Vinnige feite

  • Manlike naaldekokers is territoriaal. Dit beteken dat hulle hul habitat wil beskerm en hulle verdedig dit aggressief. 5
  • Een spesie van naaldekokers wat al uitgesterf het, is die Meganeura monyi. Hulle het glo ’n vlerkspan van ongeveer 76 cm gehad. 5
  • Naaldekokers se prooi hoef nie stil te sit om gevang te word nie, want die naaldekokers kan hulle sommer in die lug vang as hulle vlieg. 5
  • Die grootste naaldekoker wat tans leef, is die Petalura ingentissima van Australië. Sy vlerkspan is so 16 cm wyd. 1
  • ’n Mens noem ’n groep naaldekokers ’n swerm. 1
  • Net soos voëlkykers, is daar mense wat naaldekokers bestudeer en kyk hoeveel soorte hulle kan eien. 1
  • ’n Naaldekoker klap sy vlerke teen ongeveer 30 slae per sekonde, terwyl ’n by sy vlerke teen ongeveer 300 slae per sekonde klap. 1
  • Daar is wêreldwyd baie mites oor naaldekokers. Een mite is dat naaldekokers slange agtervolg en die wonde wat hulle dalk langs die pad opgedoen het, genees deur dit “toe te werk”! 1
  • Wetenskaplikes het al waargeneem dat honderde naaldekokers van verskillende spesies soms in swerms bymekaarkom om te voed of te migreer. Daar is nog nie baie inligting oor hierdie gedrag beskikbaar nie. 2
  • Wetenskaplikes bestudeer naaldekokers deur piepklein seintoestelle aan hul vlerke vas te plak. So het hulle al naaldekokers teëgekom wat tot 160 km in een dag vlieg. Hulle het ook gesien dat ’n sekere tipe naaldekoker (globe skinners) die langste migrasietog van alle insekte het. Hulle vlieg amper 18 000 km oor die Indiese Oseaan! 2
  • Naaldekokers word as ’n teken van ’n gesonde ekostelsel gesien omdat hulle deel van ’n voedselketting is. Hulle eet ander insekte en hulle word self kos vir paddas, voëls en visse. 6
  • ’n Studie in 2009 het gewys dat tot 10% van alle naaldekokerspesies bedreig word. Hulle kan uitsterf omdat soveel varswaterbronne besoedel word. ’n Naaldekoker wat inheems aan Suid-Afrika is, die geelswalker (yellow presba of Syncordulia gracilis) se habitat word deur uitheemse bome (van Australië) bedreig. 6

Jy het seker al ’n naaldekoker in jul tuin of iewers anders dopgehou. As jy het, het jy heel moontlik gesien dat hulle nes wafferse klein helikopters in die lug hang, die wêreld bestudeer en dan weer verder vlieg.

Hierdie insekte is al baie lank op die aarde, na beraming ongeveer 300 miljoen jaar. Hulle het dus saam met die dinosourusse gewoon! 1 Bronne verskil oor presies hoeveel spesies van naaldekokers daar op die aarde is, maar daar word beraam dat daar tot 5 000 spesies is en hulle behoort aan die insekorde Odonata. 2

Die oorsprong van hul naam

Hierdie vlieënde insekte met die groot kop en oë en langwerpige lyf het ‘n unieke naam. Dit word so genoem omdat die kokervormige lyf soos die houer lyk waarin naaldwerknaalde vroeër jare gehou is.

