Vinnige feite

  • Daar is sowat 17 500 verskillende skoenlapperspesies in die wêreld. 12
  • Antarktika is die enigste kontinent (vasteland) waar daar nie skoenlappers voorkom nie.
  • Hulle verkry sekere minerale deur uit modderpoele te drink! 6
  • Karnivore hou van skoenlappers en daarom moet skoenlappers allerlei slim truuks uitdink om nie gevreet te word nie, soos om hulself te kamoefleer of om helder (en dus giftig!) voor te kom sodat roofdiere afgeskrik word.
  • Die grootste skoenlapper in die wêreld is die vroulike Queen Alexandra-voëlvlerk met ’n vlerkspan van meer as 25 cm!
  • Die kleinste skoenlapper is die Western Blue Pigmy, wat slegs 2 cm groot is.
  • Het jy geweet skoenlappers kan dronk word? Ja! Die suiker in vrugte word in etanol (alkohol) omgeskakel en voor hulle weet wat aangaan, is hulle papdronk! Soms sal skoenlappers só dronk word deur gegiste vrugte te eet, dat mense hulle kan optel. 13

As iemand van insekte praat, is sommige van ons geneig om sommer dadelik te gril (of selfs te gil!), veral as ’n mens aan ’n spinnekop, skerpioen of kakkerlak dink. Dan is daar weer pragtige, wondermooie insekte soos skoenlappers wat ’n mens in verwondering (verbaas) laat.

Skoenlappers is deel van die superfamilie (ja, is hulle nie super nie!) Papilionoidea en die orde (kategorie of klas) Lepidoptera en word ook vlinders in Afrikaans genoem. Terloops, die Franse woord papillon beteken “skoenlapper”.

Maar waar kry skoenlappers hul naam? Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans sê dat die woord sy oorsprong van die Nederlandse woord schoenlapper (iemand wat skoene herstel) gekry het omdat die lapplekke op skoene mense destyds aan die bont vlerke van dié insek laat dink het. 1

Voorkoms

Skoenlappers en motte is wel aan mekaar verwant en deel ’n paar kenmerke. Soos alle ander insekte het ’n skoenlapper ses pote. Die vlerke, lyf en pote – soos dié van motte – is bedek met poeieragtige skubbetjies.

Skubbetjies

Het jy al ooit aan die vlerke van ‘n mot of skoenlapper geraak en ‘n bietjie “poeier” op jou vingers gekry? Daardie poeier is eintlik mikroskopies klein skubbetjies, amper soos die veel groter skubbe van ‘n vis of akkedis, of soos die vere van ‘n voël wat oormekaar lê. Hierdie skubbetjies, oftewel plaatjies, kom maklik af as jy ’n skoenlapper hanteer. 2

Die skubbetjies gee aan skoenlappers en motte ook hul wetenskaplike naam Lepidoptera (afgelei van die Griekse woorde lepido [wat “skub” beteken] en pteron [“vlerk”]).

’n Mens sal dink die woord skubbe pas nie by ’n veerligte vlinder nie. Maar onthou, skoenlapper- en motskubbe is piepklein, komplekse (ingewikkelde) en bros (baie maklik breekbaar) strukture wat die vlerke van die skoenlapper bedek. En weet jy wat? Elke mikroskopies klein skubbetjie bestaan uit 20 baie dun “plaatjies”, só klein is hulle!

Die skubbetjies is soos klein dakteëltjies oormekaar gepak en breek die ligstrale soos ’n prisma (driehoekige stuk glas) in verskillende kleure op. 3

Hierdie skubbetjies bedek ook die lyf en pote van die skoenlapper. Dus noem ons skoenlappers skubvlerkiges (met skubbe op die vlerke). Die skubbetjies help hulle wel om te vlieg, maar indien daar van die skubbetjies afkom, sal dit darem nie ‘n groot uitwerking op die vlinder se vliegvermoë hê nie. Tog, as jy ’n skoenlapper vang, hanteer hom maar versigtig, sodat daar so min as moontlik van die skubbetjies afkom.

Vlerke

Het jy geweet skoenlappervlerke is deursigtig? Ja, sowaar! Soos jy nou reeds weet, is die vlerke van ‘n skoenlapper met ‘n menigte miniatuur skubbe bedek – duisende van hulle! En daardie kleure wat jy sien wanneer ‘n skoenlapper in die tuin fladder, is die slegs die weerkaatsing van verskeie kleure deur die skubbe.

Die vlerke self bestaan ​​uit ‘n proteïen genaamd chitien. Dit is dieselfde proteïen wat ’n insek se eksoskelet (amper soos ’n uitwendige geraamte) vorm. En net soos ‘n eksoskelet, is chitien deursigtig (‘n mens kan daardeur sien).

