Vinnige feite

  • Termiete, wat in kolonies van tot 30 miljoen in ’n enkele groot miershoop kan leef, verkies grasvlaktes of ander gebiede wat voldoende voedsel voorsien. Hulle is die prooi van verskeie voëlsoorte en ander diersoorte soos miervreters.
  • Bye sal nie kan oorleef in ’n omgewing waar die aanbod van stuifmeel te klein is nie. Gevolglik sal hulle instinktief na ’n habitat met beter bronne verskuif. Bye kan tot 6 km ver vlieg om nektar te vind.
  • Sommige bokspesies, soos die blouwildebees en rooihartebees, kan oor groot afstande na ’n nuwe habitat trek. Veral droogtes dwing hulle na gebiede waar daar meer reën en voedsel is.
  • Visse volg seestrome na ’n nuwe habitat wat hulle genoeg kos (plankton) kan bied wanneer die aanbod in hul omgewing uitgeput raak.
  • Die ouer olifantkoeie in ’n trop, veral die leierkoeie, leer die jonges hoe om water te vind in droogtetye. Dié aangeleerde gedrag verseker dat ’n trop nie maklik van dors sal doodgaan nie en betyds na ’n ander omgewing sal verskuif.
  • Verskeie insekte, soos sekere vlieënde miersoorte, sprinkane en skoenlappers, trek ook na ’n ander habitat waar meer kos beskikbaar is of om te broei. Sekere skoenlappers kan in swerms tot ’n paar duisend kilometer ver vlieg.
Foto: iStock

Die aarde is soveel meer as ’n groot, ronde bal wat in die ruimte sweef. Ons planeet bevat alles wat nodig is om vir elke lewende organisme ’n spesifieke en spesiale woonplek te bied waarin dit kan groei en gedy. Net soos alle lewende dinge kos, water en lug nodig het om te oorleef, het dit ook ’n veilige plek nodig om van geboorte tot sterfte deur al die lewensprosesse te kan gaan.

Dié bepaalde blyplek word ’n habitat genoem. ’n Habitat is dus ’n spesifieke natuurlike gebied of fisieke omgewing waarin ’n gegewe soort dier, plant of organisme leef. ’n Habitat kan ook ’n ekostelsel of ’n bioom genoem word. 1

Diere

Ons kry baie verskillende soorte diere op aarde, en die onderskeie diersoorte bly op verskillende plekke. Waarom vind ons almal nie sommer op een plek nie? Die rede is omdat hulle fisiek aangepas is om in ’n gegewe omgewing of habitat te woon.

Só byvoorbeeld het paddas en eende se pote webbe sodat hulle in water kan swem. Net so het visse vinne, skubbe en kieue om in ’n waterhabitat te kan swem en asemhaal.

Baie diere wat in koue habitats woon, het ’n dik pels om hulle warm te hou. Hul pels lyk soms ook wit sodat roofdiere hulle nie kan sien as die grond met sneeu bedek is nie. Die harde dop van die woestynskilpad hou vog binne en beskerm hom teen roofdiere. Dolfyne het slanke lywe om maklik in die see te kan swem. Kameelperde se lang nekke stel hulle in staat om die sagte blare wat aan boomtoppe groei, te kan bykom en eet.

Sommige diere bly nie heeljaar op dieselfde plek nie en beweeg (migreer) na warmer gebiede wanneer die seisoene verander en dit kouer word. Dink byvoorbeeld aan swaeltjies en ander voëlsoorte wat in die winter na warmer plekke toe vlieg en weer in die lente terugkom en in ons tuine kom nesmaak.

Diere trek ook agter kos aan. Hulle sal van een habitat of gebied na ’n ander trek wanneer dit droog is as gevolg van min reën en kos soos gras en blare skaars word. Hulle gaan soek dan letterlik groener weivelde.

Plante

Net soos diere aangepas is om in ’n spesifieke habitat te oorleef, is elke plant aangepas om in ’n unieke omgewing te kan groei.

Soos voëls vlerke het om te kan vlieg om kos te soek of in hoë bome of op bergtoppe nes te maak, is plante aangepas om óf op land óf in die water te groei.

Plante wat in die grond groei, het gewoonlik stingels of stamme om hulle regop te hou, terwyl waterplante dikwels sagte stamme het omdat dit deur die water ondersteun word om te dryf of regop te bly.

Plante wat in droë klimate soos die woestyn voorkom, het min of geen blare nie. Kaktusse stoor byvoorbeeld water as dit reën of neem water met hul wortels op en berg dit dan in hul vleesagtige stamme of blare (soos vetplante). Dié aanpassings stel hulle in staat om met minder water oor die weg te kom. Dit is amper soos die drommedaris-kameel, wat in staat is om energie in sy liggaam te berg sodat hy minder water benodig en in woestyntoestande kan oorleef.

