Vinnige feite

  • Die Burj Khalifa is ’n baie bekende landmerk in Dubai en ’n baken vir toeriste.
  • Die wêreld se hoogste swembad kan in dié gebou gevind word. Dit is op ’n verdieping wat 270 m hoog is.
  • Die gebou trek op sy hoogste kragverbruik 36 mW krag. Dis gelyk aan 360 000 gloeilampe van 100 W wat gelyktydig aan is!
  • Die Burj Khalifa vertoon snags ’n ligvertoning waar kleurryke LED-ligte op die maat van musiek verander.
  • Die leë gebou weeg ’n verstommende 500 000 ton.
  • Die Burj Khalifa is drie keer so hoog soos die Eiffel-toring in Parys, Frankryk, en amper twee keer so hoog as die Empire State-gebou in New York in die VSA.
  • Die tweede hoogste gebou ter wêreld is die Willis-toring in Chicago op 527 m. Die derde hoogste gebou in die wêreld is die Taipei 101 in Taiwan wat 508 m hoog is.
  • Die gebou het al in vele flieks verskyn, soos Mission Impossible: Ghost Protocol, waar die karakter Ethan Hunt (Tom Cruise) buite die gebou gehang het!

 

Foto: iStock

As daar ’n Wêreldbekertoernooi vir geboue was, dan het die Burj Khalifa in Dubai dit loshande gewen! Hierdie wolkekrabber het immers alle rekords laat spat toe dit gebou is en is ’n verstommende 828 m hoog. Dit het ook ’n allemintige $1,5 miljard (meer as R28 miljard) gekos om te bou!

In hierdie wolkekrabber is meer as 200 verdiepings, waarvan 160 bewoonbaar is. Die bopunt van die toringspits kan tot 95 km ver gesien word.

Dié gebou is in Dubai, een van die rykste emirate van die sewe emirate waaruit die Verenigde Arabiese Emirate (die VAE of UAE in Engels) bestaan. ’n Emiraat is ’n gebied wat deur ’n emir regeer word. ’n Emir is ’n Arabiese vors. Die federasie van die VAE is in 1971 geskep toe die land onafhanklikheid van Groot-Brittanje verkry het. 1

Die gebou is na sjeik Khalifa bin Zayed Al Nahyan (1948-2022) vernoem. Die sjeik was die president van die VAE van 2004 tot 2022 en terselfdertyd ook die emir van Abu Dhabi. Abu Dhabi is ook ’n emiraat van die VAE. 2

Sjeik Khalifa bin Zayed Al Nahyan na wie die Burj Khalifa vernoem is.

Die gebou is amptelik op 4 Januarie 2010 geopen en daardie datum is gekies om saam te val met die vierde herdenking van sjeik Mohammed bin Rashid Al Maktoum se inhuldiging as die regeerder van Dubai.

Die Burj Khalifa, wat deur Emaar Properties PJSC ontwikkel is, is nie net gebou om as toerismebestemming te dien nie. Daar is ook kantore, ondernemings, restaurante, ’n hotel en woonstelle in die gebou.

Die argiteksfirma wat vir die ontwerp verantwoordelik was, is Skidmore, Owings & Merrill in Chicago, in die Verenigde State van Amerika (VSA). Die hoofargitek was Adrian Smith, met William F. Baker as die strukturele ingenieur. 3

In die rekordboeke verewig

Die gebou is as ’n “globale ikoon” aangewys deur die Raad op Hoë Geboue en Stadsgebiede (in Engels: Council on Tall Buildings and Urban Habitat), die internasionale beoordelaar van wolkekrabbers.

Die Burj Khalifa hou die rekord vir die …

  • hoogste gebou ter wêreld;
  • hoogste vrystaande struktuur ter wêreld;
  • gebou wat die meeste verdiepings het;
  • hoogste bewoonde verdieping ter wêreld;
  • hoogste buitelug-waarnemingsplatform ter wêreld;
  • gebou met die hoogste dienshysbak; en
  • gewone hysbak met die langste reisafstand ter wêreld! 4

Wat is binne-in die gebou?

Die Armani Hotel Dubai is ʼn tienverdiepinghotel en beslaan vloere 1 tot 8, asook 38 en 39 van die Burj Khalifa-gebou, terwyl daar een- en tweeslaapkamerwoonstelle van die 9de tot die 16de verdieping is. Hoewel dit reeds luukse woonstelle is, is daar superluukse wonings vanaf die 45ste tot die 108ste verdieping. Dis eintlik huise binne-in ’n gebou! Inwoners van hierdie gebou kan ook gimnasiums, jacuzzi’s, spa’s, biblioteke en vier swembaddens (buiten die hotelswembad) in die gebou geniet. Daar is ook sitkamers waar huiseienaars en kantoorwerkers kan ontspan. 5

Die wêreld se hoogste restaurant, At-mosphere, is op die 122ste vloer.

Die gebou bestaan egter grotendeels uit ondernemings en kantore, en die boonste vier vloere word vir kommunikasie en uitsaaidienste gebruik. 4

Die ontwerp 

Die gebou het drie dele wat rondom ’n middelpunt (kern) rangskik is. Die inspirasie daarvoor was ’n blom, genaamd die spinnekoplelie (Hymenocallis). Die struktuur is in ’n Y-vorm met drie vleuels. Die middelpunt van die gebou reik tot heel bo en eindig in ’n hoë toringspits.

