Vinnige feite

  • Wanneer ons ‘n voedselketting teken gebruik ons ‘n pyl (→) tussen die organismes om aan te dui in watter rigting die voedsel gaan en in watter rigting energie vanaf een organisme na die volgende oorgedra word.
  • Die verskillende vlakke in die voedselketting word trofiese vlakke genoem.
  • Primêre verbruikers is die herbivore wat die plante eet, soos die sprinkaan en die ruspe in hierdie voorbeeld.
  • Sekondêre verbruikers (karnivore of omnivore) eet die primêre verbruikers, soos die verkleurmannetjie en die padda in hierdie voorbeeld.
  • Tersiêre verbruikers (karnivore of omnivore) eet die sekondêre of primêre verbruikers. Die slang, muishond en arend is dus die tersiêre verbruikers in hierdie voorbeeld.
  • Die voedselketting eindig met ontbinding en herwinning, wat die laaste vlak van die voedselketting behels.
  • ‘n Voedselketting is ‘n eenrigtingverkeer van voedsel, nie ‘n siklus nie.
Grafika: Dawid Brand

‘n Voedselketting beskryf hoe elke organisme voedsel verkry en hoe energie van die een organisme na die volgende vloei. 1 Alle lewende dinge het energie nodig om te funksioneer. Daardie energie word verkry van ʼn spesifieke bron en weer oorgedra na die volgende lewende organisme. Soos wat jy nou hier lees, het jy energie daarvoor nodig, wat jy vanuit jou lekker middagete se vleis en groente se voeding kon kry! 4

Hoe werk ʼn voedselketting?

Fotosintese

Plante in die grond kry energie van die son om hulle eie kos te produseer. Hierdie proses word fotosintese genoem. 2

Wat is nodig vir fotosintese?

ʼn Plant het vier dinge nodig vir fotosintese:

  • Sonlig: Plante gebruik die energie van die son.
  • Koolstofdioksied: Plante neem koolstofdioksied deur hul blare op.
  • Water: Plante se wortels kry water uit die grond.
  • Chlorofil: Verander ligenergie van die son in kos.

Die produseerder en verbruiker

Voedselkettings begin met die plant wat die produseerder van voedsel is. Plante verskaf energie aan diere, soos beeste, wat dit eet. Die dier wat die plant eet, word die verbruiker genoem. Daar is ʼn voedselverwantskap tussen die produseerder en die verbruiker. Dit is hierdie verwantskap wat met ʼn voedselketting illustreer word. 1

Voorbeelde van voedselkettings:

blaar → ruspe → verkleurmannetjie → slang → muishond

gras → sprinkaan → padda → slang → arend

Verder oor voedselkettings

  • Wanneer ons ‘n voedselketting teken gebruik ons ‘n pyl (→) tussen die organismes om aan te dui in watter rigting die voedsel gaan en in watter rigting energie vanaf een organisme na die volgende oorgedra word. 1
  • Die verskillende vlakke in die voedselketting word trofiese vlakke genoem.
  • Primêre verbruikers is die herbivore wat die plante eet, soos die sprinkaan en die ruspe in hierdie voorbeeld.
  • Sekondêre verbruikers (karnivore of omnivore) eet die primêre verbruikers, soos die verkleurmannetjie en die padda in hierdie voorbeeld.
  • Tersiêre verbruikers (karnivore of omnivore) eet die sekondêre of primêre verbruikers. Die slang, muishond en arend is dus die tersiêre verbruikers in hierdie voorbeeld.
  • Die voedselketting eindig met ontbinding en herwinning, wat die laaste vlak van die voedselketting behels.
  • ‘n Voedselketting is ‘n eenrigtingverkeer van voedsel, nie ‘n siklus nie. 6

Ontbinding en herwinning as laaste vlak van ʼn voedselketting

Wanneer organismes doodgaan en ontbind, word hulle hersirkuleer deur ontbinders – ongewerweldes, bakterieë en fungusse. Hierdie ontbinders breek organismes af in voedingstowwe – stowwe wat lewende plante kan voed. Die ontbinders is ʼn lewensbelangrike deel van enige ekosisteem. Sonder hulle sou plante nie voedingstowwe kry nie. 7

Ontbinders is die finale deel van die voedselketting. Belangrike nutriënte word weer op hierdie manier terug in die grond gesit. Nou kan ‘n nuwe voedselketting vorm.

Voorbeelde van ontbinders:

  • Sampioene (fungus) 8
  • Erdwurms (ongewerweldes)
  • Miskruiers (ongewerweldes)
  • Skimmel (bakterie)

Wat is ʼn voedselweb?