Plante wat in skaduryke gebiede of woudhabitats groei, het weer baie lang stamme en groot blare om soveel as moontlik sonlig op te vang. Sommige plante rank weer om nader aan die sonlig te kom.

Verskillende soorte habitats

Ons kan tussen twee hoofhabitats onderskei, naamlik land- en waterhabitats. Landhabitats sluit in grasvelde, reënwoude, woestyne en berge, terwyl waterhabitats in varswater- en soutwaterhabitats verdeel word.

Grasveldhabitat

Grasveldgebiede is plekke waar dit meer reën as in woestyne, maar minder as in woude. Sowat ’n kwart van die planeet is met grasvelde bedek. Die meeste plante wat hier voorkom, is gras omdat dit nie soveel water benodig soos plante wat in woude groei nie.

Al die kontinente op aarde behalwe Antarktika het grasvelde. Grasvelde kom gewoonlik voor in die droë binneland, tussen berge en woestyne. Baie grasvelde is tienduisende jare gelede gevorm ná die laaste Ystydperk, toe die aarde warmer en die klimaat droër geword het.

Suid-Afrika is ryk aan wildlewe, soos byvoorbeeld die Groot Vyf, en is daarom ’n gewilde toeristebestemming, veral vir buitelandse toeriste. Ons klimaat en wyd uitgestrekte grasveld is van so ’n aard dat dit die ideale habitat aan verskeie wildspesies bied wat van blare en gras leef. Katspesies soos leeus en jagluiperds is veral goed aangepas om in grasvelde te woon.

Reënwoudhabitat

Vanweë die vogtige klimaat is reënwoude die tuiste van meer plant- en dierelewe as enige ander habitat. Reënwoude is welig, warm en klam. Bome in reënwoude word baie hoog omdat hulle met ander plante om sonlig moet meeding. Die hoogste bome sprei hul takke en blare uit. Dit keer die lig van kleiner bome af weg en skep ’n afdak oor die woud. Wanneer só ’n groot boom doodgaan en omval, laat die opening meer sonlig in sodat ’n kleiner boom kan groei en sy plek inneem.

’n Reënwoud bestaan uit drie lae. Die boonste laag, of wouddak, bestaan uit die heel hoogste bome wat hoër groei as die res van die bos. Die meeste diere in ’n reënwoud woon in die dak.

Die laag onder die dak word die onderlaag genoem. Klein bome en plante wat nie baie lig nodig het nie, groei hier. Die heel onderste laag is die bosvloer waar slegs ’n paar plante groei omdat dit so donker is daar.

Woestynhabitat

Baie woestyne is 8 000 tot 10 000 jaar gelede gevorm. Sommige is verskriklik warm in die dag – die hoogste temperatuur wat tot dusver op aarde aangeteken is, was 56,6°C in Kalifornië se Nevada-woestyn in 1913.

Hoewel baie woestyne gedurende die somer temperature van meer as 37,8°C bereik, word dit snags koud. Sommige woestyne is altyd koud. Het jy geweet Antarktika is die grootste woestyn ter wêreld? Hoewel dit bedek is met sneeu en ys, reën of sneeu dit selde in Antarktika, wat beteken dit is eintlik ’n woestyn.

Slegs diere en plante wat met baie min water kan oorleef, word in woestynhabitats aangetref. Die meeste woestyndiere bly bedags onder die grond of die skadu van rotse. Baie van hulle kom slegs snags uit om kos te soek omdat dit dan koeler is. Daar is wel leeus en olifante in dele van die Namib-woestyn, maar hulle moet baie ver loop om water en kos te kry. 2

Sommige plante, soos kaktusse, het die vermoë om genoeg water in hul stamme te stoor om tot die volgende reënbui te hou. Ander plante, soos sekere grassoorte, het piepklein blaartjies wat bedags toekrul om water binne te hou. Sommige woestynplante groei en blom eers wanneer dit reën. 3

Berghabitat

Berghabitats het baie min grond en koue temperature en slegs geharde plante en diere kan in dié habitat oorleef. Berge bestaan uit verskeie biome. Heel onder, aan die voet van die berg, groei daar dikwels welige bladwoude, wat beteken dat die bome in die winter hul blare verloor. Hoër op is naaldwoude met lang denne- en ander immergroen bome.

