Vinnige feite

  • Kewers kan nie baie goed sien nie en kommunikeer met afskeiding (feromone), klanke of vibrasies.
  • Sekere kewers, soos vuurvliegies, blink in die nag. Dit gebeur as gevolg van ʼn chemiese reaksie.
  • Het jy geweet kewers is al vir ongeveer 270 miljoen jaar op die aarde?
  • ʼn Mens kan kewers omtrent enige plek op die aarde aantref, selfs op die mees afgeleë eilande.
  • Aristoteles het die ordenaam Coleoptera uitgedink wat van die Griekse koleon (“skild”) en ptera (“vlerke”) afkomstig is.
  • Die goliatkewer (Goliathus goliatus) is bekend vir sy gewig. Hy weeg amper 100 g!
  • Volwasse kewers kou hul kos eers goed voordat hulle dit afsluk. Die Engelse woord beetle is juis afkomstig van die Ou Engelse woord bitela, wat “klein byter” beteken.
  • Sekere kewers is omtrent raserig. Daar is kewers wat hul koppe teen hout slaan en ʼn verbasende harde klapgeluid veroorsaak, en dan is daar ook kewers wat hul agterlywe op die grond slaan. Baskewers maak ʼn tjirpgeluid om ʼn maat te vind.
  • Miskruiers is bekend vir die feit dat hulle mis rol … Hulle is so gekonfyt in misrol dat hulle ʼn stuk mis, wat omtrent 50 keer meer as hulle weeg, kan rol!
Foto: iStock

Hulle kan oulik, vreemd of net doodgewoon grillerig wees. Welkom by die wonderlike wêreld van kewers. Dié insekspesie (orde: Coleoptera) sluit ongeveer 350 000 verskillende soorte in! En kan jy glo daar word steeds nuwe spesies ontdek en opgeteken? Daar is só baie kewers dat wetenskaplikes beraam dat een uit elke vier diere op aarde ʼn kewer is. 1

Snuitkewers (Curculionidae) is sekerlik die grootste kewerfamilie, en ander spesies met groot bevolkings sluit toktokkies (Tenebrionidae), grondkewers (Carabidae), blaarkewers (Chrysomelidae), boktorre (Cerambycidae), miskruiers (Scarabaeidae), kniptorre (Elateridae) en dwaalkewers (Staphylinidae) in.

Kewers wissel in grootte en kleur. Daar is van hulle wat piepklein is en dan is daar van hulle wat so groot soos ʼn mens se hand is! 2 Die Titanus giganteus is byvoorbeeld ʼn kewer van Suid-Amerika; hierdie outjie is blykbaar die grootste kewer op aarde en kan tot 20 cm groot word …

Habitat

Baie kewers bly óf op die grond, óf onder materiaal op die grond. Sommiges bly tussen plante, in verrotte hout of selfs in fungi. Ander is weer akwaties, wat beteken dat hulle in water woon. Die water waarin hulle bly, kan wissel van klein poeletjies tot groot riviere. Dan is daar ook kewers wat in droë woestyne en selfs in koue bergspitse woon.

Dieet

Kewers is so ʼn groot en diverse groep dat hulle omtrent elke soort kos op aarde eet. Daar is kewers wat lewende en dooie plante eet, ander eet insekte, verrotte materiaal, of ander is ook selfs parasities van aard.

Voorkoms

Die kewerfamilie is uiteenlopend, maar almal het een gemeenskaplike kenmerk. Volwasse kewers het altyd vlerke. Hul voorvlerke is egter hard en word nie vir vlieg gebruik nie, hulle gebruik dit slegs om hul agterste vlerke te bedek. Die agterste vlerke word vir vlieg gebruik.

Nes ander insekte het kewers ook ʼn kop, borsstuk (toraks), agterlyf (abdomen) en ses pote wanneer hulle die volwasse stadium bereik.