Naaldekokers word in Engels “dragonflies” genoem en hoewel daar nie konsensus is oor waar presies die naam vandaan kom nie, is een van die verduidelikings dat dit van ’n Roemeense volksverhaal Sint George en die draak afkomstig is. Volgens dié verhaal moes ’n dapper ridder teen die draak veg om die prinses te red. In die geveg word die draak gewond. Die ridder se arme perd word vervloek en verander in ’n enorme insek wat kan vlieg. In Roemeens beteken dragonfly glo ‘die duiwel se perd’. 3

Voorkoms en dieet

Naaldekokers het, nes ander insekte, ook ses bene, ’n toraks, kop en abdomen. 1 Hulle het twee paar deurskynende vlerke, groot oë (wat eintlik uit ’n klomp klein ogies bestaan) en lang lywe. Hul kleur en groottes wissel na gelang van hul spesies. Die kleinste naaldekoker se vlerkspan is maar net 20 mm, terwyl die grootste tipe se vlerkspan ongeveer 15-16 cm is. 4

Naaldekokers is karnivore en eet meestal ander insekte. Hulle is uitstekende jagters, want hulle vlieg baie vinniger as die meeste ander insekte en kan ’n spoed van tot 48 km per uur bereik! As hulle nie haastig iewers heen op pad is nie, vlieg hulle gewoonlik teen so 16 km per uur en kan selfs agteruit vlieg.

Naaldekokers kan boonop baie vinnig van rigting verander en soos klein helikopters in die lug hang en eers loer waar hul prooi is. Hul groot oë het ook ’n doel, want dit laat hulle toe om hul prooi vanuit ’n paar hoeke te beskou. Hulle het ’n 360 o-sigvermoë, dus kan hulle boontoe, ondertoe, vorentoe, agtertoe en weerskante van hulle sien! 4

Naaldekokers is omtrent jagters van formaat, want as hulle eers hul prooi gewaar het, is sy doppie geklink. Navorsers aan die Harvard-universiteit in Amerika het bevind dat naaldekokers tot 95% van die prooi wat hulle jag, raakvang. Hul sukseskoers is dus baie hoog. 5

Een van hul gunstelinghappies is muskiete en een naaldekoker kan tussen 30 en 100 muskiete per dag verorber.

Habitat

Naaldekokers is nie tot sekere lande beperk nie en kom wêreldwyd voor, mits daar ’n warm klimaat en vars waterbronne soos damme, strome en mere is. Hulle migreer na warmer weer en hul aankoms is gewoonlik een van die eerste tekens dat somer aangebreek het.

Lewensiklus

Die naaldekokerwyfie lê eiertjies (tot 1 500 op ’n slag!) en het vars water daarvoor nodig. Nadat die wyfie en die mannetjie gepaar het, moet die wyfie haar onderlyf in die water steek om die eiers te lê. Die eiers vat so sewe tot agt dae om uit te broei en daarna leef die larwe (papie of nimf) in die water. 4

Die larwe kruip later uit die water, sy eksoskelet kraak oop en sy abdomen kom dan uit. Dan verskyn die vier vlerke en hulle word oor ’n tydperk van ’n paar uur (of dae) hard en droog en dan is dit tyd om as ’n volwasse naaldekoker weg te vlieg. 2

’n Naaldekoker bestee die grootste gedeelte van sy lewe as ’n nimf (larwe) in die water en hierdie fase kan tot twee jaar duur. Aangesien hulle in dié tydperk akwaties is (in die water leef), eet hulle omtrent enigiets wat hulle in die water kry, soos ander inseklarwes, hul medenaaldekokers, muskiete en paddavissies. Party naaldekokerspesies leef slegs vir ’n paar weke, terwyl ander weer tot ’n jaar oud kan word. 2

Woordbank

abdomen Insek se agterlyf.
ekostelsel ’n Stelsel wat uit lewende organismes en hul omgewing bestaan. 7
eksoskelet Die harde buitenste vel van sekere ongewerwelde diere. 7
karnivore ’n Dier wat hoofsaaklik vleis eet. 7
migreer Van een gebied of landstreek na ’n ander beweeg om daar te bly. 7
mite ’n Storie wat mense glo, maar wat nie waar is nie. 7
prooi ’n Dier wat deur ander diere gevang en geëet word. 7
toraks Die borsgedeelte van ’n insek. 7

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die wêreld van die naaldekoker

’n Kortfliek oor naaldekokers

’n Naaldekokerfossiel wat gevind is

Gepubliseer op: | Bygewerk op 20 Oktober 2023