’n pasta is en dan smeer hy dit aan sy eie stert. So verwar hy ratelslange wat hom wil vang.

Nabootsing in plante

Nabootsing in plantegroei kom minder voor as in die diereryk, maar dit gebeur tog. Waar dit voorkom, word dit gebruik om stuifmeel en saad te versprei. Die blomme van baie orgideë lyk só baie na die wyfies van sekere insekte dat die mannetjies probeer om met hulle te paar. Op dié manier word die stuifmeel dan van blom tot blom oorgedra. Sommige blomme boots selfs die geur na waarmee wyfie-insekte hul mannetjies lok.

Die sade van die kasterolieboom lyk soos vet, gespikkelde insekte. Voëls pik dit op en vlieg daarmee weg, maar sodra hulle agterkom dat die doppie te hard is om oop te kraak, laat hulle die saad val. So word die sade oor ʼn wye gebied versprei.

Die invloed van die mense op kamoeflering in die natuur

Navorsers het vasgestel dat mense ook ’n invloed het op plante en hul kamoeflering.

In China is daar ’n medisinale plant (Fritillaria devlavayi) wat reeds vir 2 000 jaar as tradisionele medisyne gebruik word en teen baie duur pryse verkoop word. Navorsers het vasgestel dat die plant soms groen en duidelik sigbaar is en soms bruin of grys om te lyk soos die rotse waar dit groei. Die plante is juis bruin en grys in gebiede waar hulle meer deur mense ge-oes word.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Januarie 2022 | Bygewerk op 27 Oktober 2023