Vinnige feite

  • Die kleinste gewerwelde dier is ’n klein paddatjie, die Paedophryne amauensis. Hy word net ’n paar millimeter lank. Die grootste gewerwelde dier is die blouwalvis, wat meer as 30 meter lank word en 2 ton kan weeg.6
  • Die grootste van die ongewerwelde diere is die inkvis. Hy kan meer as 12 meter lank word en kan meer as 450 kilogram weeg. Die langste ongewerwelde dier is die lintwurm wat tot 55 meter lank kan word.7
  • Wanneer ’n skaaldier sy dop ontgroei, gooi hy sy dop af en ’n nuwe een groei in die plek van die oue. Krewe, krappe en garnale is skaaldiere en het almal tien pote. Die voorste twee pote het knypers waarmee hulle kos vang en hulself teen roofdiere beskerm.8
  • Mossels is ongewerweld en kan meer as 400 jaar leef. Sommige korale leef nog langer.9
  • Daar is ongeveer 1 600 verskillende soorte seesterre wat in die oseane van die wêreld woon. Daar woon hulle in elke soort habitat soos getypoele, rotsagtige oewers, seegras, kelpbeddings en koraalriwwe. Sommige soorte seesterre kom selfs voor op die diep, sanderige seebodem. Die meeste seesterre het ’n stekelrige vel en vyf “arms” wat ’n sirkelvormige liggaam omring – hoewel sommige tot 50 arms kan hê!10

Foto: iStock

Diere word in twee hoofgroepe ingedeel, naamlik gewerwelde en ongewerwelde diere. Daar is natuurlik ook baie onderafdelings van gewerwelde én ongewerwelde diere. Een van die bekendste en belangrikste metodes om diere te klassifiseer , is gebaseer op die feit of die dier ʼn ruggraat (vertebrata) het of nie (invertebrata). Met ander woorde, of die dier ’n ruggraat en bene soos ons aan die binnekant van sy lyf het, of nie. Boonop is daar in feitlik alle ongewerwelde diere se ruggraat ʼn holte waarin senuweeselle voorkom.

Wat is ‘n ongewerwelde dier?

Omtrent 95% of meer as 2 miljoen spesies van alle soorte diere in die diereryk is ongewerweldes. Het jy geweet die grootste oog van al die lewende wesens in die diereryk behoort aan die enorme inkvis – ’n reusagtige, ongewerwelde dier? 1

Een van die belangrikste kenmerke van ongewerwelde diere is dat hulle nie ʼn ruggraat het nie. Dit beteken dat dié diere ook nie ’n harde geraamte van been het nie. Sommige van die ongewerwelde diere soos sprinkane en krappe het egter ’n harde dop wat buite die liggaam is. Hierdie harde dop noem ons die eksoskelet. Die harde dop van byvoorbeeld krappe en krewe beskerm hulle teen roofdiere en die omgewing. Die meeste ongewerweldes kan beweeg, maar daar is uitsonderings, soos die seespons.

Ongewerwelde diere kom byna oral voor, van die warmste woestyne en die diepste seebodems tot die donkerste grotte en die hoogste berge. Omdat ongewerweldes nie ’n skeletstelsel het nie, het die meeste van hulle nie ’n stewige liggaamstruktuur nie en kan hulle ook nie baie groot word nie.

Die meeste ongewerweldes het ’n oop bloedsomloopstelsel. Dit beteken hulle bloed vloei in ’n oop holte en nie in ’n netwerk van are soos ons s’n nie. By ons vloei bloed van ons hart deur are en slagare na die res van ons lyf. Die meeste ongewerweldes het ook ’n eenvoudige asemhalingstelsel. Die algemeenste dele van so ʼn eenvoudige asemhalingstelsel is kiewe en ’n lugpyp. Om te vergoed vir die gebrek aan ’n inwendige skelet, het die meeste ongewerweldes ’n uitwendige skelet (soos ’n slak se dop) wat hul sagte binnekant beskerm.

Ongewerweldes dien as voedsel vir mense. Hulle is belangrik in voedselkettings wat voëls, visse en baie ander gewerwelde spesies ondersteun, en speel ’n groot rol in die bestuiwing van plante. 2

Wat is ’n gewerwelde dier?

’n Mens kry baie minder gewerwelde diere op aarde as ongewerweldes – slegs sowat 58 000 soorte. 3

Gewerweldes is meer ingewikkelde organismes in vergelyking met ongewerweldes. Die grootste verskil tussen die twee is dat gewerwelde diere ’n ruggraat en ’n inwendige skelet (of endoskelet) het. Sommige gewerwelde diere het nie bene nie, maar kraakbeen (dis soos die harde deel van jou neus of jou ore), byvoorbeeld haaie. Nog ’n kenmerk van gewerwelde diere is dat hulle voortplant (die mannetjie en vroutjie paar en hulle kry kleintjies). 4

Skelet van ‘n hond

Gewerweldes is die gevorderdste dieregroep in die diereryk. Hulle het ’n goed gedefinieerde interne beenstelsel, wat ’n ruggraat insluit. By die mens loop die ruggraat van jou skedel (jou kopbeen) tot by jou stuitjie.