Wanneer ons baie verskillende voedselkettings in ‘n ekosisteem saamvoeg, word dit ʼn voedselweb genoem. Hierdie voedselkettings is dus interafhanklik van mekaar en word ook aan mekaar gekoppel. 5

 Voorbeeld van ʼn voedselweb:

  • Produseerders: Stergras, rooigras en acacia.
  • Primêre verbruikers: Sprinkane, miere, termiete, vlakvarke, gemsbokke, impalas, muise, wildebeeste
  • Sekondêre verbruikers: Ietermagogge, aardvarke, muishonde
  • Tersiêre verbruikers: Wilde honde, leeus, jagluiperds, rooikatte, tierboskatte, arende

‘n Voedselweb begin dalk wanneer ʼn vlakvark stergras eet. Daarna word die vlakvark  deur ʼn leeu of ʼn wildehond gevang. Die vlakvark kan dus vir meer as een spesifieke dier prooi wees. Nog ʼn voorbeeld is ʼn termiet wat rooigras eet. Die muishond kan dan die termiet eet, of die termiet kan deur ʼn tierboskat geëet word. Die muishond kan wel deur die rooikat ook geëet word. 9

Voedselkettings bestaan binne ekosisteme

Wat is ʼn ekosisteem?

‘n Ekosisteem is ‘n gebied waar lewende en nie-lewende dinge op baie verskillende maniere afhanklik van mekaar is. ‘n Ekosisteem kan op sy eie oorleef sonder enige hulp en produkte van ander bronne, omdat die lewende en nie-lewende dinge in die ekosisteem van mekaar afhanklik is vir hul oorlewing.

Daar is baie verskillende soorte ekosisteme op die aarde:

  • Riviere
  • Berge
  • Die see en die rotskuste
  • Poele en vleilande
  • Arktiese en Alpynse toendra is in baie koue gebiede naby aan die Noord- en Suidpool. Daar is geen bome nie, maar ‘n paar struike en dwergplante groei in die nat, sponsagtige grond as dit nie permanent gevries is nie. (Dit word ysgrond genoem.)
  • Grasvelde: tropiese savannas en gematigde grasvelde
  • Woude, insluitend tropiese reënwoude, dennebosse en/of woude van bladwisselende bome in gematigde klimate ondersteun baie soorte van herbivore en karnivore
  • Woestyne en semi-woestyne

Gesonde ekosisteem

‘n Gesonde ekosisteem is een waarin daar ‘n goeie balans tussen die nie-lewende en lewende dinge bestaan. ‘n Gesonde ekosisteem is ook van ‘n voldoende biodiversiteit van plante, diere en hul habitat afhanklik.

Diere is ook afhanklik van die nie-lewende dinge in die ekosisteem. Alle diere het suurstof vanuit die lug nodig om asem te haal, asook water om te drink. Sommige diere gebruik ook die nie-lewende dinge as hul skuilplekke. Byvoorbeeld, miere maak staat op die grond en sand om hul neste in te bou.

Water is ʼn noodsaaklike komponent in ʼn ekosisteem. Sonder water kan lewe nie bestaan nie.

In die ekosisteem word die plante die produsente en die diere die verbruikers genoem. Elke ekosisteem het dus verskeie voedselkettings wat uit produsente en verbruikers bestaan.

Woordbank

koolstofdioksied Dit is ‘n swaar, kleurlose, nie-brandbare gas, CO2, met effens suurderige reuk en smaak, oplosbaar in water en aanwesig in die atmosfeer. Dit word gevorm onder andere deur die werking van sure op karbonate, tydens gisting en die verbranding of ontbinding van organiese stowwe, soos by asemhaling en verrotting. Dit word in die natuur deur plante opgeneem vir fotosintese, en in die nywerheid op groot skaal gebruik, ook in die vloeibare en vaste vorm, onder meer vir verkoeling, in brandblussers en in gekarboniseerde dranke. 3
chlorofil Dit is die groen pigment of kleur in die meeste plante. Dit kan energie van die son in koolhidrate (kos) vir die plant verander. 2
fotosintese Dit is die vorming van koolwaterstowwe in plante uit kooldioksied en water in die aanwesigheid van chloroplaste (chlorofil) en met behulp van die stralingsenergie van sonlig. 3
biodiversiteit Dit is die groot verskeidenheid van lewe (diere, plante, ens.) op die aarde en die prosesse wat alles aan die lewe hou. Dit word dus gesien as die diversiteit ten opsigte van lewende organismes en die verskillende ekosisteme waarin hulle voorkom en in interaksie met mekaar verkeer. 10

Lees hierdie artikel om nog meer te leer

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Julie 2021 | Bygewerk op 28 Februarie 2024