Vinnige feite

  • Daar is sekere miere wat metodes gebruik om slawe van ander mierspesies te maak! Die koningin van die Bothriomyrmex decapitans-spesie van Afrika laat toe dat Tapinoma-miere haar na hul nes sleep. Sy byt dan die kop van hul koningin af en begin haar eie eiers lê! Die Tapinoma-werkers moet dan na haar kleintjies kyk!
  • As ’n koninginby doodgaan, skep werkers vir hulle ’n nuwe koningin deur ’n jong larwe te kies en spesiale kos vir hierdie larwe te voer. Dit word koninginjellie genoem en die larwe sal dan in ’n koninginby ontwikkel.
  • Die koninginby kan tot vyf jaar leef. Sy is die besigste in die somermaande en lê meer as 2 000 eiers per dag.
  • Heuningbye vlieg teen ’n spoed van ongeveer 25 km per uur en klap hul vlerke glo 200 keer per sekonde!
  • Elke by het omtrent 170 reuksintuie en hulle gebruik dit om met die korf te kommunikeer.
  • Die gemiddelde werkerby leef vir slegs vyf tot ses weke en in daardie tyd produseer sy omtrent ’n twaalfde van ’n teelepel heuning. 4
  • Bye het vyf oë en ses pote.
  • Die gemiddelde byekorf kan ongeveer 50 000 bye huisves.
  • Baie insekte lewe slegs vir dae of ure, maar die koninginmier van een spesie, die Pogonomyrmex owyheei, kan tot 30 jaar leef!
  • Miere het nie ore nie en “luister” deur vibrasies van die grond deur hul pote te voel.
  • Die grootste miernes wat al gevind is, was amper 6 000 km groot! Dis in 2000 in Argentinië gevind en was die huis van 33 mierbevolkings wat een enorme superkolonie gevorm het. Daar was miljoene neste en miljarde werkers! 5
  • ’n Enkele mier kan 50 keer sy eie liggaamsgewig dra!

 

Hoekom op dees aarde sal ons miere en bye onder een artikel saamvoeg? As jy dink dat ons nou stapelgek is, lees gou hier. Bye, hommelbye, perdebye en miere is almal spesies wat deel van die Hymenoptera-insekorde of insekgroep vorm.

Hierdie orde is die derde grootste van al die insekordes en waarskynlik die voordeligste vir mense. Daar is meer as 115 000 spesies onder dié orde en die insekte kom wêreldwyd voor, behalwe in die pole waar dit hopeloos te koud vir hulle is.

Twee van die bekendste spesies van die Hymenoptera-orde is miere en bye.

Miere

Miere is sekerlik een van die algemeenste insekte en irriteer ons gewoonlik, want hulle is soms net mooi orals – veral as daar koskrummels of suikerkorrels in die kombuis lê! Hulle is egter eintlik baie interessante insekte en boonop harde werkers. Meer as 10 000 mierspesies word in die wêreld gevind en hulle is veral lief vir warm klimate. ’n Tropiese woud is byvoorbeeld ’n plek waar ’n groot aantal miere sal saamdrom.

Miere bly gewoonlik in mierneste in gemeenskappe (amper soos ‘n hele dorp) wat ondergronds is. Hulle kan ook in bome of in miershope bo die grond bly. Sommige spesies verskil van die meerderheid van miere, want hulle bly nie in vaste gemeenskappe nie. Swerfmiere het, soos hul naam suggereer, nie ’n permanente huis of vaste blyplek nie. Hulle loop of trek agter kos aan en ons noem dit migreer.

Miergemeenskappe het ’n koningin of koninginne wie se doel dit is om duisende eiers te lê om só seker te maak dat die kolonie sal oorleef. Die wyfies van die miere is die werkermiere. Hulle het nie vlerke nie en kan nie voortplant nie. Hulle moet kos soek, aan die nes werk, die gemeenskap beskerm en die koningin se kleintjies voer.

Maar waar is die mannetjies dan? Wel, hulle het net een rol en dis om met die koningin te paar (voort te plant) sodat sy eiers kan lê. Die mannetjies leef gewoonlik net ’n paar dae en nadat hul klaar gepaar het, gaan hulle dood.