Hul lewensiklus

Kewers het ʼn lewensiklus wat uit vier dele bestaan: die eier, die larwe, die papie en die volwasse kewer. Hulle ondergaan dus nes skoenlappers ʼn metamorfose. Die lewensduur van ʼn kewer kan wissel na gelang van die soort kewer. Sommige kewers leef slegs ʼn paar maande, terwyl ander vir baie jare kan leef. 3

Die eier

Die siklus begin met die paringsproses. Hulle het ʼn lewensiklus wat uit vier dele bestaan. Die eier, die larwe, die papie en die volwasse kewer. Baie kewers lok hul maats met die afskeiding van feromone, klanke of visuele tekens soos lig. Ná die paring lê die vroulike kewer haar eiers direk op ʼn bron van kos, of dit nou hout, plantblare, mis of ʼn plek met baie prooi is. Sy kan tydens haar volwasse lewe van ʼn paar dosyn tot duisende eiers lê. Hierdie eiers kom in verskeie kleure voor, maar hulle is gewoonlik hard, glad, wit of geel. Dit is só klein dat ʼn mens dit nie juis met die blote oog kan sien nie. Die eiers broei gewoonlik ná ʼn paar dae uit, maar kan ook ʼn paar maande neem. Sommige spesies hou die eiers binne-in hulle en gee aan ʼn lewendige larwe geboorte.

Die larwe

Die larwestadium duur gewoonlik die langste en is die belangrikste gedeelte van die kewer se lewenspan. Die larwe lyk soos ʼn wurm en het ʼn lang liggaam wat uit segmente bestaan, en dit kan klein vlerkies en pote hê. Die larwe eet soos ʼn monster in hierdie tyd en bly tipies in dieselfde habitat waar die eiers gelê is. In hierdie tyd sal hulle ook die eksoskelet wat hul liggame bedek, afskud.

Die papie

Wanneer die larwe reg is om volwasse te word, sal hy ʼn afgesonderde hoekie soek en in ʼn papie verander. Die tydperk hang van die spesies af, want sekere kewers vat ʼn paar weke om te transformeer, terwyl ander weer jare neem. Die papie eet glad nie in hierdie fase nie.

Wanneer die papie volgroeid is, is dit tyd vir sy volgende stadium.

Die kewer

As die papiestadium kant en klaar is, kom die kewer te voorskyn. Die kewer is dan ten volle gevorm.

Die hoofdoel van hierdie fase is om ʼn maat te vind om mee te paar. Nadat hierdie proses voltooi is, sterf die kewer gewoonlik. Die meeste spesies eet darem iets as volwassenes, maar daar is ʼn paar spesies wat glad nie eens dan eet nie. Hulle maak staat op die energie wat in die larwestadium gekry is.

Voor- en nadele vir die mens

Kewers het verskeie voordele vir die mens. Hulle ontbind verrotte materiaal, wat veral belangrik in woude is. Diegene wat roofinsekte is, verminder ook die bevolkings van probleeminsekte, veral ruspes. Liewenheersbesies eet byvoorbeeld plantluise en word selfs kommersieel verkoop om plantluise in bedwang te hou.

Slegs ʼn klein persentasie van kewers kan sleg vir die mens wees, soos baskewers jaarliks duisende bome vernietig. Daar is ook kewers, soos die katoenkalander, wat ʼn bedreiging vir landbou inhou. Daar is sekere kalanders wat ook in koskaste klim en veroorsaak dat meel, graanvlokkies, neute, en dies meer weggegooi moet word.

Woordbank

abdomen ʼn Insek se agterlyf.
eksoskelet Die harde buitenste vel van sekere ongewerwelde diere. 4
feromone ʼn Biochemiese verbinding wat insekte as lokmiddel gebruik
larwe ʼn Jong insek wat met ʼn sagte, buisvormige lyf uit die papie kom.
metamorfose ʼn Verandering in vorm en dikwels gewoontes van ʼn dier gedurende normale ontwikkeling ná die embriofase, byvoorbeeld, by insekte, die larwe/wurm wat as vlieg/skoenlapper uit die papie klim. 5
papie Die toegespinde vorm van ʼn volledig metamorfoserende insek in die rustoestand tussen die larwe- en die gevleuelde stadium.
parasities Dis wanneer ʼn klein diertjie of plantjie binne-in ʼn ander dier of plant lewe en vir sy kos van die dier of plant afhanklik is. Daar word dus op die gasheerdier of -plant geteer.
prooi ʼn Dier wat deur ander diere gevang en geëet word.
toraks Die borsgedeelte van ʼn insek.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die wêreld van kewers

Hoekom kewers koel is

Feite oor miskruiers

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 Augustus 2022 | Bygewerk op 1 November 2023