Hoe hoër ’n mens teen ’n berg opklim, hoe kouer word dit. Die lug word ook dunner na bo omdat suurstofmolekules meer verspreid raak, wat dit moeiliker maak om asem te haal. Die meeste plante kan nie bo-op hoë berge, soos Everest en Mont Blanc in die Alpe in Europa, floreer nie. Al wat ’n mens hier aantref, is sneeubedekte rotse.

Berge het uiterste klimate en die diere wat daar woon, is op wonderlike maniere aangepas om te kan oorleef. Die rooi panda in Asië se Himalaya-gebergte het ’n dik pels, en in die berge van Noord-Amerika het die sneeuskoenhaas ’n spierwit pels om hom te kamoefleer vir bergleeus en ander roofdiere.

Bere en marmotte wat in die berge van Noord-Amerika woon, oorleef die koue winters deur te hiberneer (slaap). As bere slaap, daal hul liggaamstemperatuur met ongeveer 12°C, en hulle haal slegs elke 45 sekondes asem. Ander diere, soos bergbokke en steenbokke wat in die Europese Alpe woon, migreer gedurende die winter na laer, warmer gebiede. Hierdie diere het harde maar buigsame hoewe om hulle te help wanneer hulle oor klipperige terrein klim om kos te soek. 4

Varswaterhabitat

Riviere, spruite, mere, damme en strome is almal varswaterhabitats. ’n Mens kry moerasse met houtagtige plante en bome; en moerasse wat geen bome het nie, maar baie gras en riete. Varswater maak slegs 3% van die wêreld se water uit (die res is soutwater), maar bied ’n tuiste aan meer as 100 000 spesies plante en diere. 5

Visse wat in varswater woon, het baie geselskap. Daar woon ook slakke, wurms, skilpaaie, paddas, moerasvoëls, weekdiere, krokodille, bewers, otters, slange en baie insekte. Sommige ongewone diere, soos die rivierdolfyn en die duikspinnekop, is varswaterdiere. Plante soos alge, katstertjies, waterlelies en asp- en wilgerbome help om die water skoon te hou deur hul wortelstelsels wat besoedeling en oortollige voedingstowwe uit die water filtreer.

Soutwaterhabitat

Wetenskaplikes skat dat ongeveer ’n miljoen diersoorte in die see se soutwater leef. Die meerderheid (95%) is ongewerweldes, oftewel diere wat nie ’n ruggraat het nie, soos jellievisse en garnale.

Sommige van die kleinste diere op aarde kan in die see gevind word. Seediere soos soöplankton is só klein dat jy dit slegs met ’n mikroskoop kan sien.

Die see wemel van plantlewe. Die meeste is klein alge wat fitoplankton genoem word en hierdie mikroskopiese plante verrig ’n baie belangrike funksie. Deur fotosintese produseer hulle ongeveer die helfte van die suurstof wat mense en ander lewende organismes inneem. Groter alge soos seewier en kelp groei ook in die see en bied voedsel en skuiling aan seediere.

Bedreiging vir plante en diere

Daar bestaan ’n ingewikkelde verhouding, wisselwerking of interaksie tussen diere en plante. As habitats verander, is dit dikwels nie meer geskik vir diere om daar te woon nie, of plante kan sukkel om daar te oorleef.

Klimaatsverandering is een faktor wat heelwat natuurlike habitats bedreig. Sommige habitats raak te warm as gevolg van klimaatsverandering, wat diere dwing om na koeler gebiede te verhuis. Sommige spesies is egter nie in staat om te migreer of te beweeg nie en dié dierebevolkings word al kleiner.

Wetenskaplikes raam dat tot 10% van dierespesies weens klimaatsveranderings kan uitsterf.

Ander habitats word skoongemaak en in landbougrond omskep. In Australië, byvoorbeeld, is 80% van die bloekomwoude die afgelope 210 jaar uitgekap om vir boerdery plek te maak. Dit bedreig die voortbestaan van bosdiere soos die koalabeer. 6

Woordbank

bioom Groot natuurlike ekologiese gemeenskap wat by die omstandighede waarin dit voorkom, aangepas is.
klimaat Die lug- en weerstoestande op ‘n bepaalde plek/streek.
migreer Wanneer mense of diere ‘n land/plek/streek verlaat en na ‘n ander gebied trek om hulle daar te vestig.
pels Dik, harige vel van diere om hulle teen die koue te beskerm en selfs te kamoefleer en teen roofdiere te beskerm.
spesies Soort plant of spesifieke diersoort.

Lees hierdie om meer te wete te kom

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Hoekom is biodiversiteit so belangrik?

Leer meer oor die verskillende habitats

Natuurlike habitats en ekosisteme

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 November 2021 | Bygewerk op 4 Maart 2024