Vinnige feite

  • Net soos vingerafdrukke het elke mens se tong ’n unieke afdruk.
  • Olifante het die grootste brein, maar dit is slegs 1% van sy totale liggaamsgewig.
  • Een spesie jellievis is onsterflik. Dit kan terugkeer na sy “kinderdae” nadat dit volwasse geword het en sterf dus nooit.
  • Seekatte het drie harte.
  • Heuningbye beweeg deur hul vlerke 200 keer per sekonde te klap.
  • ’n Vlermuis is die enigste soogdier wat kan vlieg.
  • Daar is meer as 391 000 plantspesies op aarde, waarvan 94% blomme dra.
Foto: iStock

Ons woon op ’n ongelooflike planeet wat vol mooi en merkwaardige dinge is. Dink aan die natuurskoon met al die verskillende bome, blomme en berge. Die son wat oor die oseaan skyn en breë strande waarop ons kan stap en speel. En moenie van al die diere vergeet nie! Daar is van reuse soos olifante, renosters en seekoeie, tot piepklein miere en organismes soos bakterieë en fungi (of swamme) wat ons net met ’n mikroskoop kan sien. Al hierdie dinge rondom ons kan in twee kategorieë ingedeel word: lewende dinge en nielewende dinge. 1

Mense en diere is sekerlik die bekendste voorbeelde van lewende dinge. Lewende dinge haal asem, eet, skei afvalstowwe uit, groei, beweeg, plant voort en het sintuie waarmee die omgewing waargeneem word. Lewende organismes voldoen dus aan die lewensprosesse.

Nielewende dinge is presies die teenoorgestelde: dit eet nie, groei nie, haal nie asem nie, kan meestal nie beweeg nie, en plant ook nie voort om nuwe kleintjies te kry nie. Nielewende dinge het ook nie sintuie nie en kan dus nie proe, ruik, hoor, voel of sien nie.

Kom ons kyk na die belangrikste kenmerke van en verskille tussen lewende en nielewende dinge.

Hoewel alle lewende dinge verskil, is daar spesifieke dinge wat alle lewende dinge doen of uitvoer.

Ons noem dié prosesse, wat noodsaaklik is vir oorlewing, die sewe lewensprosesse:

Beweging

Alle lewende dinge, soos mense, plante en diere, beweeg. Mense het bene en diere het pote, vinne of vlerke wat hulle in staat stel om van een plek na ’n ander te beweeg. Plante soos sonneblomme draai hul koppe na die son toe en bome se stamme groei opwaarts om sonlig vir fotosintese te kry. Plante se wortels groei afwaarts om water en noodsaaklike voedingstowwe soos minerale uit die grond op te neem.

Voortplanting

Alle lewende dinge produseer afstammelinge. Mense kry babas, diere kry kleintjies of lê eiers, en plante maak sade, of uit steggies of lote (stukkies van ’n plant) spruit nuwe plantjies voort. Voortplanting verseker die voortbestaan van ’n spesie (plant- of diersoort).

Waarneming

Alle lewende dinge gebruik hul sintuie om die omgewing rondom hulle waar te neem. In die winter slaap sekere diere (ons noem dit hibernasie) en reptiele soos krokodille en akkedisse hou daarvan om in die son te lê en bak. Blare verander van kleur en val af soos die seisoene wissel; ons trek ’n trui aan as dit koud is en gebruik ’n sambreel om ons teen reën te beskerm. Organismes pas hul optrede aan volgens waarnemings oor hul omgewing – dit word dikwels gedoen om oorlewing te verseker.

Asemhaling

Sonder suurstof sou daar nie lewe op aarde gewees het nie. Mense en diere asem suurstof in en asem koolstofdioksied uit. Plante neem dié koolstofdioksied op, verander dit gedurende fotosintese weer in suurstof en stel dit weer vry. Energieproduksie vind tydens hierdie proses plaas. Tydens energieproduksie, of selrespirasie, word glukosesuiker afgebreek en na die liggaamselle vervoer waar dit nodig is.

Voeding

Net soos lewende dinge moet asemhaal om te oorleef, het hulle kos nodig om te bly voortbestaan. Kos gee ons die energie om te kan beweeg en groei. Mense eet plante en diere, en diere eet plante of ander diere (in die geval van vleiseters of karnivore). Plante kry hul voeding deur water en minerale met hul wortels uit die grond op te neem. Dit word dan tydens fotosintese in die stamme, stingels en blare in suiker (energie) omgeskakel.