Die woord chitien beteken “beenagtig” en by die skoenlapper is dit ’n membraan (dun vlies) wat deur buisvormige are gevoed word. Hierdie are dien ook as ’n raam wat die vlerke stut. Wat interessant is, is dat die are ook met suurstofwisseling (asemhaling) help. En bo en behalwe die derduisende kleurvolle skubbe, is die vlerke ook met haartjies bedek. 3

Maar waar kom al die pragtige kleure en ontwerpe op vlindervlerke vandaan? En waarom “verander” die kleur op hul vlerke soos hulle beweeg? Dit is aan die derduisende klein skubbe (wat soos klein prismas werk) te danke! 4

Die meeste kleure word veroorsaak deur pigmente (kleurstof) wat binne die individuele (afsonderlike) skubbe vorm en lig deur gaatjies op die oppervlak weerkaats.

Ander, veral bloues – soos die manjifieke morpho-skoenlapper – se kleure word deur die struktuur (samestelling of rangskikking) van die skubbe veroorsaak en is die gevolg van lig wat vanaf die geriffelde oppervlakke weerkaats – byna soos om na die onderkant van ‘n DVD te kyk. 5

’n Mens sou dink dat skoenlappers slegs bedags met hul helderkleurige vlerke rondvlieg en motte snags met hul donkerder, dowwer vlerke. Tog is daar nagvlinders (met die oulike bynaam uiltjies), wat meestal grys of bruin is. Sommige nagvlinders het wel gekleurde agterste vlerke. 3

Voelers

Waar, dink jy, sit die skoenlapper se neus? Nee, nie in die middel van sy gesig soos joune nie, maar op sy kop! Lyk dit soos ’n regte neus, sal jy vra. Nee, dit lyk soos antennas!

Insekte se voelers of antennas is die sensoriese of sintuiglike organe (dit waarmee waargeneem word) en sit op die kop van die skoenlapper.

Skoenlapperantennas, of voelers, is dun met ’n klein knoppie op die punt van elkeen. Voelers word dikwels een van die slim organe van insekte genoem aangesien dit hulle help om te ruik en te voel. Dié dun antennas werk soos die vingers en veral neus van ’n mens en help die skoenlapper om sy omgewing te verken en om te ruik waar hy kos kan kry of wanneer hy in gevaar is en dalk self die lekkerny van roofdiere soos voëls, slange, perdebye of rotte kan word.

Skoenlapperantennas bied ook die perfekte balans wanneer hulle vlieg – dit help hulle om te navigeer (die roete te bepaal) sodat hulle ander skoenlappers kan vind, van een plek na ’n ander kan vlieg en vas te stel wanneer dit dag of nag is. 5

Hoe sien skoenlappers? Skoenlappers het twee oë net soos ons. Maar skoenlappers se oë word saamgestelde oë genoem omdat hulle baie, baie lense het. Dit beteken dat skoenlappers op dieselfde tyd baie verskillende dinge in baie rigtings kan sien.

Hul breine versamel al daardie inligting en maak een geheelbeeld (prent) van al daardie klein dele. Die meeste skoenlappers kan rooi, geel, blou en groen sien, maar sommige spesies kan ook ander kleure sien. 6

Skoenlappers kan ook dinge op blomme sien wat ons nie kan nie. Hul halfbolvormige saamgestelde oë kan ultravioletlig waarneem. Baie blomme het ’n sogenaamde ultraviolet “heuningmerk”, wat wys waar die nektar gevind kan word en wat dié gevleueldes (met vlerke) baie goed kan sien.

Slurp

Skoenlappers het nie ’n mond nie, maar ’n klein suigslurp. Dis ’n hol buisie (amper soos ’n strooitjie) waardeur hulle die blomme se nektar opsuig. Wanneer hulle nie drink nie, is hierdie slurp onder die kop opgerol – byna soos ’n olifant sy slurp ook kan oprol! As die slurp uitgesteek word, is dit meestal net so lank of selfs langer as die skoenlapper self!

Skoenlappers leef van die nektar van blomme. Hulle hou ook van oorryp (selfs vrot!) vrugte omdat hulle die sap kan drink. 7

As die skoenlappers nog in hul ruspe-fase (stadium) is, is hulle die enigste outjies wat vreet en nie suig nie! 3

Het jy geweet skoenlappers kan nie met hul tong (slurp) proe nie? Vlinders proe letterlik met hul pootjies! Wyfievlinders land op verskillende plante en trap-trap op die blare rond tot die plant sy sappe vrystel. Só help die smaakreseptore op hul pote hulle om sekere plante te vind en kos op te spoor. 3

Koudbloedig

Terwyl ons dikwels dink dit is te warm, is die skoenlappers mal daaroor en het die hitte nodig. Jy sal dikwels ’n skoenlapper in die son sien sit voor hy reg is om te vlieg. Dit klink eienaardig, maar skoenlappers kan nié vlieg as hul lywe nie die regte temperatuur is nie, dit wil sê nie laer as 30 ℃ nie!