Gewerweldes het ook meer ingewikkelde en gespesialiseerde orgaanstelsels in vergelyking met ongewerweldes. Orgaanstelsels soos die asemhalingstelsel is redelik ingewikkeld (soos longe) en hulle verrig baie bykomende funksies. Selfs die sensoriese organe soos die oë en ore is gevorderd, wat gewerweldes help om by hul omgewing aan te pas.

Gewerwelde diere word in vyf groepe of filums ingedeel, naamlik soogdiere, voëls, visse, reptiele en amfibieë. Die belangrikste kenmerke van die gewerwelde diere is dat hulle simmetriese liggame het (met ander woorde albei kante van hul lyf is dieselfde) en ’n brein wat deur ’n skedel omhul word.

Skelet van ‘n pikkewyn

Gewerwelde diere kan warmbloedig of koudbloedig wees. ’n Koudbloedige dier kan nie ’n konstante liggaamstemperatuur handhaaf nie. Die temperatuur van hul liggaam word bepaal deur die omgewing. Koudbloedige diere sal bedags tussen die skaduwee en die son rondbeweeg om warm te word of om af te koel. Koudbloedige diere is ektotermies, wat “hitte van buite” beteken. Reptiele, amfibieë en visse is almal koudbloedig.  Warmbloedige diere kan hul interne temperatuur reguleer.

Hulle kan sweet of hyg om af te koel en het ’n pels of vere om hulle warm te hou. Warmbloedige diere word endotermies genoem, wat “hitte van binne” beteken. Slegs voëls en soogdiere is warmbloedig. 5

Wat is die grootste verskille tussen ongewerweldes en gewerweldes?

ONGEWERWELDES

GEWERWELDES

Ongewerweldes het nie ’n ruggraat nie en ook nie ’n interne skelet nie. Gewerweldes het ’n ruggraat en ’n interne skelet.
Ongewerweldes het ’n eksoskelet. Gewerweldes het ’n endoskelet.
Liggaamsgrootte wissel, maar die meeste is gewoonlik kleiner as gewerwelde diere. Sommige ongewerweldes word egter baie groot, soos die inkvis. Oor die algemeen is gewerwelde diere groter as ongewerweldes.
Byna alle ongewerweldes het ’n oop bloedsomloopstelsel. Alle gewerwelde diere het ’n geslote bloedsomloopstelsel.

Woordbank

amfibieë Tweeslagtige dier wat op land en in die water lewe.
bestuiwing

Proses wat uiteindelik bevrugting by blomplante veroorsaak deurdat stuifmeel van ’n helmknop (anter) na ’n stempel oorgedra word.

eksoskelet Uitwendige skelet; huidgeraamte.
ektotermies Wat verwys na die buitekant.
endotermies Binnegeraamte.
filums Klas, familie, genus, spesie; organismes word in ’n filum geklassifiseer.
gedefinieerde Iets wat noukeurig beskryf/omskryf is.
gewerwelde Met ’n ruggraat en bene in sy lyf.
interne Inwendig.
invertebrata Ongewerweldes.
kelpbeddings Seewier/seegras wat op die seebodem dig teen mekaar groei; kelpwoud, seebamboeswoud.
kiewe Meervoud van “kief”; asemhalingsorgane van waterdiere, vernaamlik van visse.
klassifiseer ’n Proses waardeur jy iets sit in die groep/klas waar dit hoort.
konstante Deurlopende.
korale Geraamte van kolonies lewende seepoliepe (weekdiere/seekatte) wat kalk afskei.
koudbloedig Met ’n niestandvastige hitte, soos visse.
kraakbeen Beenagtige, elastiese deel van die dierlike liggaam, minder hard as been; knarsbeen.
ongewerwelde Sonder ’n ruggraat of bene in sy lyf.
organe Deel van die liggaam wat ’n sekere funksie verrig.
reptiele Koudbloedige, kruipende diere wat deel van die Reptilia-klas is.
seespons Eenvoudige waterdier met digte, dog poreuse geraamte.
senuweeselle Neurone, ook bekend as senuweeselle, stuur en ontvang seine vanaf jou brein.
sensoriese Waarnemend.
simmetriese Eweredig, gelyksydig.
skaaldier Dier met ’n harde buitenste dop (eksoskelet), soos springkane, krappe, krewe, ens.
skedel Kopbeen; die harde been wat die brein beskerm.
skelet Geraamte
soogdiere Diere wie se kleintjies melk van die ma’s drink.
spesies ’n Klassifikasie vir diere en plante.
vertebrata Werweldiere, gewerweldes.
voortplant Versprei, vermenigvuldig, reproduseer.
warmbloedig Diere wat ’n konstante liggaamstemperatuur behou ten spyte van die wisselende temperatuur van die omgewing.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Hoe diere se skelette verskil

Beweging van diere

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 November 2023 | Bygewerk op 5 Maart 2024