Vinnige feite

  • Dit neem net 33 dae vir ’n kangaroe van bevrugting tot geboorte. Wanneer die klein kangaroo gebore word, is hy blind, pienk en sonder hare. Die kleintjie klim tot binne-in die ma se buidel (soos ’n sakkie), drink van die ma se melk en bly daar vir ses maande.
  • Die cicada, ’n groot vlieënde gogga wat amper soos ’n besie lyk, woon vir 17 jaar onder die grond waar hy boomsappe drink. Ná 17 jaar kom hy uit die grond en leef slegs vir ’n paar weke. 11
  • Olifante is die grootste landdiere ter wêreld en ook die diere wat die langste swanger is – 22 maande (amper twee jaar!). ’n Baba-olifant weeg tot 105 kg by geboorte. 12
  • Die rekord vir die grootste werpsel hondjies behoort aan ’n boerboel in die Verenigde Koninkryk. Die hond, genaamd Tia, het op 29 November 2004 geboorte geskenk aan 24 hondjies, waarvan 20 oorleef het. 13
  • Ysbere bly gewoonlik op hul eie, behalwe as dit paartyd is – dan kies die mannetjie vir hom ’n vroutjie uit. Ysbere weeg sowat 0,6 kg by geboorte en is omtrent so lank soos ’n liniaal (30 cm). Die kleintjies bly vir meer as 2 jaar by die ma en word uiteindelik tot 2,6 meter lank en weeg tot 800 kg. 14
  • Die eendagsvlieg (Mayfly) word so genoem omdat hy net vir 24 uur (of een dag) lank leef. ’n Mens kry meer as 2 500 soorte eendagsvlieë en sommige soorte leef net ’n paar ure lank. Hul grootste doel is om voort te plant. 15
  • Jy kan insekeiers oral vind as jy weet waar om te soek. Die meeste insekte lê hul eiers naby die kos wat hulle graag eet. Motte en skoenlappers lê hul eiers onder blare en miskruiers lê hul eiers in balletjies mis. Vlieë lê dikwels eiers op vleis en sommige insekte lê selfs eiers op ander diere. 16
  • Die seeperdjie is ’n baie interessante diertjie. Waar dit gewoonlik die ma is wat geboorte skenk, is dit in die geval van seeperdjies die pa wat geboorte skenk. Die vroutjie lê eiers in die mannetjie se buidel – tot 2 500 op ’n slag. Die mannetjie bevrug die eiers en laat honderde klein seeperdjies op een slag in die see vry.
Foto: iStock

Alle lewende organismes gaan deur verskillende veranderings soos hulle groter of ouer word, hetsy dit ’n baie klein bakterie of groot blouwalvis is. 1 Jy het van ’n embrio tot ’n fetus in jou ma se baarmoeder gegroei totdat die tyd gereed was dat jy gebore moes word.

Eers het jy gekruip, toe begin loop, en nou ry jy fiets en hardloop die hele wêreld vol op die sportveld. Uiteindelik gaan jy dalk ook eendag ’n ma of pa wees wat kinders van jou eie het, wat gaan grootword en op hulle beurt weer kinders gaan kry. Net soos mense, gaan diere ook deur verskillende groei– en ontwikkelingsfases. Ons noem dit lewensiklusse. 2

Dink byvoorbeeld aan die lewensfases of die lewensiklus van jou troeteldier, byvoorbeeld ’n hondjie. Hulle is piepklein as hulle gebore word en hul ogies gaan eers ná ’n paar dae oop. ’n Klein hondjie is baie afhanklik van sy ma om hom warm te hou en melk te gee om te kan groei. Tussen ses en 18 maande word die hondjie ’n adolessent (amper soos ’n tiener) met baie energie en speel baie graag met ’n bal. Ná ongeveer drie jaar is die hondjie volwasse en gereed om ’n maat te vind en babahondjies voort te bring. As honde tussen ses en tien jaar oud is, betree hulle die senior stadium (soos ’n honde-ouma of -oupa). Hulle hou dan daarvan om meer te rus en soms word hul hare en snoete grys.

Net soos diere verskil, so verskil die lewensiklus van dier tot dier. Sommige diere se lewensiklus is eenvoudig en kort, terwyl ander weer baie veranderings (metamorfose) op pad na volwassenheid ondergaan. Alle lewensiklusse begin by geboorte en eindig as die dier doodgaan, en tussenin groei alle diere en plante om die voortbestaan van die spesie (die plant- of diersoort) te verseker. 3

Diere is óf gewerweld óf ongewerweld. Groepe wat onder gewerwelde diere val, sluit in soogdiere, reptiele, voëls, amfibieë en visse. Insekte is weer ongewerwelde diere.

Kom ons kyk na dié verskillende diere se lewensiklusse:

Soogdiere

Soogdiere skenk lewendig geboorte aan ’n kleintjie wat binne die ma se baarmoeder gegroei het. Die mannetjie se spermselle bevrug die wyfie se eierselle, en ’n embrio ontwikkel binne die wyfie totdat die baba gebore word. Die hele proses vind inwendig (binne die ma) plaas. Alle soogdiere se lewensiklus het dieselfde verloop: bevrugting vind plaas, die baba ontwikkel in die baarmoeder, word gebore, word deur die ma gevoed (met melk), bereik volwassenheid, plant voort en gaan dood.