Skoenlappers is dus koudbloedig (eksotermies) en kan nie self hul liggaamstemperatuur reguleer nie en moet staatmaak op die omgewing (son) om hul liggaamstemperatuur te verhoog. Hulle maak ook op hul instinkte staat om hul liggame op te warm om te vlieg. Dit staan ook bekend as termoregulering. 8

Dis ook daarom dat skoenlappers aktief in die dag is en so kuier-kuier om die plante gesien word.

Habitat

Skoenlappers word oral in die wêreld aangetref, behalwe in Antarktika. In byna enige plek met nektarproduserende blomme sal skoenlappers kan bly. Sommige spesies leef in die woestyne en voed op die vetplante wat in moeilike toestande groei. Ander, soos die blou morpho-skoenlapper, leef in digte reënwoude en kry hul voeding van die blomplante en bome. Nog ander bewoon weivelde en gematigde prêries, (grasvlaktes) en fladder van veldblom tot veldblom.

Ongelukkig bedreig habitatverlies heelwat skoenlapperspesies. Habitatverlies beteken dat hulle nie meer ’n woonplek het nie as gevolg van redes soos oorbevolking, besoedeling, uitheemse plantegroei en dies meer.

Migrasie

Elke herfs verlaat miljoene koningvlinders hul somerbroeiplekke in die noordooste van die VSA en Kanada en reis tot 4 828 km om in die suidwestelike Mexiko te gaan oorwinter. Dit beteken hulle vlieg tussen 80 en 160 km per dag! Daar aangekom, broei hulle en reis dan weer terug noorde toe wanneer die somer daar aangebreek het. Hierdie patroon word migrasie genoem. 9

Anders as voëls of wildebeeste wat ook epiese (indrukwekkende) migrasies begin, sal hierdie individuele skoenlappers nooit terugkeer nie. Die rede hiervoor is omdat die koningvlinders se reis so verskriklik ver is en hul topspoed maar ongeveer 19 km per uur is (so “vinnig” soos jou pa of ma met ’n motor in ’n sekuriteitskompleks of kampplek mag ry!)

Daarom kan ‘n mens kan hierdie “wedloop” met ’n aflosspan vergelyk. Die eerste klomp wat in Mexiko oorwinter het, kan ‘n mens Generasie 1, of Span 1 noem. Elke opeenvolgende geslag reis verder noord. Dit sal dus 3 tot 4 generasies neem om Noord-Amerika en Kanada te bereik!

Lewensiklus

Wat sal jy dink as iemand vir jou sê jy was nogal lelik toe jy jonger was? Wel, dis seker wat skoenlappers vir mekaar sê, want hulle was nie mooi voordat hulle skoenlappers geword het nie. Die rede is dat hulle deur ’n proses genaamd metamorfose (gedaanteverwisseling) gaan om tot die pragtige vlinder te ontwikkel.

Die lewensiklus van ‘n skoenlapper is werklik ongelooflik. Skoenlappers het vier lewensfases, die eier, die larwe (ruspe), die papie en die volwasse skoenlapper. Elkeen van die vier stadiums is uniek (uitsonderlik) aan elke individuele spesie.

Die eier

Die siklus begin wanneer ’n wyfieskoenlapper haar eiers lê, gewoonlik op blare of die stamme van plante. Klein ruspes begin in die klein eiertjies groei. Die eiers kan wissel in grootte en tekstuur en hulle kan rond, ovaal, glad of grof wees. Dit neem 3 tot 7 dae vir die eiers om uit te broei, maar wissel ook na gelang van die spesie. Sommige broei binne dae uit terwyl ander slegs uitbroei as die weer warm genoeg is. 10

Die ruspe

Sodra die ruspe reg is om die wêreld te ontmoet, kruip hy buitentoe. En daar is ’n rede waarom ma’s sê hul kinders eet soos ruspes, want ruspes eet verskriklik baie! Hulle eet eerstens hul pad uit die eierdop en begin dan smul aan die blare waarop die eier rus. Tydens hierdie stadium begin hulle ook vier of vyf keer vervel, want die ruspe groei só vinnig dat sy vel nie kan byhou nie … As ’n ruspe volgroeid is, is hy 100 keer groter as wat hy was toe hy uit die eier gekruip het! 12

