Vinnige feite

  • Die energie wat voedsel aan die liggaam verskaf, word in kalorieë gemeet.
  • Vrugtesappe bevat soms net soveel suiker soos gaskoeldrank.
  • 50% van ʼn mens se liggaam bestaan uit water.

Die mens se liggaam benodig ʼn gebalanseerde, gesonde dieet om behoorlik te funksioneer. Voedsel en voeding is die manier waarop ons hierdie brandstof wat ons liggame van energie voorsien, inneem. Ons verkry hierdie voedingstowwe uit die voedsel wat ons eet, en ons moet elke dag hierdie voedingstowwe met nuwe voorraad vervang. Voeding is ook een van die sewe lewensprosesse naas beweging, voortplanting, sensoriese waarneming, asemhaling, uitskeiding en groei. 1

Drie redes waarom voedingstowwe belangrik vir ʼn mens se liggaam is:

  • Dit verskaf energie. Koolhidrate, vette en proteïene verskaf die energie wat jou liggaam nodig het om al die biochemiese reaksies wat gedurende die dag en nag gebeur, uit te voer. Hierdie energie word in kalorieë gemeet.
  • Dit is nodig vir liggaamsbou. Vette, proteïene en minerale word gebruik om weefsels, organe en ander strukture soos bene en tande te bou en hulle ook in stand te hou.
  • Dit help om liggaamsfunksies soos sweet, temperatuur, metabolisme, bloeddruk, skildklierfunksie, en so meer – te reguleer. 2

Voedselgroepe

Die voedsel wat ons eet, kan in verskillende voedselgroepe ingedeel word, naamlik:

  • Koolhidrate
  • Minerale
  • Proteïene
  • Vesel (nie-verteerbare koolhidrate)
  • Vette en olies
  • Vitamines
  • Water

Die funksie van die verskillende voedingstowwe word in die onderstaande tabel voorgestel. 3

Voedingstowwe en hul funksies

Energiebronne Boublokke Regulering van liggaamsprosesse
Koolhidrate

Vette

Proteïene

Proteïene

Minerale

Water

Vitamines

Minerale

Proteïene

Water 1

Proteïene

Proteïene kan beskryf word as die boublokke van ons liggame. Hulle bou en herstel liggaamselle en weefsels. Bronne van proteïene sluit die volgende in: vis, vleis, pluimvee, eiers, kaas, sojabone, ertjies, boontjies, neute en sade.

Koolhidrate

Koolhidrate gee die meeste energie vir ons liggame. Die spysverteringstelsel breek stysel af om glukosesuiker te vorm. Bronne van koolhidrate sluit in volgraanbrood, aartappels, pasta, rys, vrugte, groente, mielies en peulgroente. Wanneer mens te veel geprosesseerde koolhidrate soos lekkers en beskuitjies, skyfies, gebakte lekkernye, koeldranke en versoete vrugtesappe eet en drink, is dit nie goed vir jou liggaam en gesondheid nie, omdat dit dikwels bymiddels en meer sout en ongesonde vette bevat.

Vette en olies

Vette en olies kan ook deur die liggaam as ʼn energiebron gebruik word, en dit verrig die volgende funksies:

  • Dit beskerm en isoleer jou organe.
  • Dit help met die vorming van selmembrane en ander weefsel.
  • Essensiële vette en olies verbeter kardiovaskulêre gesondheid en help met breinfunksie. 4
  • Dit dien as vervoermiddel vir die vetoplosbare vitamines A, D, E en K.

Vitamines

Vitamines help met die verskillende chemiese reaksies in ons liggame, wat die volgende kan insluit: 5

Vitamine

Funksie

A Help om die immuunstelsel te versterk, asook die groei van bene en nagvisie te bevorder
B Help om energie vanuit voedsel te prosesseer
C Help om jou vel en tandvleis gesond te hou, die immuunstelsel te versterk en ysteropname te bevorder
D Help met die opname van kalsium om bene en tande sterk en gesond te hou
E Dit dien as antioksidant wat liggaamselle en selmembrane gesond te hou
K Help met gesonde bloedstolling

Minerale

Ons liggame kan nie self minerale vervaardig nie, en daarom moet ons dit deur voedsel inneem. Hier is ʼn paar van die minerale wat ons in ons diëte moet insluit:

Mineraal Funksie
Kalsium Help met die vorming van gesonde bene en tande; asook spierwerking
Magnesium Word gebruik om sterk bene, tande en spiere te bou
Natrium Help met spier- en senuweefunksie en om die hoeveelheid water in die bloed te reguleer
Yster Help met die vorming van rooibloedselle en die vervoer van suurstof

Kalsium word in suiwelprodukte aangetref, en magnesium word in voedsel soos piesangs, neute, groen blaargroente en melk gevind. Natrium is teenwoordig in tafelsout en sojasous. Vleis en gedroogte vrugte is ʼn goeie bron van yster.