Miere is baie interessante insekte, want hulle skei ’n stof (’n soort chemikalie) af wat hulle gebruik om hul miermaats te waarsku of te roep. Hulle kan hulle lok as daar ’n goeie bron van kos is of waarsku as dat daar gevaar is. Miere se tipiese kos is nektar, sade, fungus of ander insekte, maar jy het sekerlik al in die huis agterkom dat hul dieet sommer baie soorte kos bevat!

Daar is ook spesies met ander diëte, soos swerfmiere wat aan reptiele, voëls, of selfs klein diertjies sal knibbel. 1

Miere lyk nie almal dieselfde nie en kan in grootte wissel. Van hulle is ’n piepklein 2 mm terwyl ander tot 25 mm groot kan word. Daar is geel, bruin, rooi en swart miere en dan is daar miere soos die Pheidole van Noord-Amerika wat ’n metaalkleurige skynsel het.

’n Mier het gewoonlik ’n groot kop en ’n lang, ovaalvormige abdomen wat aan die toraks met ’n smal middellyf verbind word. Hulle het twee stelle kake en het voelhorings, oftewel antennas. Hul buitenste kake word gebruik om kos te dra en in die grond te grawe, en die binneste kake word gebruik om mee te kou. Sekere spesies het ook ’n angel by die punt van hul abdomen.

Die mier se lewensiklus bestaan uit vier stadiums: die eier, larwe, papie en volwassene en dit duur gewoonlik tussen agt tot tien weke om deur die volle siklus te gaan. Die koningin doen haar hele lewe slegs een ding en dit is om eiers te lê. Die wyfies is, soos vroeër genoem, die werkers en doen die werk van die kolonie terwyl die groter wyfies soldate word wat die kolonie moet verdedig. Sekere spesies se mannetjies het vlerke en paar met die koninginne in die lug. Die mannetjie sterf daarna en die koningin begin dan met ’n nuwe nes. 2

Bye

Is jy dalk bang vir bye? Mense is gewoonlik nogal skrikkerig vir hulle, want hul angels is nie ’n mens se maat nie, maar bye is vir ons as mense baie belangrik en daarom moet ons na hulle kyk en verseker dat hulle nie minder word en uitsterf nie.

Volwasse bye wissel ook in grootte en is tipies tussen 2 mm en 4 cm groot.

Die kenmerke van die spesies verskil, maar hulle het tipies groot saamgestelde oë en het voelhorings wat segmente of dele het. Daar is ’n abdomen en toraks wat uit segmente bestaan en hul mondgedeelte het ook ’n lang slurpie om nektar mee op te suig. Die lang slurpie word ’n proboskis genoem.

Bye en perdebye is verwant aan mekaar, maar daar is wel groot verskille aan hul voorkoms. Bye voer hul kleintjies ’n mengsel van stuifmeel en heuning terwyl perdebye hul kleintjies dieremateriaal (soos insekte of spinnekoppe) voer.

Bye is totaal afhanklik van blomme vir hul kos wat uit stuifmeel en nektar bestaan. Soos bye van blom tot blom vlieg en stuifmeel versamel, vryf hul lyfies teen die blomme wat hulle besoek. Dit is hoe kruisbestuiwing gebeur en dit beteken dat hulle help dat ander plante bestuif word en groei.

Bye vervoer stuifmeel tussen die manlike en vroulike deeltjies van plante en dit laat plante toe om sade en vrugte te dra. Dit is hoekom bye so belangrik vir ons is.

Nes by miere, is daar ook verskillende rolle vir manlike en vroulike bye. Mannetjiesbye leef nie lank nie en versamel nooit stuifmeel nie. Hulle het ook nie verantwoordelikhede in die byekorf en hul kolonie nie. Nee, weer eens doen die vroue al die werk, want hulle gaan soek die stuifmeel, bou die korwe en gee die kinders kos.

Die meeste bye is nie gepla oor wat die bron van hul stuifmeel is nie. Hulle besoek ’n verskeidenheid van blomme, maar daar is wel bye wat slegs stuifmeel van blomme van sekere kleure of sekere families verkies.

