Vinnige feite

  • Ons onderskei tussen drie dele van die Middeleeue: vroeg, middel (hoë) en laat.
  • Koning Johannes van Engeland het in 1215 die Magna Carta onderteken waarin daar gesê is dat ’n koning nie bo die wet was nie. Die koning moes toe regverdig regeer en mense se regte beskerm. 6
  • Richard I (ook bekend as Richard die Leeuehart) was een van die bekendste Middeleeuse leiers. Hy het van 1157 tot 1199 geleef en was die koning van Engeland. Hy was ’n baie gewilde koning en glo baie dapper. 7
  • Baie flieks is al gemaak oor ridderordes soos die Tempeliers (Knights Templar). Hulle was ’n groep ridders wat deur ’n Franse ridder Hugues de Payens gestig is. Hulle was glo uitstekende vegters en het selfs later die ondersteuning van die pous gekry. Die ridderorde is teen 1312 afgestig.
  • Mense in die Middeleeue het ook Kersfees gevier. Voor Kersfees het hulle ’n maand lange vastyd genaamd Advent gehad waar allerlei ryk kosse en oordaad vermy is. Die oggend van 25 Desember het dinge egter verander en dan het ’n feestyd van 12 dae afgeskop waar jy kon eet, drink, dans, speletjies speel en in die buurt kuier. 8
  • ’n Mens dink gewoonlik aan groot kastele as jy aan hierdie tyd dink, maar die meeste mense het in huise gebly waar almal in dieselfde kamer geslaap het. As die inwoners ’n koei gehad het, moes die koei ook nog in die huis slaap! Die huis was gewoonlik donker en rokerig as gevolg van die vuur vir kookdoeleindes.
  • As jy in die Middeleeue gebly het, was jy waarskynlik al getroud! Huwelike is dikwels in die adelstand gereël en meisies was teen 12 jarige ouderdom getroud en seuns teen 14 jaar! 9
Foto: iStock

Die Middeleeue was ’n interessante tydperk in Europa se geskiedenis. Dit was ná die antieke tyd en voor die moderne era. Daar is al baie flieks daaroor gemaak en boeke oor hierdie tydperk geskryf, veral oor die vele bloeddorstige oorloë soos die kruistogte.

Die Middeleeue beskryf die tyd tussen die val van die Romeinse Ryk in ongeveer 476 en die begin van die Renaissance-era in die 14de eeu. 1

Nadat die Romeinse Ryk tot ’n val gekom het, was die Europeërs nie onder een regering of ryk saamgesnoer (saamgevoeg) nie, maar die Katolieke Kerk het ’n groot rol gespeel en die toutjies getrek. Konings en koninginne het juis baie van hul mag verkry as gevolg van alliansies met die kerk.

Mense praat dikwels van die Middeleeue as die Donker Middeleeue (Dark Ages), maar dis eintlik omdat die Renaissance daarna plaasgevind het en as ’n sogenaamde “verligte era” gesien word. Die Renaissance was ’n baie opwindende tyd van kuns, studies en nuwe ontdekkings en daarom is daar vir lank geglo dat die Middeleeue se mense eintlik barbaars was en nie juis iets tot die wêreld se ontwikkeling bygedra het nie. 2

Geskiedkundiges het naderhand egter met ander oë na die Middeleeue begin kyk en besef dat dit tog ook ’n besonderse tydperk was en dat die Renaissance juis kon plaasvind omdat die Middeleeue die grondslag daarvoor gelê het.

Die begin van die Middeleeue

Die Middeleeue se ontstaan kan teruggevoer word na die tyd toe die Germane (mense van noordelike Europa) die westelike deel van die Romeinse Ryk ingeval het. Die Germaanse stamme het die grond oorgeneem en klein koninkryke gevestig.

Die Germane het later Christene geword en die Christendom was teen daardie tyd die grootste godsdiens in die ryk. 2

Die pous was die hoof van die Christelike kerk en hy, saam met ander kerkleiers, het baie mag gehad. Daar was nie in daardie tyd baie mense wat kon lees of skryf nie omdat boeke nie so wyd beskikbaar was nie. Die kloosters het boeke gehad en is as leersentrums gesien.

Charlemagne word as die suksesvolste koning van daardie tyd gesien. Hy was koning van die Franke. Dit was in die gebied wat ons vandag as Frankryk en Duitsland ken. As ’n mens besef dat dit die Rooms-Katolieke se pous was wat Charlemagne as die keiser van die Romeine verklaar het, besef jy hoeveel mag die kerk gehad het.

Dit was die eerste keer dat ’n keiser ná die val van die Romeinse kerk (meer as 300 jaar vantevore!) aangestel is. Die Rooms-Katolieke Kerk het al hoe ryker geword, want gewone mense in Europa moes jaarliks ongeveer 10% van hul inkomste/opbrengste as belasting aan die kerk betaal. Dis waar die woord “tiende” vandaan kom.  Maar onthou, die gee van jou tiende (ook offergawe genoem) strek so ver terug soos die Ou Testament. Dit was ’n vereiste van die Wet van Moses waarvolgens alle Israeliete verplig was om ’n tiende van alles wat hulle verdien en verbou het, aan die tabernakel/tempel (kerk) te gee. 3

Die Rooms-Katolieke Kerk van die Middeleeue het self nie belasting betaal nie en as gevolg daarvan net ryker en magtiger geword.