Die meeste soogdiere lyk presies soos hulle gaan lyk as hulle groot is en behalwe om groter en swaarder te word, verander nie veel aan hul voorkoms nie. Soogdiere sluit in katte, koeie, varke, olifante, perde en selfs ystervarke. 4

Reptiele

Dié groep diere sluit in slange, akkedisse, krokodille en skilpaaie. Reptiele is koudbloedig en maak op die omgewing staat om hitte te kry. Reptiele word uit eiers gebore, maar daar is ook sommiges, soos sekere slangsoorte, waar die ma die eiers binne haar hou totdat dit uitbroei. Ander lê hul eiers in die sand en los die eiers daar om self uit te broei.

Wanneer ’n reptiel gereed is om uit te broei, breek hy die dop van die eier. Sodra die dop oop is, sal die kleintjie gewoonlik 12 tot 48 uur in die dop bly. Die klein reptiel is van geboorte af in staat om homself te versorg en te verdedig. 5 Behalwe dat hulle groei, lyk baba-reptiele nes hul volwasse ouers.

Voëls

Die lewensiklus van ’n voël is soortgelyk aan dié van ’n reptiel. Voëls is warmbloedige gewerweldes wat hul lewe in ’n eier begin. Die ma hou die eier warm deur daarop te sit, totdat die kleintjie uitbroei. Die kleintjie is vol donsveertjies en kan nog nie vlieg nie. Dit is eers wanneer hulle sterk genoeg is om te vlieg en self vir kos te soek dat voëls die nes verlaat. 6

Amfibieë

Amfibieë soos paddas en salamanders het ’n paar kenmerke wat met dié van visse en reptiele ooreenstem. Hulle lewe gedeeltelik op land en gedeeltelik in water. Hulle begin hul lewe as eiers in water en ontwikkel dan in paddavissies wat deur kieue (hulle asmhalingsorgaan aan die kant van hul lywe) asemhaal, net soos visse. Daarna lewe hulle op land as volwassenes wat lug inasem deur hul longe en vel te gebruik. 7 Soos in die foto’s hier bo gesien kan word, ondergaan amfibieë ’n drastiese verandering, wat ons ’n metamorfose noem, gedurende hul lewensiklus.

Visse

Visse is diere met unieke eienskappe. Een só ’n kenmerk is die kieue wat hulle help om suurstof uit die water op te neem. Alle visse is koudbloedig. Dit beteken dat die temperatuur van die water rondom die vis, die liggaamstemperatuur van die vis beheer. Die wyfie lê haar eiers op ’n veilige plek in die water. Terwyl die vissie in die eier ontwikkel, begin organe en ’n stert groei. Wanneer die eiers gereed is om uit te broei, word dit larwes genoem. Larwes het hul eie kos, wat ’n dooiersak genoem word. Dit is aan die larwe se lyf vas en bevat alles wat nodig is om te groei. Die vis groei skubbe en sy vinne word groter totdat hy volwassenheid bereik het en self eiers kan lê. 8

Ongewerweldes

Sowat 95% van alle diere op aarde is ongewerwelde diere. Insekte is een voorbeeld hiervan. Ongewerwelde diere wissel baie in hul liggaamsamestelling. Dit is algemeen dat ongewerwelde spesies vier verskillende stadiums in hul lewensiklus het: eier, larwe, papie en volwassene, hoewel hierdie lewensiklus kan wissel. Die seekat en inkvis broei byvoorbeeld uit en groei tot volwassenes sonder ’n larwe- of papiestadium. 9

Insekte

’n Mens kry meer as 800 000 verskillende soorte insekte. Dit sluit in skoenlappers, kewers, vlooie, vlieë, motte en krieke. Insekte het ’n baie interessante lewensiklus. Sommige insekte het drie en ander weer vier stadiums van ontwikkeling. Die insekte met drie stadiums ontwikkel van ’n eier tot ’n nimf (dit lyk amper soos die volwassene, net kleiner) en dan tot volwassene. Nimfe verander nie in ’n papie nie, maar skud sy vel gereeld af. Elke keer wat hy sy vel verloor, lyk hy al meer soos die volwasse insek. Insekte soos skoenlappers het vier stadiums – eier, larwe (soos ’n wurmpie), papie (soos ’n sywurm se kokon) en volwassene (vlinder), soos in die prente hierbo gesien kan word. 10

Woordbank

baarmoeder Die lewe skenk aan; voortbring.
kieue Asemhalingsorgaan van visse en sommige ander waterbewonende diere, soos mossels, seewurms en krewe.
metamorfose Die verandering in vorm en dikwels gewoontes van ‘n dier gedurende normale ontwikkeling ná die embriofase; sterk verandering; gedaanteverwisseling.
spesies Onderafdeling van verwante plante/diere direk onder die geslag/genus; soort.
stadiums Toestand van ontwikkeling; tydperk; periode; fase.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Lewensiklusse van diere

Die wonder van diere se lewensiklusse

Die lewensiklus van ‘n skoenlapper

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockGrafika: Jacques du PlessisGrafika: Jacques du PlessisGrafika: Jacques du PlessisFoto: iStockGrafika: Jacques du PlessisGrafika: Jacques du PlessisGrafika: Jacques du PlessisGrafika: Jacques du Plessis
Gepubliseer op: 27 Oktober 2021 | Bygewerk op 29 Februarie 2024