Daar is meer as 40 windtonneltoetse uitgevoer om te kyk wat die uitwerking van die wind daarop sal wees. Aanvanklike toetse het na die klimaat van Dubai gekyk en watter windsnelhede verwag kan word. Daar is ’n swetterjoel toetse uitgevoer om seker te maak dat die gebou allerlei uitdagings kon oorleef en dat die gebou en sy inwoners veilig sou wees.

Soos die gebou se toring hoër word, verander die vorm om beter weerstand teen die wind te bied.

Die Burj Khalifa moet ’n gemiddeld van 946 000 liter water daagliks aan inwoners en besoekers verskaf. Die gebou het baie sonpanele wat meer as 140 000 liter water per dag verhit.

Dubai kan baie warm en droog wees en daarom is die gebou ook ontwerp om die hitte die hoof te bied. Met Dubai se warm en bedompige klimaat en die massiewe gebou wat afgekoel moet word, vind baie verdamping plaas. Die water word versamel en gedreineer en in die pragtige fonteine voor die gebou gebruik. Die verdamping lewer ongeveer 15 miljoen gallon of 56,7 miljoen liter (1 gallon is gelykstaande aan 3,78 liter) water per jaar, wat genoeg is om nagenoeg 22 swembaddens van Olimpiese grootte te vul.

Die binnenshuise ontwerp vir die openbare gedeeltes in die gebou is ook deur Skidmore, Owings & Merrill behartig, met die bekroonde ontwerper Nada Andric wat aan die stuur van sake gestaan het. Daar is meer as ’n 1 000 kunswerke in die gebou van Midde-Oosterse en internasionale kunstenaars. 6

Bouwerk

Die werk aan die gebou het in Januarie 2004 begin en is in 1 325 dae gebou. Meer as 45 000 m³ beton is vir die fondament van die gebou gebruik. Die fondament self weeg meer as 110 000 ton en het 192 staalpale wat meer as 50 m diep geplant is.

Ongeveer 330 000 m³ beton en 39 000 ton staal is gebruik om die gebou mee te bou.

Hulle het in November 2007 beton begin pomp vanaf die grondvlak na die hoogste mure van die gebou se kern. Dit is tot ’n hoogte van 601 m gepomp, wat die vorige rekord verpletter het. Die vorige rekord het aan ’n gebou aan Taipei behoort toe beton na ’n hoogte van 470 m gepomp is.

Ongeveer 31 400 metrieke ton staalstawe is gebruik en as ’n mens dit van punt tot punt sou neerlê, sou dit meer as kwartpad om die wêreld gestrek het!

Meer as 380 ingenieurs en tegnici was by die projek betrokke en dit het ongeveer 22 miljoen werksure geverg om dié manjifieke toring gebou te kry.

Die gebou het ook ’n rekord vir die hoogste fasade van aluminium en glas wat tot nog toe gebou is. Dit is 512 m hoog. Die totale gewig van die aluminium in die gebou is dieselfde as die gewig van vyf A380-vliegtuie! Altesaam 26 000 glaspanele is vir die gebou se buitekant gebruik.

Die gebou het 57 hysbakke en agt roltrappe. Die hysbakke is so geprogrammeer om outomaties mense te help om te ontruim in die geval van ’n brand of ander noodgeval. Die observasie-hysbakke (waarin toeriste ry om die uitsig te bewonder) beweeg teen 10 m per sekonde. Die dienshysbak kan op sy beurt ’n gewig van 5 500 kg vervoer!

Die spits van die toring bestaan uit meer as 4 000 ton staal. ’n Hidrouliese pomp is gebruik om dit op te stoot sodat dit sy hoogte van meer as 200 m kon bereik.

Die totale grondoppervlakte waarop daar gebou is, is 5,67 miljoen m².

Woordbank

allemintige Baie groot.
argitek Ontwerper van geboue en bestuurder van die uitvoering van die ontwerpe; boumeester.
baken ’n Bekende teken.
emir ’n Arabiese vors.
emirate Gebiede wat deur emirs regeer word.
fasade Die voorkant van ’n gebou.
federasie Bond van samewerkende verenigings.
fondament Die onderste ondergrondse gedeelte van ’n bouwerk.
hidrouliese Wat deur die druk van water of ʼn ander vloeistof beweeg of in werking gehou word.
ikoon ’n Bekende persoon of ding wat iets van belang verteenwoordig.
landmerk ’n Opvallende plek/voorwerp waaraan ’n gebied herken word.
luukse Weelderige.
sjeik Hoof van ’n Arabiese stam.
strukturele ingenieur Ontleed en ontwerp strukture om seker te maak dat dit sterk en stabiel is.
swetterjoel Talryk, baie; ʼn klomp.
wolkekrabber   Besonder hoë gebou; toringgebou.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s oor die Burj Khalifa

Ontdek die wêreld se hoogste gebou

Geboue deur die jare – van ʼn gewone enkelverdiepinghuis tot die Burj Khalifa

Kort oorsig oor die Burj Khalifa

Dubai se vertikale stad 

Kyk hoe lyk die uitsig vanaf die wêreld se hoogste gebou!

Tien verstommende feite

Die geheim van die Burj Khalifa se sterk fondasie

Só is die mensgemaakte wonderwerk gebou

Ethan Hawk (Tom Cruise) klim die wêreld se hoogste gebou. As jy senuwees van staal het, kyk na hierdie videogreep uit die fliek Mission Impossible: Ghost Protocol

As jy dink Tom Cruise het nie regtig hierdie waagtoertjie self aangepak nie, kyk na hoe dit verfilm is

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Januarie 2024 | Bygewerk op 13 Februarie 2024