Charlemagne se nakomelinge kon egter nie die ryk regeer nie en dinge het begin verkeerd gaan. Hulle is ook kort-kort van die 800’s tot die 1000’s (die 11de eeu) deur die Vikings aangeval.

Die Vikings was van die omgewing wat ons nou as Denemarke, Noorweë en Swede ken. 2

Die kruistogte

Intussen het die Islamitiese wêreld met rasse skrede gegroei. Die Moslems het ná die profeet Mohammed se dood groot dele van die Midde-Ooste onder hul beheer geplaas en die Islamitiese wêreld was in ’n stadium ongeveer drie keer groter as die hele Christendom.

Stede soos Bagdad, Damaskus en Kaïro het vinnig ontwikkel en duisende boeke is geskryf en antieke geskrifte is ook na Arabies vertaal. Daar was slim uitvindsels soos seep, windmeulens, chirurgiese instrumente en dies meer. 1

Die Rooms-Katolieke Kerk het egter Jerusalem as die Heilige Land beskou en wou nie hê dat die Moslems dit moes beheer nie. Europeërs wou ook die uitbreiding van die Moslemryk verhoed. 4

Hulle besluit toe om ’n mag der menigte soldate na die gebied te stuur om oorloë daar te gaan voer en om dit onder die kerk se beheer te plaas. Dit het tussen 1095 en 1291 plaasgevind en staan as die kruistogte bekend. Die deelnemende soldate is die kruisvaarders genoem.

Hulle het rooi kruise op hul klere gedra en geglo dat hulle deur hierdie diens vir hul sondes vergeef sou word en hemel toe sou gaan. Deur aan die gevegte deel te neem, het hulle ook ooreenkomste geteken sodat hul eiendom beskerm kon word en is selfs in sommige gevalle van skuld kwytgeskeld. Baie van hierdie kruisvaarders is egter dood; inteendeel, duisende kruisvaarders asook Moslems het  gesterf.

Die kruisvaarders het daarin geslaag om Jerusalem onder die Rooms-Katolieke Kerk se beheer te plaas. Daarna het baie pelgrims vanoor die hele Westelike Europa Jerusalem besoek. Baie van hulle het egter nie die tog oorleef nie.

Arbeid en landbou

Die Europeërs het tydens die Middeleeue feodalisme ingestel. Dit was die oorheersende maatskaplike stelsel waarvolgens leenhere grond aan mense in ruil vir dienste geleen het.

Ryk grondeienaars (lords of here) het kastele gebou en hulle het grondooreenkomste met ridders aangegaan waarvolgens ridders grond in ruil vir die beskerming van die eienaars kon kry. Die arbeiders self was eintlik maar net slawe, want hulle het sonder betaling op die grond gewerk en net verblyf vir hul harde werk gekry.

Daar is, onder meer, met rog, hawer en gars geboer en dan was daar ook plase met groente en vrugtebome.

Tydens die 11de eeu het landbou begin verander en die ploeg en ander implemente is uitgevind wat landbou meer produktief en doeltreffend gemaak het. Minder mense was toe op plase nodig en al hoe meer mense het na stede getrek. 1

Ontwikkeling

In die 1100’s (12de eeu) het mense langer begin leef. Hulle het begin om meer voedsame kos te kweek en voor te berei. Hul gesondheid het verbeter en die bevolking het gegroei. Dorpe het ook gegroei en handel het toegeneem. 2

Tydens die Middeleeue was die eerste universiteite in Bologna, Italië, Parys in Frankryk en in ander stede opgerig.

Baie katedrale is tydens die Middeleeue gebou omdat godsdiens die kern van hul samelewing gevorm het. Tussen die 10de en 13de eeue is die meeste Europese katedrale in die Romaneske styl gebou. Dit het boë gehad, baie min vensters en dik klipmure. Voorbeelde hiervan is die Porto-katedraal in Portugal en die Speyer-katedraal in Duitsland.

Europeërs het later die Gotiese styl van kuns en argitektuur ontwikkel en groot katedrale uit klip gebou. Hierdie katedrale het hoë torings en gekleurde glasvensters gehad. Sowel die Notre-Dame-katedraal in Parys as die Canterbury-katedraal in Engeland is ’n goeie voorbeeld van ’n Gotiese katedraal.

Canterbury-katedraal
Notre-Dame-katedraal

Skilder- en mosaïekkuns het ook ontwikkel en kunstenaars het katedrale daarmee versier.