Heuningbye en hommelbye is sosiale bye en leef in kolonies. Daar is egter bye wat nie saam met ander woon nie. Die meerderheid van die Apoidea-spesies is nie sosiaal soos heuningbye nie.

Die lewensiklus van die verskillende spesies verskil van mekaar, maar aangesien heuningbye een van die bekendstes is, kyk ons sommer na hul lewensiklus.

Die koninginby is die hoofkarakter in ’n byekorf. Sy is die grootste in die kolonie en die enigste een wat in staat is om eiers te lê. Sy stel feromone vry om die kolonie te reguleer.

Die manlike heuningby word in Engels ’n drone genoem en in Afrikaans ’n hommelby. Hulle maak gewoonlik so 10% tot 15% van die kolonie uit. Die hoofdoel van die mannetjiesby (wat ook hier die hommelby genoem word) is om met die koningin te paar. Hierdie manlike bye ding met mekaar mee tydens ’n paringsvlug. As ’n hommelby met ’n koningin paar, sterf hy daarna.

Die werkerbye hou die korf aan die gang en het gewoonlik verskeie take. Hulle gee die bylarwes kos en voed ook die koningin en maak heuning. ’n Ouer werkerby is gewoonlik die een wat kos moet gaan soek.

Die lewensiklus van ’n heuningby bestaan uit vier stadiums: eier, larwe, papie en volwassene. Die hele proses wissel onder die verskillende heuningbye. Dit neem omtrent 16 dae vir die koningin om van eier tot volwassewording te vorder, 18 tot 22 dae vir die werkerbye en 24 dae vir die hommelbye.

Die koninginby lê tot 2 000 eiers per dag in die heuningkoek – een in elke sel! Die bevrugte eiers wat die vroulike heuningbye (werkerbye) gaan word, word in die kleiner selle gelê. Die onbevrugte eiers word die manlike heuningbye.

Drie dae nadat ’n eier gelê is, broei dit in ’n wurmagtige vorm uit. Dit word die larwe genoem en het nie bene, vlerke of voelhorings nie. ’n Larwe wat koninginjellie gevoer word, sal as die koninginby te voorskyn kom. Koninginjellie is ’n stof wat van die kliere van die voedingsbye kom. Ander larwes word slegs koninginjellie vir twee tot drie dae gevoer en kry daarna ’n mengsel van stuifmeel en heuning om te eet.

Die larwe bly binne die sel en is met was daaraan geheg. Die larwe spin ’n kokon om sy liggaam en word ’n papie. Die papie ontwikkel vlerke, pote, ’n kop, oë, toraks en abdomen en begin soos ’n volwasse by lyk. Ná ongeveer sewe tot 14 dae begin die by sy pad deur die was kou en kom uit die sel te voorskyn. 3

Woordbank

abdomen Insek se agterlyf.
feromone ’n Biochemiese verbinding wat insekte as lokmiddel gebruik.
irriteer Pla, lastig val, steur, omkrap.
knibbel Knabbel, knaag aan iets; peusel.
kruisbestuiwing Bestuiwing van die stampers van een blom met stuifmeel van ’n ander plant.
larwe ’n Jong insek wat met ’n sagte, buisvormige lyf uit die papie kom.
migreer As ’n dier een plek verlaat om na ’n ander te gaan.
proboskis ’n Verlengde monddeel van ’n insek wat aangepas is vir die opsuig van voedsel.
saamdrom In ‘n groot menigte bymekaarkom; saampak, saambondel.
spesies Soort, groep, kategorie, klas, tipe.
suggereer Voorstel, aanraai; laat dink aan; te kenne gee.
toraks Die borsgedeelte van ’n insek.
tropiese Uiters warm landstreke rondom die ewenaar – tussen die Kreefte- en Steenbokskeerkring. Die trope sluit in die ewenaar en dele van Noord-Amerika, Suid-Amerika, Afrika, Asië en Australië.
voelhorings Die tasorgane wat in die vorm van ’n spring of horing aan die kop van sekere diere is.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Leer meer oor miere

Feite oor bye

Die Hymenoptera-spesie

Gepubliseer op: 18 Oktober 2022 | Bygewerk op 9 November 2023