Vesel

Vesel word in die skille van vrugte en groente, asook in volgraanprodukte aangetref. Vesel kan nie verteer word nie en beweeg dus deur die spysverteringskanaal. Ons het vesel in ons dieet nodig omdat dit ons help om hardlywigheid te voorkom.

Water

Water help ons bloed om voedingstowwe en afval in die liggaam te vervoer. Water vorm die grootste deel van ons sweet, speeksel en trane. ʼn Mens se liggaam bestaan uit meer as 50% water! 6

ʼn Gesonde dieet

Vir ʼn gesonde dieet is dit belangrik om baie natuurlike voedsel te eet. ʼn Groot gedeelte van ʼn gesonde dieet moet uit vrugte en groente bestaan – veral rooi, oranje of donkergroen groente en vrugte. Volgraanprodukte soos volkoring en bruin rys moet ook ʼn rol in jou dieet speel. Proteïenbevattende voedsel is byvoorbeeld maer vleis, pluimvee, seekos, eiers, bone, peulgewasse en sojaprodukte soos tofoe, asook sade en neute sonder sout.

ʼn Gesonde dieet beteken ook dat mens sekere soorte voedsel moet vermy. Natrium word baie in verwerkte voedsel gebruik en is gevaarlik vir mense met hoë bloeddruk. Volwassenes moet minder as 300 mg cholesterol per dag inneem – dit word aangetref in onder meer vleis en volvetsuiwelprodukte.

Voedsel soos gebraaide kos, harde vette en transvette in margarien, asook verwerkte voedsel kan skadelik vir ʼn mens se hart wees.

Verfynde grane (witmeel, witrys) en verfynde suiker (tafelsuiker en lekkergoed) is ook sleg vir ʼn mens se gesondheid, veral vir mense met diabetes. Alkohol in hoeveelhede van meer as een daaglikse sopie vir ʼn vrou en twee vir ʼn man kan ook gevaarlik vir die gesondheid wees. 7

Dit het onder meer ʼn negatiewe effek op jou sentrale senuweestelsel, dit kan jou immuunstelsel verswak, en dit kan lei tot inflammasie van die lewer. 8

Wat is ʼn dieetkundige?

ʼn Dieetkundige is ʼn gekwalifiseerde en geregistreerde gesondheidsorgwerker wat ʼn belangrike rol speel om die gesondheid van mense te verbeter. Dieetkundiges het kennis oor al die verskillende soorte voedsel. Hulle kan ʼn individu se dieet aanpas om ʼn mediese probleem te behandel, en hulle kan vir mense inligting oor gesonde eetgewoontes gee. 9

Die rol van voeding in geestesgesondheid

Navorsing wys dat voedsel ook ʼn rol in geestessiektes kan speel.

Enkele voedselsoorte wat help om die brein gesond te hou, is: 10

  • omega-3 wat gevind word in neute, sade en oesters, sardientjies en salm;
  • B-vitamine wat gevind word in eiers, kaas, suiwel, volgraanprodukte en neute;
  • aminosure wat in enige proteïenbron gevind word, soos vleis, seekos, eiers, neute en peulgewasse; en
  • minerale soos sink, magnesium en yster.

Woordbank

nagsig Die vermoë om behoorlik in die nag of die donker te sien.
dieet ‘n Stel eetreëls of voorskrifte in verband met die kos wat iemand daagliks (mag) eet.
geestesgesondheid Wanneer ‘n mens se gedrag wys dat hy/sy in staat is om die lewe te geniet, ‘n balans te handhaaf en alledaagse stres te hanteer.

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Julie 2021 | Bygewerk op 20 Februarie 2024