Boeke in daardie tyd was eintlik ook kunswerke, want kunstenaars het dit met die hand geïllustreer. Omdat kloosters een van die min plekke was waar vroue kon studeer, het baie nonne boeke vertaal en geskryf. Troebadoers het stories en liedjies oor die liefde gesing en van die bekendste liedere uit die Middeleeue is die “Die lied van Roland” en “Die lied van Hildebrand.” Van die bekendste letterkundige werke, was Beowulf, The Canterbury Tales, The Divine Comedy en The Decameron. 1

Die Swart Dood

Die Middeleeue is ook bekend vir een van die ergste plae wat die mensdom al getref het. Die Swart Dood, oftewel builepes, het tussen 1347 en 1350, ongeveer 20 miljoen mense in Europa laat sterf – ongeveer 30% van die totale bevolking in Europa.

Builepes is oorgedra van vlooie wat op rotte geleef het na mense. Yersinia pestis (Y. pestis) is die bakterie wat die siekte veroorsaak. Dit het dan tussen mense versprei as hulle deur besmette vlooie gebyt word en verder as iemand hoes of aan die besmette weefsel geraak het. Die Pes het asgevolg van handelsskepe na Europa versprei – daar was maar altyd rotte op die skepe. Die term Swart Dood verwys na gangreen wat mense se ledemate swart verkleur het. 5

Die dodetal was veel hoër in die stede, want die siekte is vinniger oorgedra weens die mensedigtheid.

Voor hierdie pes in Europa aangekom het, het die nuus al versprei dat daar ’n siekte, genaamd die Groot Pes, uitgebreek het en waaraan baie mense in die Ooste dood is.

Sewentiende-eeuse illustrasie deur Paul Fürst van ‘n pesdokter in Rome, met ‘n satiriese gedig

Toe kom 12 skepe van die Swartsee in Messina in Sisilië aan en bring die siekte na Europa. Die meeste matrose aan boord was reeds dood en dié wat nog geleef het, het erge sere gehad en was baie siek. Simptome van hierdie vreeslike siekte het koors, kouekoors, naarheid, diarree en erge pyn ingesluit.

Die plaag het nie slegs die lewe van massas mense geëis nie, maar ook dié van baie diere. Daar was ook ’n groot wolskaarste as gevolg van hierdie verwoestende pes. Mense in daardie tyd het geglo hulle het die pes gekry omdat hulle sonde gepleeg het. Hierdie aanname het ook tot geweld gelei. 1

Builepes bestaan vandag nog, maar gelukkig kan dit maklik met antibiotika behandel word.

Einde van die tydperk

Die laaste gedeelte van die Middeleeue was ’n baie moeilike tyd. Engeland en Frankryk het tussen 1337 en 1453 aan die Honderdjarige Oorlog deelgeneem.

Die Honderdjarige Oorlog was eintlik ’n klomp veldslae wat tussen Engeland en Frankryk geveg is. Die konflik het begin toe koning Edward II van Engeland gesê het dat hy die eintlike monarg van Frankryk was.

Dit was ook in hierdie tyd dat die builepes (1347-1351) amok gesaai het en een derde van Europeërs doodgemaak is.

Daar was heelwat faktore wat tot die einde van die Middeleeue gelei het. Feodalisme het begin afneem soos wat lande soos Spanje, Frankryk en Engeland sterker geword het. Die drukpers is in ongeveer 1450 deur die Duitser Johannes Gutenberg uitgevind en boeke kon nou makliker gemaak en versprei geword het. Meer mense kon nou lees en skryf.

Die Renaissance het aangebreek en dit was ’n wonderlike tyd vir kuns en studies.

Die ontdekking van die Amerikas in 1492 het ook tot ’n groter begrip van die wêreld gelei en dit was die eerste fase van die moderne era.

Woordbank

afgeskop  Iets begin; iets ’n aanvang laat neem.
alliansies Ooreenkomste tussen lande of groepe mense om saam te werk en mekaar te help. 10
amok gesaai Handuit geruk, chaos veroorsaak.
barbaars Iemand wat onbeskaafd is, ’n woesteling of wreedaard. 11
feodalisme Dit was die oorheersende maatskaplike stelsel waarvolgens leenhere grond aan mense in ruil vir dienste geleen het. 8
gangreen Afsterwing/verrotting van weefsels of liggaamsdele, ook ‘kouevuur’ genoem.
kruistogte Enigeen van ’n aantal gewapende optogte in die Middeleeue deur Christene van Wes-Europa na die Heilige Land (Palestina) om heilige plekke van die Moslems terug te neem. 8
kruisvaarders Mense wat aan die kruistogte deelgeneem het. 8
Middeleeue ’n Tydvak in die Europese geskiedenis wat vanaf die vyfde tot die 15de eeu strek. 7
pelgrims Iemand wat na ’n heilige plek toe reis om daar te gaan aanbid. 8
rasse skrede Baie vinnig; met spoed; goeie vordering maak.
toutjies getrek In die geheim invloed uitoefen om iets te laat gebeur.
troebadoers Middeleeuse minnesanger; iemand wat hoofsaaklik liefdesliedere sing.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te weet van die Middeleeue

’n Kort verduideliking van die Middeleeue.

Hoe was dit om in daardie tyd te leef?

Die kruistogte.

Die Swart Dood (Builepes)

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Junie 2022 | Bygewerk op 16 April 2024