Uitskeiding

Mense en diere moet op een of ander manier van die afvalprodukte van al die kos en water wat ons inneem, ontslae raak. Dié proses is uitskeiding en word gedoen deur spesiale organe soos die niere en vel wat help om van afval ontslae te raak. Ons niere neem byvoorbeeld die afvalprodukte uit ons bloed om uriene te maak. Sweet is nog ’n voorbeeld van hoe ons liggaam ongewenste stowwe uitskei. Buiten vir vog wat uit plante se blare ontsnap, kan oortollige water ook deur transpirasie uitgeskei word. Transpirasie is die verlies van water deur die blare van plante. 2

Groei

Alle lewende dinge begin as klein diertjies, babas of saad en bereik later volwassenheid soos wat dit deur die lewensiklusse gaan. Die groeiproses vind voortdurend plaas. Sommige diere ondergaan ’n metamorfose, byvoorbeeld skoenlappers en amfibieë.

Al sewe hierdie lewensprosesse moet plaasvind vir ’n organisme om as lewend geklassifiseer te word.  Organismes wat metamorfose ondergaan, sal sommige lewensprosesse slegs in sekere stadiums uitvoer. Die insek Hexagenia limbata, beter bekend in Engels as die Mayfly, leef net ongeveer 24 uur in die volwasse stadium en het nie ’n mond om mee te eet nie. Dié merkwaardige insek se primêre doel in die volwasse stadium is om voort te plant, net om daarna dood te gaan. 3

Om te bepaal of iets lewend is, kan ons byvoorbeeld aan ’n rivier dink en dit toets met die lewensprosesse. As dit baie reën, word die rivier voller en groter (dit lyk of dit groei) en die water vloei (beweging). Maar ’n rivier kan nie eet, asemhaal, voortplant of uitskei nie en dit het ook nie sintuie om te kan waarneem nie. Daarom sê ons dit is nielewend. 4

Lewende en nielewende dinge bestaan uit molekules van elemente en verbindings, en alle lewende dinge het biomolekules wat in selle gegroepeer is. Selle is die belangrikste biologiese deeltjies van alle lewende organismes. Dit is selle wat lewe aan lewende dinge gee en dit in staat stel om deur die verskillende lewensprosesse te gaan.

Daar is sommige dinge wat op die oog af nielewend kan lyk terwyl dit in werklikheid wel lewend is. Dink aan saad wat baie lank kan lê (ons noem dit rustend) en eers ontkiem wanneer die toestande reg is, soos goeie grond, genoeg water en warm sonlig. Dié plantjie maak dan weer nuwe saad.

Net só moet bevrugte eiers warm gehou word sodat dit kan uitbroei. Dink aan ’n hen of wyfievoël wat op haar eiers sit totdat die doppe kraak en ’n kleintjie sy kop uitsteek. 5

Dan is daar iets soos brood, wat gis nodig het om te kan rys. Gis lyk nielewend as jy die droë korreltjies uit die pakkie skud, maar sodra dit met hitte in aanraking kom, word dit “lewendig” en maak dat brood nie so plat soos ’n pannekoek uitkom nie. Dit is hoekom bakkers hul deeg in die son of naby die oond se hitte sit – die hitte laat dit rys. 6

Alle lewende dinge volg ’n spesifieke lewensiklus en gaan uiteindelik dood – geboorte, groei tot volwassenheid, en sterf.

Nielewende dinge is uit die staanspoor dood. Dit is alles om ons wat nie ál sewe lewensprosesse volg nie, byvoorbeeld die wolke, klippe, die son, water en lug. Daar is wel heelwat nielewende dinge om ons wat eens op ’n tyd lewend was. Dink aan die hout waarmee julle vleis braai of waarvan jou tafel gemaak is – dit was eens ’n boom wat gelewe het, maar afgekap is en nou nie meer lewe nie. 7

Woordbank

afstammelinge Nakomeling; iemand/iets wat van iemand/iets afstam.
metamorfose Verandering van vorm en dikwels gewoontes van ‘n dier gedurende normale ontwikkeling ná die embriofase.
mikroskoop Optiese instrument toegerus met een of meer lense, waarmee vergrote beelde verkry kan word van baie klein voorwerpe wat nie met die blote oog waarneembaar is nie.
sintuie Elkeen van die organe (oog, ore, mond, neus en vel) waardeur prikkels uit die buitewêreld in gewaarwording omgesit word.
transpirasie Die verlies van water in die vorm van damp, veral deur die stomata of huidmondjies van die blare van ‘n plant.

Lees hierdie artikel om nog meer te leer

Kyk hierdie om nog meer te leer

Hoekom lewe sekere dinge en ander nie?

Wil jy meer oor biologie weet?

Lewende en nielewende dinge

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 November 2021 | Bygewerk op 13 November 2023