Die papie

As die ruspe volgroeid is, is dit tyd vir sy volgende stadium en dit is die papie, en hy is regtigwaar nie ’n mooi knapie nie! Die papie is in ’n omhulsel waarin hy bly tot hy in ’n skoenlapper verander. Die papies is gewoonlik in ’n versteekte hoekie van ’n plant, waar hy teen karnivore (vleisetende diere) en slegte weer beskerm is. Binne-in die papie gebeur daar interessante dinge, want ’n skoenlapper word gevorm! 12

Die skoenlapper

As die skoenlapper reg is om sy vlerke te sprei, begin die omhulsel oopgaan, maar ongelukkig is sy vlerke nog nie gereed vir vlieg nie. Die vlerke is nog nat, sag en geplooi teen sy lyfie. Hy moet eers wag tot sy vlerke droog is en dat daar genoeg bloed in die klein aartjies is om sterk en groot te word. Skoenlappers is dan gereed om die wêreld te ontdek, nektar te gaan drink en met ander skoenlappers te paar sodat die siklus weer van vooraf kan begin.

Nut van skoenlappers

Skoenlappers is nodig vir ’n gesonde ekostelsel, want daar is ander diertjies soos voëls en klein soogdiere wat van skoenlappers as kos afhanklik is.

Ons hou van skoenlappers in ons eie tuin, en nie net omdat hulle mooi is om na te kyk nie. Omdat blomme, plante en bome nie na mekaar toe kan loop om te paar nie, moet hulle op kruisbestuiwing staatmaak. En dit gebeur wanneer stuifmeel van een blom se stamper aan hul pootjies vassit as hulle nektar drink en op die stamper van ’n ander blom van dieselfde soort beland as hulle weer dáár gaan drink. Die stuifmeel help die blomme om saadjies te produseer. 11

Woordbank

abdomen Insek se agterlyf.
bros Baie maklik breekbaar.
chitien Blink, horingagtige/beenagtige buitedeel van die lywe van sekere soorte insekte.
deursigtig ‘n Mens kan daardeur sien.
ekostelsel Stelsel wat uit lewende organismes en hul omgewing bestaan.
eksoskelet Die harde, buitenste vel van sekere ongewerwelde diere; buitenste geraamte.
eksotermies Met ‘n niestandvastige liggaamshitte, soos visse, reptiele en insekte.
embrio Die begin van ontwikkeling.
epiese Indrukwekkend.
etimologie Die oorsprong en geskiedenis van woorde.
fase Stadium.
instinkte Die gedrag of natuurlike reaksie van ‘n dier in sekere omstandighede.
geheelbeeld Die totale prent of beeld.
habitat Woongebied, natuurlike omgewing.
kamoefleer Vermom, onopsigtelik maak deur ’n bedekking of beskildering.
karnivore ‘n Dier wat hoofsaaklik vleis eet (‘n herbivoor is ’n dier wat hoofsaaklik plante eet).
komplekse Ingewikkeld.
kontinent Vasteland.
kruisbestuiwing Bestuiwing van een blom of plant deur ‘n ander.
manjifieke Asemrowend, indrukwekkend, onbeskryflik, pragtig.
metamorfose Verandering in vorm en gewoontes van ’n dier gedurende normale ontwikkeling ná die embriofase, byvoorbeeld, die larwe/wurm wat as vlieg/skoenlapper uit die papie klim.
migrasie Seisoenstrek van voëls, diere.
mikroskopies Slegs sigbaar met ‘n mikroskoop.
navigeer Die pad wys, roete aandui/bepaal.
nektar Soet vloeistof in blomme (waarvan die bye heuning maak); ook godedrank genoem.
orde Kategorie of klas.
prisma Driehoekige stuk glas; ’n kleurebeeld word verkry deur ‘n ligstraal deur ‘n prisma te laat gaan.
sensoriese Waarnemend.
skubvlerkiges Met skubbe op die vlerke.
suurstofwisseling Asemhaling.
pigmente Kleurstof.
prêries Uitgestrekte boomlose grasvlakte in Noord-Amerika.
prooi ’n Dier wat deur ander diere gevang en geëet word.
struktuur Samestelling, konstruksie, rangskikking, ontwerp, raamwerk.
termoregulering Om ’n konstante temperatuur te handhaaf.
toraks Borsgedeelte van ’n insek.
verwondering Verbasing.

Lees dié artikels om nog meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Prettige skoenlapperfeite

Die lewensiklus van skoenlappers

Die ongelooflike migrasiereis van sowat 2 500 myl (’n hele 4 023 km ver!) van die koningvlinders (“monarch butterflies”)

Leer hoe om ’n koningvlinder te teken

Skoenlapperdag in Londen

Hoe en wat sien skoenlappers?

Gepubliseer op: 23 Junie 2022 | Bygewerk op 11 April 2024